GENESIS 17:1-16
GENESIS 17:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die Here aan hom verskyn en vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe naby My en wees opreg! Ek sal my verbond met jou sluit en baie, baie mense uit jou laat voortkom.” Abram het op sy knieë geval, en toe sê God vir hom: “Dit is my verbond met jou: jy sal die vader wees van 'n menigte nasies; jy sal nie meer Abram genoem word nie, jou naam sal Abraham wees, want Ek maak jou die vader van baie nasies. Ek sal jou baie vrugbaar maak, Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. “Ek bring 'n verbond tot stand tussen My en jou en jou nageslag en al hulle geslagte. Dit is 'n blywende verbond: Ek sal jou God wees en ook die God van jou nageslag. Ek gee aan jou en jou nageslag die land waar jy as vreemdeling woon, die hele Kanaän, as 'n blywende besitting, en Ek sal hulle God wees.” Verder het God vir Abraham gesê: “Jy moet my verbond nakom, jy en jou nageslag en al hulle nageslagte. Dit is my verbond wat moet geld vir jou en jou nageslag: elke lid van die manlike geslag onder julle moet besny word. Julle moet besny word aan die voorhuid. Dit is die verbondsteken tussen My en julle: elke seun onder julle van ag dae oud moet besny word. Dit geld vir elke lid van die manlike geslag onder julle: al julle nageslagte en ook elke slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en die slawe wat van 'n vreemde met geld gekoop word, wat nie jou afstammeling is nie. 'n Slaaf wat as kind in jou besit gebore word, en een wat vir geld gekoop word, moet beslis besny word. So sal my verbondsteken aan julle liggame wees as 'n blywende verbond. Elke lid van die manlike geslag wat nie besny is nie, moet van sy volksgenote afgesny word. Hy het my verbond verbreek.” God het ook nog vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie. Haar naam is nou Sara. Ek sal haar seën en vir jou 'n seun uit haar gee. Ja, Ek sal haar seën, en nasies en konings van volke sal uit haar voortkom.”
GENESIS 17:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Abram nege-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: “Ek is God, die Almagtige. Leef voor My, en wees onberispelik! Ek wil my verbond tussen My en jou bekragtig en jou buitengewoon laat vermeerder.” Abram het neergeval met sy gesig teen die grond, en God het met hom gepraat: “Wat My betref, kyk, my verbond met jou is: Jy sal die vader van 'n menigte nasies word. Jy sal nie meer Abram genoem word nie. Jou naam sal Abraham wees, want vader van 'n menigte nasies maak Ek jou. Ek sal jou besonder vrugbaar maak en jou tot nasies maak. Konings sal uit jou voortkom. Ek sal my verbond tussen My en jou en jou nageslag ná jou handhaaf, deur hulle geslagte heen, as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. Ek gee aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap, die hele land Kanaän, as eiendom vir altyd, en Ek sal vir hulle 'n God wees.” God het ook vir Abraham gesê: “En jy, my verbond moet jy nakom, jy en jou nageslag ná jou deur hulle geslagte heen. En dit is my verbond tussen My en julle en jou nageslag ná jou wat julle moet nakom: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. Julle moet besny word aan die vlees van julle voorhuide. Dit sal dien as teken van die verbond tussen My en julle. Op die ouderdom van agt dae moet elke manlike persoon by julle besny word, deur al julle geslagte heen – ook 'n kind uit die huishouding, en dié wat met geld gekoop is van enige vreemde en wat nie deel is van jou nageslag nie. 'n Kind uit die huishouding en dié wat met geld gekoop is, moet beslis besny word. My verbond moet aan julle liggame wees as 'n ewige verbond. 'n Onbesnede manlike persoon wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie – daardie persoon moet van sy mense afgesny word; my verbond het hy verbreek.” God het vir Abraham gesê: “Sarai, jou vrou, moet jy nie meer Sarai noem nie; want haar naam moet Sara wees. Ek sal haar seën, en boonop sal Ek uit haar vir jou 'n seun gee. Ek sal haar seën, en sy sal tot nasies word; konings van volke sal uit haar voortkom.”
GENESIS 17:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Abram 99 jaar oud was, het die HERE weer aan hom verskyn en gesê: “Ek is God die Almagtige. Lewe in my teenwoordigheid en wees opreg. Ek sal my verbond met jou maak en jy sal ’n groot nasie word.” Toe Abram dit hoor, val hy met sy gesig op die grond. God sê toe vir hom: “Dit is my verbond wat Ek met jou sluit: Jy sal die voorsaat wees van baie nasies. Ek verander jou naam. Jy sal nie meer Abram genoem word nie, maar jy sal as Abraham bekend staan, want jy sal die voorvader wees van baie nasies. Ek sal jou talle nasate gee wat uit baie nasies sal bestaan. Daar sal ook konings uit jou nageslag voortkom. “Ek sal my verbond tussen My en jou bevestig van geslag tot geslag. Dit sal vir altyd voortduur. Ek sal altyd jou God wees en ook die God van jou nageslag. Hierdie hele land Kanaän waar jy nou bly, gee Ek vir jou en jou nageslag, vir altyd. En Ek sal hulle God wees.” “Jou deel van die ooreenkoms,” sê God vir Abraham, “is om die voorwaardes van die verbond na te kom. Dit geld vir jou en al die geslagte ná jou. Dít is my verbond wat jy en jou nageslag moet onderhou: Elke manlike persoon onder julle moet besny word. Julle moet aan die voorhuid besny word. Dit is die teken van die verbond tussen My en julle. Elke seun moet op die agtste dag na geboorte besny word. Dit geld nie net jou familie nie, maar ook alle slawe wat in jou huishouding gebore word en dié wat as slawe gekoop word. Almal moet besny word. So sal julle aan julle liggame die teken dra van my ewigdurende verbond. Elkeen wat nie besny is nie, sal afgesny word van God se belofte omdat hy die verbond verbreek het.” Verder sê God: “Jou vrou Sarai sal nie meer so genoem word nie. Van nou af sal haar naam Sara wees. Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun in die wêreld bring. Ek sal haar beslis ryklik seën. Sy sal moeder word van baie nasies en uit haar nageslag sal daar konings voortkom.”
GENESIS 17:1-16 Bybel vir almal (ABA)
Abram was 99 jaar oud toe die Here aan hom verskyn het. Die Here het vir hom gesê: “Ek is God die Almagtige. Jy moet My dien en reg lewe. Dan sal Ek 'n verbond maak met jou. Ek sal vir jou 'n baie groot nageslag gee.” Abram het met sy gesig teen die grond gaan lê, en die Here het vir hom gesê: “Ek maak hierdie verbond met jou: Jy sal die voorvader wees van baie volke, en jou naam sal nie meer Abram wees nie. Jou naam sal nou Abraham wees, want Ek sal jou die voorvader van baie volke maak. Jy sal 'n baie groot nageslag hê. Jy sal die voorvader wees van baie volke en konings. Ek maak 'n verbond tussen My en jou en jou nageslag en hulle nageslagte. Dit is 'n verbond wat altyd sal aanhou. Ek sal jou God wees en ook jou nageslag se God. En Ek sal vir jou en vir jou nageslag hierdie land gee waarin jy nou 'n vreemdeling is, die hele land Kanaän. Die land sal altyd aan julle behoort, en Ek sal julle God wees.” God het vir Abraham gesê: “Maar jy moet my verbond hou, jy en jou nageslag en hulle nageslagte. Hier is die verbond wat jy en jou nageslag moet hou: Julle moet elke man en seun besny. Dit sal die bewys wees van die verbond tussen My en julle. As 'n seun ag dae oud is, dan moet julle hom besny. Julle moet dit doen met elke seun in julle huis, en met elke slaaf wat in julle huis gebore word. Julle moet dit ook doen met elke slaaf wat julle koop, elke slaaf wat nie julle nageslag is nie. Elke seun in julle huis en ook elke slaaf wat julle gekoop het, moet besny word, sodat daar altyd aan julle liggame 'n bewys van my verbond kan wees. “Julle moet elke man wat nie besny is nie, van hierdie volk afsny. Hy het nie my verbond gehou nie, hy het dit gebreek.” God het ook vir Abraham gesê: “Jy moet jou vrou nie meer Sarai noem nie, haar naam moet nou Sara wees. Ek sal haar seën en sy sal vir jou 'n seun kry. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar nageslag sal volke en konings kom.”
GENESIS 17:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE Abram negen-en-negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is God, die Almagtige; wandel voor my aangesig, dan sal jy opreg wees. En Ek wil my verbond sluit tussen My en jou, en jou buitengewoon vermeerder. Toe val Abram op sy aangesig, en God het met hom gespreek en gesê: Wat My aangaan, kyk, my verbond is met jou, en jy sal die vader van 'n menigte van nasies word. Daarom sal hulle jou nie meer Abram noem nie, maar jou naam sal wees Abraham, want Ek maak jou 'n vader van 'n menigte van nasies. En Ek sal jou buitengewoon vrugbaar maak: Ek sal jou tot nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. En Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land van jou vreemdelingskap gee, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal vir hulle 'n God wees. Verder het God aan Abraham gesê: Maar jý moet my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou, van geslag tot geslag. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou: Al wat manlik onder julle is, moet besny word — julle moet aan die vlees van julle voorhuid besny word, en dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en julle. 'n Seuntjie van agt dae dan moet onder julle besny word, al wat manlik is in julle geslagte. Die wat in jou huis gebore is, en die wat van enige vreemdeling met geld gekoop is, wat nie van jou geslag is nie — die wat in jou huis gebore en wat met jou geld gekoop is, moet sekerlik besny word. So moet dan my verbond in julle vlees wees as 'n ewige verbond. En wat manlik is en die voorhuid het, wat nie aan die vlees van sy voorhuid besny is nie — dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word: hy het my verbond verbreek. Verder het God aan Abraham gesê: Sarai, jou vrou, moet jy nie Sarai noem nie, maar haar naam sal Sara wees. En Ek sal haar seën en jou uit haar ook 'n seun gee; ja, Ek sal haar seën, sodat sy tot nasies sal word; konings van volke sal uit haar voortkom.
GENESIS 17:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Abram nege en negentig jaar oud was, het die HERE aan Abram verskyn en vir hom gesê: Ek is die Almagtige God; wandel voor my aangesig en wees volmaak. Ek sal my verbond sluit tussen My en jou en jou uitermate vermeerder. En Abram het op sy aangesig geval, en God het met hom gespreek en gesê: Wat my betref, kyk, my verbond is met jou, en jy sal 'n vader van baie nasies word. Jou naam sal ook nie meer Abram genoem word nie, maar jou naam sal Abraham wees; want 'n vader van baie nasies het Ek jou gemaak. Ek sal jou uitermate vrugbaar maak, en Ek sal jou nasies maak, en konings sal uit jou voortkom. Ek sal my verbond oprig tussen My en jou en jou nageslag ná jou in hulle geslagte as 'n ewige verbond, om vir jou 'n God te wees en vir jou nageslag ná jou. En Ek sal aan jou en jou nageslag ná jou die land gee waarin jy 'n vreemdeling is, die hele land Kanaän, as 'n ewige besitting; en Ek sal hulle God wees. God het vir Abraham gesê: Jy moet dan my verbond hou, jy en jou nageslag ná jou in hulle geslagte. Dit is my verbond wat julle moet hou tussen My en julle en jou nageslag ná jou; Elke manlike seun onder julle moet besny word. Julle moet die vlees van julle voorhuid besny; en dit sal 'n teken wees van die verbond tussen My en jou. En hy wat agt dae oud is, moet onder julle besny word, elke manlike seun in julle geslagte, hy wat in die huis gebore is of met geld gekoop is van enige vreemdeling wat nie uit jou nageslag is nie. Hy wat in jou huis gebore is en hy wat met jou geld gekoop is, moet besny word; en my verbond sal in julle vlees wees as 'n ewige verbond. En die onbesnede manlike seun wie se vlees van sy voorhuid nie besny is nie, dié siel moet uit sy volk uitgeroei word; hy het my verbond verbreek. En God het vir Abraham gesê: Wat jou vrou Sarai betref, jy mag haar nie Sarai noem nie, maar haar naam moet Sara wees. Ek sal haar seën en vir jou ook 'n seun uit haar gee; ja, Ek sal haar seën, en sy sal 'n moeder van nasies wees; konings van volke sal van haar wees.
GENESIS 17:1-16 Die Boodskap (DB)
Toe Abram amper 99 jaar oud was, het die Here weer na hom toe gekom. “Abram,” het Hy gesê, “Ek is El Shaddai, die God wat almagtig en sterk is. Jy moet altyd naby aan My leef en net die regte dinge doen. “Ek sluit ’n ooreenkoms met jou dat Ek sal sorg dat jy eendag ’n groot nageslag het.” Terwyl God nog gepraat het, het Abram voor Hom neergeval. God het toe gesê: “Abram, dit is my deel van my ooreenkoms met jou: jy sal nog die pa van baie nasies en van ’n massa mense word. Ek dink baie aan hierdie belofte van My. “Ek gaan jou naam nou dadelik verander. Hulle sal jou nie meer Abram noem nie, maar Abraham, want Ek maak jou die pa van baie nasies.’ “Jou kinders sal baie kinders hê. Uit hulle sal groot nasies en belangrike konings kom. “Ek sal my ooreenkoms met jou nakom, en met jou kinders. Wat Ek beloof het, geld vir altyd. Ek sal ook hulle God wees soos Ek joune is. Vir jou en jou kinders gee Ek hierdie land. Vandag is dit nog nie joune nie, maar eendag sal dit joune word en ook jou kinders s’n. Hierdie hele land Kanaän sal vir altyd hulle s’n word. Ek sal ook hulle God wees.” God het verder gesê: “My ooreenkoms met jou en jou kinders moet julle van julle kant af gehoorsaam. Daar is een ding wat julle moet doen. Julle mag dit nie vergeet nie. Jou kinders moet dit vir altyd onthou. Dit is dat al julle mans besny moet word aan hulle geslagsorgane. Elkeen se voorhuid moet met ’n mes besny word. Dit sal die bewys wees dat julle Myne is en dat Ek julle God is. Elke seuntjie moet agt dae na sy geboorte besny word. Julle moet dit vir altyd doen. Selfs die kinders van jou werkers moet besny word. En die kinders van daardie werkers wat jy van vreemdelinge gekoop het, moet ook besny word. Kortom: al jou werkers se kinders asook daardie werkers wat jy gekoop het, se kinders moet besny word. Aan julle liggaam sal mense dan kan sien dat julle aan My behoort en dat Ek julle God is. En dit sal vir altyd so wees. Iemand wat nie besny is nie, is nie deel van jou nie. Hy is ook nie deel van My en my ooreenkoms met julle nie.” God het ook verder met Abraham gepraat: “Jou vrou Sarai moet jy nie meer so noem nie. Noem haar eerder Sara. Ek sal haar seën en sy sal vir jou ’n seun baar. Ja, Ek sal haar seën, en uit haar sal daar nog baie nasies en belangrike leiers gebore word.”