GENESIS 15:2-6
GENESIS 15:2-6 Bybel vir almal (ABA)
Toe sê Abram: “Here, my Here, wat kan U vir my gee? Ek het nie kinders nie, en Eliëser, die man uit Damaskus, sal eendag al my goed erf. U het nie vir my 'n nageslag gegee nie, en daarom sal een van my slawe alles erf wat ek het.” Toe praat die Here weer met Abram en Hy sê vir hom: “Nee, dit is nie 'n slaaf wat al jou goed sal erf nie. Net jou eie seun sal jou goed erf.” Die Here het vir Abram buitetoe geneem en vir hom gesê: “Kyk na die lug en probeer om al die sterre te tel. Jou nageslag sal so baie wees.” Abram het die Here geglo, en daarom was die Here tevrede met hom.
GENESIS 15:2-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe vra Abram: Here HERE, wat sal U my gee, aangesien ek sonder kinders heengaan en die erfgenaam van my huis die Damaskéner Eliëser is? Verder het Abram gesê: Aan my het U geen nageslag gegee nie; so sal dan die bediende van my huis my erfgenaam wees. Toe kom die woord van die HERE tot hom en sê: Hierdie een sal jou erfgenaam nie wees nie, maar die een wat uit jou liggaam sal voortkom, hy sal jou erfgenaam wees. Daarop lei Hy hom uit na buite met die woorde: Kyk nou op na die hemel en tel die sterre as jy hulle kan tel. En Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en Hy het hom dit tot geregtigheid gereken.
GENESIS 15:2-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê Abram: “Here my God, wat kan U vir my gee? Ek sal kinderloos sterf, en Eliëser die man uit Damaskus sal my besittings kry.” Abram het verder gesê: “U het nie vir my 'n nageslag gegee nie. 'n Slaaf uit my huis sal my erfgenaam wees.” Maar die woord van die Here het tot Abram gekom: “Daardie een sal nie jou erfgenaam wees nie. Een wat jou eie nasaat is, hy sal jou erfgenaam wees.” Toe het die Here vir Abram buitentoe laat gaan en vir hom gesê: “Kyk op na die hemel en tel die sterre as jy kan.” Verder sê die Here vir hom: “So baie sal jou nageslag wees.” Abram het toe in die Here geglo, en die Here het dit goedgevind dat Abram so volgens die wil van die Here gehandel het.
GENESIS 15:2-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar Abram het gesê: “HERE, my Heer, wat sal U vir my gee? Kinderloos gaan ek heen. Die erfgenaam van my huis is Eliëser van Damaskus.” Abram het ook gesê: “Kyk, vir my het U nie 'n nageslag gegee nie. Kyk, 'n seun uit my huishouding gaan my erfgenaam wees.” Maar kyk, die woord van die HERE kom toe tot Abram: “So iemand sal nie jou erfgenaam wees nie, slegs een wat uit jou liggaam voortkom, hy sal jou erfgenaam wees.” Toe neem Hy Abram na buite en sê: “Kyk maar op na die hemel en tel die sterre – as jy in staat is om hulle te tel!” En Hy sê vir hom: “So sal jou nageslag wees.” Hy het die HERE geglo. En Hy het dit vir hom as geregtigheid toegereken.
GENESIS 15:2-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Abram: HERE HERE, wat sal U my gee, aangesien ek kinderloos gaan en die bestuurder van my huis is hierdie Eliëser van Damaskus? Toe sê Abram: Kyk, jy het aan my geen nageslag gegee nie, en kyk, iemand wat in my huis gebore is, is my erfgenaam. En kyk, die woord van die HERE het tot hom gekom en gesê: Dit sal nie jou erfgenaam wees nie; maar hy wat uit jou eie ingewande sal voortkom, sal jou erfgenaam wees. Hy het hom na buite gebring en gesê: Kyk tog na die hemel en vertel die sterre of jy hulle kan tel; en Hy sê vir hom: So sal jou nageslag wees. En hy het in die HERE geglo; en hy het dit hom tot geregtigheid gereken.
GENESIS 15:2-6 Die Boodskap (DB)
Abram was so moedeloos oor sy kinderloosheid dat hy gesê het: “Ag, Here, wat help u geskenke as ek nie kinders het nie. Eliëser wat uit Damaskus kom, die een wat vir my werk, hy sal nog eendag al my goed erf. “U het my nie ’n kind gegee nie, Here, en daarom sal een van my werkers nog al my besittings kry.” Die Here het toe vir Abram gesê: “Nee, dit sal nie gebeur nie. Eliëser sal niks van jou erf nie. Jou eie kind sal eendag alles kry.” Die Here het Abram buitentoe geneem en gesê hy moet opkyk. “Probeer ’n bietjie al die sterre tel,” het Hy gesê. Abram kon nie en die Here het gesê: “Jou nageslag sal nog eendag net so baie soos hierdie sterre word.” Abram het die Here toe geglo. Vir die Here was dit goed dat Abram so op Hom vertrou.
GENESIS 15:2-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Maar Abram het geantwoord: “Oppermagtige HERE, wat beteken al u seëninge as ek nie eers ’n seun het nie? Daarom sal Eliëser van Damaskus my erfgenaam word. U het my geen kinders gegee nie. Een van my slawe sal dus alles erf wat ek besit.” Toe sê die HERE vir hom: “Nee, hy sal nie jou erfgenaam word nie. Jy sal ’n seun van jou eie hê wat al die besittings wat Ek jou gee, sal erf.” Daarop neem die HERE Abram na buite toe en sê: “Kyk op na die naghemel en tel die sterre. Kan jy hulle tel? Net so baie sal jou nageslag wees!” Abram het op die HERE vertrou en die HERE het hom as regverdig gereken.