GENESIS 25:1-11
GENESIS 25:1-11 Bybel vir almal (ABA)
Abraham het weer getrou. Die vrou se naam was Ketura. Ketura en Abraham se seuns was Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Dedan se nageslag was die mense van Assur, Letus en Leüm. Midian se seuns was Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Hulle was almal die nageslag van Ketura. Isak het alles gekry wat Abraham gehad het. Abraham het vir die kinders van sy byvrou Ketura presente gegee terwyl hy nog gelewe het, en hy het hulle weggestuur na die ooste, weg van Isak. Abraham het 175 jaar oud geword. Hy was baie oud. Hy het gesterf en hy is begrawe. Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpela-grot oorkant Mamre. Dit was op die grond wat voorheen behoort het aan Efron die Hetiet. Efron was die seun van Sogar. Abraham het voorheen hierdie stuk grond gekoop by die Hetiete en hy het sy vrou Sara daar begrawe. Ná Abraham se dood het God Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.
GENESIS 25:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Abraham het weer 'n vrou geneem met die naam van Ketúra. En sy het vir hom Simran en Joksan en Medan en Mídian en Jisbak en Suag gebaar. En Joksan was die vader van Skeba en Dedan; en die kinders van Dedan was die Assuriete, Letusiete en Leümmiete. En die seuns van Mídian was: Efa en Efer en Henog en Abída en Éldaä. Hulle almal was seuns van Ketúra. En Abraham het aan Isak alles gegee wat hy besit het, maar aan die seuns van die byvroue van Abraham het Abraham geskenke gegee en hulle, nog by sy lewe, van sy seun Isak af oos laat wegtrek, na die Oosland. En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy geleef het: honderd-vyf-en-sewentig jaar. Abraham het die asem uitgeblaas en in goeie ouderdom gesterwe, oud en afgeleef. En hy is by sy volksgenote versamel. En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpéla, in die stuk grond van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat oos van Mamre lê, die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het. Daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. Ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het gewoon by die put Lagai-Roï.
GENESIS 25:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Abraham het weer getrou, met Ketura. Sy het vir hom in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. Joksan was die vader van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was die nasate van Dedan. Die seuns van Midian was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense het van Ketura afgestam. Abraham het alles wat hy nagelaat het, aan Isak laat toekom, maar terwyl Abraham nog geleef het, het hy geskenke aan die seuns van sy byvrouens gegee en die seuns weggestuur na Kedem toe in die ooste, weg van Isak af. Abraham het op hoë ouderdom gesterf. Hy het honderd vyf en sewentig jaar oud geword en was 'n grysaard met 'n vol lewe agter die rug toe hy gesterf het. Sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die Makpelagrot oos van Mamre op die stuk grond wat vroeër behoort het aan die Hetiet Efron seun van Sogar. Abraham het hierdie stuk grond by die Hetiete gekoop, en hy en sy vrou Sara is albei daar begrawe. Na Abraham se dood het die Here Abraham se seun Isak geseën, en Isak het by Lagai-Roï-fontein gaan woon.
GENESIS 25:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Abraham het weer 'n vrou geneem; haar naam was Ketura. Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring. Joksan het Skeba en Dedan verwek. Die nageslag van Dedan was die Assuriete, die Letusiete en die Leümiete. Midian se seuns was Efa, Efer, Ganog, Abida en Eldaä. Hulle almal was die nageslag van Ketura. Abraham het alles wat aan hom behoort, vir Isak gegee. Vir die seuns van Abraham se byvroue het Abraham geskenke gegee, en hulle nog tydens sy leeftyd van sy seun Isak ooswaarts weggestuur, na die land van die ooste. Dit is die aantal jare van Abraham wat hy geleef het – 175 jaar. Abraham het sy asem uitgeblaas en op 'n hoë ouderdom gesterf, oud en ná 'n vol lewe, en hy is met sy mense verenig. Isak en Ismael, sy seuns, het hom begrawe in die grot van Magpela wat oos van Mamre lê, op die grond van Efron, die seun van Sogar, die Hetiet, die grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het. Daar is Abraham begrawe, en ook Sara, sy vrou. Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het toe by Beër-Lagai-Roï gewoon.
GENESIS 25:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Abraham weer 'n vrou geneem, en haar naam was Ketura. En sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag gebaar. Joksan was die vader van Skeba en Dedan. En die seuns van Dedan was Assuriete, Letusiete en Leummiete. En die seuns van Mídian; Efa, Efer, Hanog, Abida en Eldaä. Hulle almal was die kinders van Ketura. Abraham het alles wat hy gehad het aan Isak gegee. Maar aan die seuns van die byvroue wat Abraham gehad het, het Abraham geskenke gegee en hulle van sy seun Isak weggestuur, terwyl hy nog gelewe het, ooswaarts, na die oostelike land. En dit is die dae van die lewensjare van Abraham wat hy gelewe het, honderd vyf en sestig jaar. Toe het Abraham die gees opgegee en in goeie ouderdom gesterwe, 'n ou man en vol jare; en is by sy volk versamel. En sy seuns Isak en Ismael het hom begrawe in die spelonk van Magpela, in die veld van Efron, die seun van Sohar, die Hetiet, wat voor Mamre lê; Die stuk grond wat Abraham van die seuns van Het gekoop het: daar is Abraham begrawe en sy vrou Sara. En ná die dood van Abraham het God sy seun Isak geseën; en Isak het by die put Lahairoi gewoon.
GENESIS 25:1-11 Die Boodskap (DB)
Abraham het weer getrou. Dié keer was dit met Ketura. Sy het vir hom Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag in die wêreld gebring. Joksan was die pa van Skeba en Dedan. Die mense van Assur, Letus en Leüm was almal die nageslag van Dedan. Die seuns van Midian was Efa, Efer, Ganok, Abida en Elda. Al hierdie mense het van Ketura afgestam. Abraham het al sy besittings aan Isak bemaak. Aan al sy ander seuns het hy geskenke gegee terwyl hy nog geleef het. Hy het hulle ook na verskillende lande in die ooste gestuur sodat hulle nie by Isak sou bly nie. Abraham het 175 jaar oud geword. Hy was oud en gedaan toe hy die dag dood is. Sy lewensjare was vol mooi ervarings. Toe hy dood is, is hy by sy mense begrawe. Sy twee seuns, Isak en Ismael, het hom gevat en in die Magpelagrot neergelê. Dit is die grot op die grond van Efron, seun van Sohar, die Hetiet, digby Mamre wat Abraham destyds by die Hetiete gekoop het. Daar het Abraham se seuns hom langs Sara begrawe. Na Abraham se dood het God vir Isak, sy seun, geseën en dit het baie goed met hom gegaan. Isak het duskant Beer-Lagai-Roï gaan woon.
GENESIS 25:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Abraham het weer getrou. Die vrou se naam was Ketura. Sy het vir hom die volgende kinders in die wêreld gebring: Simran, Joksan, Medan, Midian, Jisbak en Suag. Joksan se twee seuns was Skeba en Dedan. Die inwoners van Assur, Letus en Leüm was die nageslag van Dedan. Midian se seuns was: Efa, Efer, Ganok, Abida en Eldaä. Al hierdie mense was nasate van Abraham en Ketura. Abraham het alles wat hy besit het aan sy seun Isak nagelaat. Voor sy dood het hy geskenke vir die seuns van sy byvroue gegee en hulle ooswaarts, wég van Isak af, na die land Kedem toe gestuur. Abraham het 175 jaar oud geword. Hy het op ’n rype ouderdom na ’n lang en vol lewe gesterf. Sy seuns Isak en Ismael het hom in die grot van Makpela begrawe. Dit is naby Mamre en op die grond van Efron, seun van Sogar, die Hetiet. Dit is die stuk grond wat Abraham van die Hetiete gekoop het en waar hy sy vrou Sara begrawe het. Ná Abraham se dood het God sy seun Isak geseën. Isak het by Lagai-Roï-fontein in die Negev gaan woon.