ESRA 1:1-7

ESRA 1:1-7 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het voorheen vir Jeremia gestuur om te sê dat iets sal gebeur, en dit het nou gebeur. Dit was in die eerste jaar nadat Kores die koning van Persië geword het. Die Here het vir Kores laat besluit om 'n boodskap te stuur na al die mense in die lande waar hy koning was. Hy het die boodskap ook in briewe geskryf en dit gestuur. Hy het gesê: Koning Kores van Persië sê: Die Here, die God van die hemel, het vir my al die lande op die aarde gegee en Hy het vir my gesê ek moet 'n tempel laat bou in die stad Jerusalem in die land Juda. Al die mense van die Here mag teruggaan na Jerusalem. Ek bid dat hulle God die Here by hulle sal wees. Hulle mag teruggaan en hulle mag die tempel van die Here weer bou, die tempel van die Here, die God van Israel. Die Here is die God wat in Jerusalem is. Daar is plekke waar daar nog Judeërs woon. Die mense van daardie plekke moet die Judeërs help. Hulle moet vir die Judeërs silwer en goud en goed en diere present gee, en ook ander dinge wat hulle self wil gee vir die tempel in Jerusalem. Die familiehoofde van Juda en Benjamin, die priesters en Leviete, het toe gereedgemaak. God het ook ander mense laat besluit om die tempel in Jerusalem weer te gaan bou, en hulle het ook gereedgemaak om te gaan. Al die bure van die Israeliete het vir hulle silwergoed en goue goed gegee, en ander goed en diere en kosbare presente, en ook nog enige iets wat hulle self besluit het om te gee. Koning Kores het die gereedskap van die tempel uitgehaal. Nebukadnesar het dit voorheen uit Jerusalem gebring en in die tempel van sy gode gesit.

ESRA 1:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

EN in die eerste jaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE — sodat die woord van die HERE uit die mond van Jeremia vervul sou word — die gees van Kores, die koning van Persië, opgewek, dat hy 'n oproep deur sy hele koninkryk laat gaan het, selfs ook skriftelik, om te sê: So sê Kores, die koning van Persië: Al die koninkryke van die aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee; en Hý het my opgedra om vir Hom 'n huis te bou in Jerusalem wat in Juda is. Enigeen onder julle wat aan sy volk behoort — mag sy God met hom wees, en laat hom optrek na Jerusalem wat in Juda is, en die huis van die HERE, die God van Israel, bou! Hy is die God wat in Jerusalem is. En enigeen wat oorgebly het, in enige plek waar hy as vreemdeling vertoef — hom moet die manne van sy woonplek ondersteun met silwer en goud en met goed en vee, en met die vrywillige gawes vir die huis van die God wat in Jerusalem is. Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin klaargemaak, en die priesters en die Leviete — elkeen wie se gees God opgewek het om op te trek, om die huis van die HERE wat in Jerusalem is, te bou. En almal wat rondom hulle was, het hul hande versterk met silwervoorwerpe, met goud, met goed en vee en kosbare geskenke, behalwe alles wat hulle as vrywillige gawe aangebring het. En koning Kores het die voorwerpe van die huis van die HERE uitgelewer wat Nebukadnésar uit Jerusalem weggevoer en in die huis van sy god gesit het.

ESRA 1:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In die eerste regeringsjaar van Kores, die koning van Persië, het die HERE die gees van Kores, koning van Persië, aangevuur. Dit het Hy gedoen om sy woord, aangekondig by monde van Jeremia, te vervul. Hy het 'n boodskap dwarsdeur sy hele koninkryk gestuur en dit selfs op skrif gestel: “ So sê Kores, koning van Persië, ‘Al die koninkryke op aarde het die HERE, die God van die hemel, aan my gegee. Enigiemand onder julle uit enige deel van sy volk – mag sy God met hom wees – hy moet optrek na Jerusalem in Juda om die huis te herbou van die HERE, die God van Israel, die God wat in Jerusalem is. En almal wat agterbly op al die plekke waar diegene wat wil teruggaan, as •vreemdelinge gewoon het, dit wil sê die mense van hulle omgewing, moet diegene wat wil teruggaan, ondersteun met silwer, goud, goedere en lewende hawe. Hulle moet ook vrywillige gawes gee vir die huis van die God wat in Jerusalem is.’ ” Toe het die familiehoofde van Juda en Benjamin, asook die priesters en Leviete, elkeen wat in sy gemoed deur God oortuig is, gereedgemaak om op te trek om die huis van die HERE in Jerusalem te herbou. Al die mense in hulle omgewing het hulle ondersteun met voorwerpe van silwer, met goud, goedere, vee en kosbare geskenke, afgesien van alles wat ook nog vrywillig gegee is. Koning Kores het al die voorwerpe van die huis van die HERE wat Nebukadnesar uit Jerusalem weggeneem en in die huis van sy gode gesit het, daar laat uithaal.

ESRA 1:1-7 Die Boodskap (DB)

In die eerste jaar wat Kores koning van Persië was, het die Here Kores oorreed om ’n besluit te neem. Hy het dit laat neerskryf en na almal in sy ryk gestuur om te lees. Dit het die belofte laat waar word wat die Here vir sy boodskapper Jeremia gemaak het, dat hulle sal terugkom na hulle land toe. Die besluit het so gelui: “Kores, die koning van Persië, gee die volgende opdrag: Die Here, die God van die hemel, het my koning gemaak van al die lande van die wêreld. Die Here het gesê dat ek weer vir Hom ’n tempel in Jerusalem in die provinsie Juda moet bou. Enigeen wat aan die Here se volk behoort, mag nou teruggaan na Jerusalem in Juda toe om te gaan help om die tempel vir die Here te bou. Die Here is die God van Israel. Hy bly in Jerusalem. Mag die Here saam met elkeen wees wat bereid is om terug te gaan. Die ander mense wat saam met hulle op dieselfde plek bly, moet die Judeërs help wat wil teruggaan. Hulle moet vir die mense wat teruggaan, die silwer en goud en diere en vee gee wat hulle gaan nodig kry om God se tempel in Jerusalem te bou.” ’n Hele klomp leiers uit die families van Juda en Benjamin het besluit om terug te gaan. Daar was ook priesters en mense uit die familie van Levi wat by God se huis kon werk, en wou teruggaan. Hulle wou almal teruggaan om die tempel van die Here in Jerusalem te help bou. Die Here het hulle oorreed om te gaan. Hulle bure het hulle ondersteun. Hulle het vir hulle dinge gegee wat van silwer en goud gemaak was. Hulle het ook vir die mense wat wou teruggaan, kos en vee gegee, soos Kores gesê het. Hulle het daarby nog vir hulle allerhande geskenke gegee van goed wat hulle kon gebruik. Koning Kores het die goed laat haal wat Nebukadnesar destyds uit die Here se tempel in Jerusalem weggevat het om dit in sy eie god se tempel te sit.

ESRA 1:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

In die eerste jaar wat Kores koning van Persië was, het die HERE die belofte wat Jeremia gebring het, vervul. Die HERE het gesorg dat Kores koning van Persië ’n besluit neem, dit neerskryf en deur sy hele ryk sirkuleer. Die besluit was soos volg: “So sê Kores koning van Persië: Die HERE, die God van die hemel, het my beheer oor al die koninkryke van die aarde gegee. Hy het my aangestel om vir Hom ’n tempel in Jerusalem in Juda te bou. As julle deel is van sy volk, mag julle teruggaan na Jerusalem in Juda om hierdie tempel van die HERE, die God van Israel, die God wat in Jerusalem is, te gaan herbou. Mag God by julle wees! Van die mense van Juda wat nog in ander gebiede oorbly, se bure moet hulle deel bydra om te help dra aan die uitgawes van dié wat wil teruggaan. Hulle moet silwer en goud, voorraad vir die terugtog en vee voorsien, asook vrywillige offers vir die tempel vir God in Jerusalem.” God het toe die gesindheid van die priesters en die Leviete, en ook van die stamleiers van Juda en Benjamin beïnvloed om na Jerusalem toe terug te gaan om die tempel van die HERE te herbou. Al hulle bure het hulle bygestaan deur vir hulle voorwerpe van silwer en goud te gee. Hulle het ook voorraad en vee vir die terugtog voorsien. Bo en behalwe alles wat hulle vrywillig aan hulle gegee het, het hulle ook waardevolle geskenke saamgegee. Koning Kores het self ook waardevolle voorwerpe gegee. Dit was die voorwerpe wat Nebukadnesar voorheen uit die tempel van die HERE in Jerusalem gevat het en in die tempel van sy eie gode gesit het.