GENESIS 19:1-11

GENESIS 19:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Die twee engele het in die aand in die stad Sodom gekom. Lot het by Sodom se poort gesit, en hy het hulle gesien. Hy het opgestaan om hulle te ontmoet en hy het met sy gesig teen die grond gaan lê. Hy het gesê: “Menere, kom na my huis. Kom bly vannag daar en kom was julle voete. Dan kan julle môre vroeg opstaan en verder gaan.” Maar hulle het vir hom gesê: “Ons sal hier by die poort slaap.” Lot het aangehou om hulle te nooi, en hulle het na sy huis gekom en in sy huis ingegaan. Lot het vir hulle kos gemaak. Hy het ongesuurde brood gebak en hulle het dit geëet. Die mans van Sodom het om die huis kom staan voordat Lot-hulle gaan slaap het. Daar was ou mans en jong mans. Hulle het van oral in die stad gekom. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil seks hê met hulle.” Lot het uit sy huis na hulle toe gegaan. Hy het die deur agter hom toegesluit en vir hulle gesê: “My broers, asseblief, moenie 'n verkeerde ding doen nie. Luister na my. Ek het twee dogters wat nog nie by 'n man geslaap het nie. Ek sal hulle na julle toe bring en julle mag dan met hulle doen wat julle wil. Maar julle mag niks doen aan hierdie mans nie, want hulle het na my huis gekom en ek moet hulle beskerm.” Toe sê die mans van Sodom vir Lot: “Gee pad!” En hulle sê vir mekaar: “Ons het hierdie man toegelaat om by ons te kom woon, en nou wil hy vir ons sê wat reg is. Ons sal nog slegter dinge aan hom doen as aan hierdie twee mans.” Hulle het tot by Lot gehardloop en hulle wou die deur oopbreek. Die twee mans wat in die huis was, gryp toe vir Lot en trek hom in die huis in en sluit die deur. Hulle het al die mans wat voor die huis was, blind laat word, die jong mans en die ou mans, sodat hulle nie die deur van die huis kon kry nie.

GENESIS 19:1-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN die twee engele het in die aand in Sodom aangekom, terwyl Lot in die poort van Sodom sit; en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan om hulle tegemoet te gaan en hom gebuig met die aangesig na die aarde toe en gesê: Kyk tog, my here, draai tog uit na die huis van u dienaar en bly die nag oor en was u voete; dan kan u vroeg opstaan en u reis voortsit. Maar hulle antwoord: Nee, ons sal op die plein vernag. Maar hy het baie by hulle aangehou, sodat hulle na hom uitgedraai en in sy huis gekom het. En hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde koeke gebak, en hulle het geëet. Hulle het nog nie gaan slaap nie toe die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel: jonk en oud, die hele bevolking, almal saam. En hulle het na Lot geroep en aan hom gesê: Waar is die manne wat vannag na jou gekom het? Bring hulle na ons toe uit, dat ons hulle kan beken. Daarop gaan Lot na hulle toe uit voor die ingang en sluit die deur agter hom toe en sê: My broers, moet tog nie kwaad doen nie. Kyk tog, ek het twee dogters wat geen man beken het nie; laat ek dié na julle uitbring, en doen met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie manne moet julle niks doen nie, want daarom het hulle onder die skaduwee van my dak ingekom. Toe antwoord hulle: Gee pad daar! En hulle sê: Hierdie een het gekom om hier as vreemdeling te vertoef en wil tog gedurig die baas speel. Nou sal ons jou meer kwaad doen as aan hulle. En hulle het sterk op die man, op Lot, aangedring en nader gekom om die deur oop te breek. Maar die manne het hulle hand uitgesteek en Lot by hulle in die huis gebring en die deur toegesluit. Toe slaan hulle die manne wat by die ingang van die huis was, klein en groot, met blindheid, sodat hulle tevergeefs na die ingang gesoek het.

GENESIS 19:1-11 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die twee engele het Sodom teen die aand bereik terwyl Lot juis in die poort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, het hy hulle tegemoet gegaan en diep gebuig en gesê: “Welkom, Menere! Kom tog na my huis toe en oornag daar. Julle kan ook julle voete was. Dan kan julle môre vroeg julle reis voortsit.” Maar hulle sê: “Nee, ons sal sommer op die plein oornag.” Lot het egter so by hulle aangehou dat hulle by hom ingedraai en in sy huis ingegaan het. Hy het vir hulle 'n maaltyd klaargemaak: hy het ongesuurde brood gebak, en hulle het geëet. Voor hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit, die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle hê.” Toe het Lot na die mans van Sodom toe uitgegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het, het hy gesê: “Nee, vriende! Moenie so 'n verkeerde ding doen nie. Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met 'n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom.” Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter speel. Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as vir sy besoekers.” Hulle het vir Lot teruggedruk en nader gekom om die deur oop te breek. Toe het die mans wat in sy huis was, vir Lot binnetoe getrek na hulle toe en die deur gesluit, en die mans buite by die deur, oud en jonk, laat blind word sodat hulle nie die deur kon kry nie.

GENESIS 19:1-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die twee engele het teen die aand in Sodom aangekom terwyl Lot in die stadspoort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, staan hy op, gaan hulle tegemoet en buig laag met sy gesig na die grond. Hy sê toe: “Ag, menere, draai asseblief af na die huis van u dienaar, bly die nag oor en was u voete! U kan vroeg opstaan en op u pad gaan.” Maar hulle het gesê: “Nee, ons sal hier in die oop ruimte oornag.” Hy het egter ernstig by hulle daarop aangedring, en hulle het na hom afgedraai en by sy huis aangekom. Hy het vir hulle 'n maaltyd voorberei en ongesuurde brode gebak, en hulle het geëet. Voordat hulle gaan slaap, kom die manne van die stad, die manne van Sodom, van oral oor na die huis, jonk en oud, al die mense, sonder uitsondering. Hulle roep toe na Lot en sê vir hom: “Waar is die mans wat vannag by jou aangekom het? Bring hulle uit na ons toe, sodat ons met hulle gemeenskap kan hê!” Lot het na hulle uitgegaan, na die ingang, en die deur agter hom toegemaak. Hy het gesê: “My broers, moet asseblief nie iets slegs doen nie! Kyk, ek het twee dogters wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Laat ek hulle liewer na julle uitbring. Maak dan met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie mans moet julle nie iets doen nie, want juis daarom het hulle onder die skadu van my dak ingekom.” Maar hulle het gesê: “Gee pad daar!” Verder sê hulle: “Hierdie man het gekom om as •vreemdeling hier te woon, en hy wil sowaar 'n oordeel vel! Nou sal ons jou meer kwaad aandoen as vir hulle!” Hulle het heftig aangedring by die man, by Lot, en nader beweeg om die deur af te breek. Maar die mans het hulle hande uitgesteek, Lot na hulle toe ingetrek en die deur gesluit. Hulle het ook die mans wat by die ingang van die huis was, van klein tot groot, met blindheid geslaan. Die mans het toe maar opgegee om die deur te probeer vind.

GENESIS 19:1-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En teen die aand het twee engele na Sodom gekom; en Lot het in die poort van Sodom gesit, en toe Lot hulle sien, het hy opgestaan hulle tegemoet; en hy het met sy aangesig na die aarde gebuig; En hy sê: Kyk tog, my HERE, draai tog in die huis van U kneg in en vertoef die hele nag en was U voete, en julle sal vroeg opstaan en julle weë voortgaan. En hulle antwoord: Nee! maar ons sal die hele nag in die straat bly. Maar hy het aangedring; en hulle het na hom omgedraai en in sy huis ingegaan; en hy het vir hulle 'n maaltyd berei en ongesuurde brode gebak, en hulle het geëet. Maar voordat hulle gaan slaap het, het die manne van die stad, die manne van Sodom, die huis omsingel, oud en jonk, al die mense van elke kant af. Hulle het na Lot geroep en vir hom gesê: Waar is die manne wat vanaand na jou ingekom het? Bring hulle na ons uit, dat ons hulle kan ken. Lot het by die deur na hulle uitgegaan en die deur agter hom gesluit. Hy het gesê: Ek smeek julle broeders, moenie so iets goddeloos doen nie. Kyk nou, ek het twee dogters wat geen mens geken het nie; laat ek hulle tog na julle uitbring en aan hulle doen soos goed is in julle oë; doen net aan hierdie manne niks nie; want het hulle onder die skaduwee van my dak gekom. En hulle sê: Staan terug. En hulle sê weer: Hierdie een het ingekom om as vreemdeling te vertoef, en hy sal 'n regter moet wees; nou sal ons U erger behandel as hulle. En hulle het die man, naamlik Lot, gedruk en nader gekom om die deur te breek. Maar die manne het hul hand uitgesteek en Lot na hulle in die huis ingetrek en die deur toegesluit. Hulle het die manne wat by die deur van die huis was, met blindheid geslaan, klein en groot, sodat hulle moeg was om die deur te vind.

GENESIS 19:1-11 Die Boodskap (DB)

Teen die aand se kant het die twee engele in Sodom aangekom. Op daardie oomblik het Lot juis by die stadspoorte gesit en gesels. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan, hulle vriendelik gegroet en voor hulle gebuig. “Menere,” het hy gesê, “welkom hier in Sodom. U kan vannag sommer by my oorslaap. Daar kan u was en ontspan en môre vroeg weer verder gaan.” Hulle wou nie en het gesê: “Baie dankie, maar ons slaap sommer op die stadsplein.” Lot het egter so aangehou dat hulle uiteindelik saam met hom is. Hy het vir hulle lekker kos gemaak en ook broodrolletjies voorgesit. Hulle het saam geëet. Net voor slaaptyd was daar skielik ’n geraas buite. Al die stad se mans het voor Lot se huis saamgedrom. Almal was daar; jonges en oues. Hulle het Lot geroep en gevra: “Waar is die mans wat vroeër vanaand hier by jou was? Bring hulle uit. Ons wil hulle sien en met hulle seks hê.” Lot het uitgegaan en die deur agter hom toegesluit. Hy het toe mooi met hulle gepraat: “Asseblief, my broers, moet tog nie iets onverantwoordeliks aanvang nie. Kyk, ek het twee dogters. Hulle is hier binne-in die huis. Hulle het nog nooit by ’n man geslaap nie. Ek is bereid om hulle vir julle te bring en julle kan met die dogters doen net wat julle wil. Maar moet in hemelsnaam niks aan die twee mans doen nie. Hulle is my gaste vir die nag.” Die skare mans was egter onbeheerbaar. Hulle het Lot eenkant toe gestoot en gesê: “Wie is jy nou eintlik? Jy het hier as ’n vreemdeling aangekom en nou wil jy oor ons baasspeel. Ons sal jou nog vernietig. Ons sal nog erger dinge aan jou doen as aan die mans in jou huis!” Die skare het toe vorentoe begin beur en Lot teen die deur vasgedruk. Hulle wou die deur oopbreek. Die twee mans binne-in die huis het Lot egter vinnig teruggepluk en die deur gesluit. Skielik het hulle met ’n helder en skerp lig die mans verwar, sodat hulle wat by die huis se ingang saamgedrom het, nie die deur kon kry nie.

GENESIS 19:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Daardie aand het die twee engele by Sodom aangekom. Lot het juis in die poort van Sodom gesit. Toe hy hulle sien, het hy opgestaan om hulle te ontmoet. Hy het hulle verwelkom en laag voor hulle gebuig. “Menere,” sê hy, “kom gerus saam na my huis toe. Daar kan u u voete was en my gaste vir die nag wees. Môre-oggend kan u weer vroeg op pad wees.” “Nee, dankie,” antwoord hulle, “ons sal die nag sommer hier op die stadsplein deurbring.” Maar Lot het daarop aangedring sodat hulle uiteindelik ingewillig het om saam te gaan. Hy het ’n groot feesmaal voorgesit met ongesuurde brood en hulle het dit geëet. Ná die ete, toe hulle begin klaarmaak om te gaan slaap, het al die mans van Sodom, oud en jonk, van oor die hele stad saamgekom en die huis omsingel. Hulle skree vir Lot: “Waar is die mans wat die nag by jou deurbring? Bring hulle uit sodat ons seksueel met hulle kan verkeer!” Lot het uitgegaan, die deur agter hom toegemaak en met hulle gepraat. “Asseblief, my broers,” het hy gesoebat, “moenie so ’n bose ding doen nie. Kyk, ek het twee dogters, albei nog maagde. Ek sal hulle buitentoe bring. Doen met hulle wat julle wil, maar los hierdie mans uit, want hulle is onder my beskerming.” “Staan opsy!” het hulle geskree. “Jy het as vreemdeling tussen ons kom woon en nou wil jy vir ons kom sê wat óns moet doen! Ons sal jou nog slegter behandel as vir hulle.” Hulle het Lot begin vasdruk en nadergekom om die deur af te breek. Maar die twee engele het hulle arms uitgesteek, Lot ingetrek en die deur gegrendel. Toe het hulle al die mans van Sodom buite die huis verblind sodat hulle die deur nie kon kry nie.