GALASIËRS 2:15-21

GALASIËRS 2:15-21 Die Boodskap (DB)

Ons is Jode al van ons geboorte af en nie ’n klomp sondaars wat God glad nie ken nie. Tog is ons glad nie God se witbroodjies nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom deur sy wet te gehoorsaam nie. Dit help niks nie. God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het. Die wet van Moses kon dit nie regkry nie. Want niemand kan in die regte verhouding met God kom bloot net deur die wet te probeer gehoorsaam nie. In ons pogings om Christus se vryspraak deelagtig te word, het ons ontdek dat ons sondaars is wat onsself glad nie kan red nie. Beteken dit dan dat Christus nou nog ’n slaaf van die sonde is omdat Hy in ons plek vir ons sondes gesterf het? Nee, natuurlik nie! Hy het mos kant en klaar die prys vir die sonde namens ons betaal. As ek dan nou nog, nadat Christus dood is en weer lewendig geword het, op my eie by God probeer uitkom, wys ek dat ek net mooi niks van die goeie nuus verstaan nie. Dan is ek steeds skuldig voor Hom. Maar gelukkig is ek nou dood vir die wet. Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my. Nou leef ek deur geloof. My hele bestaan draai om die Seun van God. Hy het my so lief dat Hy bereid was om sy eie lewe vir my op te offer. Ek kan nooit God se goedheid deur my vingers laat glip nie. As ek nou, na alles wat God vir my gedoen het, steeds probeer om self ’n plek in die hemel te verdien deur te doen wat die wet sê, is Christus verniet aan die kruis dood.

GALASIËRS 2:15-21 Bybel vir almal (ABA)

Ek en jy was Jode vandat ons gebore is, ons was nie heiden-sondaars nie. Ons weet dat God mense vryspreek van hulle sonde. Hy doen dit omdat hulle in Jesus Christus glo, nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Daarom het ek en jy ook in Christus Jesus geglo en God het ons vrygespreek. God het dit gedoen omdat ons in Christus glo, nie omdat ons doen wat die wette sê nie. In die Ou Testament is geskryf: “ God spreek mense vry, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. “Ek en jy is Jode, ons wou hê dat God ons moet vryspreek van ons sonde omdat ons in Christus glo. Ja, ons het besef dat ons sondaars is, soos die heidene. Kan ons nou sê dit is Christus se skuld dat ons, die Jode, ook sondaars is? Nee, nooit nie.” Ek weet nou God spreek mense vry van hulle sonde omdat hulle in Christus glo. Ek kan nie nou 'n ander boodskap preek nie, want dan doen ek nie wat God wil hê nie. Christus het aan die kruis gesterf, en ek het saam met Hom gesterf. Daarom, die wette het my laat sterf, maar nou is ek los van die wette, en nou lewe ek om God te eer. Dit is nie ék wat lewe nie, dit is Chrístus wat in my lewe. Ek lewe nou só: Ek glo in die Seun van God, die Seun wat lief is vir my en wat gesterf het sodat ek kan lewe. Party mense sê God spreek mense vry omdat hulle doen wat die wette sê. Dit is nie waar nie. As dit waar is, dan help dit niks dat Christus gesterf het nie. Nee, ek kan nie die genade van God weggooi nie.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid