ESEGIËL 28:20-26
ESEGIËL 28:20-26 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die woord van die HERE het tot my gekom: “ Mensekind, draai jou gesig na Sidon, profeteer teen haar en sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “Dit is Ek teen jou, Sidon! Ek sal roem verwerf in jou midde. Hulle sal besef dat Ek die HERE is wanneer Ek oordele in haar voltrek. Ek sal Myself in haar as die Heilige betoon. Ek sal 'n epidemie in haar loslaat; daar sal bloed in haar strate wees; die deurboordes sal binne-in haar lê deur die swaard wat aan alle kante teen haar gerig is. Hulle sal besef dat Ek die HERE is. “ ‘ “Daar sal nie meer vir die huis van Israel duwweltjies wees wat skerp is, en dorings wat steek van die kant van almal om hulle, almal wat hulle minag nie, want hulle sal besef dat Ek, die Heer, die HERE is.” “ ‘So sê my Heer, die HERE: “Wanneer Ek die huis van Israel bymekaarmaak uit die volke waarheen hulle versprei is, sal Ek Myself as die Heilige betoon voor die oë van die nasies. Israel sal woon op die grond wat Ek aan my dienskneg Jakob gegee het. Hulle sal veilig daarop woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek oordele voltrek oor almal wat hulle minag aan alle kante. Hulle sal besef dat Ek die HERE hulle God is.” ’ ”
ESEGIËL 28:20-26 Bybel vir almal (ABA)
Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet jou gesig na die stad Sidon draai, en jy moet my boodskap teen die stad bring. Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Sidon, Ek is nou jou vyand. Ek sal vir die mense in jou wys dat Ek die Koning is. Ek sal hulle straf en Ek sal vir hulle wys dat Ek die heilige God is, dan sal hulle weet dat Ek die Here is. Ek stuur pes in die stad. Die bloed sal vloei in die strate. Vyande sal die stad aanval van al die kante, en die dooie mense sal op die strate lê. Die mense van die stad sal weet dat Ek die Here is. Die volke rondom die volk Israel het gewys dat hulle dink Israel is nie belangrik nie, hulle was soos dorings wat aangehou het om vir Israel te steek. Wanneer Ek daardie volke straf, dan sal dit nie weer gebeur nie.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Die volk Israel sal weer kom woon in die land wat Ek vir my dienaar Jakob gegee het. Ek sal die volk Israel bymekaarmaak oral tussen die volke waar hulle moes gaan woon, en Ek sal vir hulle wys dat Ek die heilige God is. Israel sal veilig in die land woon. Hulle sal huise bou en wingerde plant en hulle sal veilig woon. Dit sal gebeur wanneer Ek al die volke rondom hulle straf, die volke wat gewys het dat hulle dink Israel is nie belangrik nie. Israel sal weet dat Ek hulle God die Here is.”
ESEGIËL 28:20-26 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VERDER het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig teen Sidon en profeteer teen hom en sê: So spreek die Here HERE: Kyk, Ek het dit teen jou, o Sidon, en Ek sal My verheerlik in jou midde; en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek in hom strafgerigte voltrek en My in hom as die Heilige laat ken. En Ek sal die pes in hom stuur en bloed op sy strate, en die gewondes sal in hom val deur die swaard wat teen hom is van alle kante, en hulle sal weet dat Ek die HERE is. En daar sal vir die huis van Israel geen steekdoring en smartlike distel meer wees onder almal wat rondom hulle is nie, wat hulle verag; en hulle sal weet dat Ek die Here HERE is. So sê die Here HERE: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek My in hulle as die Heilige laat ken voor die oë van die nasies, dan sal hulle in hul land woon wat Ek aan my kneg Jakob gegee het. En hulle sal daarin veilig woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal veilig woon as Ek strafgerigte voltrek teen almal wat hulle van alle kante verag; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is.
ESEGIËL 28:20-26 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, draai jou gesig na Sidon toe en tree op as profeet teen hom. Jy moet sê: So sê die Here my God: Ek gaan teen jou optree, Sidon, Ek gaan in jou my mag laat blyk. Dié stad se inwoners sal besef dat Ek die Here is. Ek sal hulle straf en hulle laat besef dat Ek die heilige God is. Ek stuur pes in die stad in en bloedvergieting op sy strate. Sy vyande sal hom van alle kante af aanval, en sy inwoners sal binne-in hom doodgemaak word. Hulle sal besef dat Ek die Here is. Dan sal daar nie meer onder die buurvolke van wie Israel soveel minagting verduur, 'n doring wees wat hom bly steek, 'n pendoring wat hom bly pynig nie. Israel sal besef dat Ek die Here God is.” So sê die Here my God: “Wanneer Ek Israel bymekaarmaak onder die volke uit waar hulle verstrooi is en Ek hulle voor die oë van die nasies laat besef dat Ek die heilige God is, sal Israel weer kom woon in die land wat Ek aan my dienaar Jakob gegee het. Hulle sal veilig in die land woon, huise bou en wingerde plant. Hulle sal veilig woon wanneer Ek al die buurvolke gestraf het wat vir Israel met soveel minagting behandel het. Israel sal besef dat Ek die Here hulle God is.”
ESEGIËL 28:20-26 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Weer het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, rig jou aangesig teen Sidon en profeteer daarteen, En sê: So spreek die HERE HERE; Kyk, ek het dit teen jou, Sidon! en Ek sal in jou midde verheerlik word, en hulle sal weet dat Ek die HERE is as Ek in haar strafgerigte voltrek en in haar geheilig sal word. Want Ek sal in haar pes stuur en bloed op haar strate; en die gewondes sal binne-in haar geoordeel word deur die swaard wat op haar van alle kante is; en hulle sal weet dat Ek die HERE is. En daar sal geen prikkelende distel meer wees vir die huis van Israel nie, en ook geen droewige doring van almal wat rondom hulle is wat hulle verag het nie; en hulle sal weet dat Ek die HERE HERE is. So sê die HERE HERE: As Ek die huis van Israel versamel uit die volke onder wie hulle verstrooi is, en Ek in hulle geheilig sal word voor die oë van die nasies, dan sal hulle woon in hulle land wat Ek aan my kneg Jakob gegee het. En hulle sal veilig daarin woon en huise bou en wingerde plant; ja, hulle sal met vrymoedigheid woon as Ek oordele voltrek het aan almal wat hulle rondom hulle verag; en hulle sal weet dat Ek die HERE hulle God is.
ESEGIËL 28:20-26 Die Boodskap (DB)
Die Here het verder vir my gesê: “Mens, kyk in die rigting van Sidon. En sê vir hierdie stad wat Ek vir jou sê. Sê vir die mense van Sidon die Here, Esegiël se God, dink só oor hulle: Ek is jou vyand, Sidon! En Ek gaan Myself bekendmaak deur wat met jou gaan gebeur. Ek gaan jou voor die hof daag en jou skuldig bevind. Dan gaan Ek vir jou wys wie Ek is, die dag as Ek jou straf. Elkeen wat sien wat gebeur, sal dan besef en weet dat Ek die Here is. Ek stuur ’n plaag teen jou. Jy sal doodgaan en jou bloed sal op jou strate lê. Jy sal van alle kante aangeval word. Jou mense sal dood binne-in die stad rondlê. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is. Jy was Israel se buurman, maar jy was ook nog altyd ’n vyand van hom. Nou sal dit nie meer so wees nie. Jy sal nie meer vir Israel verpes nie. Dan sal almal weet en erken dat Ek die Here is. “Want,” so sê die Here, die God van Esegiël, “daardie dag sal Israel weer in sy eie land bly. Dit is die land wat Ek vir Jakob gegee het. Hy het My gedien as God. Ek sal my volk bymekaarmaak waar hulle as gevangenes in ’n vreemde land bly. Ek het hulle daarheen laat gaan omdat Ek hulle gestraf het. Die dag as dit gebeur, sal al hierdie nasies sien wie Ek is as Ek my volk terugbring. Dan sal Israel veilig in hulle eie land bly. En hulle sal huise bou en wingerde plant. Dan sal Ek al die nasies wat Israel se bure is, straf. Want Israel se bure het hom sleg behandel. Daardie dag sal Israel weet dat Ek die Here hulle God is.”
ESEGIËL 28:20-26 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE het vir my gesê: “Mensekind, kyk in die rigting van Sidon en profeteer daarteen. Sê vir die mense van Sidon die oppermagtige HERE sê: “Ek is jou vyand, Sidon. In jou sal Ek my heerlikheid vertoon. Wanneer Ek jou straf en my heiligheid onthul, dan sal hulle weet: Ek is die HERE. Ek stuur ’n plaag teen jou. Bloed sal op jou strate vloei. Die aanval kom uit elke rigting en jou mense sal in jou geslag word. Dan sal almal besef dat Ek die HERE is. “Die mense van Israel sal nie meer deur hulle bure geminag word soos wilderose en dorings wat steek nie. Dan sal alle mense besef: Ek is die oppermagtige HERE.” So sê die oppermagtige HERE: “Die mense van Israel sal weer in hulle eie land bly, die land wat Ek aan Israel, my dienaar, gegee het, want Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar Ek hulle verstrooi het. Daardie dag wys Ek vir die nasies dat Ek heilig is tussen die mense van Israel. Hulle sal veilig in Israel bly en huise bou en wingerde aanlê. “Wanneer Ek hulle bure straf wat hulle met minagting behandel het, sal hulle besef dat Ek, die HERE, hulle God is.”