GENESIS 17:7-9
GENESIS 17:7-9 Bybel vir almal (ABA)
Ek maak 'n verbond tussen My en jou en jou nageslag en hulle nageslagte. Dit is 'n verbond wat altyd sal aanhou. Ek sal jou God wees en ook jou nageslag se God. En Ek sal vir jou en vir jou nageslag hierdie land gee waarin jy nou 'n vreemdeling is, die hele land Kanaän. Die land sal altyd aan julle behoort, en Ek sal julle God wees.” God het vir Abraham gesê: “Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag en hulle nageslagte.
GENESIS 17:7-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag.
GENESIS 17:7-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.” Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte.
GENESIS 17:7-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle 'n God wees.” God het ook vir Abraham gesê: “En jy, my verbond moet jy nakom, jy en jou nageslag ná jou deur hulle geslagte heen.
GENESIS 17:7-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land gee waarin jy 'n vreemdeling is, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal hulle God wees. God het vir Abraham gesê: Jy moet dan my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou in hulle geslagte.
GENESIS 17:7-9 Die Boodskap (DB)
“Ek sal my ooreenkoms met jou nakom, en met jou kinders. Wat Ek beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is. Vir jou en jou kinders gee Ek hierdie land. Vandag is dit nog nie joune nie, maar eendag sal dit joune word en ook jou kinders s’n. Hierdie hele land Kanaän sal vir altyd hulle s’n word. Ek sal ook hulle God wees.” God het verder gesê: “My ooreenkoms met jou en jou kinders moet julle van julle kant af gehoorsaam.
GENESIS 17:7-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Ek sal my verbond tussen My en jou bevestig van geslag tot geslag. Dit sal vir altyd voortduur. Ek sal altyd jou God wees en ook die God van jou nageslag. Hierdie hele land Kanaän waar jy nou bly, gee Ek vir jou en jou nageslag, vir altyd. En Ek sal hulle God wees.” “Jou deel van die ooreenkoms,” sê God vir Abraham, “is om die voorwaardes van die verbond na te kom. Dit geld vir jou en al die geslagte ná jou.