GALASIËRS 2:6-10
GALASIËRS 2:6-10 Bybel vir almal (ABA)
Die belangrike leiers in die gemeente in Jerusalem het niks verander aan my boodskap nie. Dit maak nie vir my saak dat hulle belangrik is nie. God dink nie dat een mens belangriker is as 'n ander mens nie. Die belangrike leiers in Jerusalem het besef dat God vir my gesê het ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring, soos Hy vir Petrus gesê het hy moet die goeie boodskap vir die Jode bring. Ja, God het vir Petrus krag gegee om 'n apostel vir die Jode te wees en dieselfde God het vir my ook krag gegee om 'n apostel vir die heidene te wees. Jakobus, Sefas en Johannes was die belangrikste leiers in die gemeente in Jerusalem. Toe hulle besef dat God baie goed was vir my, het hulle my en Barnabas se hande geskud en gesê ons kan almal saamwerk. Ek en Barnabas moes vir die heidene preek en hulle moes vir die Jode preek. Hulle het net een ding vir my gevra, hulle het gevra dat ek ook die arm mense van die gemeente in Jerusalem moet help. Dit het ek baie graag gedoen.
GALASIËRS 2:6-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar van die wat in aansien was — wat hulle vroeër was, maak by my geen verskil nie; God neem die persoon van die mens nie aan nie — hulle dan wat in aansien was, het my niks meer opgelê nie. Maar, inteendeel, toe hulle sien dat aan my die evangelie vir die onbesnedenes toevertrou is, net soos aan Petrus dié vir die besnedenes — want Hy wat Petrus bekragtig het met die oog op die apostelskap vir die besnedenes, het my ook bekragtig met die oog op die heidene — en toe hulle merk die genade wat aan my gegee is, het Jakobus en Céfas en Johannes, wat as pilare geag is, aan my en Bárnabas die regterhand van gemeenskap gegee, sodat ons na die heidene en hulle na die besnedenes kon gaan; alleen moes ons aan die armes dink, wat ek my juis ook beywer het om te doen.
GALASIËRS 2:6-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die leiers van die gemeente – wat hulle vroeër was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na 'n mens se uiterlike nie – die leiers van die gemeente het aan die evangelie wat ek verkondig, niks toegevoeg nie. Inteendeel, hulle het ingesien dat die taak aan my toevertrou is om die evangelie aan die nie-Jode te verkondig, net soos dit aan Petrus toevertrou is om die evangelie aan die Jode te verkondig. Dieselfde God wat van Petrus 'n apostel vir die Jode gemaak het, het van my 'n apostel vir die nie-Jode gemaak. Toe hulle dan ingesien het dat God my hierdie voorreg gegee het, het Jakobus, Sefas en Johannes, wat beskou is as die pilare van die gemeente, my en Barnabas die regterhand gegee as teken dat ons en hulle medewerkers is. Ons het ooreengekom dat hulle die evangelie aan die Jode sou verkondig, en ons aan die nie-Jode. Al wat hulle gevra het, is dat ons nie die armes onder hulle moet vergeet nie. Ek het my dan ook steeds vir hierdie liefdesdiens beywer.
GALASIËRS 2:6-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maar die mense van aansien – wat hulle vroeër was – maak aan my geen verskil nie; God slaan nie ag op die aansien wat 'n mens het nie. Ja, die vooraanstaande mense het my niks meer opgelê nie. Inteendeel, toe hulle sien dat die evangelie aan die onbesnedenes aan my toevertrou is, soos aan •Petrus die evangelie aan die besnedenes – want Hy wat kragtig in Petrus gewerk het, met die oog op sy diens as •apostel aan die besnedenes, het ook kragtig in my gewerk, met die oog op die heidene – het Jakobus en Sefas en Johannes, wat as die pilare gereken is, die genade wat aan my gegee is, begryp, en het hulle die regterhand van broederskap na my en Barnabas gereik, sodat ons na die heidene sou gaan, en hulle na die besnedenes. Ons moes slegs sorg dat ons die armes in gedagte hou – presies wat ek my ook beywer het om te doen.
GALASIËRS 2:6-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar van hulle wat gelyk het of hulle enigsins was, (wat hulle ook al was, dit maak vir my geen saak nie: God aanvaar niemand se persoon nie), want hulle wat gelyk het of hulle enigsins eensgesind was, het my niks bygevoeg nie. Maar inteendeel, toe hulle sien dat die evangelie van die onbesnedenes aan my toevertrou is, soos die evangelie van die besnydenis aan Petrus was; (Want Hy wat in Petrus kragtig gewerk het tot die apostelskap van die besnydenis, hy was kragtig in my teenoor die heidene.) En toe Jakobus, Céfas en Johannes, wat soos pilare gelyk het, die genade wat aan my gegee is, gewaar, het hulle aan my en Barnabas die regterhand van gemeenskap gegee; dat ons na die heidene sou gaan en hulle na die besnydenis. Net hulle wil hê dat ons aan die armes moet dink; dieselfde wat ek ook wou doen.
GALASIËRS 2:6-10 Die Boodskap (DB)
Maar wag, ek is nog besig om met julle te praat oor my ontmoeting met die leiers van die kerk in Jerusalem. Terloops, wie hulle vroeër was en wie hulle nou is, is regtig nie vir my belangrik nie. God kyk immers nie na mense se uiterlike nie. Wel, hierdie belangrike mans was heeltemal tevrede met wat ek preek. Hulle het besef dat God presies dieselfde boodskap aan my gegee het om aan mense buite Israel bekend te maak as wat Petrus onder die Jode verkondig. Natuurlik was dit nie vir my ’n verrassing nie. Dieselfde God wat Petrus as sy apostel aangestel het om onder mense te werk wat besny is, het my ook aangestel as sy apostel om onder mense te werk wat nie die teken van die besnydenis aan hulle liggame het nie. Toe Jakobus, Petrus en Johannes dan sien dat God so goed is vir my, was hulle baie bly. Net daar het hulle my en Barnabas se hand geskud. Die handdruk van daardie drie steunpilare wat aan die stuur van die kerk in Jerusalem staan, het gewys dat ons almal broers in die Here is. Ons het toe die volgende besluit geneem: Ek en Barnabas sou onder mense werk wat nie Jode is nie. Die leiers van die kerk in Jerusalem sou onder Israel oor Jesus gaan preek. Hulle het wel een versoek aan ons gerig: dat ons tog nie die armes in die Jerusalemgemeente moet vergeet nie. En, soos julle baie goed weet, is ek nog steeds besig om vir hulle geld in te samel.
GALASIËRS 2:6-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Verder het die leiers – wat hulle status was, maak nie vir my saak nie; God kyk nie na ’n mens se status nie – niks meer van my verwag nie. Inteendeel! Hulle het ingesien dat die Goeie Nuus vir die nie-Jode aan my toevertrou is, soos die Goeie Nuus vir die Jode aan Petrus toevertrou is. Want, soos God vir Petrus toegerus het om ’n apostel vir die Jode te wees, het Hy my toegerus om ’n apostel vir die nie-Jode te wees. En toe, omdat hulle besef het dat God sy genade aan my gegee het, het Jakobus en Petrus en Johannes – hulle is as die sleutelfigure beskou – my en Barnabas die hand gegee as teken dat ons kollegas is: Ons sou na die nie-Joodse nasies gaan en hulle na die Jode. Al wat hulle gevra het, was dat ons aan die armes moes dink, en juis dit het ek ywerig gedoen.