GALASIËRS 4:8-13
GALASIËRS 4:8-13 Bybel vir almal (ABA)
Voorheen, toe julle nog nie vir God geken het nie, het julle ander gode gedien wat nie regtig gode is nie. Maar nou ken julle vir God, of, dit is beter om te sê dat God nou vir julle ken. Daarom moet julle nie nou weer teruggaan en slawe word van die Wette van Moses nie, wette wat niks beteken nie. Julle probeer om al die feeste te vier wat die Jode vier, elke dag en maand en tyd wat die Jode vier. Dit is verkeerd. Daarom is ek bekommerd dat al my harde werk niks gehelp het vir julle nie. Vriende, ek vra baie mooi vir julle: Julle moet word soos ek, want ek het voorheen geword soos julle. Julle was toe goed vir my. Julle weet ek het die eerste maal daar by julle die goeie boodskap gepreek omdat ek siek was.
GALASIËRS 4:8-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar destyds, toe julle God nie geken het nie, het julle dié gedien wat van nature geen gode is nie; maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het. Broeders, ek bid julle, word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my geen onreg aangedoen nie; maar julle weet dat ek ten gevolge van krankheid van die vlees die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het
GALASIËRS 4:8-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daar was 'n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees? Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier. Ek vrees my harde werk aan julle was dalk tevergeefs. Ek smeek julle, broers: Word soos ek, soos ek my ook met julle vereenselwig het. Julle het my nooit sleg behandel nie. Julle onthou mos hoe dit gekom het dat ek die eerste keer die evangelie aan julle verkondig het. Dit was deurdat ek siek geword het.
GALASIËRS 4:8-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar vroeër, toe julle God nog nie geken het nie, was julle verslaaf aan gode wat in werklikheid nie bestaan nie. En noudat julle God leer ken het – of liewer, noudat julle deur God geken is – hoe is dit moontlik dat julle weer terugdraai na die swak en minderwaardige elementêre beginsels, en weer van voor af daaraan verslaaf wil raak? Julle onderhou vasgestelde dae en maande en tye en jare. Wat julle betref, is ek bevrees dat al my harde arbeid onder julle dalk tevergeefs was. Ek smeek julle, broers, word soos ek, omdat ek soos julle geword het! Julle het my geen onreg aangedoen nie. Julle weet dat ek die eerste keer weens my siekte die evangelie aan julle verkondig het
GALASIËRS 4:8-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar toe julle God nie geken het nie, het julle hulle gedien wat van nature geen gode is nie. Maar nou, nadat julle God geken het, of liewer deur God geken is, hoe keer julle dan weer na die swakke en smeevolle elemente, waaraan julle weer in slawerny wil wees? Julle hou dae en maande en tye en jare. Ek is bevrees vir jou, dat Ek jou nie tevergeefs moeite gedoen het nie. Broeders, ek smeek julle, wees soos Ek is; want Ek is soos julle: julle het My glad nie beseer nie. Julle weet hoe ek deur swakheid van die vlees die evangelie eers aan julle verkondig het.
GALASIËRS 4:8-13 Die Boodskap (DB)
Destyds, toe julle nog nie kinders van God was nie, was julle slawe van ’n spul dooie gode. Maar nou ken julle God. Of liewer: nou ken God julle. Hoekom loop julle dan nou weer agter allerhande mensgemaakte gebruike en wette aan? Wil julle weer van voor af slawe daarvan word? Kyk, julle is klaar weer besig met ’n klomp nuttelose gebruike: julle hou allerhande heilige dae en maande en spesiale feesdae. Dink julle dat dit julle nader aan God sal bring? Ek is regtig bekommerd dat al my harde werk onder julle pure verniet was. Julle breek alles af wat ek daar by julle opgebou het. My liewe broers en susters, ek smeek julle: staan ’n slag in my skoene, dan sal julle besef hoe baie ek vir julle omgee. Dan sal julle ook besef dat ek soos een van julle geword het. Ag, ek onthou nog hoe vriendelik julle my ontvang het toe ek vroeër daar by julle was.
GALASIËRS 4:8-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe julle God nog nie geken het nie, was julle slawe van gode wat nie regtig gode is nie. Nou ken julle egter vir God, of eerder: God ken julle. Hoe is dit dan moontlik dat julle weer na die patetiese en armsalige magte van die wêreld wil terugkeer om hulle soos slawe te dien? Julle hou aan om spesiale dae, maande, seisoene en jare te vier! Ek is bekommerd oor julle. Al my harde werk onder julle was dalk verniet. Broers en susters, ek pleit by julle: Word soos ek, want ek is ook soos julle. Julle het my nooit enige kwaad aangedoen nie. Julle onthou mos nog die eerste keer toe ek die Goeie Nuus aan julle verkondig het. Ek het na julle gekom terwyl ek siek was.