GALASIËRS 5:14-24

GALASIËRS 5:14-24 Bybel vir almal (ABA)

Want die boodskap van al God se wette is: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie! Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie. Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie. En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie. Almal weet wat die slegte dinge is wat mense graag doen: Hulle lewe onsedelik, hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, hulle doen wat hulle wil, hulle dien afgode, hulle toor, hulle is vyande van ander mense, hulle haat ander mense, hulle is jaloers, hulle word maklik kwaad, hulle stry met almal, hulle maak mense kwaad vir mekaar, hulle maak mense vyande van mekaar, hulle wil nie hê ander mense moet meer hê as hulleself nie, hulle drink totdat hulle dronk is, hulle hou wilde partytjies, en hulle doen nog meer slegte dinge. Ek het voorheen vir julle gesê en ek sê nou weer: Mense wat hierdie dinge doen, sal nie die ewige lewe kry nie, die lewe by God, die Koning. Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, hulle word nie maklik kwaad nie, hulle bly kalm. Die wette sê al hierdie dinge is goed. Ja, die mense wat aan Christus Jesus behoort, het opgehou om slegte dinge te doen, hulle wil dit nie meer doen nie.

GALASIËRS 5:14-24 Die Boodskap (DB)

Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.” As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie. Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie. Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie. As julle lewe deur die Heilige Gees beheer word, hoef julle nie meer al die reëls en voorskrifte van die wet te gehoorsaam nie. ’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge. Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. Natuurlik is die wet nie gekant teen so ’n leefwyse nie. Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef. Want al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker.

GALASIËRS 5:14-24

GALASIËRS 5:14-24 AFR83GALASIËRS 5:14-24 AFR83GALASIËRS 5:14-24 AFR83GALASIËRS 5:14-24 AFR83