ESEGIËL 20:1-40
ESEGIËL 20:1-40 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN in die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende van die maand, het daar manne uit die oudstes van Israel gekom om die HERE te raadpleeg; en hulle het voor my gaan sit. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, spreek met die oudstes van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Kom julle om My te raadpleeg? So waar as Ek leef, gewis, Ek laat my deur julle nie raadpleeg nie, spreek die Here HERE. Wil jy hulle oordeel, wil jy oordeel, mensekind? Maak hulle dan die gruwels van hulle vaders bekend, en sê aan hulle: So spreek die Here HERE: Die dag toe Ek Israel uitverkies het, het Ek my hand opgehef vir die geslag van die huis van Jakob en My aan hulle bekend gemaak in Egipteland; ja, Ek het my hand vir hulle opgehef en gesê: Ek is die HERE julle God. Op dié dag het Ek my hand vir hulle opgehef, om hulle uit Egipteland uit te lei na 'n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, wat oorloop van melk en heuning — 'n sieraad is dit van al die lande. En Ek het aan hulle gesê: Gooi weg, elkeen die verfoeisels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die HERE julle God. Maar hulle was wederstrewig teen My en wou na My nie luister nie; niemand het die verfoeisels van sy oë weggegooi of die drekgode van Egipte laat staan nie. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn teen hulle te laat uitwoed in Egipteland. Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies onder wie hulle gewees het nie, voor wie se oë Ek My bekend gemaak het aan hulle, om hulle uit Egipteland uit te lei. En Ek het hulle uit Egipteland uitgelei en hulle in die woestyn gebring. En Ek het hulle my insettinge gegee en my verordeninge aan hulle bekend gemaak, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe. Daarby het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om 'n teken te wees tussen My en hulle, dat hulle kan weet dat dit Ek, die HERE, is wat hulle heilig. Maar die huis van Israel was wederstrewig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie en my verordeninge verwerp, wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet in die woestyn om hulle te vernietig. Maar Ek het gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie. So het Ek dan ook my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning — 'n sieraad is dit van al die lande; omdat hulle my verordeninge verwerp het en in my insettinge nie gewandel het nie en my sabbatte ontheilig het; want hulle hart het agter hul drekgode aan geloop. Maar my oog het hulle verskoon, sodat Ek hulle nie verdelg het nie en geen einde aan hulle gemaak het in die woestyn nie. Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie en onderhou nie hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie. Ek is die HERE julle God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit. En heilig my sabbatte; en hulle sal 'n teken wees tussen My en julle, dat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. Maar die kinders was wederstrewig teen My: hulle het nie gewandel in my insettinge en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie — wat die mens moet doen, dat hy daardeur kan lewe; hulle het my sabbatte ontheilig. Toe het Ek gesê dat Ek my grimmigheid oor hulle sal uitgiet, om my toorn te laat uitwoed teen hulle in die woestyn. Maar Ek het my hand teruggetrek en gehandel ter wille van my Naam, dat dit nie ontheilig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie. Tog het Ék my hand vir hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle sal versprei onder die nasies en hulle sal verstrooi in die lande; omdat hulle my verordeninge nie gehou het nie, maar my insettinge verwerp het en my sabbatte ontheilig het en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was. So het Ék dan ook aan hulle insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie sou lewe nie. En Ek het hulle verontreinig deur hulle offergawes, omdat hulle deur die vuur laat deurgaan het alles wat die moederskoot open; sodat Ek hulle kon vernietig, dat hulle sou weet dat Ek die HERE is. Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel en sê vir hulle: So spreek die Here HERE: Verder het julle vaders My in hierdie saak smaadheid aangedoen, dat hulle troubreuk teen My begaan het: toe Ek hulle in die land gebring het waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle uitgekyk na al die hoë heuwels en al die digte bome, en hulle het daar hul offers geslag en daar hul aanstootlike offergawe gegee en daar hul lieflike offergeur gebring en daar hul drankoffers uitgegiet. Toe het Ek aan hulle gesê: Wat is dit vir 'n hoogte waarheen julle gaan? En hulle het dit Hoogte genoem tot vandag toe. Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die Here HERE: Wat? Julle is verontreinig in die weg van julle vaders, en julle hoereer agter hulle verfoeisels aan; ja, deur die aanbieding van julle offergawes, deur julle seuns deur die vuur te laat gaan, is julle verontreinig met al jul drekgode tot vandag toe — en sou Ek My deur julle laat raadpleeg, o huis van Israel? So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek laat My deur julle nie raadpleeg nie! En wat in julle gees opgeklim het, sal sekerlik nie gebeur nie — dat julle sê: Ons wil soos die nasies, soos die geslagte van die lande wees, deur hout en klip te dien. So waar as Ek leef, spreek die Here HERE, Ek sal gewis met 'n sterke hand en met 'n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid oor julle regeer. En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, deur 'n sterke hand en deur 'n uitgestrekte arm en deur uitgestorte grimmigheid. En Ek sal julle bring in die woestyn van die volke, en Ek sal daar met julle in die gerig tree van aangesig tot aangesig. Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland in die gerig getree het, so sal Ek met julle in die gerig tree, spreek die Here HERE. En Ek sal julle onder die herderstaf laat deurgaan en julle bring in die band van die verbond. En Ek sal uit julle afsonder die wat opstandig is en teen My oortree; Ek sal hulle uit die land van hul vreemdelingskap uitlei, maar hulle sal in die land van Israel nie kom nie; en julle sal weet dat Ek die HERE is. Maar julle, o huis van Israel, so sê die Here HERE: Gaan weg en dien elkeen sy drekgode; maar hierná — sekerlik sal julle na My luister en my heilige Naam nie meer ontheilig met julle offergawes en julle drekgode nie. Want op my heilige berg, op die verhewe berg van Israel, spreek die Here HERE, daar sal die hele huis van Israel, hulle almal, My dien in die land; daar sal Ek 'n behae in hulle hê en daar sal Ek julle offergawes eis en die eerstelinge van julle aanbiedinge by al julle heilige gawes.
ESEGIËL 20:1-40 Bybel vir almal (ABA)
Dit was in die sewende jaar, op die tiende dag van die vyfde maand. Party van die leiers van Israel het gekom om vir die Here te vra wat sal gebeur, en hulle het voor my kom sit. Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet praat met die leiers van Israel. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Het julle gekom om vir My te vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Mens, sal jy hulle oordeel, sal jy hulle oordeel? Dan moet jy vir hulle vertel van die dinge wat hulle voorvaders gedoen het, dinge wat Ek haat. Jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Die dag toe Ek vir Israel gekies het en toe Ek vir die nageslag van die huisgesin van Jakob belowe het wat Ek sal doen, daardie dag het Ek in die land Egipte gewys het wie Ek is, en Ek het vir hulle belowe en gesê: Ek is julle God die Here. Daardie dag het Ek vir hulle belowe dat Ek hulle uit Egipte sal bring na 'n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, 'n land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande. “En Ek het vir hulle gesê: ‘Julle almal hou van die vuil afgode, maar julle moet hulle weggooi. Julle moenie julleself onrein maak met die afgode van Egipte nie. Ek is julle God die Here.’ Maar hulle was opstandig teen My, hulle wou nie luister na My nie. Nie een van hulle het die vuil afgode waarvan hy hou, weggegooi nie, hulle het nie die afgode van Egipte gelos nie. Ek het gedink Ek sal hulle daar in Egipte straf en Ek sal aanhou totdat Ek nie meer kwaad is nie. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Die Israeliete het tussen ander volke gewoon, en daardie volke het gehoor dat Ek belowe het om die Israeliete uit Egipte te bring. Ek is die Here, Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie. Ek het die Israeliete toe uit Egipte laat kom en Ek het hulle na die woestyn gebring. Ek het vir hulle gesê wat Ek wil hê hulle moet doen. Ek het vir hulle geleer om te weet dat hulle sal aanhou lewe as hulle doen wat Ek besluit. Ek het ook vir hulle my Sabbatdae gegee, dit was 'n teken tussen My en hulle. Hulle moes weet dat Ek, die Here, hulle gekies het om my gewyde volk te wees. Maar die volk Israel was opstandig teen My in die woestyn. Hulle het nie gelewe soos Ek wil hê nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy, en Ek het gedink Ek sal hulle daar in die woestyn straf en hulle almal doodmaak. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie. Ek het ook daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle nie by die land sal bring wat Ek vir hulle wou gee nie, 'n land waar daar baie melk en heuning is, die mooiste van al die lande. Ek het dit gesê omdat hulle gedink het die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en omdat hulle nie gelewe het soos Ek wil hê nie en omdat hulle my Sabbatdae ontwy het. Hulle het die afgode gedien wat hulle graag wou hê. Maar Ek was jammer vir hulle en Ek het hulle nie doodgemaak nie. Ek het hulle nie almal daar in die woestyn laat sterf nie. Ek het daar in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Julle moenie lewe soos julle voorvaders altyd gelewe het nie, julle moenie doen wat hulle besluit het nie en julle moenie julleself onrein maak met hulle afgode nie. Ek is julle God die Here. Julle moet lewe soos Ek wil hê en julle moet die dinge doen wat Ek besluit. Julle moet my gewyde Sabbatdae hou. Die Sabbatdae moet 'n teken wees tussen My en julle, sodat julle sal weet dat Ek julle God die Here is.’ Maar die kinders was opstandig teen My. Hulle het nie gelewe soos Ek vir hulle gesê het nie, hulle het gedink die dinge wat Ek besluit, is nie belangrik nie en hulle het dit nie gedoen sodat hulle kon aanhou lewe nie. Hulle het aangehou om my Sabbatdae te ontwy. Ek het gedink Ek sal aanhou om hulle daar in die woestyn te straf totdat Ek nie meer kwaad is nie. “Maar Ek het dit nie gedoen nie. Ek is die Here. Die ander volke het gesien dat Ek die Israeliete uit Egipte gebring het, en Ek wou nie hê dat daardie volke moet dink Ek kan nie doen wat Ek belowe het nie. Ek het daar in die woestyn vir hulle gesê dat Ek hulle sal injaag tussen die volke in en dat Ek hulle in ander lande sal laat woon. Ek het dit gedoen omdat hulle nie gedoen het wat Ek besluit het nie. Hulle het gedink die dinge wat Ek wil hê, is nie belangrik nie, hulle het my Sabbatdae ontwy en hulle het gehou van die afgode van hulle voorvaders. Ek self het hulle toe dinge laat doen wat nie goed is nie, Ek het dinge besluit wat hulle nie sou laat aanhou lewe nie. Ek het hulle onrein laat word van die offers wat hulle moes bring. Hulle moes hulle oudste seuns verbrand. Ek wou hulle so bang laat word dat hulle sou weet dat Ek die Here is. Mens, daarom moet jy praat met die volk Israel, jy moet vir hulle sê: Die Here, Hy wat Here is, sê: Julle voorvaders het My beledig toe hulle heeltemal ontrou geword het aan My. Ek het hulle gebring na die land wat Ek vir hulle belowe het. Maar toe hulle al die hoë heuwels en die groen bome sien, het hulle daar ge-offer en presente neergesit om My te verneder. Hulle het wierook gebrand en drank-offers uitgegooi. Ek het toe vir hulle gevra: ‘Wat beteken die offer-plekke waarnatoe julle gaan?’ Hulle noem daardie plekke nou nog offer-plekke. “Daarom, jy moet vir die volk Israel sê: Die Here, Hy wat Here is, vra: Het julle soos julle voorvaders gelewe en julleself onrein gemaak? Dien julle hulle vuil afgode en is julle ontrou aan My? Julle sit presente neer vir die afgode, julle verbrand julle kinders, julle maak julleself onrein met julle afgode, tot vandag toe. Volk Israel, moet Ek julle antwoord as julle vir My vra wat sal gebeur? Ek sal julle nie antwoord nie, dit is seker, so seker soos Ek lewe.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Julle dink julle wil wees soos die ander volke, soos die mense in ander lande wat offers bring vir hout en klip, maar dit sal nie gebeur nie.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Ek sal julle Koning wees, dit is seker, so seker soos Ek lewe. Ek sal kwaai oor julle regeer en Ek sal julle laat swaarkry en julle straf. Ek was kwaai met julle en Ek het julle laat swaarkry. Ek het julle gestraf en Ek het julle na ander lande gejaag. Maar Ek sal julle bymekaarbring uit daardie lande, Ek sal julle uitbring tussen die volke. Ek sal julle na die woestyn bring tussen die land Babel en die land Israel, en daar sal Ek self vir julle oordeel. Ek het julle voorvaders ge-oordeel in die woestyn tussen Egipte en Israel, Ek sal julle ook so oordeel. Ek sal julle almal tel en Ek sal julle gehoorsaam maak aan die verbond. Ek sal almal wat opstandig is teen My en wat nie na My wil luister nie, apart sit. Ja, Ek sal hulle uithaal uit die lande waar hulle woon, maar hulle sal nie in die land Israel kom nie. Julle sal weet dat Ek die Here is.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “En julle, volk Israel, as julle nie gehoorsaam wil wees aan My nie, dan moet elkeen van julle sy afgode gaan dien. Maar julle moenie aanhou om my heilige Naam te ontwy nie. Julle doen dit wanneer julle presente bring en wanneer julle afgode dien.” Die Here, Hy wat Here is, sê: “Dit is seker, die hele volk Israel sal My dien op my gewyde berg, op die hoë berg van Israel. Almal in die land, die hele volk Israel, sal My daar dien. Daar sal Ek hulle aanvaar en daar sal Ek julle presente wil hê en julle beste offers saam met alles wat julle aan My wy.
ESEGIËL 20:1-40 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op die tiende van die vyfde maand, in die sewende jaar, het daar van die leiers van Israel gekom om die Here te raadpleeg. Hulle het voor my kom sit, en toe kom die woord van die Here tot my: “Mens, praat met die leiers van Israel. Sê vir hulle: So sê die Here my God: Het julle gekom om My te raadpleeg? So seker as Ek leef, Ek laat My nie deur julle raadpleeg nie, sê die Here my God. Oordeel jý oor hulle, mens, oordeel jý. Vertel vir hulle van die afskuwelike dinge wat hulle voorvaders gedoen het. Jy moet vir hulle sê: So sê die Here my God: Die dag toe Ek Israel, die nageslag van Jakob, gekies het en My met 'n eed aan hulle verbind het, het Ek My aan hulle bekend gemaak in Egipte. Ek het My met 'n eed aan hulle verbind en gesê: ‘Ek, die Here, is julle God.’ Ek het My daardie dag met 'n eed verbind om hulle uit Egipte uit te bring na 'n land toe wat Ek vir hulle verken het, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande. Ek het vir hulle gesê: ‘Gooi weg die afstootlike afgode, moet julle nie verontreinig met Egipte se afgode nie. Ek, die Here, is julle God.’ Maar hulle het hulle teen My verset, hulle wou nie na My luister nie. Hulle het nie hulle afstootlike afgode weggegooi nie en het nie afgesien van Egipte se afgode nie. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in Egipte, maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die oë van die nasies tussen wie my volk gewoon het nie, en toe het Ek My bekend gemaak aan hulle voor die oë van die nasies en my volk uit Egipte gebring. “Ek het hulle uit Egipte gebring en hulle die woestyn in laat trek. Ek het aan hulle my voorskrifte gegee en my bepalings aan hulle bekend gemaak, sodat elkeen wat daarvolgens optree, in die lewe sou bly. Ek het ook my sabbatte aan hulle gegee om vir hulle 'n teken te wees van die verhouding tussen hulle en My, en sodat hulle sou weet dat Ek, die Here, hulle geheilig het. Maar Israel het hulle teen My verset in die woestyn. Hulle het nie volgens my voorskrifte gelewe nie en het my bepalings verwerp waarvolgens elkeen moes optree om in die lewe te bly. Hulle het my sabbatte gruwelik ontheilig. Ek het gedink Ek sal my toorn daar in die woestyn teen hulle laat losbreek om hulle uit te roei, maar Ek het gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die nasies voor wie se oë Ek my volk uit Egipte gebring het nie. Ek het ook daar in die woestyn 'n eed afgelê dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek aan hulle gegee het nie, die land wat oorloop van melk en heuning, die sieraad onder al die lande. Hulle het immers my bepalings verwerp, nie volgens my voorskrifte gelewe nie, my sabbatte ontheilig en die afgode van hulle keuse gedien. Maar Ek het hulle jammer gekry en hulle nie uitgeroei nie, Ek het nie 'n end aan hulle gemaak in die woestyn nie. “Ek het in die woestyn vir hulle kinders gesê: ‘Moenie volgens die gebruike van julle voorvaders leef nie, moenie aan hulle maniere vashou nie, moet julle nie verontreinig met hulle afgode nie. Ek, die Here, is julle God. Leef volgens my voorskrifte, kom my bepalings na en leef daarvolgens, hou my sabbatte heilig sodat hulle die teken kan wees van die verhouding tussen My en julle, sodat julle kan weet dat Ek, die Here, julle God is.’ Maar ook die kinders het hulle teen My verset. Hulle het nie volgens my voorskrifte gelewe nie en nie my bepalings nagekom waarvolgens elkeen moes optree om in die lewe te bly nie. Hulle het my sabbatte ontheilig. Ek het gedink Ek sal my toorn oor hulle laat losbreek en my woede op hulle koel daar in die woestyn. Maar Ek het My bedwing en gedoen wat die eer van my Naam vereis het. Ek wou nie dat my Naam oneer aangedoen word voor die nasies voor wie se oë Ek my volk uit Egipte gebring het nie. Ek het ook daar in die woestyn 'n eed afgelê dat Ek hulle onder die nasies sou verstrooi, hulle oor ander lande sou versprei. Hulle het immers nie my bepalings nagekom nie, hulle het my voorskrifte verwerp, my sabbatte ontheilig en by hulle voorvaders se afgode hulp gesoek. Ek het vir hulle voorskrifte gegee wat nie goed was nie en bepalings waardeur hulle nie in die lewe kon bly nie. Ek het hulle onrein laat word deur hulle offergawes waarin hulle al hulle eersgeborenes verbrand het, Ek wou hulle skrikbevange maak sodat hulle sou besef dat Ek die Here is. “Praat met Israel, mens, sê vir hulle: So sê die Here my God: Julle voorvaders het My ook nog in my eer aangetas deur heeltemal ontrou aan My te word. Ek het hulle na die land toe gebring wat Ek met 'n eed beloof het om aan hulle te gee, en hulle het op elke hoë heuwel en onder elke groen boom wat hulle gesien het, hulle diereoffers gebring, hulle geskenke neergesit wat My gekrenk het, hulle wierookoffers verbrand en hulle drankoffers uitgegiet. Ek het vir hulle gesê: Wat se hoogte is dit waarnatoe julle gaan?” Dié soort plek word vandag nog 'n hoogte genoem. “Sê vir Israel: So sê die Here my God: Julle het julle verontreinig op dieselfde wyse as julle voorvaders en julle het in julle ontrou aan My hulle afstootlike afgode gedien. As julle vir die afgode geskenke aandra en julle kinders as offers verbrand, as julle julle nog steeds verontreinig met julle afgode, moet Ek My deur julle laat raadpleeg, Israel? So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie. Wat in julle gedagtes opgekom het, sal nie gebeur nie. Julle dink: ons wil soos die ander nasies wees, soos die mense in ander lande, ons wil hout en klip dien. “So seker as Ek leef,” sê die Here my God, “Ek sal oor julle regeer met mag en krag en Ek sal my toorn oor julle laat losbreek. Ek sal julle met mag en krag tussen die volke uitbring en julle bymekaarmaak uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het en my toorn oor julle laat losbreek. Ek sal julle bring na die woestyn tussen Babel en Israel en daar my saak teen julle van aangesig tot aangesig stel. Soos Ek my saak teen julle voorvaders in die woestyn van Egipte gestel het, so sal Ek dit met julle doen,” sê die Here my God. “Ek sal vasstel dat julle almal daar is en julle oordeel op grond van die eise van die verbond. Ek sal dié van julle wat hulle teen My verset en opstandig is, uitsoek en hulle laat trek uit die land waar hulle woon, maar in die land Israel sal hulle nie kom nie. Hulle sal besef dat Ek die Here is. “En wat julle betref, Israel,” sê die Here my God, “loop na julle gode toe, dien hulle, nou en later, as julle nie na My wil luister nie en my heilige Naam nog wil oneer aandoen met julle geskenke aan afgode en met julle afgode self. “Op my heilige berg, op die hoë berg van Israel,” sê die Here my God, “daar, in dié land, sal die hele Israel My dien. Daar sal Ek weer goedgesind wees teenoor hulle en daar sal Ek bereid wees om hulle offergawes, hulle eerstelingoffers en al hulle geskenke aan die heiligdom te ontvang.
ESEGIËL 20:1-40 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit was op die tiende dag van die vyfde maand in die sewende jaar. Manne uit die oudstes van Israel het gekom om die HERE te raadpleeg. Hulle het voor my gaan sit. Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, praat met die oudstes van Israel; sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE: “Is dit om My te raadpleeg dat julle gekom het? So seker as wat Ek leef, Ek laat My nie deur julle raadpleeg nie.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ Sal jy oor hulle regspreek, mensekind, sal jy regspreek? Die afstootlike optrede van hulle voorouers, maak dit aan hulle bekend. Jy moet vir hulle sê, ‘So sê my Heer, die HERE: “Die dag toe Ek Israel gekies het, het Ek my hand opgehef vir die nageslag van die huis van Jakob, en My aan hulle bekend gestel in Egipteland. Ek het my hand opgehef en gesê, ‘Ek, die HERE, is julle God!’ Op daardie dag het Ek my hand vir hulle opgehef dat Ek hulle uit Egipteland sal uitlei na 'n land wat Ek vir hulle uitgesoek het, 'n land wat oorloop van melk en heuning; dit is 'n sieraad onder al die lande. Ek het vir hulle gesê, ‘Elkeen van julle moet die verfoeilike afgode waarvan hy nie wil afsien nie, wegwerp. Met die afgodsbeelde van Egipte mag julle julle nie verontreinig nie. Ek, die HERE, is julle God.’ “ ‘ “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie na My luister nie. Nie een van hulle het die verfoeilike afgode waarvan hulle nie wou afsien nie, weggewerp nie. Die afgodsbeelde van Egipte het hulle nie laat vaar nie. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om daar in Egipteland my toorn op hulle te laat uitwoed. Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies tussen wie hulle was nie – die nasies voor wie se oë Ek My aan Israel bekend gemaak het met die belofte om hulle uit Egipteland uit te lei. “ ‘ “Ek het hulle toe uit Egipteland uitgelei, hulle na die woestyn geneem, en vir hulle my vaste voorskrifte gegee. My bepalings het Ek aan hulle bekend gemaak, dit wat 'n mens moet doen, sodat hy daardeur kan leef. Ook my Sabbatte het Ek vir hulle gegee, sodat dit 'n teken sou wees tussen My en hulle, sodat hulle kon besef dat Ek, die HERE, hulle heilig. “ ‘ “Maar die huis van Israel was opstandig teen My in die woestyn. My vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie, en my bepalings het hulle verwerp, dit wat 'n mens moet uitvoer sodat hy daardeur kan leef. My Sabbatte het hulle gruwelik ontheilig. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om hulle in die woestyn te vernietig. Maar Ek het toe ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies, ten aanskoue van wie Ek hulle uitgelei het nie. Op my beurt het Ek in die woestyn my hand vir hulle opgehef, dat Ek hulle nie sou inbring in die land wat Ek aan hulle sou gee nie, 'n land wat oorloop van melk en heuning, 'n sieraad onder al die lande. Dit is omdat hulle my bepalings verwerp het, my vaste voorskrifte nie gevolg het nie, en my Sabbatte ontheilig het; ja, hulle afgodsbeelde, dit is wat hulle harte bly volg het. Maar Ek het met soveel medelye na hulle gekyk dat ek hulle nie kon uitdelg nie; Ek het nie aan hulle 'n einde gemaak in die woestyn nie. Ek het egter vir hulle kinders in die woestyn gesê, ‘Die vaste voorskrifte van julle ouers moet julle nie volg nie; hulle bepalings moet julle nie nakom nie; met hulle afgodsbeelde moet julle julle nie verontreinig nie. Ek, die HERE, is julle God. My vaste voorskrifte moet julle volg en my bepalings moet julle nakom; julle moet dit uitvoer. My Sabbatte moet julle heilig hou, sodat dit 'n teken kan wees tussen My en julle, sodat julle kan erken dat Ek, die HERE, julle God is.’ “ ‘ “Maar die kinders was opstandig teen My. My vaste voorskrifte het hulle nie gevolg nie; my bepalings het hulle nie nougeset nagekom nie – bepalings wat die mens moet uitvoer, sodat hy daardeur kan leef – en my Sabbatte het hulle ontheilig. Ek het dit oorweeg om my woede oor hulle uit te stort, om my toorn op hulle te laat uitwoed in die woestyn. Maar Ek het my hand teruggehou; Ek het ter wille van my Naam opgetree, sodat dit nie ontheilig sou word in die oë van die nasies ten aanskoue van wie Ek hulle uitgelei het nie. Op my beurt het Ek daar in die woestyn my hand vir hulle opgehef, dat Ek hulle sou versprei onder die nasies, hulle sou verstrooi in ander lande, omdat hulle my bepalings nie uitgevoer het nie, my vaste voorskrifte verwerp het en my Sabbatte ontheilig het. Hulle oë was net gevestig op die afgodsbeelde van hulle voorouers. Op my beurt het Ek vir hulle voorskrifte toegelaat wat nie goed was nie, en bepalings waardeur hulle nie sou bly leef nie. Ek het hulle •onrein laat word deur hulle geskenke, wanneer hulle elke eersteling van die moederskoot offer. Ek het dit toegelaat, sodat Ek hulle verbysterd kon laat, sodat hulle sou besef dat Ek die HERE is.” ’ “Daarom, praat met die huis van Israel, mensekind, en sê vir hulle, ‘So sê my Heer, die HERE: “Ook nog hierin het julle voorouers My bespot deur hulle troubreuk wat hulle teenoor My gepleeg het: Ek het hulle na die land gebring waaroor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee. Maar hulle het elke hoë heuwel en elke blaarryke boom raakgesien, en daar hulle •offers geslag, daar tot my ergernis hulle offergawes aangebied, daar hulle geurige offers neergesit en daar hulle •drankoffers uitgegiet. Ek het toe vir hulle gevra, ‘Watter hoogte is dit dié waarheen julle gaan?’ ” ’ ” En hulle het dit •Offerhoogte genoem. Dit is vandag nog so. “Daarom, sê vir die huis van Israel, ‘So sê my Heer, die HERE: “Wil julle julleself op dieselfde wyse as julle voorouers verontreinig en agter hulle verfoeilike afgode aan hoereer deur julle offergawes aan te bied, julle seuns te offer, julleself tot vandag toe te verontreinig met al julle verfoeilike afgode? Moet Ek My dan deur julle laat raadpleeg, huis van Israel? So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “Ek sal My nie deur julle laat raadpleeg nie. Wat in julle gedagte opgekom het, sal beslis nie gebeur nie, naamlik dat julle dink: Ons wil soos die nasies wees, soos die volksgroepe van ander lande, deur hout en klip te dien. So seker as wat Ek leef,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “Ek sal met 'n sterk hand, met 'n uitgestrekte arm en met woede wat uitgestort word, oor julle regeer. Ek sal julle uitlei tussen die volke, julle byeenbring uit die lande waarheen julle versprei is, met 'n sterk hand, met 'n uitgestrekte arm, met woede wat uitgestort word. Ek sal julle na die woestyn van die volke neem, en daar sal Ek julle van aangesig tot aangesig voor die gereg daag. Soos Ek julle voorouers in die woestyn van Egipteland voor die gereg gedaag het, so sal Ek julle voor die gereg daag,” is die uitspraak van my Heer, die HERE. “ Ek sal julle onder my herderstaf laat deurgaan en julle in die band van die verbond laat ingaan. Ek sal van julle afskei dié wat in opstand is en teen My oortree. Uit die land waar hulle as •vreemdelinge vertoef, sal Ek hulle uitlei, maar op die grond van Israel sal hulle nie kom nie. Dan sal julle besef dat Ek die HERE is. “ ‘ “En julle, huis van Israel,” so sê my Heer, die HERE, “gaan dien elkeen van julle sy afgodsbeelde! Maar daarna, as julle nie na My luister nie ...! My heilige Naam sal julle nie weer ontheilig met julle offergawes en julle afgodsbeelde nie! Want op my heilige berg, die hoë berg van Israel, ” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “daar sal die hele huis van Israel My dien, almal in die land. Daar sal Ek hulle aanvaar, en daar sal Ek julle •wydingsgeskenke, die keur van julle gawes, saam met al julle •heilige gawes, eis.
ESEGIËL 20:1-40 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in die sewende jaar, in die vyfde maand, op die tiende van die maand, het sommige van die oudstes van Israel gekom om die HERE te raadpleeg en voor my gaan sit. Toe het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, spreek met die oudstes van Israel en sê vir hulle: So spreek die HERE; Kom julle om my te raadpleeg? So waar as Ek leef, spreek die HERE, Ek sal my nie deur julle laat raadpleeg nie. Wil U hulle oordeel, mensekind, wil U hulle oordeel? laat hulle die gruwels van hulle vaders ken; En sê vir hulle: So spreek die HERE HERE; Op die dag toe Ek Israel uitverkies en my hand opgehef het na die nageslag van die huis van Jakob en My aan hulle bekend gemaak het in Egipteland, toe Ek my hand na hulle opgehef het en gesê het: Ek is die HERE julle God; Op die dag toe Ek my hand na hulle opgehef het om hulle uit Egipteland uit te lei na 'n land wat Ek vir hulle verkyk het, wat oorloop van melk en heuning, wat die heerlikheid van al die lande is. Toe sê Ek vir hulle: Werp weg, elkeen die gruwels van sy oë, en verontreinig julle nie met die drekgode van Egipte nie: Ek is die HERE julle God. Maar hulle het teen My in opstand gekom en na My nie geluister nie; hulle het nie elkeen die gruwels van hulle oë weggewerp en die drekgode van Egipte nie verlaat nie; my toorn teen hulle in die midde van Egipteland. Maar Ek het gedoen ter wille van my Naam, dat dit nie verontreinig sou word voor die nasies onder wie hulle was nie, voor wie se oë Ek My aan hulle bekend gemaak het deur hulle uit Egipteland uit te lei. Daarom het Ek hulle uit Egipteland laat uittrek en hulle in die woestyn gebring. En Ek het my insettinge aan hulle gegee en hulle my verordeninge bekend gemaak, wat as iemand doen, hy daardeur sal lewe. Verder het Ek ook my sabbatte aan hulle gegee om 'n teken te wees tussen My en hulle, sodat hulle kan weet dat Ek die HERE is wat hulle heilig. Maar die huis van Israel was opstandig teen My in die woestyn; hulle het nie in my insettinge gewandel nie, en hulle het my verordeninge verag, wat as iemand doen, hy daarin sal lewe; en my sabbatte het hulle baie ontheilig; Maar Ek het gedoen om my Naam ontwil, dat dit nie verontreinig sou word voor die heidene voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie. Maar Ek het ook my hand na hulle opgehef in die woestyn, dat Ek hulle nie sou bring in die land wat Ek aan hulle gegee het nie, wat oorloop van melk en heuning, wat die heerlikheid van al die lande is; Omdat hulle my verordeninge verag en in my insettinge nie gewandel het nie, maar my sabbatte ontheilig het, want hulle hart het agter hulle drekgode aan geloop. Maar my oog het hulle gespaar om hulle te vernietig, en Ek het hulle in die woestyn geen einde gemaak nie. Maar Ek het aan hulle kinders in die woestyn gesê: Wandel nie in die insettinge van julle vaders nie, en onderhou hulle verordeninge nie en verontreinig julle nie met hulle drekgode nie. Ek is die HERE jou God; wandel in my insettinge en onderhou my verordeninge en doen dit; En heilig my sabbatte; en hulle sal 'n teken wees tussen My en julle, sodat julle kan weet dat Ek die HERE julle God is. Maar die kinders het teen My in opstand gekom: hulle het in my insettinge nie gewandel en my verordeninge nie onderhou om dit te doen nie, wat as iemand dit doen, hy daarin sal lewe; hulle het my sabbatte ontheilig; toe het Ek gesê: Ek sal my grimmigheid oor hulle uitgiet om my toorn teen hulle in die woestyn te laat uitgaan. Maar Ek het my hand teruggetrek en ter wille van my Naam gewerk, dat dit nie verontreinig sou word voor die oë van die nasies voor wie se oë Ek hulle uitgelei het nie. Ek het ook my hand na hulle opgehef in die woestyn, om hulle onder die nasies te verstrooi en hulle deur die lande te verstrooi; Omdat hulle my verordeninge nie voltrek het nie, maar my insettinge verag het en my sabbatte ontheilig het, en hulle oë agter die drekgode van hulle vaders aan was. Daarom het Ek hulle ook insettinge gegee wat nie goed was nie, en verordeninge waardeur hulle nie moes lewe nie; En Ek het hulle verontreinig deur hulle gawes, deurdat hulle alles wat die moederskoot oopmaak, deur die vuur laat deurgaan het, sodat Ek hulle 'n wildernis kon maak, sodat hulle kon weet dat Ek die HERE is. Daarom, mensekind, spreek met die huis van Israel en sê vir hulle: So spreek die HERE HERE; Maar hierin het julle vaders my gelaster deurdat hulle 'n oortreding teen my begaan het. Want toe Ek hulle in die land ingebring het, waarvoor Ek my hand opgehef het om dit aan hulle te gee, het hulle elke hoë heuwel en al die digte bome gesien, en hulle het daar hulle offers gebring, en daar het hulle die terging gebring van hulle offer; daar het hulle ook hulle lieflike geur gemaak en hulle drankoffers daar uitgegiet. Toe sê ek vir hulle: Wat is die hoogte waarheen julle gaan? En die naam daarvan word Bama genoem tot vandag toe. Daarom, sê aan die huis van Israel: So spreek die HERE HERE; Is julle verontreinig volgens die gebruik van julle vaders? en hoereer na hulle gruwels? Want as julle jul gawes bring, as julle jul seuns deur die vuur laat gaan, verontreinig julle julself met al julle drekgode tot vandag toe; So waar as Ek leef, spreek die HERE HERE, Ek sal my nie deur julle laat raadpleeg nie. En wat in julle gedagtes opkom, sal glad nie wees nie, dat julle sê: Ons sal wees soos die heidene, soos die geslagte van die lande, om hout en klip te dien. So waar as Ek leef, spreek die HERE HERE, sekerlik met 'n sterke hand en met 'n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid, sal Ek oor julle heers. En Ek sal julle uit die volke uitlei en julle versamel uit die lande waarin julle verstrooi is, met 'n sterke hand en met 'n uitgestrekte arm en met uitgestorte grimmigheid. En Ek sal jou in die woestyn van die volk bring, en Ek sal daar met jou in die stryd tree van aangesig tot aangesig. Soos Ek met julle vaders in die woestyn van Egipteland getwis het, so sal Ek met julle die stryd voer, spreek die HERE HERE. En Ek sal jou onder die staf laat deurgaan, en Ek sal jou in die band van die verbond bring. En Ek sal die wederstrewiges en die wat teen My oortree uit julle midde uitroei; Ek sal hulle uitlei uit die land waar hulle as vreemdeling vertoef, en hulle sal nie in die land van Israel ingaan nie; en julle sal weet dat Ek die HERE. Wat julle betref, o huis van Israel, so sê die HERE HERE: Gaan heen, dien elkeen sy drekgode, en ook hierna, as julle nie na My luister nie; maar verontreinig my heilige Naam nie meer met julle gawes en met julle afgode nie. Want op my heilige berg, op die hoogteberg van Israel, spreek die HERE HERE, daar sal die hele huis van Israel, almal in die land, My dien; daar sal Ek hulle behaag, en daar sal Ek julle eis offergawes en die eerstelinge van jou gawes, met al jou heilige gawes.
ESEGIËL 20:1-40 Die Boodskap (DB)
Dit was die veertiende Augustus 591 v.C. in die sewende jaar dat koning Jojagin ’n gevangene in ’n vreemde land was. Op daardie dag het party van my volk se leiers my kom vra of ek nie vir hulle ’n boodskap van die Here af het nie. Hulle het voor my gesit en gewag dat ek hulle moet antwoord. Toe het die Here met my gepraat en vir my gesê: “Mens, jy moet vir die leiers van Israel die volgende boodskap gee. Sê vir hulle: Julle waag dit om My te vra om julle te help! So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle niks sê en julle glad nie help nie. Dit is die woord van die Here, die God van Esegiël, vir julle. “Mens, kyk jy na hierdie klomp mense. Kyk na al die afskuwelike dinge wat hulle aanhou doen het. Vertel vir hulle dat hulle oupas en oumas, en hulle oupagrootjies en oumagrootjies ook aangehou het om slegte dinge te doen. Gaan sê vir hulle die Here, die God van Esegiël, sê oor hulle: Ek het Israel gekies om my volk te wees. En Ek het Myself aan julle bekendgemaak toe julle nog gevangenes in Egipte was. Daar in Egipte het Ek belowe dat Ek julle God sal wees. Toe het Ek belowe dat Ek Israel en haar mense uit Egipte sal weglei. Ek het gesê Ek sal hulle na ’n land lei wat Ek vir hulle gemaak het. Ek het gesê dit sal ’n goeie land wees, ’n land wat oorloop van goeie dinge. Die land wat Ek vir hulle belowe het, is die beste land op aarde. Toe het Ek vir hulle gesê: Wat Ek van julle vra, is dat julle julle afgode moet laat staan. Moenie julleself verder verneder om Egipte se afgodsbeelde te dien nie, want Ek is die Here, jou God. “Maar hierdie klomp mense het teen My in opstand gekom. Hulle wou nie luister wat Ek vir hulle sê nie. Hulle wou nie ontslae raak van hulle afgode nie. Toe het Ek hulle gewaarsku dat Ek kwaad gaan word oor wat hulle doen en hulle gaan straf. Dit het al gebeur nog voor Ek Israel uit Egipte gelei het. Maar Ek het hulle nie gestraf nie. Ek het Myself aan hulle verbind, en Ek wou my groot Naam beskerm. Ek was bang die ander nasies spot met Israel as Ek hulle nie uit Egipte uitlei nie omdat Ek belowe het dat Ek dit sou doen.” “Daarom het Ek my volk uit Egipte, die land waar hulle gevangenes was, uitgelei. Ek het hulle die woestyn in geneem. Daar het Ek vir hulle gesê wat hulle moet doen as hulle wou bly lewe. Ja, elke mens wat doen wat Ek sê, sal aanhou lewe. Ek het toe ook vir hulle die sewende dag as ’n dag gegee waarop ’n mens moet rus. Die sewende dag was die dag waarop Ek hulle daaraan herinner het dat Ek, die Here, hulle eenkant gesit het om aan My te behoort en soos Ek te wees. Hulle was my spesiale volk. “Maar dit was nie lank nie, toe kom die mense van Israel in opstand teen My. Dit het gebeur toe hulle nog in die woestyn was. Hulle wou nie doen wat Ek gesê het nie, alhoewel hulle geweet het dat dit die enigste manier is om te bly lewe. Hulle het ook nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek beveel het nie. Daarom het Ek gedreig om hulle te straf omdat Ek baie kwaad was. Ek het planne begin maak om hulle van die aardbol af te vee, maar ook daar het Ek my woede ingehou om my Naam te beskerm. Anders sou die ander nasies lag en sê: ‘Die Here het sy volk uit Egipte gelei, maar Hy was nie sterk genoeg om vir hulle in die woestyn te sorg nie.’ “Maar daar in die woestyn het Ek vir daardie klomp mense belowe dat Ek hulle nie na die land toe sal vat wat Ek belowe het om vir hulle te gee nie. Daardie land is die mooiste land wat daar op die aarde is. Dit loop oor van goeie dinge. Ek het vir hulle gesê dat hulle nie die goeie land sal sien nie omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het My geïgnoreer. En hulle het nie op die sewende dag van die week gerus soos Ek hulle beveel het nie. Hulle het maar weer voor afgode gaan neerbuig en hulle aanbid. Nogtans het Ek hulle weer jammer gekry en hulle nie daar in die woestyn vernietig nie. “Toe het Ek hulle kinders gewaarsku en gesê hulle moet oppas dat hulle nie dieselfde pad as hulle ouers loop nie. Ek het gesê hulle moet ook nie hulleself besoedel deur afgode te aanbid nie. Ek het vir hulle gesê: Ek is die Here, julle God. Doen wat Ek vir julle sê. Luister na wat Ek julle beveel. Rus op die sewende dag, want die sewende dag herinner jou daaraan dat Ek die Here jou God is. “Maar hierdie mense het toe ook teen My in opstand gekom. Hulle wou nie doen wat Ek beveel het nie, al het hulle geweet dat dit die enigste manier is om aan die lewe te bly. Hulle het geweier om op die sewende dag te rus. Toe het Ek hulle gedreig dat Ek hulle gaan straf omdat Ek kwaad was vir hulle. Hulle was nog in die woestyn toe dit gebeur het. Maar nogtans het Ek dit nie gedoen nie. Ek het hulle nie vernietig nie om my Naam te beskerm voor die ander nasies omdat Ek belowe het om Israel uit Egipte te lei. Maar Ek het wel ’n belofte gemaak terwyl my volk nog daar in die woestyn was. Ek het hulle belowe dat Ek hulle nog eendag onder die nasies gaan verstrooi omdat hulle hulle nie gesteur het aan wat Ek vir hulle sê nie. Hulle het net gedoen wat hulle wou. Hulle het nie op die sewende dag gerus nie. En hulle het voor die afgode van hulle voorouers neergebuig. “Daarom het Ek toegelaat dat hulle gewoontes aanleer wat geen waarde het nie en wat hulle uiteindelik hulle lewe sal kos. Ek het hulle gelos dat hulle hulle lewe verwoes met die goeie geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het maar net toegekyk hoe hulle hulle oudste kinders aan afgode wy deur hulle as offers te verbrand. Ek het dit toegelaat sodat die dag kon kom waarop Ek hulle sou vernietig. Dan sou Ek vir hulle duidelik wys dat Ek, en Ek alleen, die Here is.” “Daarom moet jy vir die mense van Israel hard en duidelik sê wat Ek, die Here, Esegiël se God, sê: Julle oupas en oumas het aangehou om My te beledig en in die rug te steek. Kort nadat Ek hulle die pragtige land gegee het wat Ek hulle belowe het, het hulle offers en wierook oor die hele land vir hulle afskuwelike afgode verbrand. Hoe kwaad het Ek nie geword nie! Hulle het voor elke afgod gebuig. Hulle het olies wat lekker ruik en wierook gebring en hulle afgode daarmee aanbid. Ek het vir hulle gevra: Waarheen gaan julle? Hoekom loop julle na elke hoë plek? (Israel bring vandag nog sy afgodsoffers op sulke hoë plekke.) “Daarom moet jy vir die volk gaan sê die Here, die God van Esegiël, sê: Julle het julle lewe verwoes deur nikswerd afgode te aanbid. Julle oupas en oumas het dit ook gedoen. Julle was soos ’n getroude vrou wat by ander mans gaan slaap. Julle het My verruil vir afskuwelike afgode. Julle het geskenke vir julle afgode gebring. Julle het julle kinders as offers vir hulle verbrand. En nou kom sit julle ewe vroom en vra dat Esegiël My moet vra om julle te help! Moet Ek na julle luister, Israel? Die Here, Esegiël se God, wil by julle weet: Moet Ek My deur julle laat raadpleeg? So seker as wat Ek leef, Ek sal nie met julle praat nie. Ek het niks om vir julle te sê nie. “Julle sê: ‘Ons wil soos die ander nasies maak. Ons wil ook gode hê wat van hout en klip en metaal gemaak is.’ Maar julle moet dit weet: dit sal vir seker nie gebeur nie. So seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël, “Ek sal julle met ’n ystervuis slaan. Ek sal julle in my woede bykom en platslaan. Met groot krag sal Ek julle tussen die ander nasies uitlei uit die land waar julle gevangenes is, ’n ver en vreemde land. En dan lei Ek julle weer die woestyn in, maar hierdie keer die woestyn vol nasies. En voor daardie nasies sal Ek my vonnis oor julle slegte dade uitspreek. Ek en julle sal mekaar in die oë kyk die dag as dit gebeur. Ek sal julle daar oordeel soos Ek julle oupagrootjies in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gelei het.” Dit is die Here, Esegiël se God, wat hier praat. “Ek sal julle tel om seker te maak die laaste een staan daar voor My. En dan sal Ek julle beoordeel volgens wat Ek in my ooreenkoms met julle vir julle gesê het julle moet doen. Dan sal Ek almal wat hulle nie aan My gesteur het nie, eenkant sit. Ek sal hulle uit die lande gaan haal waar hulle nou gevangenes is. Hierdie mense sal nooit die land Israel ingaan nie. Die dag as dit gebeur, sal hulle weet dat Ek die Here is. “Wat julle betref, volk van Israel,” so sê die Here, die God van Esegiël, “gaan loop agter julle nikswerd afgode aan! Aanbid maar julle afgode! Maar moet dan nie omdraai en die volgende dag geskenke vir My wil bring omdat julle My nodig het nie. Ek sal nie toelaat dat julle My misbruik nie!” “Op die hoë berg waar my woning was,” sê die Here, Esegiël se God, “sal julle My weer kom dien. Daardie dag sal Ek julle toelaat om voor My te kom staan. Julle sal offers vir My bring en Ek sal dit aanvaar.
ESEGIËL 20:1-40 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op 14 Augustus, in die sewende jaar van koning Jojagin se ballingskap, het sommige leiers van Israel by die HERE kom raad vra. Hulle het voor my gesit en op sy antwoord gewag. Toe het die HERE hierdie boodskap vir my gegee: “Mensekind, sê vir die leiers van Israel die oppermagtige HERE sê: Hoe durf julle My kom vra vir raad? So seker as wat Ek leef, Ek sal vir julle geen raad gee nie. Dit sê die oppermagtige HERE. “Mensekind, oordeel jý oor hulle; jý moet hulle veroordeel! Vertel vir hulle hoe afskuwelik die optrede van hulle voorouers regtig was. Sê vir hulle die oppermagtige HERE sê: Toe Ek Israel uitverkies het en Myself aan haar in Egipte openbaar het, het Ek, die HERE, vir Israel gesweer: ‘Ek, die HERE, is jou God.’ Ek het belowe dat Ek haar en haar nageslag uit Egipte sou bring na ’n land wat Ek vir hulle uitgesoek het. Dit is ’n land van oorvloed waar melk en heuning volop is, die beste van alle lande. Toe het Ek vir hulle gesê: ‘Elkeen van julle moet julle afgode nou weggooi. Moenie julle besoedel met Egiptiese afgode nie, want Ek, die HERE, is julle God.’ “Maar hulle was opstandig teen My en wou nie luister nie. Hulle het nie hulle afgode weggegooi en nie die Egiptiese gode gelos nie. Toe het Ek gedreig dat Ek my wraak oor hulle sou uitgiet om my woede op hulle af te koel terwyl hulle nog in Egipte is. Maar, om my eer te beskerm het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies in die omgewing Israel se God spot en vir Israel lag. Hy het immers belowe om sy volk te red. “Daarom het Ek my volk uit Egipte gebring en in die woestyn ingelei. Daar het Ek vir hulle my voorskrifte gegee en my bepalings bekendgemaak sodat elkeen wat daaraan gehoorsaam is, kon bly lewe. En Ek het vir hulle my Sabbatte gegee as dae van rus, as ’n teken van die verhouding tussen My en hulle. So wou Ek hulle daaraan herinner dat Ek, die HERE, hulle afgesonder het om heilig en spesiaal te wees. “Maar die mense van Israel was in die woestyn opstandig teen My. Hulle het daar al geweier om my voorskrifte te gehoorsaam. Hulle het hulle nie aan my wil gesteur nie, al sou gehoorsaamheid aan hulle die lewe gegee het. Daarom het hulle my Sabbatdae geminag. Ek het gedreig om my wraak oor hulle uit te giet. Ek was van plan om hulle in die woestyn heeltemal te vernietig. Maar ter wille van my Naam het Ek dit nie gedoen nie. Anders sou die nasies wat gesien het hoe Ek my volk uit Egipte uitgelei het, kon sê dat Ek hulle vernietig het omdat Ek kwansuis nie vir hulle kon sorg nie. Maar Ek het in die woestyn vir hulle gesweer dat Ek hulle nie in die land sou bring wat Ek vir hulle bestem het nie – die land van melk en heuning, die mooiste plek op aarde. Want hulle het my bepalings verwerp, my wil vir hulle geïgnoreer en my Sabbatte geminag. Hulle harte het aan afgode behoort. Tog het Ek hulle jammer gekry en hulle nie in die woestyn vernietig nie. “Daar in die woestyn het Ek ook hulle kinders gewaarsku om nie in hulle ouers se voetspore te volg en hulle nie met die afgode te besoedel nie. ‘Ek, die HERE, is julle God,’ het Ek vir hulle gesê. ‘Wees gehoorsaam aan my voorskrifte, doen my wil en beskou my Sabbatdae as heilig, want dit is ’n teken van die verhouding tussen My en julle. Dan sal julle weet dat Ek, die HERE, julle God is.’ “Maar ook hulle kinders was teen My opstandig. Hulle het geweier om gehoorsaam te wees aan my voorskrifte. Hulle het nie my bepalings nagekom en my wil gedoen nie, al sou gehoorsaamheid daaraan beteken dat hulle lewe. Hulle het my Sabbatdae geminag. Daarom het Ek gedreig om daar in die woestyn my wraak oor hulle uit te giet en my woede oor hulle af te koel. “Tog het Ek dit nie gedoen nie om my eer te beskerm tussen die nasies wat die mag gesien het waarmee Ek hulle uit Egipte gebring het. Maar Ek het daar in die woestyn gesweer dat Ek hulle onder die nasies en oor al die lande sou verstrooi, want hulle was nie gehoorsaam aan my bepalings nie. Hulle het my voorskrifte verag. Hulle het my Sabbatdae geminag en na hulle voorouers se afgode verlang. “Toe het Ek hulle oorgegee aan waardelose voorskrifte en bepalings wat nie vir hulle lewe kon bring nie. Ek het toegelaat dat hulle hulle besoedel met die geskenke wat Ek vir hulle gegee het. Ek het toegelaat dat hulle hulle eersgebore kinders aan hulle gode offer. So wou Ek hulle verwoes, om vir hulle te wys wie Ek, die HERE, is.” “Mensekind, daarom moet jy vir die mense van Israel sê: Die oppermagtige HERE sê: Julle voorouers het aangehou om My te laster deur ontrou aan My te wees. Want toe Ek hulle in die land bring wat Ek aan hulle belowe het, het hulle offers gebring en wierook gebrand op elke heuwel en onder elke groen boom wat hulle gesien het. Hulle het My kwaad gemaak met hulle offers vir hulle afgode. Hulle het wierook gebrand en drankoffers voor hulle uitgegiet. Toe het Ek vir hulle gevra: ‘Wat is hierdie hoogte waarheen julle gaan?’ “Dié plekke word vandag nog Bama – ‘hoogte’ – genoem. “Daarom, gaan sê vir die mense van Israel die oppermagtige HERE sê: Gaan julle julle besoedel net soos julle voorouers gedoen het? Gaan julle ontrou wees aan My deur voor die afstootlike afgode te buig? Want elke keer as julle geskenke vir hulle bring en julle kinders as offers vir hulle verbrand, besoedel julle julleself, tot vandag toe. En moet Ek dan nou luister en julle help, mense van Israel? So seker as wat Ek leef, sê die oppermagtige HERE, Ek sal nie met julle praat nie, selfs al kom vra julle vir ’n boodskap. “Julle sê: ‘Ons wil soos die nasies rondom ons wees wat afgode van hout en klip aanbid.’ Maar wat julle wil, sal nooit gebeur nie. “So seker as Ek lewe, sê die oppermagtige HERE, Ek sal met ’n ystervuis en met mag oor julle regeer en Ek sal my woede oor julle uitgiet. Ek bring julle met ’n ystervuis en met mag tussen die nasies uit en Ek maak julle bymekaar uit die lande waarheen Ek julle verstrooi het. “En Ek bring julle na die woestyn van die nasies en daar oordeel Ek oor julle van aangesig tot aangesig. Daar sal Ek julle oordeel soos Ek julle voorouers in die woestyn geoordeel het nadat Ek hulle uit Egipte gebring het, sê die oppermagtige HERE. Ek sal julle sorgvuldig tel en julle verantwoordelik hou vir die eise wat my ooreenkoms aan julle stel. Ek sal julle skoonmaak van almal wat opstandig teen My is en sondig. Ek sal hulle uit die lande bring waar hulle in ballingskap woon. Maar hulle sal nooit weer in die land Israel ingaan nie. Wanneer dit gebeur, sal julle weet dat Ek die HERE is. “Wat julle aangaan, volk van Israel, so sê die oppermagtige HERE: As julle dan wil, loop agter julle afgode aan en aanbid hulle. Maar dan moet julle nie omdraai en nog verder oneer aan My bring met julle geskenke en afgode nie. Want op my heilige berg, die hoë berg van Israel, sê die oppermagtige HERE, sal die mense van Israel My eendag aanbid. En Ek sal hulle aanvaar. Daar sal Ek bereid wees om julle bydraes en die keur van julle geskenke en julle offers te aanvaar.