EKSODUS 2:11-19

EKSODUS 2:11-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword! Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit. Die priester van Midian het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar daar het veewagters opgedaag en hulle weggejaag. Moses het opgestaan, hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. Toe hulle by Reüel, hulle vader, kom, sê hy: “Waarom is julle vandag so gou terug?” Hulle het geantwoord: “Daar was 'n Egiptiese man wat ons uit die hand van die veewagters gered het. Hy het ook vir ons genoeg water uit die put opgetrek en die kleinvee laat drink.”

EKSODUS 2:11-19 Bybel vir almal (ABA)

Toe Moses groot was, het hy eendag na sy eie mense toe gegaan en gesien hoe swaar hulle moes werk. Hy het gesien dat 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man slaan, een van sy eie mense. Hy het rondgekyk en gesien daar is niemand wat hom sien nie. Toe slaan hy die Egiptenaar dood en hy steek die lyk weg in die sand. Die volgende dag het Moses weer na sy mense toe gegaan. Hy het gesien dat twee Hebreeuse mans baklei. Hy vra toe vir die man wat begin baklei het: “Hoekom slaan jy die man? Hy is ook 'n Hebreër.” Die man sê toe: “Wie het gesê jy mag oor ons regeer? Wie het gesê jy kan vir ons sê wat ons moet doen? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword. Hy het besef dat hulle weet wat hy gedoen het. Toe die farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het gevlug en hy het in Midian gaan woon. Toe hy eendag daar by 'n put sit, kom daar sewe meisies aan. Hulle was die dogters van die priester van Midian. Hulle het water uit die put kom skep om die waterbakke vol te maak sodat hulle pa se skape en bokke kon drink. Maar daar het skaapwagters gekom en hulle het die meisies weggejaag. Moses het toe opgestaan en hy het die meisies gehelp. Hy het vir hulle skape en bokke water gegee. Toe die meisies by hulle pa Reüel kom, vra hy vir hulle: “Hoekom het julle vandag so gou teruggekom?” Hulle het vir hom gesê: “'n Egiptenaar het ons gehelp toe die skaapwagters ons wou wegjaag. Hy het ook water geskep en hy het ons skape en bokke laat drink.”

EKSODUS 2:11-19 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword! Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit. Die priester van Midian het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek en die drinkbakke vol te maak om hulle vader se kleinvee te laat drink. Maar daar het veewagters opgedaag en hulle weggejaag. Moses het opgestaan, hulle gehelp en hulle kleinvee laat drink. Toe hulle by Reüel, hulle vader, kom, sê hy: “Waarom is julle vandag so gou terug?” Hulle het geantwoord: “Daar was 'n Egiptiese man wat ons uit die hand van die veewagters gered het. Hy het ook vir ons genoeg water uit die put opgetrek en die kleinvee laat drink.”

EKSODUS 2:11-19 Die Boodskap (DB)

Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?” Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.” Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom. Hy het in ’n plek met die naam Midian aangekom. Hy het by ’n waterput gaan sit. Daar in Midian was ’n man wat vir die Here gewerk het. Hy het sewe dogters gehad. Hulle het daar aangekom om water uit die put op te trek om die bakke waaruit hulle pa se kleinvee drink, vol water te maak sodat hulle kan suip. Toe daar ander mans met hulle vee aankom, wou hulle die meisies wegjaag. Moses het gekeer en hulle gehelp dat hulle kleinvee eers klaar kon drink. Toe die meisies by die huis by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir hulle: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” Hulle antwoord: “Daar was ’n man uit Egipte by die put. Hy het ons gehelp en gekeer dat die mans ons wegdruk. Hy het selfs ook vir ons water uit die put opgetrek en ons kleinvee laat drink.”

EKSODUS 2:11-19 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand. Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe. Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?” “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.” Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit, het die priester van Midian se sewe dogters daar kom water skep. Hulle het die drinkbakke vol water gemaak sodat hulle pa se diere kon suip. Daar kom toe mans wat vee oppas en verdryf die meisies van die put af. Moses het die meisies te hulp gesnel en hulle gehelp om hulle vee te laat suip. Toe hulle by hulle pa, Reüel, terugkom, vra hy vir sy dogters: “Hoe is julle dan vandag so vroeg terug?” “Daar was ’n man uit Egipte wat ons teen die mans verdedig het,” sê hulle vir hom. “Hy het ons help water skep en die vee laat drink.”