GALASIËRS 5:16-18
GALASIËRS 5:16-18 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie. Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie. En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie.
GALASIËRS 5:16-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie.
GALASIËRS 5:16-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie.
GALASIËRS 5:16-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie.
GALASIËRS 5:16-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit sê Ek dan: Wandel in die Gees, en julle sal nie die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Want die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees; en hulle is in stryd met die ander, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, is julle nie onder die wet nie.
GALASIËRS 5:16-18 Die Boodskap (DB)
Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie. Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie. As julle lewe deur die Heilige Gees beheer word, hoef julle nie meer al die reëls en voorskrifte van die wet te gehoorsaam nie.
GALASIËRS 5:16-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sê: Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ’n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, is die wet nie meer julle baas nie.