EKSODUS 2:11-15
EKSODUS 2:11-15 Bybel vir almal (ABA)
Toe Moses groot was, het hy eendag na sy eie mense toe gegaan en gesien hoe swaar hulle moes werk. Hy het gesien dat 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man slaan, een van sy eie mense. Hy het rondgekyk en gesien daar is niemand wat hom sien nie. Toe slaan hy die Egiptenaar dood en hy steek die lyk weg in die sand. Die volgende dag het Moses weer na sy mense toe gegaan. Hy het gesien dat twee Hebreeuse mans baklei. Hy vra toe vir die man wat begin baklei het: “Hoekom slaan jy die man? Hy is ook 'n Hebreër.” Die man sê toe: “Wie het gesê jy mag oor ons regeer? Wie het gesê jy kan vir ons sê wat ons moet doen? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword. Hy het besef dat hulle weet wat hy gedoen het. Toe die farao hoor wat Moses gedoen het, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het gevlug en hy het in Midian gaan woon. Toe hy eendag daar by 'n put sit
EKSODUS 2:11-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En in dié dae toe Moses al groot was, het hy na sy broers uitgegaan en hulle harde arbeid aangesien. En hy het gesien hoe 'n Egiptiese man 'n Hebreeuse man, een uit sy broers, slaan. En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom in die sand begrawe. Die volgende dag het hy weer uitgegaan, en daar was twee Hebreeuse manne wat met mekaar veg. Hy vra toe vir die een wat ongelyk gehad het: Waarom slaan jy jou naaste? En hy antwoord: Wie het jou as owerste en regter oor ons aangestel? Dink jy om my dood te slaan soos jy die Egiptenaar omgebring het? En Moses het gevrees en gesê: Waarlik, die saak het bekend geword! En toe Farao van dié saak hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van Farao af weggevlug en in die land Mídian gaan woon. En hy het by 'n put gesit.
EKSODUS 2:11-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe Moses al 'n volwasse man was, het hy op 'n keer na sy eie mense toe gegaan en gesien dat hulle dwangarbeid verrig. Hy sien toe hoe een van sy eie mense, 'n Hebreër, deur 'n Egiptenaar geslaan word. Nadat Moses rondgekyk het en niemand gewaar het nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom onder sand toegekrap. Die volgende dag gaan hy weer, en tot sy verbasing was daar twee Hebreeuse manne aan die baklei. “Waarom slaan jy aan jou broer?” vra hy vir die een wat die rusie begin het. “Wie het jou aangestel as baas en regter oor ons?” vra die ander. “Wil jy my miskien ook doodslaan, soos jy die Egiptenaar doodgeslaan het?” Toe skrik Moses en hy dink: die ding het bekend geword. Toe dit by die farao uitkom, wou hy vir Moses laat doodmaak, maar Moses het van hom af weggevlug en in Midian gaan woon. Terwyl hy daar by 'n put sit
EKSODUS 2:11-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In daardie dae, toe Moses al groot was, het hy uitgegaan na waar sy volksgenote was en hulle dwangarbeid gesien. Hy sien toe 'n Egiptiese man wat 'n Hebreeuse man, een van sy volksgenote, slaan. Hy het om hom rondgekyk, en toe hy sien dat daar niemand is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan en hom met sand toegegooi. Toe hy die volgende dag uitgaan, is daar sowaar twee Hebreeuse mans aan die baklei. Hy vra toe die skuldige: “Waarom slaan jy jou medemens?” Die man het geantwoord: “Wie het jou as •aanvoerder en regter oor ons aangestel? Dink jy om my ook dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het bang geword en gedink, sowaar, die saak het bekend geword! Toe die farao van hierdie saak hoor, wou hy Moses laat doodmaak. Maar Moses het van die farao af weggevlug om in die land Midian te gaan woon. Hy het daar by 'n put gaan sit.
EKSODUS 2:11-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En in daardie dae, toe Moses groot was, het hy uitgegaan na sy broers en hulle laste gekyk; en hy het 'n Egiptenaar gedood wat 'n Hebreër, een van sy broers, geslaan het. En hy het hierheen en daarheen gekyk, en toe hy sien dat daar niemand was nie, het hy die Egiptenaar gedood en hom in die sand weggesteek. En toe hy op die tweede dag uitgaan, kyk, daar het twee manne van die Hebreërs teen mekaar stry, en hy sê vir hom wat verkeerd gedoen het: Waarom slaan jy jou maat? En hy sê: Wie het jou 'n vors en 'n regter oor ons aangestel? was jy van plan om my dood te maak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het? En Moses het bevrees geword en gesê: Waarlik, hierdie saak is bekend. Toe Farao dit hoor, het hy probeer om Moses dood te maak. Maar Moses het van die aangesig van Farao gevlug en in die land Mídian gaan woon, en hy het gaan sit by 'n put.
EKSODUS 2:11-15 Die Boodskap (DB)
Moses was al ’n groot man toe hy op ’n keer gaan kyk het hoe die ander Israeliete gedwing word om slawewerk te doen. Terwyl hy daar is, sien hy hoe een van die Egiptenaars ’n Hebreër slaan. Hy het hiernatoe en daarnatoe gekyk en toe hy niemand sien nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom onder die sand begrawe. Toe hy weer ’n keer daar kom, kry hy twee Hebreërs wat besig is om met mekaar te baklei. Hy vra toe vir die een wat verkeerd was: “Hoekom slaan jy aan iemand anders uit jou volk?” Die man kap toe terug: “Wie het jou altemit aangestel om baas te speel en oor ons te besluit? Gaan jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar doodgemaak het?” Moses het hom boeglam geskrik en vir homself gesê: “Die ding het op die lappe gekom.” Toe die farao hoor wat gebeur het, het hy inderdaad ook na Moses laat soek om hom dood te maak. Moses het toe uit Egipte gevlug om van die farao af weg te kom.
EKSODUS 2:11-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n goeie dag toe Moses al ’n groot man was, het hy by sy mense gaan kuier. Hy het gesien hoe hard hulle moes werk. Terwyl hy daar was, sien hy hoe ’n Egiptenaar een van sy volksgenote uit die Hebreeuse slawe aanrand. Moses het goed rondgekyk en toe hy seker was dat daar niemand naby is nie, het hy die Egiptenaar doodgeslaan. Hy het hom in die sand begrawe. Toe hy die volgende dag weer by hulle kom, sien hy twee Hebreërs wat met mekaar baklei. Hy sê toe vir die een wat verkeerd was: “Waarom rand jy jou volksgenoot aan?” “Wie is jy nogal?” het die man teruggeantwoord. “Wie het jou as baas en regter oor ons aangestel? Wil jy my ook doodmaak soos jy die Egiptenaar gister doodgemaak het?” Moses het geskrik. Hy het vir homself gesê: “Almal weet wat gebeur het.” Die farao het ook van die ding te hore gekom. Hy het opdrag gegee dat Moses gesoek en tereggestel moes word. Moses het egter vir die farao gevlug. Moses het in die landstreek van Midian gaan woon. Terwyl hy daar by ’n put sit