EKSODUS 18:14-18
EKSODUS 18:14-18 Bybel vir almal (ABA)
Sy skoonpa het alles gesien wat Moses vir die mense doen. Hy het gesê: “Wat doen jy alles vir die mense? Hoekom doen jy dit alleen en hoekom moet al die mense van die oggend tot die aand vir jou wag?” Moses sê toe vir sy skoonpa: “Die mense kom na my toe om te hoor wat God sê. Wanneer hulle probleme met mekaar het, dan kom hulle na my toe. Ek sê wie is reg en wie is verkeerd. So leer ek vir hulle wat God wil hê hulle moet doen.” Moses se skoonpa sê toe vir hom: “Jy maak 'n fout. Jy sal baie moeg word, jy en hierdie mense wat by jou is. Dit is te moeilik vir jou, jy kan dit nie alleen doen nie.
EKSODUS 18:14-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En toe Moses se skoonvader sien alles wat hy vir die volk doen, sê hy: Wat is dit wat jy vir die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan voor jou van die môre tot die aand toe? En Moses antwoord sy skoonvader: Omdat die volk na my kom om God te raadpleeg. As hulle 'n saak het, kom hulle na my; en dan moet ek regspreek tussen die partye en die insettinge van God en sy wette bekend maak. Maar Moses se skoonvader sê vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal heeltemal uitgeput raak, jy sowel as hierdie volk wat by jou is. Want die saak is te swaar vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.
EKSODUS 18:14-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
Maar toe sy skoonpa sien wat Moses alles vir die volk doen, het hy gesê: “Waarom doen jy die volk dit aan? Waarom tree net jý op as regter, en al die mense moet van die môre af tot die aand toe vir jou staan en wag?” Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om na die wil van God te vra. As hulle in sake betrokke raak, kom hulle na my toe. Ek lewer dan uitspraak oor die geskille tussen hulle en maak terselfdertyd God se voorskrifte en wette aan hulle bekend.” Maar Moses se skoonpa sê vir hom: “Jy maak nie reg nie. Jy en al hierdie mense by jou sal totaal uitgeput raak. Die werk is te veel vir jou. Jy kan dit nie alleen behartig nie.
EKSODUS 18:14-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe Moses se skoonvader sien wat hy alles vir die mense doen, het hy gevra: “Wat is dit wat jy vir die mense doen? Waarom sit jy alleen, terwyl al die mense van die oggend tot die aand toe om jou bly staan?” Moses het sy skoonvader geantwoord: “Omdat die mense na my toe kom om God te raadpleeg. Wanneer hulle 'n geskil het, kom dit voor my; dan beslis ek tussen die persoon en sy naaste, en maak God se vaste voorskrifte en wette bekend.” Moses se skoonvader sê toe vir hom: “Dit is nie goed dat jy die saak so hanteer nie. Jy gaan jouself heeltemal uitput – jy sowel as hierdie mense wat by jou is. Want dit is te veeleisend vir jou; jy kan dit nie alleen doen nie.
EKSODUS 18:14-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe Moses se skoonvader alles sien wat hy aan die volk doen, sê hy: Wat is dit vir hierdie ding wat jy aan die volk doen? Waarom sit jy alleen, en die hele volk staan by jou van die môre tot die aand? Toe sê Moses vir sy skoonvader: Omdat die volk na my toe kom om God te raadpleeg. Wanneer hulle 'n saak het, kom hulle na my toe; en Ek oordeel tussen mekaar, en Ek maak hulle bekend die insettinge van God en sy wette. Toe sê Moses se skoonvader vir hom: Die ding wat jy doen, is nie goed nie. Jy sal sekerlik uitput, jy sowel as hierdie volk wat by jou is, want hierdie ding is vir jou te swaar; jy is nie in staat om dit self te doen nie.
EKSODUS 18:14-18 Die Boodskap (DB)
Moses se skoonpa het gesien hoe Moses probeer om self al die sake van die volk te verhoor. Hy vra toe vir hom: “Wat probeer jy regkry? Hoekom wil jy al die hofsake alleen verhoor? Die volk moet die hele dag lank vir jou staan en wag.” Moses het vir hom gesê: “Die volk kom na my toe omdat hulle God se beslissing wil hê. Wanneer hulle van mekaar verskil oor ’n saak, kom hulle na my toe. Ek moet vir hulle leer wat in God se wette staan en vir hulle volgens die Here se reëls sê wie is reg en wie is verkeerd.” “Jy hanteer die saak nie reg nie,” sê Moses se skoonpa toe vir hom. “Hierdie ding gaan vir jou en die volk skeefloop. Jy laai te veel hooi op jou vurk. Jy kan dit onmoontlik alles alleen doen.
EKSODUS 18:14-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe Moses se skoonpa sien hoe Moses met die volk werk, vra hy vir hom: “Hoekom doen jy alles self? Die mense staan die ganse dag vir jou en wag!” Moses het sy skoonpa geantwoord: “Die volk kom na my toe om te hoor wat die HERE sê. As daar ’n geskil is tussen twee partye, gee ek uitspraak. Ek sê vir die volk wat God besluit het en wat God wil hê.” Sy skoonpa sê toe vir Moses: “Jy hanteer die saak nie reg nie. Jy en die volk sal die pas nie kan volhou nie. Dit is te veel vir jou. Jy kan dit nie alles op jou eie doen nie.