EKSODUS 35:30-35
EKSODUS 35:30-35 Bybel vir almal (ABA)
Moses het vir die Israeliete gesê: “Die Here het vir Besaleël gekies om die werk te doen. Besaleël is die seun van Uri, en Uri is die seun van Gur. Besaleël is van die Juda-stam. God het vir Besaleël wysheid en 'n goeie verstand gegee. Hy kan al die werk goed doen. Hy kan planne teken en dinge maak van goud, silwer en brons. Hy kan juwele maak van edelstene en hy kan houtwerk doen. Hy kan al die werk doen. Die Here het vir hom en vir Oholiab gehelp om vir ander ambagsmanne te leer. Oholiab is die seun van Agisamak van die Dan-stam. Die Here het hulle vaardig gemaak om al die soorte werk te kan doen: Hulle kan planne teken, borduur op blou, pers en rooi wol-materiaal en linne-materiaal, en hulle kan weef. Hierdie twee manne kan al die werk doen en planne teken.”
EKSODUS 35:30-35 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarop het Moses aan die kinders van Israel gesê: Kyk, die HERE het Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, van die stam van Juda, by sy naam geroep; en Hy het hom met die Gees van God vervul, met wysheid, met verstand en met kennis en bekwaamheid vir allerhande werk; en om kunstige planne uit te dink, om dié uit te voer in goud en silwer en koper, en deur snywerk in stene wat ingelê moet word, en deur houtsnywerk — om werksaam te wees in allerhande kunsarbeid. Hy het dit ook in sy hart gegee om ander te onderrig, aan hom en aan Ohóliab, die seun van Ahísamag, van die stam van Dan. Hy het hulle vervul met kunsvaardigheid om allerhande werk te maak van 'n ambagsman en 'n kunstenaar en van 'n bewerker van veelkleurige goed in pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne, en van 'n wewer — hulle wat al die werk moes verrig en kunstige planne moes uitdink.
EKSODUS 35:30-35 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het vir die Israeliete gesê: “Kyk, die Here het vir Besaleël uitgekies vir die werk. Hy is 'n seun van Uri, seun van Gur uit die stam Juda. Die Here het hom toegerus met sy Gees sodat hy met vaardigheid, insig en verstand enige werk kan doen: ontwerpe maak en dit in goud, silwer en brons uitwerk, edelstene verwerk en monteer, en houtwerk doen. Hy sal enige werk kan doen. Die Here het vir hom en vir Oholiab, seun van Agisamak uit die stam Dan, die begaafdheid gegee om ander as vakmanne op te lei. Die Here het aan hulle die vaardigheid gegee om al die werk van 'n vakman te verrig: om te ontwerp, om blou, pers en bloedrooi wolstof en linne te borduur, en om te weef. Hierdie manne kan enige werk doen en ontwerpe maak.
EKSODUS 35:30-35 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het vir die Israeliete gesê: “Kyk, die HERE het Besaleël, seun van Uri, seun van Gur, van die stam van Juda, by die naam aangewys. Hy het hom met die Gees van God vervul – met wysheid, met insig en met kennis en al die nodige vakmanskap – om vindingryke planne te beraam vir die werk met goud, silwer en brons; en vir die bewerking van edelstene vir monterings, en die bewerking van hout – om dit vindingryk te doen met al die nodige vakmanskap. En die HERE het dit ook in sy hart gegee om te onderrig. Hy en Oholiab, seun van Agisamag, van die stam van Dan – die HERE het hulle vervul met die kundigheid om al die werk van 'n vakman te doen: dié van 'n ontwerper, 'n borduurder met pers, purperrooi en karmosynrooi wol en fyn linnedraad, en dié van 'n wewer – mense wat al die werk kan doen en vindingryke planne kan beraam.
EKSODUS 35:30-35 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe sê Moses aan die kinders van Israel: Kyk, die HERE het Besáleël, die seun van Uri, die seun van Hur, uit die stam van Juda, by die naam geroep; En hy het hom vervul met die gees van God, in wysheid, in verstand en in kennis en in allerhande kunswerk; en om snaakse werke uit te dink, om te werk in goud en in silwer en in koper, en in die kap van klippe, om dit te stel, en in houtsneewerk, om enige listige werk te maak. En hy het dit in sy hart gegee om te onderrig, hy sowel as Oholiab, die seun van Ahisamag, van die stam van Dan. Hulle het Hy vervul met wysheid van hart, om allerhande werk te doen, van die graveur en van die sluwe werker en van die borduurder, in pers en purperrooi, in bloedrooi stowwe en in fyn linne en van die wewer, ook van die wat enige werk doen en van die wat listige werk uitdink.
EKSODUS 35:30-35 Die Boodskap (DB)
Daarna het Moses vir die Israeliete gesê: “Die Here het Besaleël as leier gekies om die tent te maak. Hy is Uri se seun. Sy oupa is Gur. Hulle is uit Juda se familie. God se Gees gee aan hom die verstand en die insig, die kennis en die vaardigheid om dinge te ontwerp en dit van goud of silwer of koper te maak. Hy kan edelstene bewerk en houtsnywerk doen en enige kunswerk maak. “Aan hom en aan Oholiab die seun van Agisamak uit die stam van Dan het God die vermoë gegee om ander op te lei om dinge te maak. Hulle kan dinge ontwerp. Hulle weet ook hoe om graveerwerk en borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.
EKSODUS 35:30-35 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het vir die Israeliete gesê: “Die HERE het Besaleël, die seun van Uri uit die Judastam gekies. God se Gees gee vir hom die verstand, die kennis en die vaardigheid vir die werk wat gedoen moet word. Hy kan voorwerpe maak uit goud, silwer en koper. Hy kan edelstene bewerk en dit monteer en ook houtsnywerk doen. Hy is in staat om enige kunswerk te maak. God het vir hom en Oholiab, seun van Agisamak uit die Danstam, die vermoë gegee om ander op te lei. Die HERE stel hulle in staat om graveerwerk, borduurwerk en weefwerk te doen met blou, pers en bloedrooi wol en linne.”