GALASIËRS 3:16-22

GALASIËRS 3:16-22 Bybel vir almal (ABA)

Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God 'n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus. God het eers sy verbond gemaak met sy volk en 430 jaar later het Hy die wette gegee. Nou sê ek: Die wette het baie later gekom, daarom kan die wette nie God se verbond verander en God se belofte breek nie. As ons eers moet doen wat die wette sê sodat ons dit kan kry wat God vir ons wil gee, dan kry ons dit omdat ons doen wat die wette sê, nie omdat God dit belowe het nie. Maar ons weet God het dit vir Abraham gegee omdat God goed was vir Abraham en omdat God dit belowe het. Hoekom het God die wette gegee? Hy het dit gegee omdat mense sonde doen. Maar die wette was net belangrik totdat Christus gekom het. Christus is die nageslag van Abraham, en dit wat God vir Abraham belowe het, het Hy vir Christus belowe. Engele het die wette vir Moses gegee, en Moses het die wette vir die mense gegee. God het die wette vir Moses gegee en Moses het die wette vir die mense gegee. Dit beteken: Die wette het nie reguit van God gekom nie. Maar ons weet: God is een. Is die wette en God se beloftes dan vyande van mekaar? Nee, glad nie. Maar die wette kan nie vir mense die ware lewe gee nie, daarom sal God hulle nie vryspreek wanneer hulle doen wat die wette sê nie. Die Ou Testament sê almal is sondaars, maar nou gee God die dinge wat Hy belowe het vir die mense wat in Jesus Christus glo.

GALASIËRS 3:16-22 Die Boodskap (DB)

Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus. Wat ek probeer sê, is dit: God het ’n wettige ooreenkoms met Abraham gemaak. Niemand kan dit nou ongeldig verklaar nie, ook nie die wet van Moses nie. Toe die wet sowat 430 jaar later gekom het, het dit nie hierdie ooreenkoms gekanselleer nie. As ons die seëninge wat God in hierdie ooreenkoms aan Abraham belowe het, kon kry deur slegs te doen wat die wet sê, is sy ooreenkoms met Abraham mos uitgedien. Maar gelukkig geld God se beloftes aan Abraham nog steeds. God het immers al hierdie beloftes aan Abraham gemaak omdat hy in Hom geglo het. Waarom is die wet dan nog nodig? Wel, God het dit later gegee sodat mense presies kon weet wat sonde is. Die wet sou egter net geld totdat daardie een afstammeling van Abraham van wie ek hier bo gepraat het, op die toneel verskyn. Vroeër is die wet deur die engele aan Moses gegee. Moses was toe die tussenganger tussen God en sy volk. Soos julle weet, is tussengangers gewoonlik nodig wanneer twee groepe met mekaar ’n ooreenkoms sluit. Maar wanneer God self iets doen, soos toe Hy sy beloftes aan Abraham gemaak het, is daar geen tussengangers nodig nie. God doen dit sommer self. Staan die wet van Moses teenoor die beloftes wat God aan Abraham gemaak het? Weerspreek hulle mekaar? Nee, natuurlik nie. Maar dit beteken nog nie dat die wet ons by die ware lewe kan uitbring nie. As dit die geval was, het ons mos niks meer as die wet nodig gehad nie. Dan kon ons ons eie saak met God regmaak deur net te doen wat die wet sê. Maar dis glad nie so eenvoudig nie. Die Bybel sê vir ons dat ons almal in die mag van die sonde vasgevang is. God se belofte dat Hy almal vryspreek wat glo, is daarom net vir dié van ons bedoel wat in Jesus Christus glo.