EKSODUS 25:17-22
EKSODUS 25:17-22 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet 'n deksel van skoon goud maak. Dit moet twee en 'n halwe el lank en een en 'n halwe el breed wees. Dan moet julle twee gerubs van goud maak. Julle moet die gerubs op die twee kante van die deksel sit. Die een gerub moet op die een kant van die deksel wees en die ander gerub op die ander kant. Die gerubs en die deksel moet een stuk goud wees. Die gerubs se vlerke moet oop wees sodat hulle vlerke die deksel toemaak. Hulle gesigte moet na mekaar toe wees en hulle moet na die deksel kyk. In die kis moet julle die tien gebooie sit wat Ek vir julle sal gee, en julle moet die deksel op die kis sit. As Ek vir jou iets wil sê, dan sal Ek hier aan jou verskyn. Ek sal bokant die deksel wees, tussen die twee gerubs wat op die kis is waarin die tien gebooie is. Ek sal daar met jou praat en vir jou alles sê wat jy vir die Israeliete moet sê.”
EKSODUS 25:17-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Maak ook 'n versoendeksel van suiwer goud. Twee en 'n half el moet sy lengte, en anderhalf el sy breedte wees. Maak ook twee gérubs van goud. Van dryfwerk moet jy hulle maak, aan die twee ente van die versoendeksel. En maak een gérub aan die een ent en een gérub aan die ander ent. Uit een stuk, saam met die versoendeksel, moet julle die gérubs maak, aan die twee ente. En die gérubs moet die vlerke boontoe uitgesprei hou, terwyl hulle met hul vlerke die versoendeksel beskut; en hulle aangesigte moet na mekaar toe wees; die gesigte van die gérubs moet op die versoendeksel gerig wees. En sit die versoendeksel bo-op die ark; maar in die ark moet jy die Getuienis neerlê wat Ek aan jou sal gee. En daar sal Ek met jou saamkom, en van die versoendeksel af, tussen die twee gérubs uit wat op die ark van die Getuienis is, sal Ek jou alles sê wat Ek jou vir die kinders van Israel sal beveel.
EKSODUS 25:17-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
“Dan moet jy 'n deksel van suiwer goud maak, een en 'n kwart meter lank en 'n driekwart meter breed. Maak twee gerubs van geslae goud op die kante van die deksel, een links en een regs. Die gerubs aan weerskante van die deksel moet so gemaak word dat hulle 'n eenheid met die deksel vorm. Hulle vlerke moet uitgesprei wees oor die deksel, sodat hulle dit bedek. Die gerubs se gesigte moet na mekaar toe wees, en hulle moet afkyk op die deksel. Jy moet die deksel bo-op die ark sit en daarbinne die getuienis wat Ek jou sal gee. “Dáár sal Ek jou ontmoet. Ek sal met jou praat van die deksel af tussen die twee gerubs uit wat op die ark met die getuienis is. Al my bevele vir die Israeliete sal Ek jou van daar af gee.”
EKSODUS 25:17-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Jy moet 'n versoendeksel van suiwer goud maak, twee en 'n half el lank en een en 'n half el breed. Dan moet jy twee gerubs van goud maak, met pletwerk moet jy hulle op die twee punte van die versoendeksel maak. Maak een gerub op die een punt en een gerub op die ander punt. As 'n deel van die versoendeksel moet jy die gerubs op die twee punte maak. Die gerubs moet so wees dat hulle, met hulle vlerke oopgesprei na bo, die versoendeksel beskut met hulle vlerke. Met hulle gesigte na mekaar moet die gerubs na die versoendeksel kyk. Jy moet die versoendeksel bo-op die ark neersit, en in die ark moet jy die Getuienis plaas wat Ek jou sal gee. Daar sal Ek jou ontmoet. Van bo die versoendeksel af, van tussen die twee gerubs wat op die ark met die Getuienis is, sal Ek met jou praat oor al die opdragte vir die Israeliete wat Ek jou gaan gee.
EKSODUS 25:17-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En jy moet 'n versoendeksel van suiwer goud maak: twee en 'n half el moet sy lengte wees en anderhalf el sy breedte. En jy moet twee goue gérubs maak; van geslae werk moet jy dit maak, aan die twee ente van die versoendeksel. En maak een gérub aan die een kant en die ander gérub aan die ander kant; van die versoendeksel moet julle die gérubs aan die twee ente daarvan maak. En die gérubs sal hulle vlerke in die hoogte uitsprei en die versoendeksel met hulle vlerke bedek, en hulle gesigte sal na mekaar kyk; na die versoendeksel moet die aangesigte van die gérubs wees. En jy moet die versoendeksel bo-op die ark sit; en in die ark moet jy die Getuienis sit wat Ek jou sal gee. En daar sal Ek jou ontmoet, en Ek sal met jou spreek van bo die versoendeksel, tussen die twee gérubs wat op die ark van die Getuienis is, oor alles wat Ek jou aan die kinders van Israel sal beveel.
EKSODUS 25:17-22 Die Boodskap (DB)
“Jy moet ook ’n deksel maak wat op die ark pas. Dit moet net so groot soos die ark wees: 115 sentimeter lank en 70 sentimeter breed. Dit moet van suiwer goud gemaak word. Maak ook twee beelde van hemelse figure met vlerke wat uit goud gevorm is. Hulle moet bo-op die deksel vasgesit word met hulle gesigte na mekaar toe. Hulle vlerke moet oor die deksel uitgesprei wees asof hulle dit beskerm. Hulle moet afkyk op die deksel. Jy moet die getuienis van die ooreenkoms wat Ek aan jou gaan gee, binne-in die ark sit. Dan moet jy die deksel bo-op die ark pas. Ek sal jou by daardie ark ontmoet. Ek sal daar met jou van die deksel af praat. Ek sal van tussen die figure met die vlerke op die ark vir jou alles sê wat Ek van die Israeliete verwag.”
EKSODUS 25:17-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
“Jy moet ook ’n deksel van goud vir die ark maak. Dit is die versoendeksel. Dit moet een en ’n kwart meter lank en ’n driekwart meter breed wees. Maak twee beelde van gerubs met goud oorgetrek om weerskante bo-op die deksel te staan. Sit hulle só vas dat dit ’n eenheid met die deksel vorm. Die gerubs moet na mekaar kyk. Hulle moet met oopgespreide vlerke op die deksel afkyk. Sit die klippe wat Ek jou sal gee binne-in die ark en die versoendeksel bo-op die ark. Ek sal jou daar ontmoet. Ek sal van tussen die gerubs bo-op die ark met jou praat. Van daar af sal Ek vir jou my opdragte aan die Israeliete gee.”