GENESIS 1:3-31

GENESIS 1:3-31 Die Boodskap (DB)

God was egter daar en Hy het gesê: “Laat daar lig wees.” Skielik was daar oral lig. God was baie tevrede met die lig wat Hy gemaak het. Hy het dit apart van die donkerte gehou. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die eerste dag van die skepping. God het weer gepraat: “Laat daar ’n soliede massa in die middel van al die waters kom, sodat daar ’n duidelike skeiding tussen die waters sal wees.” En dit het gebeur. God het toe hierdie soliede struktuur gemaak. Dit het die ontsaglike massas waters onder en bo die aarde uitmekaargehou. God het hierdie blou struktuur in die lug “hemel” genoem. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die tweede dag van die skepping. God het verder gegaan en gesê: “Laat al die water onder die hemelruim op een plek bymekaarkom sodat daar ook droë land sal wees.” En dit was so. God het die droë land “aarde” genoem en die plek waar al die water bymekaargekom het, “see”. God het gesien dat dit wat Hy geskep het, goed was. God het weer gepraat en gesê: “Laat die aarde sy groeikrag wys en laat daar oral welige groen plante uitkom; verskillende plante met hulle sade. Laat daar oor die hele aarde verskillende soorte vrugtebome wees.” En alles het presies so gebeur. Uit die vrugbare aarde het daar oral welige groen plante opgekom, alle denkbare soorte plante. En binne-in elke plant was elkeen se saad. Daar was ook oral vrugtebome. God was baie tevrede met wat Hy rondom Hom gesien het. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die derde dag van die skepping. God het gesê: “Laat daar ligte in die hemelruim wees sodat mense kan weet wanneer dit dag en wanneer dit nag is. Laat die ligte die mense help om die regte tyd te bepaal. Laat die ligte aan die hemelruim ook elke dag vir die mense op die aarde lig gee.” En dit het so gebeur. God het twee groot ligte gemaak. Die ou grote, die son, moes oor die dag heers. En die kleintjie, die maan, oor die nag en die sterre. God het hierdie twee ligte toe bo in die hemelruim geplaas, sodat dit lig op die aarde bring: die grote oor die dag en die kleintjie oor die nag. So is die lig van die donkerte geskei. En God was baie tevrede met die son en die maan wat Hy gemaak het. Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vierde dag van die skepping. God het gesê: “Laat die waters wemel van alle soorte seediere en laat die voëls oor die lengte en die breedte van die hemelruim rondvlieg.” God het toe die groot seediere gemaak, so ook alle diere wat in die waters leef. God het ook elke denkbare soort voël gemaak. Hy was baie tevrede met al die seediere en voëls wat Hy gemaak het. God het hulle geseën en gesê: “Wees vrugbaar en word baie. Maak nou die water van die see vol met allerhande soorte seediere. En laat die hemelruim en die aarde vol swerms voëls wees.” Dit het toe nag geword en weer dag. En dit was die vyfde dag van die skepping. God het gesê: “Laat die aarde verskillende soorte diere oplewer: alle soorte klein- en grootvee, kruipende dinge en wilde diere.” En dit was so. God het toe al die verskillende soorte wilde diere gemaak asook alle soorte klein- en grootvee en al die kruipende dinge op aarde. En God was baie tevrede met die diere wat Hy gemaak het. Toe het God gesê: “Kom Ons maak ’n mens, ’n mens wat iets van My in hom het en selfs ’n bietjie soos Ek lyk. Hy sal oor die visse in die see regeer asook oor die voëls in die hemel. Hy sal die klein- en grootvee asook al die wilde diere tem. Hy sal oor al die kruipende diere op die aarde heers.” God het toe die mens gemaak. En dié mens het iets van God in hom gehad. Dié mens het soos God gelyk. God het ’n man en ’n vrou gemaak. God het hulle toe geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar en kry baie kinders, so baie dat julle oral oor die aarde sal bly. Tem die aarde en heers daaroor. Heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en al die diere op die aarde.” God het verder gesê: “Kyk, Ek gee jou elke plant wat saad dra asook elke vrugteboom op aarde as jou kos. En vir al die diere op die land, al die voëls in die lug en al die diere wat op die aarde kruip, gee Ek die groen plante. Dit sal hulle kos wees.” En dit was so. God het alles wat Hy gemaak het, goed bekyk en Hy was baie tevrede daarmee. Dit het toe nag geword en weer dag. Dit was die sesde dag van die skepping.

GENESIS 1:3-31 Bybel vir almal (ABA)

God het gesê: “Daar moet lig wees.” En toe was daar lig. God het gesien die lig is goed. Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig “dag” genoem en Hy het die donker “nag” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die eerste dag. God het gesê: “Daar moet 'n hemeldak wees, die lug daarbo, en dit moet die water wat bo is, skei van die water wat onder is.” Dit het toe gebeur. God het die hemeldak gemaak en Hy het die water onder die dak geskei van die water bo die dak. God het die ronde dak “hemel” genoem. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die tweede dag. God het gesê: “Die water onder die hemel moet bymekaarkom op een plek, sodat daar ook grond kan wees.” Dit het toe gebeur. God het die grond “aarde” genoem en Hy het die water “see” genoem. God het gesien dit is goed. God het gesê: “Daar moet plante op die aarde groei – groen plante wat saad dra, en bome wat vrugte dra en wat saad in die vrugte dra.” Dit het toe gebeur. Daar het plante op die aarde gegroei – groen plante wat hulle eie saad dra, en bome wat hulle eie saad in die vrugte dra. God het gesien dit is goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die derde dag. God het gesê: “Daar moet ligte in die hemeldak wees. Die ligte moet dag en nag van mekaar skei. Die ligte moet tekens wees wat wys watter tyd dit is en wanneer die dae en die jare begin en wanneer hulle eindig. Die ligte in die hemeldak moet skyn op die aarde.” Dit het toe gebeur. God het twee groot ligte gemaak, en ook die sterre. Die groot lig moes in die dag skyn, en die kleiner lig moes in die nag skyn. God het hierdie ligte in die hemeldak gesit om lig te gee op die aarde en om in die dag te skyn of in die nag te skyn. Hulle moes lig en donker van mekaar skei. God het gesien dit is goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vierde dag. God het gesê: “Daar moet baie diere in die water wees en daar moet voëls onder die hemeldak vlieg.” God het die groot seediere gemaak, en alles wat in die see lewe. Hy het ook al die verskillende soorte voëls gemaak. God het gesien dit is goed. God het die diere in die see en die voëls geseën. Hy het vir hulle gesê: “Julle moet meer word, en die see moet vol diere wees. Daar moet ook baie voëls op die aarde wees.” Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die vyfde dag. God het gesê: “Daar moet baie soorte diere op die aarde wees – mak diere, diere wat kruip en wilde diere.” Dit het toe gebeur. God het die diere op die aarde gemaak, wilde diere, mak diere en diere wat kruip. God het gesien dit is goed. God het gesê: “Kom Ons maak 'n mens wat in ons plek kan regeer. Die mens moet hoof wees oor die visse in die see en oor die voëls in die lug. Hy moet ook hoof wees oor die mak diere en oor die hele aarde, en oor al die diere wat op die aarde kruip.” God het toe die mens gemaak om in sy plek te regeer. Hy het die mens gemaak om in sy plek hoof te wees. Hy het die mense so gemaak dat daar mans en vroue is. God het hulle geseën en vir hulle gesê: “Julle moet baie kinders kry en die aarde vol mense maak. Julle moet hoof wees oor die aarde en julle moet regeer oor die visse in die see, oor die voëls in die lug en oor al die diere wat op die aarde beweeg.” God het gesê: “Ek gee nou vir julle al die plante wat saad dra op die hele aarde, en al die bome wat vrugte en saad dra. Dit is die kos wat julle mag eet. Die gras en die groen plante is kos vir al die wilde diere, vir die voëls en al die ander diere wat op die aarde lewe.” Dit het gebeur. God het toe gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en daarna het dit oggend geword. Dit was die sesde dag.

GENESIS 1:3-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig. Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis; en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag. En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen waters en waters. God het toe die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel is, geskei van die waters wat bo die uitspansel is. En dit was so. En God het die uitspansel hemel genoem. En dit was aand en dit was môre, die tweede dag. En God het gesê: Laat die waters onder die hemel hulle op een plek versamel, sodat die droë grond sigbaar word. En dit was so. En God het die droë grond aarde genoem, en die versameling van die waters het Hy see genoem. Toe sien God dat dit goed was. En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die derde dag. En God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel, om skeiding te maak tussen die dag en die nag; en laat hulle dien as tekens sowel vir vaste tye, asook vir dae sowel as jare. Laat hulle ook dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig te gee op die aarde. En dit was so. God het toe die twee groot ligte gemaak: die groot lig om te heers oor die dag en die klein lig om te heers oor die nag; ook die sterre. En God het hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig te gee op die aarde en om te heers oor die dag en oor die nag en om skeiding te maak tussen die lig en die duisternis. Toe sien God dat dit goed was. En dit was aand en dit was môre, die vierde dag. En God het gesê: Laat die waters wemel met 'n gewemel van lewende wesens, en laat die voëls oor die aarde vlieg langs die uitspansel van die hemel. En God het die groot seediere geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte; en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. En dit was aand en dit was môre, die vyfde dag. En God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee, kruipende diere en wilde diere van die aarde volgens hulle soorte. En dit was so. En God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens hulle soorte en die vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die grond kruip, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was. En God het gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip. En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. En God het hulle geseën, en God het vir hulle gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit en heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en oor al die diere wat op die aarde kruip. Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en al die voëls van die hemel en al die kruipende diere op die aarde, waarin 'n lewende siel is, gee Ek al die groen plante as voedsel. En dit was so. Toe sien God alles wat Hy gemaak het, en — dit was baie goed. En dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

GENESIS 1:3-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Toe het God gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien die lig is goed, en Hy het die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig toe “dag” genoem, en die donker het Hy “nag” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. Toe het God gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.” So het dit gebeur. God het die gewelf gemaak en die waters onder die gewelf geskei van die waters bo die gewelf. God het die gewelf “hemel” genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die tweede dag. Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek bymekaarkom sodat die droë grond sigbaar word.” So het dit gebeur. God het die droë grond “aarde” genoem, en die waters wat bymekaargekom het, het Hy “see” genoem. En God het gesien dit is goed. Toe het God gesê: “Laat daar uit die aarde groenigheid voortkom, groen plante wat saad gee en vrugtebome op die aarde, wat elkeen na sy aard vrugte dra en waarvan die saad in sy vrug sit.” So het dit gebeur. Die aarde het groen plante laat uitspruit wat elkeen na sy aard saad gee, en bome wat vrugte dra met die saad daarin, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die derde dag. Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui. Hulle moet ligte wees aan die hemelgewelf om op die aarde lig te gee.” So het dit gebeur. God het die twee groot ligte gemaak, die grootste om bedags te heers en die kleiner lig om snags te heers, en ook die sterre. God het hulle in die hemelgewelf geplaas om op die aarde lig te gee, om oor dag en nag te heers en om lig en donker van mekaar te skei. En God het gesien dit is goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vierde dag. Toe het God gesê: “Laat die waters krioel van lewende wesens, en laat daar voëls onder die hemelgewelf oor die aarde vlieg.” God het die groot seediere geskep en al die ander lewende wesens waarvan die waters krioel, almal na hulle aard; ook al die voëls na hulle aard. En God het gesien dit is goed. Toe het God hulle geseën: “Wees vrugbaar, word baie en bewoon al die waters van die see. En laat die voëls baie word op land.” Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die vyfde dag. Toe het God gesê: “Laat die aarde lewende wesens voortbring, elkeen na sy aard: mak diere, diere wat kruip, wilde diere, elkeen na sy aard.” So het dit gebeur. God het die wilde diere op die aarde gemaak, elkeen na sy aard; ook die mak diere, elkeen na sy aard; en ook al die diere wat kruip, elkeen na sy aard. En God het gesien dit is goed. Toe het God gesê: “Kom Ons maak die mens as ons verteenwoordiger, ons beeld, sodat hy kan heers oor die vis in die see, die voëls in die lug, die mak diere, die wilde diere en al die diere wat op die aarde kruip.” God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep. Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde, ook oor die diere wat op die aarde kruip.” Verder het God gesê: “Let op! Ek gee aan julle al die plante wat saad gee op die hele aarde; ook al die bome wat vrugte dra en saad gee. Dit sal julle kos wees. Maar aan die wilde diere op die aarde en aan die voëls in die lug en aan die diere wat op die aarde kruip, aan alles wat leef, gee Ek al die groen plante as kos.” So het dit gebeur. Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die sesde dag.

GENESIS 1:3-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

en God het gesê: “Laat daar lig wees!” En daar was lig. God het gesien dat die lig goed was. God het toe die lig en die donker van mekaar geskei. God het die lig dag genoem en die donker het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was oggend – dag een. God het gesê: “Laat daar 'n gewelf wees tussen die waters, en laat dit skeiding maak tussen water en water.” God het die gewelf gemaak, en Hy het die water wat onder die gewelf was, geskei van die water wat bo die gewelf was. Dit het toe so gebeur. God het die gewelf hemel genoem. En dit was aand en dit was oggend – 'n tweede dag. God het gesê: “Laat die water wat onder die hemel is, op een plek bymekaarkom, sodat die droë grond sigbaar word.” Dit het toe so gebeur. God het die droë grond ‘land’ genoem en die versamelplek van die water het Hy ‘see’ genoem. God het gesien dat dit goed is. God het gesê: “Die land moet groen plante laat uitspruit – gewasse wat saad gee, bome wat op die land vrugte dra, vrugte volgens elkeen se aard, vrugte waarin hulle saad is.” Dit het toe so gebeur. Die land het toe groen plante voortgebring, gewasse wat saad gee volgens elkeen se aard, en bome wat vrugte dra waarin hulle saad is, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. En dit was aand en dit was oggend – 'n derde dag. God het gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om skeiding te maak tussen dag en nag. Hulle moet daar wees vir tekens en vir vaste tye, en vir dae en jare. Hulle moet daar wees as ligte aan die hemelgewelf om lig te gee op die aarde.” Dit het toe so gebeur. God het die twee groot ligte gemaak, die groot lig om te heers oor die dag, en die klein lig om te heers oor die nag, en ook die sterre. God het hulle aan die hemelgewelf geplaas om lig te gee op die aarde, en om te heers oor die dag en die nag, en om skeiding te maak tussen die lig en die donker. God het gesien dat dit goed is. En dit was aand en dit was oggend – 'n vierde dag. God het gesê: “Laat die water wemel met lewende wesens, en laat voëls oor die aarde vlieg langs die hemelgewelf.” God het volgens hulle aard die groot seediere geskep en al die lewende wesens wat rondbeweeg, waarvan die water wemel, en alle vlieënde voëls, volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, word meer en vul die water in die seë; en laat die voëls meer word op die land.” En dit was aand en dit was oggend – 'n vyfde dag. God het gesê: “Laat die land lewende wesens voortbring volgens elkeen se aard: mak diere, kruipende diere en wilde diere van die land, volgens elkeen se aard.” Dit het toe so gebeur. God het die wilde diere van die aarde gemaak volgens elkeen se aard, die mak diere volgens elkeen se aard, en al die diere wat op die grond kruip volgens elkeen se aard. God het gesien dat dit goed is. God het gesê: “Laat Ons mense maak na ons beeld, as ons afbeelding, sodat hulle kan heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel, die diere en oor die hele aarde, en oor al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg.” God het die mens geskep na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskep, manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën; God het vir hulle gesê: “Wees vrugbaar, vermeerder, vul die aarde en onderwerp dit. Heers oor die visse van die see, die voëls van die hemel en al die diere wat op die aarde rondbeweeg.” God het gesê: “Kyk, Ek gee vir julle al die gewasse wat saad dra, wat op die oppervlakte van die hele aarde is, en al die bome waaraan daar vrugte is, wat saad dra. Vir julle sal dit as voedsel dien. En vir al die diere van die aarde en vir al die voëls van die hemel en alles wat rondbeweeg op die aarde waarin lewensasem is, gee Ek al die groen gewasse as voedsel.” Dit het toe so gebeur. God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en kyk, dit was baie goed.

GENESIS 1:3-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

God het gesê: Laat daar lig wees, en daar was lig. God het gesien dat die lig goed was, en God het die lig van die duisternis geskei. God het die lig Dag genoem, en die duisternis het Hy Nag genoem. Dit het aand geword en dit het môre geword. Dit was die eerste dag. En God het gesê: Laat daar 'n uitspansel wees in die middel van die waters, en laat dit die waters van die uitspansel skei. God het die uitspansel gemaak en die waters wat onder die uitspansel was, geskei van die waters wat bo die uitspansel was. God het die uitspansel hemel genoem, en dit was aand en dit was môre, die tweede dag. Toe het God gesê: “Laat die waters onder die hemel op een plek versamel word, en laat die droë land verskyn.” En dit was so. God het die droë grond Aarde genoem; en die versameling van die waters het Hy see genoem, en God het gesien dat dit goed was. Toe het God gesê: Laat die aarde gras voortbring, die plante wat saad gee en die vrugtebome wat vrugte dra volgens sy soorte, wie se saad in homself is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het gras voortgebring en plante wat saad gee volgens sy soorte, en die boom wat vrugte dra, waarvan die saad in homself was, volgens sy soorte; en God het gesien dat dit goed was. Dit was aand en dit was môre, die derde dag. Toe het God het gesê: Laat daar ligte wees aan die uitspansel van die hemel om die dag en die nag te skei; en laat hulle dien as tekens en vir seisoene en vir dae en jare. En laat hulle dien as ligte aan die uitspansel van die hemel om lig op die aarde te gee; en dit het so gebeur. God het twee groot ligte gemaak; die groter lig om in die dag te heers en die mindere lig om in die nag te heers; Hy het ook die sterre gemaak. Toe het God hulle aan die uitspansel van die hemel gestel om lig op die aarde te gee, En om te heers oor die dag en oor die nag, asook om die lig van die duisternis te skei, en God het gesien dat dit goed was. Dit was aand en dit was môre, die vierde dag. God het gesê: Laat die waters oorvloedig voortbring die ontroerende wesens wat lewe het, en voëls wat oor die aarde vlieg in die uitspansel van die hemel. God het groot walvisse gemaak en al die lewende wesens wat beweeg, wat die waters in oorvloed voortgebring het, volgens hulle soorte, en al die gevleuelde voëls volgens hulle soorte; en God het gesien dat dit goed was. God het hulle geseën en gesê: Wees vrugbaar en vermeerder en vul die waters in die see, en laat die voëls op die aarde vermeerder. Dit was aand en dit was môre die vyfde dag. God het gesê: Laat die aarde lewende wesens voortbring volgens hulle soorte: vee en kruipende diere en diere van die aarde volgens hulle soorte; en dit het so gebeur. God het die diere van die aarde volgens hulle soorte gemaak en vee volgens hulle soorte en al die diere wat op die aarde kruip volgens hulle soorte; en God het gesien dat dit goed was. Toe het God gesê: Laat Ons mense maak na ons beeld, na ons gelykenis, en laat hulle heers oor die visse van die see, oor die voëls van die hemel, oor die vee en oor al die diere wat op die hele aarde kruip. God het die mens geskape na sy beeld, na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape. God het hulle geseën, en vir hulle gesê: Wees vrugbaar, vermeerder, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die visse van die see, oor die voëls van die hemel en oor al die lewende wesens wat beweeg op die aarde. God het gesê: Kyk, Ek gee julle al die plante wat saad dra, wat op die hele aarde is, en al die bome wat vrugte dra en wat saad gee; vir julle moet dit voedsel wees. Maar aan al die diere van die aarde en aan al die voëls van die hemel en aan al die diere wat op die aarde kruip, waarin daar lewe is, het Ek al die groen plante as voedsel gegee. Dit het so gebeur. God het na alles gekyk wat Hy gemaak het, en gesien dit was baie goed. Dit was aand en dit was môre, die sesde dag.

GENESIS 1:3-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Toe beveel God: “Laat daar lig wees!” en dit was so. Die lig was vir God goed. Daarop het God die lig en die donkerte van mekaar geskei. God het die lig “dag” genoem en die donkerte “nag”. Dit alles het op die eerste dag gebeur. God het beveel: “Laat daar skeiding kom tussen die waters!” So het God die hemelkoepel gemaak wat die water bokant die aarde skei van die water onder op die aarde. Dit het alles net so gebeur. God noem toe die blou koepel “hemel”. Dit het op die tweede dag gebeur. God het beveel: “Laat die water op die aarde op een plek bymekaarkom sodat die droë grond te voorskyn kan kom!” Dit het presies so gebeur. God noem toe die droë grond “land” en die versameling water noem Hy “see”. Ook dit was vir God goed. Toe beveel God: “Laat plante uit die grond voortspruit wat saad dra en ook vrugtebome wat vrugte gee.” En dit het gebeur. Die aarde het toe sulke plante voortgebring, asook vrugtebome van allerlei soorte. God het gesien dat dit goed was. Dit het op die derde dag gebeur. God het beveel: “Laat daar ligte wees aan die hemelkoepel sodat dag en nag onderskei kan word en dit ook kan dien as tekens om seisoene, dae en jare te bepaal. Die ligte in die hemelkoepel moet ook die aarde verlig.” Dit het toe so gebeur. So het God die twee groot ligte gemaak: die grootste om in die dag te skyn en die kleiner een om in die nag te skyn. Hy het ook die sterre gemaak. God het hierdie ligte in die hemelkoepel geplaas om die aarde te verlig, die een in die dag en die ander in die nag en ook om lig en donkerte van mekaar te skei. God het gesien dat dit goed was. Dit het op die vierde dag gebeur. God het verder beveel: “Laat die waters wemel van lewende wesens en laat voëls bo in die lug oor die aarde vlieg.” God het die groot seediere geskep, al die verskillende soorte wesens wat in die water lewe, asook al die baie soorte voëls. God was tevrede met wat Hy gesien het. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar, vermeerder en vul die oseane en laat die voëls op die aarde vermeerder.” Dit het op die vyfde dag gebeur. God het weer beveel: “Laat die aarde allerlei soorte diere oplewer: mak diere, diere wat kruip en wilde diere – almal na eie aard.” Dit het presies so gebeur. So het God allerlei soorte wilde diere gemaak, mak diere en diere wat op die grond kruip. God het gesien dit was goed. God sê toe: “Laat Ons ’n mens maak wat met Ons ooreenstem om te heers oor die visse in die see, oor die voëls in die lug, oor die mak diere, oor die wilde diere, en oor alles wat op die aarde kruip.” God het die mens in ooreenstemming met Homself geskep; volgens sy eie beeld het God hulle geskep; manlik en vroulik het Hy hulle geskep. God het hulle geseën deur te sê: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde. Onderwerp die aarde en heers oor die visse van die see, die voëls in die lug en oor al die diere op die aarde.” Verder sê God: “Let op, Ek het aan julle al die plante wat saad dra, gegee en al die bome wat vrugte en saad gee. Dit is vir julle om van te eet. Maar die groen gras en plante gee Ek aan al die diere op die aarde, die voëls in die lug en die klein diertjies wat op die aarde kruip.” Dit het so gebeur. God het na sy handewerk gekyk en dit was baie goed. Dit alles het God op die sesde dag gemaak.