EKSODUS 32:1-10
EKSODUS 32:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het gesien Moses bly baie lank op die berg. Hulle het by Aäron bymekaargekom en vir hom gesê: “Kom, maak vir ons 'n god wat vir ons kan wys waarnatoe ons moet gaan. Hierdie man Moses het ons uit Egipte gebring, maar ons weet nie waar hy nou is nie.” Aäron sê toe vir hulle: “Haal af die goue ringe wat aan julle vroue, julle seuns en julle dogters se ore is. Bring dit alles vir my.” Toe haal al die mense die goue ringe van hulle ore af en hulle bring dit vir Aäron. Hy het dit geneem en gesmelt. Hy het 'n beeld van 'n bul-kalf daarvan gemaak. Toe sê die Israeliete: “Hierdie is ons god, hy het ons uit Egipte gebring.” Toe Aäron dit sien, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en gesê: “Môre vier ons 'n fees vir die Here.” Hulle het vroeg die volgende oggend opgestaan en hulle het brand-offers en ete-offers na die altaar gebring. Die Israeliete het gaan sit om te eet en hulle het wyn gedrink. Daarna het hulle opgestaan en wild feesgevier. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af van die berg en gaan na jou volk toe wat jy uit Egipte gebring het. Hulle het groot sonde gedoen. Hulle het gou vergeet wat Ek vir hulle gesê het. Hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bul-kalf gemaak en hulle het voor die beeld gebuig. Hulle het vir hom offers gebring en gesê: ‘Israeliete, hier is julle god, hy het julle uit Egipte gebring.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Ek het na hierdie volk gekyk, en Ek het gesien hulle is baie hardkoppig. Moenie probeer om My te keer nie. Ek is baie kwaad vir hulle en Ek wil hulle almal doodmaak. Dan sal Ek jou nageslag 'n groot volk maak.”
EKSODUS 32:1-10 Bybel vir almal (ABA)
Die Israeliete het gesien Moses bly baie lank op die berg. Hulle het by Aäron bymekaargekom en vir hom gesê: “Kom, maak vir ons 'n god wat vir ons kan wys waarnatoe ons moet gaan. Hierdie man Moses het ons uit Egipte gebring, maar ons weet nie waar hy nou is nie.” Aäron sê toe vir hulle: “Haal af die goue ringe wat aan julle vroue, julle seuns en julle dogters se ore is. Bring dit alles vir my.” Toe haal al die mense die goue ringe van hulle ore af en hulle bring dit vir Aäron. Hy het dit geneem en gesmelt. Hy het 'n beeld van 'n bul-kalf daarvan gemaak. Toe sê die Israeliete: “Hierdie is ons god, hy het ons uit Egipte gebring.” Toe Aäron dit sien, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en gesê: “Môre vier ons 'n fees vir die Here.” Hulle het vroeg die volgende oggend opgestaan en hulle het brand-offers en ete-offers na die altaar gebring. Die Israeliete het gaan sit om te eet en hulle het wyn gedrink. Daarna het hulle opgestaan en wild feesgevier. Die Here het vir Moses gesê: “Gaan af van die berg en gaan na jou volk toe wat jy uit Egipte gebring het. Hulle het groot sonde gedoen. Hulle het gou vergeet wat Ek vir hulle gesê het. Hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bul-kalf gemaak en hulle het voor die beeld gebuig. Hulle het vir hom offers gebring en gesê: ‘Israeliete, hier is julle god, hy het julle uit Egipte gebring.’ ” Die Here het vir Moses gesê: “Ek het na hierdie volk gekyk, en Ek het gesien hulle is baie hardkoppig. Moenie probeer om My te keer nie. Ek is baie kwaad vir hulle en Ek wil hulle almal doodmaak. Dan sal Ek jou nageslag 'n groot volk maak.”
EKSODUS 32:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE die volk sien dat Moses vertoef om van die berg af te kom, het die volk rondom Aäron versamel en vir hom gesê: Kom, maak vir ons gode wat voor ons uit trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. En Aäron sê vir hulle: Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. Toe het die hele volk die goue ringe afgeruk wat aan hulle ore was, en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met die beitel bewerk en daar 'n gegote kalf van gemaak. Daarop sê hulle: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Toe Aäron dit sien, het hy daarvoor 'n altaar gebou. En Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is daar fees tot eer van die HERE. En hulle het die ander dag vroeg klaargemaak en brandoffers geoffer en dankoffers aangebring; daarop het die volk gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel. Toe sê die HERE vir Moses: Gaan heen, klim af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het verderflik gehandel. En hulle het gou van die weg afgewyk wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak en daarvoor neergebuig en daaraan geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Verder het die HERE vir Moses gesê: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is 'n hardnekkige volk. Laat My dan nou begaan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle verteer. Dan sal Ek jou tot 'n groot nasie maak.
EKSODUS 32:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe die volk sien dat Moses talm en nie van die berg af kom nie, het hulle om Aäron saamgedrom en vir hom gesê: “Kom maak vir ons 'n god dat hy ons kan lei. Hierdie man Moses het nou wel vir ons uit Egipte laat wegtrek, maar ons weet nie wat van hom geword het nie.” Aäron het hulle geantwoord: “Haal die goue oorringe van julle vrouens, julle seuns en julle dogters se ore af en bring dit vir my.” Die hele volk het toe die goue ringe van hulle ore afgehaal en dit vir Aäron gebring. Hy het dit van hulle ontvang, dit verwerk en daarvan 'n beeld in die vorm van 'n bulkalf gemaak. Toe sê die volk: “Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel!” Toe Aäron dit hoor, het hy 'n altaar voor die beeld gebou en uitgeroep: “Môre is daar fees vir die Here!” Vroeg die volgende môre het die volk brandoffers en maaltydoffers geoffer. Daarna het die volk begin feesvier en losbandig te kere gegaan. Toe sê die Here vir Moses: “Klim van die berg af, want jou volk wat jy uit Egipte laat wegtrek het, het iets vreesliks gedoen. Hulle het gou die pad verlaat wat Ek vir hulle aangewys het en hulle het vir hulle 'n beeld van 'n bulkalf gemaak. Nou aanbid hulle hom en bring vir hom offers en sê: Hier is jou God wat jou uit Egipte bevry het, Israel.” Verder het die Here vir Moses gesê: “Ek het gesien dat dit 'n opstandige volk is hierdie. Moet My nie probeer keer nie. Ek is toornig op my volk en Ek wil hulle vernietig. Vir jou sal Ek dan tot 'n groot nasie maak.”
EKSODUS 32:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe die volk merk dat Moses lank neem om van die berg af te kom, het die volk by Aäron byeengekom en vir hom gesê: “Komaan, maak vir ons gode wat voor ons uit kan gaan; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat met hom gebeur het nie.” Aäron sê toe vir hulle: “Ruk die goue ringe af wat aan die ore van julle vroue, seuns en dogters is, en bring dit vir my.” Die hele volk het toe die goue ringe wat aan hulle ore was, afgeruk, en dit vir Aäron gebring. Hy het dit uit hulle hand aanvaar. Toe het hy dit met 'n stilus vorm gegee en 'n gegote kalf daarvan gemaak. Hulle sê toe: “Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.” Toe Aäron sien wat gebeur, het hy 'n altaar voor die beeld gebou. Aäron roep toe uit en sê: “Môre is daar 'n fees vir die HERE!” Hulle het vroeg die volgende dag opgestaan, •brandoffers geoffer en •maaltydoffers nadergebring. Die volk het gaan sit om te eet en te drink. Toe het hulle opgestaan om hulleself te vermaak. Die HERE het vir Moses gesê: “Gaan af, want jou volk wat jy uit Egipteland laat optrek het, het hulle wangedra. Hulle het gou weggedraai van die pad wat Ek hulle beveel het. Hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak; hulle het voor die kalf in aanbidding gebuig en offers daarvoor gebring. Hulle het gesê, ‘Dit is jou gode, Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het.’ ” Die HERE het ook vir Moses gesê: “Ek het hierdie volk deurgekyk – hulle is inderdaad 'n hardnekkige volk. Laat My dan nou met rus, sodat my toorn teen hulle kan ontbrand en Ek hulle kan vernietig. Ek sal jou dan 'n groot nasie maak.”
EKSODUS 32:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En toe die volk sien dat Moses versuim het om van die berg af te kom, het die volk by Aäron bymekaargekom en vir hom gesê: Staan op, maak vir ons gode wat voor ons uit sal trek; want hierdie Moses, die man wat ons uit Egipteland laat optrek het, ons weet nie wat van hom geword het nie. Toe sê Aäron vir hulle: Breek die goue oorringe af wat in die ore van julle vroue, julle seuns en julle dogters is, en bring dit vir my. En die hele volk het die goue oorringe wat in hulle ore was, afgebreek en dit na Aäron gebring. En hy het dit uit hulle hand geneem en dit met 'n smeergereedskap gemaak nadat hy dit 'n gegote kalf gemaak het; en hulle het gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit Egipteland laat optrek het. Toe Aäron dit sien, het hy 'n altaar daarvoor gebou; en Aäron het uitgeroep en gesê: Môre is dit 'n fees vir die HERE. En hulle het die volgende dag vroeg opgestaan en brandoffers gebring en dankoffers gebring; en die skare het gaan sit om te eet en te drink, en hulle het opgestaan om te speel. Toe sê die HERE vir Moses: Gaan, klim af; want U volk wat U uit Egipteland uitgelei het, het hulleself verderflik aangedoen. Hulle het gou afgewyk van die weg wat Ek hulle beveel het: hulle het vir hulle 'n gegote kalf gemaak en dit aanbid en daarvoor geoffer en gesê: Dit is jou gode, o Israel, wat jou uit laat optrek het die land van Egipte. Toe sê die HERE vir Moses: Ek het hierdie volk gesien, en kyk, dit is 'n hardnekkige volk. Laat my dan nou staan, dat my toorn teen hulle ontvlam en Ek hulle kan verteer; en Ek sal van jou 'n groot nasie maak.
EKSODUS 32:1-10 Die Boodskap (DB)
Toe Moses so lank wegbly en nie dadelik weer van die berg af terugkom nie, het die volk by Aäron bymekaargekom. Hulle sê toe vir hom: “Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het nie. Hy het ons uit Egipte gelei, maar nou is hy skoonveld. Jy moet vir ons ’n ander god kry wat ons verder kan lei.” Aäron sê toe vir hulle: “Kry by julle vroue en julle seuns en dogters die goue oorringe wat hulle aanhet en bring dit vir my.” Hulle het die oorringe gevat en vir Aäron gebring. Hy het dit by hulle gekry en daarvan ’n beeld van ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte laat wegtrek het.” Toe Aäron sien wat hulle doen, het hy ook nog ’n altaar vir offers daar by die beeld gebou. Hy het gesê: “Môre gaan ons fees hou vir die Here!” Vroeg die volgende oggend het hulle toe offers op die altaar begin verbrand en offers begin slag wat vrede moet bring. Later het hulle begin eet en drink. Dit het naderhand in ’n uitspattigheid ontaard. Die Here het vir Moses gesê: “Jy moet dadelik teruggaan! Jou volk wat jy uit Egipte weggelei het, is besig om lelike dinge te doen. Hulle was baie vinnig om te vergeet hoe Ek wil hê hulle moet lewe. Hulle het sowaar vir hulle ’n beeld van ’n kalf gaan maak. Hulle aanbid die kalf en bring offers daarvoor. Hulle sê die kalf is Israel se god wat Israel uit Egipte laat wegkom het. Ek het sommer aan hulle gesien dat hulle ’n volk is wat hulle eie kop gaan volg. Los My nou uit dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitroei. Moenie jou bekommer nie, want Ek sal jou ’n groot volk laat word.”
EKSODUS 32:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe die volk sien dat Moses lank wegbly en nie van die berg af kom nie, het hulle na Aäron toe gegaan. Hulle het vir hom gesê: “Maak vir ons ’n god wat ons kan lei. Ons weet nie wat van hierdie man Moses geword het wat ons uit Egipte weggelei het nie.” Aäron het toe vir hulle gesê: “Haal julle vroue en seuns en dogters se goue ringe van hulle ore af en bring dit hier vir my.” Almal van die volk het toe die goue ringe afgehaal en dit vir Aäron gebring. Aäron het dit by hulle gevat, dit gesmelt en daarvan ’n kalf gemaak wat uit goud gegiet is. Die volk sê toe: “Israel, hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het!” Toe Aäron dit sien, het hy ook ’n altaar voor die kalf gebou. Hy het aangekondig: “Ons hou môre ’n fees vir die HERE!” Van vroeg die volgende oggend af het hulle brandoffers en vrede-offers gebring. Die volk het geëet en gedrink. Dit het later begin handuit ruk. Die HERE het toe vir Moses gesê: “Klim dadelik van die berg af! Die volk wat jy uit Egipte bevry het, is besig om lelike dinge te doen. Hulle het van die koers afgewyk wat Ek vir hulle gewys het. Hulle het vir hulle ’n kalf gemaak wat hulle aanbid en waarvoor hulle offer. Hulle sê daarvoor: ‘Hier is jou god wat jou uit Egipte bevry het, Israel!’” Die HERE sê toe vir Moses: “Ek het nou gesien dat hierdie volk hulle eie kop gaan volg. Moenie My nou keer nie. Laat staan My dat Ek my woede op hulle kan uithaal en hulle uitwis. Ek sal eerder van jou ’n groot nasie maak.”