GENESIS 3:4-6
GENESIS 3:4-6 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal nie sterf nie. Dit is seker. God het dit gesê omdat Hy weet dat as julle daarvan eet, dan sal julle alles verstaan. Julle sal soos God word en julle sal weet wat is goed en wat is sleg.” Die vrou het toe gekyk en gesien sy kan van die boom se vrugte eet, en dit lyk baie lekker. Sy het nou geweet die vrugte sal haar slim maak. Sy het van die vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man daarvan gegee, en hy het ook geëet.
GENESIS 3:4-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê die slang vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie; maar God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken. Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet en dat hy 'n lus was vir die oë, ja, 'n boom wat 'n mens kan begeer om verstand te verkry; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.
GENESIS 3:4-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê die slang vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie, maar God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.” Toe besef die vrou dat die boom se vrugte goed is om te eet en mooi om na te kyk en begeerlik omdat dit kennis kan gee. En sy het van sy vrugte gepluk en geëet. Sy het ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
GENESIS 3:4-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die slang sê toe vir die vrou: “Julle sal beslis nie sterf nie. Maar God weet dat die dag wanneer julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan. Dan sal julle word soos God, wat goed en kwaad ken.” Die vrou sien toe dat die boom goed was om van te eet, dat dit 'n lus was vir die oog, en dat die boom begeerlik was om 'n mens insig te gee. Sy het van die vrugte daarvan geneem, dit geëet en ook vir haar man by haar gegee, en hy het geëet.
GENESIS 3:4-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die slang sê vir die vrou: Julle sal gewis nie sterwe nie. Want God weet dat die dag as julle daarvan eet, julle oë geopen sal word, en julle soos gode sal wees deur goed en kwaad te ken. En toe die vrou sien dat die boom goed was om van te eet, en dat dit aangenaam was vir die oë, en 'n boom om te begeer om wys te maak, neem sy van die vrugte daarvan en eet en gee ook aan haar man daarvan; en hy het geëet.
GENESIS 3:4-6 Die Boodskap (DB)
Die slang het egter gesê: “Onsin! Julle sal g’n doodgaan nie. God is net bang. Hy weet as julle daarvan eet, sal julle oë oopgaan en sal julle soos Hy word. Julle sal dan goed en kwaad uit mekaar kan ken.” Die vrou begin toe twyfel. Sy kyk na die boom en sien hoe mooi dit is en hoe lekker die vrugte lyk. As sy daarvan eet, sou sy baie dinge te wete kom. Versigtig steek sy toe haar hand na die vrug uit. Sy pluk dit en begin eet. Sy pluk nog een en gee dit vir haar man. Hy het dit ook geëet.
GENESIS 3:4-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Julle sal nie sterf nie!” sê die slang. “God weet dat julle oë sal oopgaan wanneer julle daarvan eet. Julle sal dan net soos God wees en weet van goed en kwaad.” Dit het die vrou oortuig. Wanneer sy na die boom kyk, lyk die vrugte mooi en aanloklik, geskik om ’n mens verstandig en slim te maak. Sy pluk ’n vrug van die boom, eet daarvan en gee vir haar man by haar; en hy het ook geëet.