GALASIËRS 5:14-20
GALASIËRS 5:14-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die hele wet is saamgevat in een opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie! Ek sê: Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ’n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, is die wet nie meer julle baas nie. Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend: seksuele sondes, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towerkuns, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe
GALASIËRS 5:14-20 Bybel vir almal (ABA)
Want die boodskap van al God se wette is: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie! Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie. Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie. En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie. Almal weet wat die slegte dinge is wat mense graag doen: Hulle lewe onsedelik, hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, hulle doen wat hulle wil, hulle dien afgode, hulle toor, hulle is vyande van ander mense, hulle haat ander mense, hulle is jaloers, hulle word maklik kwaad, hulle stry met almal, hulle maak mense kwaad vir mekaar, hulle maak mense vyande van mekaar
GALASIËRS 5:14-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die hele wet word vervul in een woord, naamlik: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie. MAAR ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie; want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, dan is julle nie onder die wet nie. En die werke van die vlees is openbaar, naamlik owerspel, hoerery, onreinheid, ongebondenheid; afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloersheid, toornigheid, naywer, tweedrag, partyskap
GALASIËRS 5:14-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring
GALASIËRS 5:14-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Want die hele wet word in één uitspraak vervul: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” As julle mekaar byt en verslind, pas op dat julle nie deur mekaar verorber word nie! Maar ek sê: Leef deur die Gees, dan sal julle beslis nie die begeertes van die vlees uitvoer nie. Want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees begeer teen die vlees; die twee opponeer mekaar, sodat julle dit wat julle ook al wil, nie kan doen nie. As julle egter deur die Gees gelei word, staan julle nie onder die wet nie. Die praktyke van die vlees is goed bekend, naamlik onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towery, vyandskap, twis, jaloesie, woede, selfsug, tweespalt, skeuring
GALASIËRS 5:14-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die hele wet word in een woord vervul, ook hierin; Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie deur mekaar verteer word nie. Dit sê Ek dan: Wandel in die Gees, en julle sal nie die begeerlikheid van die vlees volbring nie. Want die vlees begeer teen die Gees en die Gees teen die vlees; en hulle is in stryd met die ander, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, is julle nie onder die wet nie. Nou is die werke van die vlees openbaar, dit is dit; Egbreuk, hoerery, onreinheid, losbandigheid, Afgodery, heksery, haat, afwyking, navolging, toorn, twis, oproer, dwaalleer
GALASIËRS 5:14-20 Die Boodskap (DB)
Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.” As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie. Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie. Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie. As julle lewe deur die Heilige Gees beheer word, hoef julle nie meer al die reëls en voorskrifte van die wet te gehoorsaam nie. ’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie.