GALASIËRS 5:13-25

GALASIËRS 5:13-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Broers en susters, julle is inderdaad geroep om in vryheid te leef. Moet net nie die vryheid misbruik om sondige begeertes te bevredig nie, maar gebruik dit om mekaar met liefde te dien. Die hele wet is saamgevat in een opdrag: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar. Pas op dat julle mekaar nie heeltemal verslind nie! Ek sê: Laat julle leefstyl eerder deur die Gees bepaal word. Dan sal julle glad nie aan die begeertes van julle sondige geaardheid toegee nie. ’n Mens se sondige geaardheid wil dinge doen wat teen die Gees is, en die Gees wil dinge doen wat teen jou sondige geaardheid is, want hulle is mekaar se vyande. Julle kan dus nie sommer maar net alles doen wat julle wil nie. Maar as julle deur die Gees gelei word, is die wet nie meer julle baas nie. Die dinge wat ons sondige geaardheid ons laat doen, is bekend: seksuele sondes, onreinheid, losbandigheid, afgodery, towerkuns, vyandigheid, rusie, jaloesie, woede, selfsugtige ambisie, verdeeldheid, partyskappe, afguns, dronkenskap, wilde partytjies en al sulke dinge. Ek herhaal my vroeëre waarskuwing oor hierdie dinge: Wie sulke dinge doen, sal nie as erfgenaam deel hê aan God se koningsheerskappy nie. Maar die vrug wat die Gees voortbring, is: liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is daar nie ’n wet nie. Maar dié wat aan Christus Jesus behoort, het die hartstogte en die begeertes van hulle sondige geaardheid gekruisig. Ons lewe deur die Gees; daarom moet die Gees ook ons leefstyl bepaal.

GALASIËRS 5:13-25 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, God wil hê julle moet vry wees, maar julle moenie dink julle is vry en dan doen julle die slegte dinge wat mense graag doen nie. Nee, julle moet lief wees vir mekaar en julle moet mekaar help. Want die boodskap van al God se wette is: “ Jy moet lief wees vir jou naaste soos jy lief is vir jouself.” Maar julle doen dit nie. Julle is soos honde wat mekaar byt en hap. Julle moet oppas dat julle nie mekaar op-eet nie! Ek sê vir julle: Die Heilige Gees moet julle lewens regeer. Dan sal julle nie die slegte dinge doen wat mense graag doen nie. Want die slegte dinge binne-in julle harte wil altyd iets anders hê as wat die Heilige Gees wil hê. En die Heilige Gees wil iets anders hê as wat die slegte dinge in julle harte wil hê. Hulle is altyd teen mekaar. Daarom kan julle nie die dinge doen wat julle self wil doen nie. En as die Heilige Gees julle lewens regeer, dan regeer die wette nie meer oor julle nie. Almal weet wat die slegte dinge is wat mense graag doen: Hulle lewe onsedelik, hulle slaap by mense met wie hulle nie getroud is nie, hulle doen wat hulle wil, hulle dien afgode, hulle toor, hulle is vyande van ander mense, hulle haat ander mense, hulle is jaloers, hulle word maklik kwaad, hulle stry met almal, hulle maak mense kwaad vir mekaar, hulle maak mense vyande van mekaar, hulle wil nie hê ander mense moet meer hê as hulleself nie, hulle drink totdat hulle dronk is, hulle hou wilde partytjies, en hulle doen nog meer slegte dinge. Ek het voorheen vir julle gesê en ek sê nou weer: Mense wat hierdie dinge doen, sal nie die ewige lewe kry nie, die lewe by God, die Koning. Maar as die Heilige Gees mense se lewens regeer, dan doen hulle goeie dinge: Hulle is lief vir ander mense, hulle is bly, hulle maak vrede, hulle is geduldig, vriendelik en goed, hulle doen wat hulle belowe, hulle word nie maklik kwaad nie, hulle bly kalm. Die wette sê al hierdie dinge is goed. Ja, die mense wat aan Christus Jesus behoort, het opgehou om slegte dinge te doen, hulle wil dit nie meer doen nie. Die Heilige Gees het die ware lewe vir ons gegee. Daarom moet ons ook vir die Gees vra om ons lewe te regeer.

GALASIËRS 5:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as 'n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde. Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: “Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie. Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie. Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie. Maar as julle julle deur die Gees laat lei, staan julle nie meer onder die wet nie. Die praktyke van die sondige natuur is algemeen bekend: onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het: Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie. Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie. Dié wat aan Christus Jesus behoort, het hulle sondige natuur met al sy hartstogte en begeertes gekruisig. Ons lewe deur die Gees; laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.

GALASIËRS 5:13-25 Die Boodskap (DB)

My broers en susters, God het julle na Hom toe geroep sodat julle vry kan wees. Moet asseblief nie hierdie vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie. Die belangrikste wat julle moet doen, is om mekaar lief te hê. Wanneer julle regtig vir mekaar omgee en lojaal aan mekaar is, doen julle presies wat God van julle vra. Die hele wet van God word in een enkele sin opgesom: “Jy moet vir ander mense net soveel omgee soos vir jouself.” As julle altyd aan die baklei is, as julle mekaar soos ’n trop kwaai honde byt en verskeur, bly daar later niks meer van julle oor nie. Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hy aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê. Dan sal die sonde julle nooit onderkry nie. Onthou, sondige begeertes is ’n vyand van die Heilige Gees. Maar die omgekeerde is ook waar: die Heilige Gees is ’n vyand van elke sondige begeerte. Daarom kan julle nie die een dag aan julle sondige begeertes toegee en die volgende dag aan die kant van die Gees probeer staan nie. Julle kan nie leef soos julle wil nie. As julle lewe deur die Heilige Gees beheer word, hoef julle nie meer al die reëls en voorskrifte van die wet te gehoorsaam nie. ’n Mens kan duidelik sien watter mense gekies het om deur hulle sondige begeertes oorheers te word. Hulle doen mee aan die verskriklikste seksuele sondes. Hulle lewe is vol onreinheid en goddeloosheid. Hulle aanbid ’n spul dooie afgode en hou hulle besig met waarsêery. Hulle lewe loop oor van haat en twis. Hulle gun niemand iets nie. Hulle is aggressief, selfsugtig, altyd besig om te stry en verdeeld onder mekaar. Hulle lewe is vol jaloesie. Die een dronkpartytjie na die ander is hulle kos. Hulle gee hulle oor aan vieslike uitspattighede en nog baie ander slegte dinge. Ek waarsku julle, soos ek julle al tevore gewaarsku het, om nie soos hierdie mense te lewe nie. Onthou, mense wat so lewe, sal nooit ’n plek kry in God se nuwe wêreld nie. Aan die ander kant kan ’n mens duidelik sien watter mense se lewe deur die Heilige Gees beheer word. Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hulle lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hulle teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulleself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hulle lewe vier nie. Natuurlik is die wet nie gekant teen so ’n leefwyse nie. Elkeen wat in Jesus Christus glo, moet so leef. Want al ons sondige begeertes is saam met Hom aan die kruis vasgespyker. Die Gees het ons splinternuut gemaak. Daarom moet ons toelaat dat Hy elke dag ons lewe bestuur. Hy moet besluit wat ons dink en sê en doen.

GALASIËRS 5:13-25

GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83GALASIËRS 5:13-25 AFR83