GALASIËRS 3:15-18
GALASIËRS 3:15-18 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, ek gaan nou 'n voorbeeld gebruik om te verduidelik wat ek sê: Wanneer 'n mens 'n testament gemaak het, dan kan iemand anders dit nie verander of sê dit beteken niks nie. Dit is dieselfde met die verbond. In die Ou Testament is geskryf dat God 'n belofte gemaak het aan Abraham en aan sy nageslag. Daar is nie geskryf “baie nageslagte” nie, maar “een nageslag,” en dit is Christus. God het eers sy verbond gemaak met sy volk en 430 jaar later het Hy die wette gegee. Nou sê ek: Die wette het baie later gekom, daarom kan die wette nie God se verbond verander en God se belofte breek nie. As ons eers moet doen wat die wette sê sodat ons dit kan kry wat God vir ons wil gee, dan kry ons dit omdat ons doen wat die wette sê, nie omdat God dit belowe het nie. Maar ons weet God het dit vir Abraham gegee omdat God goed was vir Abraham en omdat God dit belowe het.
GALASIËRS 3:15-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Broeders, ek spreek menslikerwys: selfs 'n mens se testament wat bekragtig is, maak niemand tot niet of voeg daaraan toe nie. Nou is aan Abraham die beloftes toegesê en aan sy saad. Hy sê nie: En aan die sade, asof dit op baie sien nie, maar op een: En aan jou saad, dit is Christus. Maar ek sê dít: die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak die verbond wat deur God in Christus vantevore bekragtig is, nie kragteloos om die belofte tot niet te maak nie. Want as die erfenis uit die wet is, dan is dit nie meer uit die belofte nie. Maar God het dit aan Abraham deur 'n belofte genadiglik geskenk.
GALASIËRS 3:15-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Broers, ek gaan nou 'n voorbeeld uit die gewone lewe neem. As 'n testament, wat maar net mensewerk is, eers geldig is, kan niemand dit ongeldig maak of iets daaraan toevoeg nie. God het sy beloftes aan Abraham en aan sy nakomeling gegee. Daar staan nie “aan nakomelinge”, meer as een nie, maar: “en aan jou nakomeling” , net een, en hierdie nakomeling is Christus. Hiermee wil ek dít sê: God het 'n verbond met Abraham gesluit en dit tóé al geldig gemaak. Die wet, wat eers vier honderd en dertig jaar later gekom het, kan nie hierdie verbond ongeldig maak, sodat God se belofte aan Abraham nie meer sou geld nie. As 'n mens dit wat beloof is, kry op grond van die onderhouding van die wet van Moses, kry jy dit nie meer op grond van die belofte nie, en God het sy genade aan Abraham juis deur 'n belofte toegesê.
GALASIËRS 3:15-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Broers, ek noem 'n voorbeeld uit ons daaglikse lewe: Dit is soos iemand se testament wat bekragtig is; niemand maak dit ongeldig of voeg bepalings by nie. En die beloftes is aan Abraham en sy Saad toegesê. Daar staan nie “en aan die sade” soos wat 'n mens na baie sou verwys nie, maar soos wat 'n mens na een verwys: “en aan jou Saad” – dit is •Christus. Dit is wat ek bedoel: Die wet wat vierhonderd-en-dertig jaar later gekom het, maak nie die verbond wat vroeër deur God bekragtig is, kragteloos, en daardeur die belofte tot niet nie. Immers, as die erfenis op die wet berus, berus dit nie meer op die belofte nie. Maar God het dit uit genade vir Abraham deur 'n belofte geskenk.
GALASIËRS 3:15-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Broeders, ek spreek volgens die gewoonte van mense; Al is dit maar 'n man se verbond, as dit bekragtig word, ontbind niemand of voeg dit by nie. En aan Abraham en sy nageslag is die beloftes gemaak. Hy sê nie: En aan die saad, soos van baie; maar soos een, en vir jou nageslag, dit is Christus. En dit sê ek, dat die verbond, wat vooraf deur God in Christus bevestig is, die wet, wat vier honderd en dertig jaar daarna was, nie kan ontbind nie, dat dit die belofte tot niet sou maak. Want as die erfenis uit die wet is, is dit nie meer uit die belofte nie, maar God het dit aan Abraham deur belofte gegee.
GALASIËRS 3:15-18 Die Boodskap (DB)
My broers en susters, kom ek verduidelik gou met ’n alledaagse voorbeeld wat ek bedoel. Kom ons neem ’n kontrak of ’n ooreenkoms tussen twee mense. Julle weet mos dat as iemand ’n ooreenkoms opgestel het en dit word aanvaar deur al die partye wat daarby betrokke is, niemand dit daarna ongeldig kan verklaar of nog iets kan byvoeg nie. Kom ons pas hierdie voorbeeld nou toe op Abraham. Ons weet dat God sy beloftes aan hom en aan sy afstammeling gemaak het. Maar let fyn op: die Bybel sê nie dat God hierdie belofte aan al sy afstammelinge gemaak het nie. Nee, daar word net van die een afstammeling gepraat. Hierdie afstammeling is natuurlik Christus. Wat ek probeer sê, is dit: God het ’n wettige ooreenkoms met Abraham gemaak. Niemand kan dit nou ongeldig verklaar nie, ook nie die wet van Moses nie. Toe die wet sowat 430 jaar later gekom het, het dit nie hierdie ooreenkoms gekanselleer nie. As ons die seëninge wat God in hierdie ooreenkoms aan Abraham belowe het, kon kry deur slegs te doen wat die wet sê, is sy ooreenkoms met Abraham mos uitgedien. Maar gelukkig geld God se beloftes aan Abraham nog steeds. God het immers al hierdie beloftes aan Abraham gemaak omdat hy in Hom geglo het.
GALASIËRS 3:15-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Broers en susters, ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms, al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg nie. My argument is: God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling gegee. Daar staan nie “nakomelinge” asof baie mense bedoel word nie, maar dit gaan om één persoon. Met “sy nakomeling” word Christus bedoel. Ek sê dus: Die verbond wat God met Abraham gesluit het, kan nie deur die wet, wat 430 jaar later gekom het, ongeldig gemaak en daarmee ook die belofte ongedaan gemaak word nie. As wetsgehoorsaamheid ’n mens die erfenis kan laat ontvang, word dit nie meer ontvang omdat God dit beloof het nie. God het egter juis sy genade deur ’n belofte aan Abraham gegee.