ESEGIËL 34:11-16
ESEGIËL 34:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Ja, die Here, Hy wat Here is, sê: “Nou sal Ek self my skape en bokke soek en vir hulle sorg. 'n Herder soek die skape en bokke wat wegraak uit sy trop. So sal Ek my skape en bokke soek en Ek sal hulle red uit al die plekke waarnatoe hulle moes gaan daardie dag toe die donker wolke gekom het. Ek sal hulle uitbring tussen die volke, Ek sal hulle bymekaarmaak uit die ander lande, en Ek sal hulle na hulle eie land bring. Hulle sal wei op die berge van Israel, langs die waterstrome en oral waar daar mense kan woon. Ek sal my skape en bokke laat wei op goeie weiveld. Die hoë berge van Israel sal hulle weiveld wees. My skape en bokke sal wei op die vrugbare weiveld op die berge van Israel. Ek sal self my skape en bokke se herder wees, en Ek sal hulle laat lê en rus nadat hulle genoeg geëet het.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Ek sal die skape en bokke soek wat weggeraak het. Ek sal die skape en bokke terugbring wat oral rondloop. Ek sal hulle seerplekke toedraai, Ek sal die swak skape en bokke weer sterk laat word, maar Ek sal die vet en die sterk skape en bokke doodmaak. Ek sal reg oordeel wanneer Ek self hulle herder is.”
ESEGIËL 34:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want so sê die Here HERE: Kyk, hier is Ek, en Ek sal na my skape vra en vir hulle sorg. Soos 'n herder vir sy trop skape sorg op die dag as hy onder sy verspreide skape is, so sal Ek vir my skape sorg; en Ek sal hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is, op die dag van wolke en donkerheid. En Ek sal hulle uitlei uit die volke en versamel uit die lande en hulle bring in hul land; en Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, in die klowe en in al die bewoonbare plekke van die land. Op 'n goeie weiveld sal Ek hulle laat wei, en op die hoë berge van Israel sal hulle weiplek wees. Daar sal hulle lê op 'n goeie plek en wei in 'n geil weiveld op die berge van Israel. Ek self sal my skape oppas, en Ek self sal hulle laat lê en rus, spreek die Here HERE. Die wat verlore is, sal Ek soek, en wat weggedryf is, sal Ek terugbring, en wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek verdelg: Ek sal hulle oppas soos dit reg is.
ESEGIËL 34:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
So sê die Here my God: “Ek sal self my kleinvee soek en na hulle omsien. Soos 'n herder omsien na die kleinvee wat uit sy trop verstrooi raak, so sal Ek omsien na my kleinvee en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker oordeelsdag. Ek sal hulle tussen die ander volke uitbring, hulle bymekaarmaak uit die ander lande en hulle bring na hulle land toe. Ek sal hulle versorg op die berge van Israel, in die klowe, in al die woonplekke in die land. Ek sal vir hulle sorg vir goeie weiding. Hulle sal wei op die hoë berge van Israel en rustig daar in die goeie weiveld lê en herkou. Hulle sal op geil veld wei daar in die berge van Israel. Ek sal self my kleinvee se herder wees en hulle rustig laat lê en herkou,” sê die Here my God. “Ek sal dié soek wat weggeraak het, dié terugbring wat weggedwaal het, die wonde versorg van dié wat seergekry het, die swakkes help. Maar Ek sal dié wat vet en sterk geword het, uitroei. Ek sal 'n herder wees wat reg laat geskied.
ESEGIËL 34:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“ ‘ Ja, so sê my Heer, die HERE: “Kyk, Ek self, ja, Ek, gaan omsien na my kleinvee en hulle opspoor. Soos 'n herder sy kudde opspoor op die dag wanneer hy tussen die verstrooide kleinvee is, so sal Ek my kleinvee opspoor. Ek sal hulle red uit elke plek waarheen hulle verstrooi is op 'n dag van wolke en diepe duisternis. “ ‘ “Ek sal hulle uitlei tussen die volke, hulle bymekaarmaak uit ander lande en hulle na hulle grond bring. Ek sal hulle laat wei op die berge van Israel, by die stroombeddings, en by al die woonplekke in die land. In goeie weiding sal Ek hulle laat wei; op die berghoogtes van Israel sal hulle weiveld wees. Daar sal hulle in goeie weiding gaan lê; geil weiding sal hulle bewei op die berge van Israel. Ek self sal my kleinvee laat wei; Ek self sal hulle laat lê en rus.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE. “ ‘ “Dié wat wegraak, sal Ek soek; dié wat verstrooi is, sal Ek terugbring; dié met gebreekte bene sal Ek verbind, en die swakkes sal Ek laat sterk word. Maar die vettes en die sterkes sal Ek uitdelg. Ek sal my skape laat wei op die regte manier.
ESEGIËL 34:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want so sê die HERE HERE: Kyk, ek sal my skape deursoek en hulle opsoek. Soos 'n herder sy kudde opsoek op die dag dat hy tussen sy skape is wat verstrooi is; so sal Ek my skape opsoek en hulle red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is in die bewolkte en donker dag. En Ek sal hulle uit die volke uitlei en hulle uit die lande versamel en hulle na hulle land bring en hulle laat wei op die berge van Israel by die riviere en in al die bewoonde plekke van die land. Ek sal hulle wei in 'n goeie weiveld, en op die hoë berge van Israel sal hulle kraal wees; daar sal hulle lê in 'n goeie weiveld, en in 'n vet weiveld sal hulle wei op die berge van Israel. Ek sal my skape oppas en hulle laat lê, spreek die HERE HERE. Ek sal soek wat verlore is, en wat verdryf is, terugbring, en wat gebreek is, sal Ek verbind en wat siek was, versterk; maar die vettes en die sterkes sal Ek vernietig; Ek sal hulle met oordeel voed.
ESEGIËL 34:11-16 Die Boodskap (DB)
Nou sê die Here, Esegiël se God: “Ek soek self my skape wat weg is. En as Ek hulle kry, bring Ek hulle terug en gee vir hulle kos. Ek is van nou af die Skaapwagter wat vir hierdie trop skape sorg wat oor die hele wêreld rondloop. Ek sal hulle gaan soek en hulle red. Die dag toe dit bewolk was en die lug donker was, het baie van my skape verdwaal. Maar Ek sal hulle gaan soek en hulle veilig terugbring huis toe. Ek bring hulle terug na hulle eie land toe, na Israel. Ek gaan haal hulle tussen die ander volke uit waar hulle as gevangenes woon. Dan sal Ek vir hulle genoeg kos gee. Hulle sal op die heuwels wei en by die riviere water drink. Hulle sal veilig wees omdat daar oral mense sal wees wat hulle beskerm. Ja, Ek loop voor die skape uit en bring hulle by die beste weiveld. Op die hoogste berge van Israel sal hulle die beste gras kry. En as hulle klaar gewei het, sal hulle veilig lê en rus. Want Ek is daar tussen hulle. Ek beskerm hulle. Ek gee vir my skape net die beste. Van nou af sal Ek self vir my skape sorg. Ek vertrou hulle nie meer aan enigiemand toe nie. My skape sal rustig wees. As hulle rus, sal niks hulle versteur nie.” Dit is die Here, die God van Esegiël, wat so sê. “Ek sal self daardie skape gaan soek wat wegdwaal en verlore raak. Ek sal hulle veilig huis toe bring. En as ’n skaap seerkry, sal Ek self vir hom sorg. Ek sal sy wond verbind. Die swak skape sal Ek op my skouers dra. Maar die vet skape wat ander seermaak, sal Ek laat slag. My skape sal goed behandel word, want Ek gee vir hulle om.”
ESEGIËL 34:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“So sê die oppermagtige HERE: Ek sal self my skape soek en vir hulle sorg. Ek sal soos ’n herder wees wat na sy verstrooide kudde kyk. Ek sal my skape vind en red uit al die plekke waarheen hulle verstrooi is op daardie donker dag van oordeel. Uit die nasies en lande waar hulle was, bring Ek hulle huis toe na hulle eie land. Ek laat hulle wei op die berge van Israel en in die klowe, op al die plekke waar mense lewe. Ek gee hulle goeie weiveld op die hoë heuwels van Israel. Hulle sal in groen weivelde lê en herkou, op goeie velde op die berge van Israel. Ek versorg self my skape en laat hulle in vrede lê en rus, sê die oppermagtige HERE. Ek soek na dié wat afgedwaal het en bring hulle veilig terug. Ek verbind die wonde van die beseerdes en versterk die swakkes. Maar Ek vernietig die vettes en magtiges. Ek lei die kudde in reg en geregtigheid.