GENESIS 3:7-10
GENESIS 3:7-10 Bybel vir almal (ABA)
Toe verstaan hulle alles, en hulle besef hulle is kaal. Hulle het vyeblare aanmekaar vasgewerk en hulle het daarvan kort rokke vir hulleself gemaak. Die mens en sy vrou het gehoor die Here God loop in die tuin. Dit was aand, en die wind het gewaai. Die mens en sy vrou het toe vir die Here God weggekruip tussen die bome in die tuin. Toe roep die Here God die mens en Hy vra vir hom: “Waar is jy?” Die mens het geantwoord: “Ek het gehoor U is in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe kruip ek weg.”
GENESIS 3:7-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak. En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg.
GENESIS 3:7-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere. Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.”
GENESIS 3:7-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Al twee se oë het oopgegaan en hulle het besef dat hulle naak is. Hulle het vyeblare aaneengeryg en vir hulle lendeskorte gemaak. Hulle hoor toe die geluid van die HERE God wat in die tuin rondstap in die middagkoelte. Die mens en sy vrou het vir die HERE God weggekruip tussen die bome van die tuin. Die HERE God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” Hy het geantwoord: “Ek het U in die tuin hoor beweeg, en ek was bang, want ek is naak; toe het ek weggekruip.”
GENESIS 3:7-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle al twee se oë is geopen, en hulle het geweet dat hulle naak was; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle voorskote gemaak. En hulle het die stem van die HERE God hoor loop in die tuin in die koelte van die dag, en Adam en sy vrou het hulle weggesteek vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. En die HERE God het na die mens geroep en vir hom gesê: Waar is jy? En Adam sê: Ek het jou stem in die tuin gehoor, en ek was bang, want ek was naak; en ek het weggekruip.
GENESIS 3:7-10 Die Boodskap (DB)
Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere. Teen sononder se kant het die Here God in die tuin rondgeloop. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip. Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?” Die mens het verleë geantwoord: “Hier is ek. Toe ek hoor U is hier het ek bang geword, want ek is mos kaal. Toe het ek weggekruip.”
GENESIS 3:7-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe gaan hulle oë werklik oop en besef hulle dat hulle sonder klere is. Hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle omgehang om hulleself toe te maak. Teen die aand hoor hulle hoe die HERE God in die tuin loop. Hulle kruip toe weg tussen die bome. Die HERE God het toe na die mens geroep: “Waar is jy?” Hy antwoord: “Ek het U hoor aankom in die tuin en gaan wegkruip. Ek was bang omdat ek sonder klere is.”