GENESIS 21:1-3
GENESIS 21:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE het na Sara omgesien soos Hy gesê het, en die HERE het aan haar gedoen soos Hy beloof het. Sara het swanger geword en vir Abraham op sy oudag 'n seun in die wêreld gebring. Dit was op die bestemde tyd, soos God hom beloof het. Abraham het die seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom in die wêreld gebring het, Isak genoem.
GENESIS 21:1-3 Die Boodskap (DB)
Die Here het onthou wat Hy aan Sara beloof het. Hy het gedoen wat Hy belowe het. Sara het ’n seun in die wêreld gebring, presies soos die Here gesê het. Abraham was al oud toe sy seun gebore is. Abraham het sy seun wat Sara vir hom gegee het Isak genoem.
GENESIS 21:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Die Here het aan Sara gedink en Hy het vir haar gedoen wat Hy belowe het. Sara het swanger geword en sy het vir Abraham 'n seun gekry toe hy al oud was. Sy het die seun gekry op die tyd wat God gesê het dit sal gebeur. Abraham het sy seun Isak genoem, die seun wat hy en Sara gekry het.
GENESIS 21:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN die HERE het Sara besoek soos Hy beloof het; en die HERE het aan Sara gedoen soos Hy gespreek het: Sara het bevrug geword en vir Abraham in sy ouderdom 'n seun gebaar op die bepaalde tyd wat God genoem het. En Abraham het sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.
GENESIS 21:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here het aan Sara gedink soos Hy beloof het. Hy het sy belofte aan haar nagekom. Sy het swanger geword en in Abraham se ouderdom vir hom 'n seun in die wêreld gebring. Dit het gebeur op die tyd wat God vir Abraham beloof het. Hy het die seun wat vir hom gebore is, die een wat deur Sara in die wêreld gebring is, Isak genoem.
GENESIS 21:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE het Sara besoek soos Hy gespreek het, en die HERE het met Sara gedoen soos Hy gespreek het. Sara het swanger geword en vir Abraham 'n seun gebaar in sy ouderdom, op die vasgestelde tyd waarvan God met hom gespreek het. En Abraham het die naam van sy seun wat vir hom gebore is, wat Sara vir hom gebaar het, Isak genoem.