ESEGIËL 34:2-10

ESEGIËL 34:2-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Mensekind, profeteer teen die herders van Israel; profeteer en sê vir hulle, die herders: So spreek die Here HERE: Wee die herders van Israel wat aan hulleself weiding verskaf! Moet die herders nie die skape laat wei nie? Julle eet die vet en beklee julle met die wol; julle slag die vettes, maar die skape laat julle nie wei nie; julle versterk die swakkes nie en maak die siekes nie gesond nie en die wat gewond is, verbind julle nie en wat weggedryf is, bring julle nie terug nie en wat verlore is, soek julle nie; maar met strengheid heers julle oor hulle en met hardheid. So het hulle dan verstrooid geraak, omdat daar geen herder was nie; en hulle het die voedsel geword vir al die wilde diere van die veld en het verstrooid geraak. My skape dwaal rond op al die berge en op al die hoë heuwels; ja, oor die hele oppervlakte van die aarde is my skape verstrooi, sonder dat iemand na hulle vra of hulle soek. Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE: So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, gewis, omdat my skape 'n prooi geword het en my skape as voedsel gedien het van al die wilde diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders na my skape nie vra nie; en die herders aan hulleself weiding verskaf, maar my skape nie laat wei nie — daarom, o herders, hoor die woord van die HERE! So sê die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie, sodat die herders aan hulleself nie meer weiding sal verskaf nie; en Ek sal my skape uit hulle mond uitruk, sodat dit hulle nie as voedsel sal dien nie.

ESEGIËL 34:2-10 Bybel vir almal (ABA)

“Mens, jy moet my boodskap bring vir die herders van Israel. Jy moet my boodskap bring en vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Dit sal sleg gaan met die herders van Israel, hulle sorg net vir hulleself. Herders moet sorg vir die skape en bokke, maar julle eet die skape en bokke se vet vleis, julle maak vir julle klere van hulle wol, julle slag die vetste skape en bokke, maar julle sorg nie vir hulle nie. Julle het nie die swak skape en bokke gehelp om weer sterk te word nie, julle het nie die siek skape en bokke gedokter nie, julle het nie die skape en bokke wat seergekry het, se seerplekke toegedraai nie, julle het nie die skape en bokke wat verdwaal het, teruggebring nie, julle het nie die skape en bokke wat weggeraak het, gesoek nie. Nee, julle het hard en wreed oor hulle regeer. Vyande het hulle na al die kante toe gejaag, want daar was nie 'n herder nie. Vyande het hulle gejaag, hulle was oral, en die wilde diere het hulle opgevreet. My skape en bokke het rondgeswerf op al die berge en op elke hoë heuwel. Vyande het hulle gejaag, hulle was oral, en niemand het hulle gesoek of gevra waar hulle is nie.” Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal die herders straf. Dit is seker, so seker soos Ek lewe. Vyande het my skape en bokke vir hulleself gevat, wilde diere het my skape en bokke opgevreet, want daar was nie 'n herder nie. My herders het nie my skape en bokke gesoek nie. Die herders het net vir hulleself gesorg, hulle het nie gesorg vir my skape en bokke nie.” Daarom, herders, julle moet hoor wat sê die Here. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek die herders se vyand wees. Ek sal my skape en bokke wegvat van die herders, hulle sal nie meer herders wees en net vir hulleself sorg nie. Ek sal my skape en bokke red sodat die herders hulle nie meer kan op-eet nie.”

ESEGIËL 34:2-10 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Mens, tree op as profeet teen die herders van Israel, tree op as profeet en sê vir hulle, vir die herders: So sê die Here my God: Ellende wag vir die herders van Israel wat net vir hulleself sorg! Moet herders dan nie vir die kleinvee sorg nie? Julle drink die melk, julle maak vir julle klere van die wol, julle slag die vetste kleinvee, maar julle sorg nie vir die kleinvee nie. Julle het nie die swakkes gehelp nie, julle het nie die siekes gedokter nie, julle het nie die wonde van dié wat seergekry het, versorg nie, julle het nie dié wat weggedwaal het, teruggebring nie, julle het nie dié wat weggeraak het, gesoek nie. Julle was harde en wrede regeerders. Die kleinvee was sonder herder en het verstrooi geraak, en toe hulle verstrooi raak, word hulle 'n prooi vir roofdiere. My kleinvee het rondgedwaal oor al die berge en oor al die hoë heuwels, hulle het verstrooi geraak oor die hele aarde en niemand het hulle gesoek of na hulle gevra nie.” Daarom, herders, hoor die woord van die Here: “My kleinvee is uitgelewer en het die prooi van enige wilde dier geword; hulle is sonder herder, sonder iemand wat na hulle soek; die herders het vir hulleself gesorg en nie vir my kleinvee nie. So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal die herders straf.” Hoor die woord van die Here, herders! So sê die Here my God: “Ek gaan optree teen die herders: Ek eis my kleinvee van hulle terug, Ek maak 'n end daaraan dat hulle die kleinvee se herders is, hulle sal nie herders bly net om vir hulleself te sorg nie. Ek sal my kleinvee red en hulle nie deur die herders laat opeet nie.”

ESEGIËL 34:2-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Mensekind, profeteer teen die herders van Israel. Profeteer en sê vir hulle, vir die herders, ‘So sê my Heer, die HERE: “Wee die herders van Israel wat net aan hulleself weiding verskaf! Is dit nie die kleinvee aan wie die herders weiding moet verskaf nie? Die vet eet julle, en met die wol klee julle julleself; die vetstes slag julle, maar die kleinvee laat julle nie wei nie. Dié wat swak is, het julle nie laat sterk word nie, en die siekes het julle nie gesond gemaak nie; dié met gebreekte bene het julle nie verbind nie; dié wat verstrooi is, het julle nie teruggebring nie, en dié wat weggeraak het, het julle nie gesoek nie, maar met mag en geweld het julle oor hulle regeer. Hulle is verstrooi, sonder 'n herder. Hulle het die prooi geword van al die wilde diere. Hulle is verstrooi; my kleinvee dwaal rond op al die berge en op elke hoë heuwel. Oor die hele oppervlakte van die aarde is my kleinvee verstrooi, en niemand sien na hulle om of soek na hulle nie.” “ ‘Daarom, herders, hoor die woord van die HERE: “So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die HERE: “omdat my kleinvee buit geword het en my kleinvee voedsel is vir al die wilde diere, omdat daar by hulle geen herder was nie, omdat my herders nie vir my kleinvee gesorg het nie, en die herders net aan hulleself weiding verskaf en my kleinvee nie laat wei het nie” – daarom, herders, hoor die woord van die HERE. Ja, so sê my Heer, die HERE: “Dit is Ek teen die herders! Ek sal my kleinvee van hulle hand eis en 'n einde maak aan hulle herderskap oor kleinvee, sodat die herders nie langer aan hulleself weiding sal verskaf nie. Ek sal my kleinvee uit hulle monde ruk; my kleinvee sal nie meer vir hulle voedsel wees nie.”

ESEGIËL 34:2-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Mensekind, profeteer teen die herders van Israel, profeteer en sê vir hulle: So spreek die HERE HERE aan die herders; Wee die herders van Israel wat hulleself voed! moet die herders nie die kuddes wei nie? Julle eet die vet, en beklee julle met die wol, julle maak die wat gevoed word, dood; maar julle wei nie die kleinvee nie. Die siekes het julle nie versterk nie, en wat siek was, het julle nie genees nie, en wat gebreek is, het julle nie saamgebind nie, en wat verdryf is, het julle nie teruggebring nie, en wat verlore was, het julle nie gesoek nie; maar met geweld en wreedheid het julle hulle regeer. En hulle is verstrooi, omdat daar geen herder is nie, en hulle het voedsel geword vir al die diere van die veld toe hulle verstrooi is. My skape het deur al die berge en op elke hoë heuwel rondgedwaal, ja, my skape was oor die hele aarde verstrooi, en niemand het hulle gesoek of gesoek nie. Daarom, herders, hoor die woord van die HERE; So waar as Ek leef, spreek die HERE HERE, sekerlik omdat my skape 'n prooi geword het, en my skape vleis geword het vir al die diere van die veld, omdat daar geen herder was nie, en my herders nie na my skape gesoek het nie, maar die herders het hulleself gevoed, en my skape nie laat wei nie; Daarom, o herders, hoor die woord van die HERE; So sê die HERE HERE; Kyk, Ek het dit teen die herders; en Ek sal my kleinvee van hulle hand eis en hulle laat ophou om die kleinvee te wei; en die herders sal hulleself nie meer wei nie; want Ek sal my kleinvee uit hulle mond red, dat hulle vir hulle geen spys mag wees nie.

ESEGIËL 34:2-10 Die Boodskap (DB)

“Mens, sê vir die skaapwagters van Israel wat Ek vir jou sê. Hulle is die leiers van my volk. Wel, die Here, Esegiël se God, sê vir hulle: Ek gaan julle vernietig, want julle eet die kos wat vir die skape bedoel was. Is dit nie skaapwagters se werk om vir die skape te sorg en vir hulle kos te gee nie? “Julle drink die melk wat die diere vir julle gee. Julle dra klere wat geweef word van die wol wat hulle gee. En julle slag die beste skape om hulle vleis te eet. Maar julle gee nie eens vir hierdie diere kos nie! Hulle vrek van die honger. Julle gee nie om vir die swak skape nie. Julle sorg ook nie vir die siek diere nie. As ’n skaap ’n been breek, doen julle net mooi niks daaraan nie. Julle verbind nie die wonde en spalk die breuke nie. Julle gaan soek nie die skape wat wegdwaal van die trop en wegraak as dit donker word nie. Nee, julle behandel die trop skape sleg. Julle is wreed en maak hulle seer. Julle is mos sterker as die skape. Daarom loop hierdie trop skape, my volk, alleen rond. Hulle het nie ’n skaapwagter wat hulle oppas nie. Wilde diere vang onder hulle, want hulle word nie beskerm nie. My skape loop alleen op die heuwels en in die valleie. Hulle is al oor die hele aarde verstrooi. Niemand gaan soek hulle nie. “Daarom moet die skaapwagters baie mooi luister na wat Ek vir hulle sê. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “julle het my trop skape gelos en nie vir hulle gesorg nie. Julle het nie omgegee as wilde diere my skape aanval en doodmaak nie. Julle het niks daaraan gedoen nie. Ek het julle aangestel as skaapwagters om my skape op te pas. Maar julle het nie eens die moeite gedoen om op te staan en te gaan soek as van my skape weggeraak het nie. Julle het net vir julleself gesorg. Julle het julleself trommeldik geëet, maar my skape het van die honger gevrek.” Daarom, luister mooi, skaapwagters. So sê die Here, die God van Esegiël: “Julle is van nou af my vyande, skaapwagters! Ek hou julle verantwoordelik vir elke skaap. Julle sal vir My moet kom sê hoe dit met elke skaap gaan en wat van elke skaap geword het. En julle sal ook nie meer vir my skape kos gee nie, want Ek kan julle nie vertrou nie. Julle vat die kos vir julleself. Julle sal nie langer slag en eet soos julle wil nie. Ek red my skape uit julle hand.”

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid