EKSODUS 35:1-9
EKSODUS 35:1-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moses het die hele gemeente van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Dit is die gebod wat die Here julle beveel het om te gehoorsaam: “Ses dae moet julle julle werk doen, maar die sewende dag moet vir julle 'n gewyde dag wees. Dit is 'n rusdag tot eer van die Here. Elkeen wat op dié dag werk, moet doodgemaak word. Julle mag op die sabbat geen vuur in enige van julle wonings maak nie.” Moses het ook vir die hele gemeente Israel gesê: “Dit is die opdrag van die Here: Julle moet uit julle besittings 'n offergawe vir die Here gee. Elkeen wat vrywillig 'n offergawe vir die Here wil gee, moet dit bring: goud, silwer, brons, blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of doringhout, olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook, oniks en ander edelstene waarmee die skouerkleed en borssak van die hoëpriester versier kan word.”
EKSODUS 35:1-9 Die Boodskap (DB)
Moses het al die Israeliete bymekaar laat kom. Hy het vir hulle gesê: “Die Here verwag van julle dat julle vir ses dae sal aangaan met die dinge wat julle elke dag doen. Op die sewende dag moet julle daarmee ophou. Uit respek vir die Here moet julle heeltemal uitspan. As iemand op daardie dag aangaan met sy werk, sal hy doodgemaak word. Op die rusdag mag julle glad nie vuur maak waar julle woon nie.” Moses het verder vir almal wat daar bymekaar was, gesê: “Die Here verwag van julle dat julle vir Hom geskenke sal bring. Julle kan kies wat julle vir die Here gaan bring: dit kan van goud, silwer of brons gemaak wees; van blou, pers of bloedrooi wolstof, van linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle of gebreide velle of akasiahout. Dit kan olie vir die lampe van die ligstaander wees, of kruie vir die salfolie en die wierookoffers. Dit kan ook oniks of ander halfedelstene wees wat op die skouerstuk en die sak voor Aäron se bors vasgesit kan word.”
EKSODUS 35:1-9 Bybel vir almal (ABA)
Moses het al die Israeliete bymekaargeroep en hy het vir hulle gesê: “Dit is wat die Here gesê het julle moet doen: Julle moet ses dae lank werk, maar die sewende dag moet vir julle 'n gewyde rusdag wees, 'n Sabbatdag vir die Here. As iemand op hierdie dag werk, dan moet julle hom doodmaak. Julle moenie by julle huise vuur maak op die Sabbatdag nie.” Moses het vir al die Israeliete gesê: “Die Here het gesê julle moet van julle goed neem en vir Hom 'n present gee. Elkeen wat graag iets wil gee, moet 'n present vir die Here bring: goud of silwer of brons, of blou en pers en rooi wol-materiaal, of linne-materiaal of bokhaar-materiaal, of skaapvelle wat julle rooi gekleur het, of velle wat julle sag gemaak het, of doringhout, of olyf-olie vir die lampe, of balsem vir die salf-olie en vir die wierook. Ek hou daarvan. Of hulle moet oniks en ander edelstene bring om vas te sit op die priester se skouer-kleed en borssak.
EKSODUS 35:1-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en aan hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, om dit te doen: Ses dae lank kan daar werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle 'n heiligheid, 'n dag van volkome rus wees tot eer van die HERE. Elkeen wat daarop werk verrig, moet gedood word. Julle mag op die sabbat geen vuur aansteek in enigeen van julle woonplekke nie. Verder het Moses die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Dít is die saak wat die HERE beveel het: Neem van julle besittings 'n offergawe aan die HERE. Laat elkeen wat gewillig is in sy hart, dit bring, die offergawe van die HERE: goud en silwer en koper; en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar; en rooigeverfde ramsvelle en robbevelle en akasiahout; en olie vir die kandelaar en speserye vir die salfolie en vir die reukwerk van speserye; en oniksstene en stene om in te lê, vir die skouerkleed en die borstas.
EKSODUS 35:1-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moses het die hele volksvergadering van die Israeliete byeen laat kom en vir hulle gesê: “Dit is die sake wat die HERE julle beveel het om te doen. Ses dae lank kan werk gedoen word, maar die sewende dag moet vir julle heilig wees, 'n buitengewone Sabbat, tot eer van die HERE. Elkeen wat werk doen op dié dag, moet doodgemaak word. Julle mag nie op die Sabbatdag 'n vuur aansteek in enige van julle woonplekke nie.” Moses het vir die hele volksvergadering van die Israeliete gesê: “Dit is die opdrag wat die HERE gegee het, ‘Neem van wat julle het 'n •wydingsgeskenk vir die HERE. Elkeen wie se hart gewillig is, moet dit bring – 'n wydingsgeskenk vir die HERE: goud, silwer en brons; pers, purperrooi en karmosynrooi wol, fyn linnedraad en bokhaar; rooi gekleurde ramsvelle, sagte leer en doringhout; olie vir die kandelaar, speserye vir die salfolie en vir die geurige reukwerk; •oniksstene en edelstene as monterings vir die efod en die borstas.
EKSODUS 35:1-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Moses het die hele vergadering van die kinders van Israel bymekaar laat kom en vir hulle gesê: Dit is die woorde wat die HERE beveel het, dat julle dit moet doen. Ses dae lank moet werk verrig word, maar op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige dag wees, 'n russabbat van die HERE; elkeen wat daarin werk doen, moet gedood word. Julle mag geen vuur aansteek in julle wonings op die sabbatdag nie. En Moses het met die hele vergadering van die kinders van Israel gespreek en gesê: Dit is die woord wat die HERE beveel het deur te sê: Neem uit julle midde 'n offer aan die HERE; goud en silwer en koper, en pers en purperrooi en bloedrooi stowwe en fyn linne en bokhaar, en rooi geverfde ramsvelle en dasvelle en akasiahout, en olie vir die kandelaar en speserye vir salfolie en vir die reukwerk van speserye, en oniksstene en klippe om vir die skouerkleed en vir die borstas te sit.
EKSODUS 35:1-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses het al die Israeliete laat bymekaarkom. Hy het vir hulle gesê: “Hier is die voorskrifte wat die HERE vir julle gegee het: Julle moet ses dae lank julle werk doen. Die sewende dag moet vir julle ’n heilige dag wees wat aan die HERE gewy word en waarop gerus moet word. “Enigeen wat op daardie dag werk, moet doodgemaak word. Op daardie dag mag julle selfs nie vuur in julle huise maak nie.” Moses het vir die vergadering van die Israeliete gesê: “Dit is wat die HERE beveel het. Gee vir die HERE ’n vrywillige offer uit julle besittings. Almal wat bereid is, kan enigiets van die volgende vir die HERE bring: goud, silwer of koper, blou, pers en bloedrooi wolstof, linne, bokhaar, rooigekleurde ramsvelle, gebreide velle of akasiahout, olie vir die lampe, balsem vir salfolie en vir geurige wierook, oniks en ander edelstene wat in die skouerkleed en borssak van die hoëpriester gesit kan word.