EKSODUS 2:5-6
EKSODUS 2:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê.
EKSODUS 2:5-6 Bybel vir almal (ABA)
Die farao se dogter het na die rivier gegaan om haar te was. Daar was meisies by haar, en hulle het op die rivier se wal geloop. Toe die farao se dogter die kissie tussen die riete sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal. Sy het die kissie oopgemaak en sy het die kind gesien. Die seuntjie het gehuil, en sy was jammer vir hom. Sy het gesê: “Hy is een van die Hebreërs se kinders.”
EKSODUS 2:5-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Farao se dogter het na die Nyl afgegaan om 'n bad te neem, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl heen en weer geloop het. Toe sien sy die mandjie tussen die riete en stuur haar slavin en laat dit haal. Nadat sy dit oopgemaak het, sien sy die kind, en kyk, dit was 'n seuntjie wat huil! En sy het hom jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs.
EKSODUS 2:5-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Dogter van die farao het afgegaan Nyl toe om te swem, en die jongmeisies wat haar vergesel, het aan die kant van die rivier geloop. Toe sy die mandjie tussen die riete sien, stuur sy haar diensmeisie om dit te gaan haal. Met die oopmaak sien sy dit is 'n seuntjie en hy huil. Toe kry sy hom jammer en dink: dit is seker een van die Hebreeuse seuntjies.
EKSODUS 2:5-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die dogter van die farao het afgegaan na die Nyl om haar te was, terwyl haar diensmeisies aan die kant van die Nyl stap. Sy sien toe die mandjie tussen die palmiete en stuur haar slavin om dit te gaan haal. Toe sy dit oopmaak, sien sy die seuntjie – en kyk, dit was 'n babaseuntjie wat huil! Sy het hom jammer gekry en het gesê: “Dit moet een van die seuntjies van die Hebreërs wees.”
EKSODUS 2:5-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die dogter van Farao het afgekom om haar by die rivier te was; en hier het die meisie langs die rivier se kant geloop; en toe sy die ark tussen die vlae sien, het sy haar slavin gestuur om dit te gaan haal. En toe sy dit oopmaak, sien sy die kindjie, en kyk, die kindjie het geween. En sy het hom innig jammer gekry en gesê: Dit is een van die kinders van die Hebreërs.
EKSODUS 2:5-6 Die Boodskap (DB)
Een van die farao se dogters het in die Nyl gaan bad. Die meisies wat haar elke dag help, het op die wal van die rivier bly staan terwyl sy swem. Sy het die mandjie tussen die riete gesien en een van die meisies gestuur om dit vir haar te gaan uithaal. Toe sy dit oopmaak, sien sy dat daar ’n babaseuntjie in is wat huil. Haar hart het sag geword en sy het vir haarself gesê: “Siestog, dis seker een van die Hebreërs se seuntjies.”
EKSODUS 2:5-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Een van die farao se dogters het afgekom na die Nylrivier om daar te kom bad. Haar bediendes het op die oewer waggestaan. Toe die prinses die mandjie tussen die riete sien, het sy een van haar meisies gestuur om dit te gaan uithaal. Toe sy die mandjie oopmaak, kry sy die seuntjie wat daarin lê en huil. Sy het hom jammer gekry. “Dit moet een van die Hebreeuse kinders wees,” het sy gesê.