GALASIËRS 1:11-19
GALASIËRS 1:11-19 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit moet julle goed besef, broers: die evangelie wat ek verkondig, is nie deur 'n mens uitgedink nie. Ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of by 'n mens geleer nie. Inteendeel, Jesus Christus het dit in 'n openbaring aan my gegee. Julle het immers gehoor van my optrede toe ek destyds nog 'n aanhanger van die Joodse leer was. Ek het die kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer uitroei. En in die Joodse leer het ek onder my volksgenote bo baie van my leeftyd uitgestyg, want ek was 'n fanatieke yweraar vir die oorgelewerde leer van my voorvaders. Maar God het my al voor my geboorte vir Hom afgesonder, en Hy het my in sy genade geroep. Toe Hy in sy goedheid besluit het om sy Seun aan my te openbaar sodat ek die evangelie oor Hom onder die heidennasies sou verkondig, het ek nie dadelik daarna mense geraadpleeg of Jerusalem toe gegaan na dié wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is Arabië toe, en daarvandaan het ek teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek Jerusalem toe gegaan om met Sefas kennis te maak, en ek het twee weke by hom gebly. Van die ander apostels het ek niemand ontmoet nie behalwe Jakobus die broer van die Here.
GALASIËRS 1:11-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek wil hê julle moet weet, broers, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie 'n menslike saak is nie; want ek het dit nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar wel deur 'n openbaring van Jesus •Christus. Julle het immers gehoor hoe ek vroeër volgens die Joodse godsdiens geleef het, dat ek die •kerk van God tot die uiterste vervolg en dit probeer vernietig het, en dat ek in die uitlewing van die Joodse godsdiens baie van my tydgenote in my volk oortref het, deurdat ek my soveel meer beywer het vir die tradisies van my voorvaders. Toe God dit egter goedgevind het – Hy wat my afgesonder het van voor my geboorte af en my deur sy genade geroep het – om sy Seun aan my te openbaar, sodat ek Hom aan die heidene sou verkondig, het ek nie dadelik vlees en bloed geraadpleeg nie. Ook het ek nie na Jerusalem opgegaan na hulle wat vóór my •apostels was nie, maar ek het wel na Arabië gegaan, en toe weer na Damaskus teruggekeer. Eers later, ná drie jaar, het ek na Jerusalem opgegaan om Sefas te ontmoet, en ek het vyftien dae by hom gebly; maar van die apostels het ek niemand anders gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.
GALASIËRS 1:11-19 Die Boodskap (DB)
My broers en susters, verstaan my baie mooi: die goeie nuus oor Jesus Christus wat ek preek, het ek glad nie self uitgedink nie. Dit kom ook nie tweedehands van iemand anders af nie. Ek het dit glad nie op die een of ander plek gaan leer nie. Nee, op ’n bonatuurlike manier het Jesus Christus die goeie nuus wat ek verkondig aan my bekendgemaak. Voordat ek ’n Christen geword het, was ek ’n groot aanhanger van die Joodse geloof. In daardie tyd het ek die kerk van God wreedaardig vervolg. Ek wou al wat Christen is van die aardbol afvee. Ek het vinnig opgang binne die Joodse godsdienstige kringe gemaak. Kort voor lank was ek ’n modelgodsdienstige wat kop en skouers bo my volksgenote uitgestaan het. Ek was ’n fanatiese aanhanger van die tradisies van my voorouers. God het egter ander planne met my lewe gehad. Trouens, nog voordat ek gebore is, het Hy Hom al oor my ontferm. Tóé al het Hy besluit dat ek aan Hom behoort en dat ek voltyds vir Hom gaan werk. Later het God sy Seun, Jesus Christus, aan my bekendgemaak. Van daardie oomblik af het ek net een doel voor oë gehad: om die goeie nuus oor Christus te verkondig aan mense wat nie aan Israel behoort nie. Ek het glad nie eens by ander Christene gaan raad vra oor wat ek moes sê nie. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan om daar te gaan kers opsteek by diegene wat voor my al apostels was nie. Nee, ek is direk na my bekering Arabië toe. Later het ek teruggegaan Damaskus toe. Eers drie jaar later het ek weer in Jerusalem gekom. Daar het ek vir Petrus ontmoet en vyftien dae by hom oorgebly. In daardie tyd het ek nie een van die ander apostels te sien gekry nie, behalwe vir Jakobus, die broer van die Here.
GALASIËRS 1:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek verseker julle, broers en susters, die Goeie Nuus wat ek aan julle verkondig het, is nie deur mense uitgedink nie. Ek het dit nie by ’n mens gehoor of geleer nie, maar deurdat God Jesus Christus aan my geopenbaar het. Julle het mos gehoor hoe ek my vroeër, toe ek nog die Joodse godsdiens aangehang het, gedra het, dat ek God se kerk fanaties vervolg en verwoesting gesaai het. In die uitlewing van die Joodse godsdiens het ek in my ouderdomsgroep bo baie van my volksgenote uitgestaan. Ek was besig om my uitermate te beywer vir die tradisies van my voorgeslagte. Maar toe het God besluit – Hy wat my al voor my geboorte gekies het en my deur sy genade geroep het – om sy Seun aan my bekend te maak. Dit het gebeur sodat ek Hom aan die nie-Joodse nasies kan verkondig. Ek het nie dadelik met mense gepraat nie. Ek het ook nie Jerusalem toe gegaan na hulle wat reeds voor my apostels was nie. Nee, ek het Arabië toe gegaan en van daar af teruggekom Damaskus toe. Eers drie jaar later is ek Jerusalem toe om Petrus te ontmoet. Ek het twee weke by hom gebly, maar van die ander apostels het ek niemand gesien nie behalwe Jakobus, die broer van die Here.
GALASIËRS 1:11-19 Bybel vir almal (ABA)
Vriende, dit is vir my baie belangrik dat julle dít moet besef: Die goeie boodskap wat ek preek, kom nie van mense nie. Ek het die boodskap nie by mense gekry nie, ek het dit ook nie by iemand geleer nie. Jesus Christus het dit self vir my gegee toe Hy aan my verskyn het. Julle het gehoor hoe ek voorheen gelewe het toe ek net die Joodse godsdiens geken het. Ek het baie baie slegte dinge gedoen aan die kerk van God, ek het probeer om die mense van die kerk dood te maak. Ek was 'n baie beter Jood as al die baie ander Jode wat so oud was soos ek. Ek was baie meer gehoorsaam aan die dinge wat ons voorouers vir ons geleer het. Maar God het my gekies voordat ek gebore is. Hy was baie goed vir my en Hy het my 'n apostel gemaak. Hy het besluit om sy Seun vir my te wys sodat ek vir die heidene kon gaan vertel van sy Seun. Nadat ek Hom gesien het, het ek nie vir ander mense gaan vra wat hulle van Hom weet nie. Ek het ook nie na Jerusalem gegaan nie, na die mense toe wat vóór my apostels geword het nie. Nee, ek het na die land Arabië gegaan en ek het later weer teruggegaan na die stad Damaskus. Drie jaar later het ek na Jerusalem gegaan om vir Sefas te leer ken. Ek het twee weke by hom gebly. Ek het nie een van die ander apostels gesien nie, ek het net vir Jakobus, die broer van die Here, gesien.
GALASIËRS 1:11-19 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maar ek maak julle bekend, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang of geleer nie, maar deur 'n openbaring van Jesus Christus. Want julle het gehoor van my lewenswandel vroeër in die Jodedom, dat ek die gemeente van God uitermate vervolg en dit verwoes het; en dat ek in die Jodedom vooruitgegaan het bo baie van my leeftyd onder my stamgenote, terwyl ek veral 'n yweraar was vir die oorleweringe van my voorvaders. Maar toe dit God behaag het, wat my afgesonder het van die skoot van my moeder af en deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene sou verkondig, het ek dadelik nie vlees en bloed geraadpleeg nie, en ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie, maar na Arabië vertrek en weer teruggekom na Damaskus. Vervolgens, drie jaar daarna, het ek na Jerusalem opgegaan om met Petrus kennis te maak en vyftien dae by hom gebly; en ek het niemand anders van die apostels gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.
GALASIËRS 1:11-19 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Maar ek verklaar julle, broeders, dat die evangelie wat deur my verkondig is, nie na die mens is nie. Want ek het dit ook nie van 'n mens ontvang nie, en ook nie geleer nie, maar deur die openbaring van Jesus Christus. Want julle het gehoor van my wandel in die verlede in die Joodse godsdiens, dat ek die gemeente van God buitengewoon vervolg en dit vermors het. En het baat gevind by die godsdiens van die Jode bo baie van my gelykes in my eie nasie, terwyl ek meer ywerig was vir die oorleweringe van my vaders. Maar toe dit God behaag het, wat my geskei het van my moeder se skoot af en my deur sy genade geroep het, om sy Seun in my te openbaar, sodat ek Hom onder die heidene kan verkondig; Ek het dadelik nie met vlees en bloed beraadslaag nie: Ek het ook nie na Jerusalem opgegaan na die wat voor my apostels was nie; maar ek het na Arabië gegaan en weer na Damaskus teruggekeer. Daarna het ek drie jaar later opgegaan na Jerusalem om Petrus te sien en vyftien dae by hom gebly. Maar ander van die apostels het ek niemand gesien nie, behalwe Jakobus, die broer van die Here.