GENESIS 2:4-7
GENESIS 2:4-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit dan is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog nie enige struike op die aarde nie en het daar ook nog nie enige groenigheid opgeskiet nie, want die Here God het dit nog nie op die aarde laat reën nie, en daar was nog nie 'n mens om die grond te bewerk nie. Daar het water uit die aarde uit opgekom en al die grond nat gemaak. Die Here God het toe die mens gevorm uit stof van die aarde en lewensasem in sy neus geblaas, sodat die mens 'n lewende wese geword het.
GENESIS 2:4-7 Bybel vir almal (ABA)
Dit is hoe die hemel en die aarde begin het toe God dit gemaak het. Toe die Here God die hemel en die aarde gemaak het, was daar nog nie plante in die veld op die aarde nie. Daar het nog nie plante gegroei nie, want die Here God het nog nie reën op die aarde laat val nie. Daar was ook nog nie 'n mens wat in die grond kon werk nie. Daar het water uit die aarde opgekom en die water het die grond natgemaak. Toe het die Here God stof geneem uit die grond en Hy het van die stof 'n mens gemaak. Die Here God het asem in die mens se neus geblaas, en die mens het begin lewe.
GENESIS 2:4-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIT is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike in die veld op die aarde nie, en geen plante van die veld het nog uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was geen mens om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het opgetrek uit die aarde en die hele aardbodem bevogtig. En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens 'n lewende siel geword.
GENESIS 2:4-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit is die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskep is. Die dag toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het – geen struike van die veld was al op die aarde nie, en geen gewasse van die veld het al uitgespruit nie; want die HERE God het nog nie laat reën op die aarde nie, en daar was nie 'n mens om die grond te bewerk nie, maar 'n ondergrondse stroom water het uit die aarde opgewel en die hele oppervlakte van die grond nat gemaak – het die HERE God die mens met stof uit die grond gevorm, en in sy neus die asem van lewe geblaas. So het die mens 'n lewende wese geword.
GENESIS 2:4-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit is dan die geskiedenis van die hemel en die aarde toe hulle geskape is, asook van die mens in die tuin op die dag toe die HERE God hulle gemaak het. Asook al die plante van die veld voordat dit in die aarde was, en al die plante van die veld voordat dit gegroei het, want die HERE God het dit nie op die aarde laat reën nie, en daar was niemand om die grond te bewerk nie. Maar 'n mis het van die aarde af opgegaan en die hele oppervlakte van die aarde natgemaak. Die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en die asem van die lewe in sy neus geblaas; en die mens het 'n lewende siel geword.
GENESIS 2:4-7 Die Boodskap (DB)
Dit is dan die verhaal van die hemel en die aarde en hoe dit ontstaan het. Die dag toe die Here God die aarde en die hemel gemaak het, was alles op aarde kurkdroog. Daar was nie ’n enkele plant in die grond nie en ook geen bossies in die veld nie. Alles was droog, want die Here God het nog nie reën op die aarde gestuur nie en daar was ook nog geen mens om die aarde te bewerk nie. ’n Mistigheid het later vanuit die dieptes van die aarde opgekom en die grond natgemaak. Toe het die Here God van die aarde se bogrond gevat en ’n mens daarvan gemaak. Hy het ook sy asem in die mens se neusgate geblaas en die mens het begin leef.
GENESIS 2:4-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is dan die geskiedenis van die skepping van die hemel en die aarde. Toe die HERE God die aarde en die hemel gemaak het, was daar nog geen struike of groen gras op die aarde nie, want die HERE God het dit nog nie laat reën nie. Daar was nog nie ’n mens wat die grond kon bewerk nie. Maar water het uit die aarde opgeborrel en so is die grond natgemaak. Toe vorm die HERE God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword.