GENESIS 3:6-13
GENESIS 3:6-13 Die Boodskap (DB)
Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet. Skielik het hulle oë oopgegaan. Vir die eerste keer ontdek hulle hulle is kaal. Skaam-skaam gryp hulle toe ’n paar vyeblare, werk dit aan mekaar vas en maak vir hulle klere. Teen sononder se kant het die Here God in die tuin rondgeloop. Toe hulle Hom hoor, het hulle bang geword en tussen die bome vir Hom gaan wegkruip. Die Here God moes toe na die mens roep en sê: “Waar is jy?” Die mens het verleë geantwoord: “Hier is ek. Toe ek hoor U is hier het ek bang geword, want ek is mos kaal. Toe het ek weggekruip.” Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het jou vertel dat jy kaal is? Of het jy van die verbode boom se vrugte geëet?” Die mens sê toe: “Dit is alles die vrou se skuld. Die einste vrou wat U my gegee het, het my van die boom se vrugte gegee. En ek het dit geëet.” Die Here God vra toe vir die vrou: “Hoekom het jy dit gedoen?” Sy het geantwoord: “Dit is die slang se skuld. Hy het my om die bos gelei, toe het ek van die vrugte geëet.”
GENESIS 3:6-13 Bybel vir almal (ABA)
Die vrou het toe gekyk en gesien sy kan van die boom se vrugte eet, en dit lyk baie lekker. Sy het nou geweet die vrugte sal haar slim maak. Sy het van die vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man daarvan gegee, en hy het ook geëet. Toe verstaan hulle alles, en hulle besef hulle is kaal. Hulle het vyeblare aanmekaar vasgewerk en hulle het daarvan kort rokke vir hulleself gemaak. Die mens en sy vrou het gehoor die Here God loop in die tuin. Dit was aand, en die wind het gewaai. Die mens en sy vrou het toe vir die Here God weggekruip tussen die bome in die tuin. Toe roep die Here God die mens en Hy vra vir hom: “Waar is jy?” Die mens het geantwoord: “Ek het gehoor U is in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe kruip ek weg.” Die Here God vra toe vir die mens: “Wie het vir jou gesê jy is kaal? Het jy geëet van die vrugte wat Ek gesê het jy mag nie eet nie?” Die mens het gesê: “Ú het die vrou vir my gegee. Dit is sý wat vir my van die vrugte gegee het, en ek het daarvan geëet.” Die Here God vra toe vir die vrou: “Wat het jy gedoen?” En die vrou sê: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”
GENESIS 3:6-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet. Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak. En hulle het die stem van die HERE God gehoor terwyl Hy wandel in die tuin in die aandwindjie; en die mens en sy vrou het hulle verberg vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. Toe roep die HERE God na die mens en sê vir hom: Waar is jy? En hy antwoord: Ek het u geruis gehoor in die tuin en gevrees, want ek is naak; daarom het ek my verberg. En Hy sê: Wie het jou te kenne gegee dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? En die mens antwoord: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. Daarop sê die HERE God aan die vrou: Wat het jy nou gedoen? En die vrou antwoord: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.
GENESIS 3:6-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. Hulle altwee se oë gaan toe oop, en hulle besef dat hulle kaal is. Toe werk hulle vyeblare aanmekaar en hang dit om vir klere. Hulle het gehoor hoe die Here God in die tuin wandel teen die tyd dat die aandwind opkom, en die mens en sy vrou het vir die Here God weggekruip tussen die bome van die tuin. Maar die Here God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” En die mens antwoord: “Ek het U hoor wandel in die tuin en ek het bang geword, want ek is kaal. Toe het ek weggekruip.” Die Here God vra toe: “Hoe het jy te wete gekom dat jy kaal is? Het jy tog nie van die boom geëet waarvan Ek jou verbied het om te eet nie?” Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U my gegee het om my by te staan, sy het vir my van die boom se vrugte gegee, en ek het geëet.” Toe vra die Here God vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” en sy sê: “Die slang het my mislei, en ek het geëet.”
GENESIS 3:6-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit 'n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om 'n mens insig te gee. Sy het van die vrugte daarvan geneem, dit geëet en ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet. Al twee se oë het oopgegaan en hulle het besef dat hulle naak is. Hulle het vyeblare aaneengeryg en vir hulle lendeskorte gemaak. Hulle hoor toe die geluid van die HERE God wat in die tuin rondstap in die middagkoelte. Die mens en sy vrou het vir die HERE God weggekruip tussen die bome van die tuin. Die HERE God het na die mens geroep en vir hom gevra: “Waar is jy?” Hy het geantwoord: “Ek het U in die tuin hoor beweeg, en ek was bang, want ek is naak; toe het ek weggekruip.” Hy vra toe: “Wie het vir jou vertel dat jy naak is? Het jy van die boom geëet waaroor Ek jou beveel het dat jy nie daarvan mag eet nie?” Die mens het geantwoord: “Die vrou wat U gegee het om aan my sy te wees, sy is die een wat vir my van die boom gegee het, en ek het geëet.” Die HERE God vra toe vir die vrou: “Wat het jy nou gedoen?” Die vrou het geantwoord: “Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.”
GENESIS 3:6-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die vrou sien dat die boom goed was om van te eet, en dat dit aangenaam was vir die oë, en 'n boom om te begeer om wys te maak, neem sy van die vrugte daarvan en eet en gee ook aan haar man daarvan; en hy het geëet. En hulle al twee se oë is geopen, en hulle het geweet dat hulle naak was; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle voorskote gemaak. En hulle het die stem van die HERE God hoor loop in die tuin in die koelte van die dag, en Adam en sy vrou het hulle weggesteek vir die aangesig van die HERE God tussen die bome van die tuin. En die HERE God het na die mens geroep en vir hom gesê: Waar is jy? En Adam sê: Ek het jou stem in die tuin gehoor, en ek was bang, want ek was naak; en ek het weggekruip. En hy sê: Wie het jou vertel dat jy naak is? Het jy geëet van die boom waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie? Toe sê die man: Die vrou wat U gegee het om by my te wees, sy het my van die boom gegee, en ek het geëet. Die HERE God sê vir die vrou: Wat is dit wat jy gedoen het? En die vrou sê: Die slang het my bedrieg, en ek het geëet.
GENESIS 3:6-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit het die vrou oortuig. Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ’n mens verstandig en slim te maak. Sy pluk ’n vrug van die boom, eet daarvan en gee vir haar man by haar; en hy het ook geëet. Toe gaan hulle oë werklik oop en besef hulle dat hulle sonder klere is. Hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle omgehang om hulleself toe te maak. Teen die aand hoor hulle hoe die HERE God in die tuin loop. Hulle kruip toe weg tussen die bome. Die HERE God het toe na die mens geroep: “Waar is jy?” Hy antwoord: “Ek het U hoor aankom in die tuin en gaan wegkruip. Ek was bang omdat ek sonder klere is.” “Wie het vir jou gesê dat jy sonder klere is?” vra die HERE God. “Het jy dan van die boom geëet wat Ek jou beveel het om nie te eet nie?” “Ja,” erken die mens, “dit was die vrou wat U aan my gegee het wat die vrugte vir my aangebied het, en toe het ek daarvan geëet.” Daarop vra die HERE God vir die vrou: “Hoe kon jy so ’n ding doen?” “Die slang het my bedrieg,” antwoord sy. “Dis hoekom ek geëet het.”