ESEGIËL 3:1-18

ESEGIËL 3:1-18 Bybel vir almal (ABA)

Die Here het vir my gesê: “Mens, jy moet eet wat Ek vir jou gee, jy moet hierdie boekrol eet en dan moet jy gaan praat met die volk Israel.” Ek het my mond oopgemaak en ek het daardie boekrol geëet. Hy het vir my gesê: “Mens, Ek gee hierdie boekrol vir jou. Jy moet dit eet totdat jou maag vol is.” En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning gesmaak. Hy het vir my gesê: “Mens, jy moet loop en vir die volk Israel gaan sê wat Ek vir hulle sê. Want die volk Israel praat 'n taal wat nie moeilik is om te verstaan nie. Ek stuur jou na hulle toe. Ek stuur jou ook nie na baie ander volke toe wat tale praat wat moeilik is om te verstaan nie. As Ek jou na hulle toe gestuur het, dan het hulle geluister na jou. Maar die volk Israel sal nie luister na jou nie, want hulle wil ook nie luister na Mý nie. Ja, die hele volk Israel is hardkoppig, hulle wil nie luister nie. Maar jy moet dit weet, Ek het vir jou ook so hardkoppig gemaak soos hulle, Ek het jou kop ook so hard gemaak soos hulle koppe. Ek het jou kop so hard gemaak soos 'n diamant, dit is harder as vuurklip. Jy moenie vir hulle bang wees en vir hulle skrik nie, want hulle is 'n opstandige volk.” Daarna het die Here vir my gesê: “Mens, jy moet goed luister en jy moet onthou wat Ek vir jou sê. Jy moet na die Judeërs toe gaan wat in Babel is, na jou mense toe, en jy moet met hulle praat en vir hulle sê wat Ek, die Here, sê. Jy moet dit doen, as hulle luister en ook as hulle nie luister nie.” Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my 'n groot aardbewing en 'n persoon wat sê: “Almal moet die Koning prys wanneer Hy uit die hemel kom!” Ek het ook gehoor hoe skuur die diere se vlerke teen mekaar en hoe rol die wiele langs hulle. Dit was soos 'n groot aardbewing. Die Gees het my opgetel en Hy het my saamgeneem. Ek het gegaan, maar ek was kwaad en ontsteld. Ek het gevoel die Here sit sy hand hard op my. Ek het by die Judeërs in Tel-Abib gekom, hulle het langs die Kebar-kanaal gewoon. Ek het sewe dae lank daar tussen hulle gesit. Ek was so hartseer en ontsteld dat ek niks kon sê nie. En toe, ná die sewe dae, het ek gehoor die Here sê vir my: “Mens, Ek het jou gekies om 'n wag te wees vir die volk Israel. Wanneer Ek vir jou sê jy moet dit doen, dan moet jy vir hulle sê Ek waarsku hulle. Ek sal vir die mens wat verkeerd doen, sê dat hy sal sterf, dit is seker. Wanneer Ek dit sê, dan moet jy hom waarsku. Jy moet praat en jy moet hom waarsku teen sy verkeerde lewe sodat hy kan aanhou lewe. As jy dit nie doen nie, dan sal daardie mens wat verkeerd doen, sterf omdat hy verkeerd gedoen het, maar Ek sal vir jóú straf omdat hy moes sterf.

ESEGIËL 3:1-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAARNA het Hy vir my gesê: Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel. Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet. En Hy het vir my gesê: Mensekind, kom, gaan na die huis van Israel, en spreek hulle aan met my woorde; want jy is nie gestuur na 'n volk wat duister van spraak en swaar van tong is nie, maar na die huis van Israel; nie na baie volke wat duister van spraak en swaar van tong is nie, wie se woorde jy nie kan verstaan nie; as Ek jou tog na hulle gestuur het, het húlle na jou geluister! Maar die huis van Israel sal na jou nie wil luister nie, omdat hulle na My nie wil luister nie; want die hele huis van Israel het 'n harde voorhoof en 'n ongevoelige hart. Kyk, Ek maak jou aangesig hard net soos hulle aangesig en jou voorhoof hard net soos hulle voorhoof. Jou voorhoof maak Ek hard soos 'n diamant, harder as 'n rots; jy mag nie vir hulle bevrees of vir hulle verskrik wees nie, omdat hulle 'n wederstrewige huis is. Verder het Hy vir my gesê: Mensekind, neem al my woorde wat Ek vir jou sal sê, in jou hart op, en hoor hulle met jou ore; en kom, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk, en spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die Here HERE — of hulle al luister of nie. Toe het die Gees my opgeneem, en ek het agter my die geluid van 'n groot gedreun gehoor wat sê: Geloofd sy die heerlikheid van die HERE uit sy woonplek! En ek het gehoor die geluid van die wesens se vlerke wat die een aan die ander verbind was, en die geluid van die wiele gelyktydig daarmee en die geluid van 'n groot gedreun. Toe het die Gees my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan, verbitterd in die grimmigheid van my gees; maar die hand van die HERE was sterk op my. En ek het by die ballinge gekom in Tel-Abib, wat by die Kebarrivier gewoon het, en by die plek van hulle woning; en ek het daar sewe dae lank verstom in hulle midde gesit. EN aan die einde van sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, Ek het jou as wag vir die huis van Israel aangestel; en as jy 'n woord uit my mond hoor, moet jy hulle van my kant waarsku. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

ESEGIËL 3:1-18 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die stem het vir my gesê: “Mens, eet wat voor jou is, eet hierdie boekrol en gaan praat met die mense van Israel.” Ek het my mond oopgemaak, en die Here het my die boekrol laat eet. Hy het vir my gesê: “Mens, eet die boekrol wat Ek jou gee, eet jou vol.” Ek het dit geëet, en dit was soet soos heuning in my mond. Toe sê Hy vir my: “Mens, gaan na die mense van Israel toe en sê vir hulle wat Ek sê. Jy word nie gestuur na 'n volk wat 'n onverstaanbare, moeilike taal praat nie, maar na die mense van Israel toe, ook nie na baie volke toe met onverstaanbare, moeilike tale sodat jy nie kan verstaan wat hulle praat nie. Het Ek jou maar na hulle toe gestuur! Hulle sou na jou geluister het. Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie eens na My luister nie. Al die mense van Israel is koppig en onversetlik. Maar Ek maak jou net so onversetlik as wat hulle is, jou kop net so hard as hulle s'n. Soos diamant, harder as rots, so maak Ek jou kop. Moenie vir hulle bang wees, vir hulle skrik nie. Hulle is 'n weerbarstige volk.” Hy het verder vir my gesê: “Mens, onthou alles wat Ek vir jou sê, luister goed daarna en gaan na die ballinge toe, na jou volksgenote toe; spreek hulle aan, sê vir hulle wat Ek, die Here God, sê, of hulle luister of nie.” Die Gees het my opgetel, en toe hoor ek agter my die gedreun van 'n groot aardbewing en 'n stem: “Die hemel self moet die magtige verskyning van die Here loof!” Daar was die geruis van die wesens se vlerke wat aan mekaar geraak het, die gedreun van die wiele daarmee saam en die gedreun van die groot aardbewing. Die Gees het my opgetel en my weggevat, en ek is daar weg, swaarmoedig en ontsteld. Die mag van die Here het my op 'n harde manier in besit geneem. Ek het by die ballinge in Tel-Abib aangekom. Hulle het daar in die omgewing van die Kebarrivier gewoon, en ek het sewe dae lank verskrik daar tussen hulle gesit. Ná die sewe dae het die woord van die Here tot my gekom: “Mens, Ek het jou aangestel as 'n wag vir Israel: jy moet luister na wat Ek sê en hulle namens My waarsku. “Wanneer Ek vir 'n goddelose sê hy gaan sterwe, en jy waarsku hom nie, jy praat nie en jy waarsku nie die goddelose teen sy bose optrede om hom so in die lewe te hou nie, dan sal hy deur sy sonde sterwe, maar Ek sal van jou rekenskap eis vir sy dood.

ESEGIËL 3:1-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Hy sê toe vir my: “Mensekind, wat jy nou kry, moet jy eet. Eet hierdie •boekrol en gaan praat met die huis van Israel.” Ek het my mond oopgemaak, en Hy het my daardie boekrol laat eet. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, jou maag moet jy voed, en jou ingewande moet jy vul met hierdie boekrol wat Ek vir jou gee.” Ek het dit geëet, en dit was so soet soos heuning in my mond. Toe sê Hy vir my: “Mensekind, gaan na die huis van Israel en sê vir hulle my woorde, want jy word nie na 'n volk gestuur met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal nie, maar na die huis van Israel – nie na baie volke met spraak wat te moeilik is om te volg en onverstaanbare taal waarvan jy die woorde nie begryp nie. Ek verseker jou, as Ek jou na hulle gestuur het, sou hulle wel na jou geluister het, maar die huis van Israel sal nie na jou wil luister nie, want hulle wil nie na My luister nie. Ja, die hele huis van Israel is hardkoppig en hard van hart. Kyk, Ek maak jou gesig net so stug soos hulle s'n, en Ek maak jou net so hardkoppig soos hulle. Soos 'n diamant, harder as vuurklip, het ek jou voorkop gemaak. Jy mag nie vir hulle bang wees en jy mag jou nie deur hulle laat afskrik nie, al is hulle die rebelse huis. ” Verder het Hy vir my gesê: “Mensekind, al my woorde wat Ek vir jou sê, neem dit ter harte, en luister met gespitste ore. Gaan dan na die ballinge, na jou volksgenote. Praat met hulle en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE,’ of hulle nou luister of verseg om te luister.” 'n Gees het my opgelig, en ek het agter my die geluid van 'n harde dreuning gehoor toe die heerlikheid van die HERE van sy plek af opstyg, ook die geluid van die wesens se vlerke wat teen mekaar klap, die geluid van die wiele langs hulle en die geluid van die harde dreuning. 'n Gees het my opgelig en my weggeneem. Ek het gegaan – bitter en ontstemd in my gemoed. Die hand van die HERE was ferm oor my. Ek het by die ballinge uitgekom wat in Tel Aviv, langs die Kebarrivier woon; en daar waar hulle woon, daar het ek sewe dae lank tussen hulle gesit, heeltemal verbysterd. Ná die sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom: “ Mensekind, as 'n wag stel Ek jou aan vir die huis van Israel. Wanneer jy uit my mond woorde hoor, moet jy hulle namens My waarsku. Wanneer Ek vir 'n goddelose sê dat hy beslis sal sterf, en jy waarsku hom nie, jy praat nie om die goddelose te waarsku teen sy goddelose lewenswyse, sodat hy kan leef nie, sal hy, die goddelose, sterf oor sy sondeskuld; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

ESEGIËL 3:1-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Verder het Hy vir my gesê: Mensekind, eet wat jy vind; eet hierdie rol en gaan spreek met die huis van Israel. Toe het ek my mond oopgemaak, en hy het my daardie rol laat eet. En Hy het vir my gesê: Mensekind, laat jou maag eet en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. Toe eet ek dit; en dit was in my mond soos heuning vir soetheid. En Hy het vir my gesê: Mensekind, gaan, gaan na die huis van Israel en spreek met my woorde met hulle. Want jy is nie gestuur na 'n volk met 'n vreemde spraak en 'n harde taal nie, maar na die huis van Israel; Nie vir baie mense met 'n vreemde spraak en van 'n harde taal, wie se woorde jy nie kan verstaan nie. Waarlik, as Ek jou na hulle gestuur het, sou hulle na jou geluister het. Maar die huis van Israel sal na jou nie luister nie; want hulle sal na My nie luister nie, want die hele huis van Israel is onbeskof en hard van hart. Kyk, Ek het jou aangesig sterk gemaak teen hulle aangesigte en jou voorhoof sterk teen hulle voorhoofde. Ek het jou voorhoof harder as klip gemaak; bevrees hulle nie en wees nie verskrik vir hulle aanskoue nie, al is hulle 'n wederstrewige huis. Verder het Hy vir my gesê: Mensekind, neem al my woorde wat Ek tot jou sal spreek, in jou hart en hoor met jou ore. En gaan, gaan na die ballinge, na die kinders van jou volk, en spreek met hulle en sê vir hulle: So spreek die HERE HERE; of hulle sal hoor, of hulle sal laat staan. Toe het die gees my opgeneem, en ek het agter my 'n stem van 'n groot gedreun gehoor wat sê: Geseënd is die heerlikheid van die HERE uit sy plek! En ek het die geraas van die vlerke van die lewende wesens gehoor wat aan mekaar geraak het, en die geraas van die wiele teenoor hulle, en die geluid van 'n groot gejaag. Toe het die Gees my opgehef en my weggeneem, en ek het gegaan in bitterheid, in die hitte van my gees; maar die hand van die HERE was sterk op my. Toe kom ek by die ballinge in Telabib, wat by die Kebarrivier gewoon het, en ek het gesit waar hulle gesit het en daar sewe dae lank verbaas onder hulle gebly. En aan die einde van sewe dae het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, Ek het jou 'n wag vir die huis van Israel aangestel; hoor dan die woord uit my mond en waarsku hulle van My af. As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe; en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose te waarsku vir sy verkeerde weg, om sy lewe te red nie; dieselfde goddelose sal in sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis.

ESEGIËL 3:1-18 Die Boodskap (DB)

Toe het die stem verder met my gepraat: “Mens, eet die boek wat Ek vir jou gegee het. Die boek bevat die boodskap wat Ek wil hê jy na hierdie volk toe moet neem. Gaan sê vir die mense van Israel wat in die boek staan. Gaan sê vir hulle wat Ek sê.” Ek het toe die boek in my mond gesit en dit geëet. Die Here het my die boekrol gevoer. Die Here het toe verder vir my gesê: “Eet die hele boek op. Moenie ’n flentertjie daarvan laat oorbly nie.” Ek het die boek toe heeltemal opgeëet. Die boek was so soet soos heuning. Dit het lekker gesmaak. Toe sê die Here vir my: “Mens, Ek wil hê jy moet nou na die mense van Israel toe gaan en vir hulle presies vertel wat Ek vir jou sê om vir hulle te vertel. Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk in ’n veraf land wat ’n taal praat wat jy nie kan verstaan nie. Ek stuur jou na jou eie mense, na Israel toe. Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk wie se taal vir jou moeilik en onverstaanbaar sal wees nie. Het Ek jou maar na so ’n volk toe gestuur! Hulle sou dalk na jou geluister het. Maar die mense van Israel sal nie na jou wil luister nie. Hulle wil nie eens na My luister as Ek direk met hulle praat nie! Hoe sal hulle na jou wil luister? Dit is ’n klomp mense wie se kop net so hard is soos hulle hart! Maar kyk nou mooi. Ek maak jou hart en jou kop net so hard soos die mense van Israel s’n. Ek het jou so sterk soos ’n groot rots gemaak. Jy is nou so hard soos ’n diamant. Daarom moet jy nie bang wees vir die mense nie. Hulle sal niks aan jou kan doen nie. Moenie skrik as hulle vir jou kwaad word nie. Onthou, hulle is ’n klomp mense wat nog heeltyd teen My in opstand is.” Toe het die Here verder met my gepraat: “Laat elke woord wat Ek vir jou sê, eers diep in jou eie hart insink. Luister baie goed as Ek met jou praat, en bêre elke woord diep in jou hart. Gaan dan na jou mense toe wat saam met jou gevangenes in die vreemde land, in Babilonië, is. Gaan praat dan met jou mense. En gaan sê vir hulle alles presies soos Ek, die Here hulle God, vir jou gesê het om vir hulle te sê. Gaan sê dit vir hulle, of hulle nou luister of nie.” Toe het die Gees van die Here my opgetel, en toe die teenwoordigheid van die Here van daardie plek opstyg, het dit geklink soos wanneer ’n groot aardbewing die grond en die bosse vernietig. Die geluid wat ek gehoor het, was die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het toe hulle opgestyg en begin vlieg het. Die wiele wat in mekaar gedraai het, het gemaak dat die geluid so groot was soos ’n aardbewing wat die aarde tref. Die Gees van die Here het my toe opgetel en van daardie plek af weggevat waar ek die Here gesien het. Ek het baie benoud en bang gevoel. Maar die Here se hand was swaar op my. So het ek teruggekom by my eie mense, die gevangenes wat daar in die dorp Tel-Abib gebly het, naby die Kebarrivier. Ek was so oorweldig deur wat ek gesien en gehoor het dat ek vir sewe dae niks anders kon doen nie as om net tussen hulle te sit. Na ’n week het die Here weer met my gepraat: “Mens, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. Jy is soos ’n skaapwagter wat vir die skape verantwoordelik is. Jou werk is om mooi te luister na wat Ek vir jou sê sodat jy hierdie volk kan gaan waarsku. Jy praat met hulle namens My. Ek waarsku die slegte mens wat niks met My en my voorskrifte te doen wil hê nie, en sê: ‘Jy verdien die doodstraf oor wat jy doen.’ As jy nie hierdie mens waarsku teen die gevolge van sy slegte dade nie en hy gaan dood omdat Ek hom ter dood veroordeel, sal sy dood die gevolg wees van sy slegte dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou omdat hy dood is. Jy moes hom gewaarsku het.

ESEGIËL 3:1-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die stem sê toe vir my: “Mensekind, eet wat Ek jou gee. Eet hierdie boek. En gaan dan en gee hierdie boodskap vir die volk Israel.” Ek het toe my mond oopgemaak en Hy het my die boek gegee om te eet. “Eet dit alles. Eet jou versadig daaraan,” sê Hy. En toe ek dit eet, het dit so soet soos heuning geproe. Toe sê Hy: “Mensekind, gaan na die volk Israel met my boodskappe. Ek stuur jou nie na ’n vreemde volk wie se taal jy nie verstaan nie. Nee, Ek stuur jou nie na ’n volk met ’n vreemde of moeilike taal nie. As Ek jou na húlle toe gestuur het, sou hulle geluister het. Ek stuur jou na die volk Israel, maar hulle sal nie na jou luister nie, net soos hulle nie na My luister nie. Want die hele spul van hulle is hardkoppig en hulle harte is hard. Maar kyk, Ek het jou net so hardkoppig en koppig gemaak soos hulle. Ek het jou so hard soos ’n rots gemaak. Daarom moet jy nie vir hulle bang wees nie, ook nie as hulle jou kwaai aankyk nie, want hulle is ’n opstandige klomp.” Toe voeg Hy by: “Mensekind, laat al my woorde eers diep in jou eie hart ingaan. Luister eers self sorgvuldig daarna. Gaan dan na jou volk wat in ballingskap is en sê vir hulle: ‘Dit is wat die oppermagtige HERE sê.’ Doen dit of hulle na jou luister of nie.” Die Gees het my toe opgetel, en ek het ’n harde dreuning agter my gehoor wat sê: “Mag die heerlikheid van die HERE in hierdie plek geprys word!” Dit was die geluid van die vlerke van die lewende wesens wat teen mekaar geskuur het en die gerommel van die wiele onder hulle. Die Gees het my toe opgetel en weggevat. Ek was verbitterd en kwaad, maar die HERE het my veilig vasgehou. Ek het by die Judese ballinge gekom wat langs die Kebarrivier bly. Ontsteld en verstom het ek sewe dae lank tussen hulle gesit. Toe die sewe dae verby is, het die HERE vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê: “Mensekind, Ek het jou aangestel om wag te hou oor Israel. As jy ’n boodskap van My af kry, moet jy dit dadelik vir die volk gee. As Ek die bose mense waarsku en sê: ‘Jy verdien die doodstraf,’ maar jy waarsku hulle nie, sal hulle doodgaan vanweë hulle afskuwelike dade. Maar Ek sal jou verantwoordelik hou, en hulle bloed van jou eis.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid