EKSODUS 16:1-3
EKSODUS 16:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Nadat die Israeliete weggegaan het van Elim, het hulle in die Sin-woestyn gekom. Dit was tussen Elim en Sinai. Dit was die 15de dag van die tweede maand nadat hulle weggegaan het uit Egipte. Die Israeliete het daar in die woestyn begin om vir Moses en Aäron te beskuldig. Die Israeliete het vir hulle gesê: “Ons wens die Here het ons in Egipte laat sterf. Daar het ons baie vleis en genoeg kos gehad om te eet. Nou het julle ons na hierdie woestyn gebring, en ons sal almal hier van honger sterf.”
EKSODUS 16:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE hulle van Elim af wegtrek, het die hele vergadering van die kinders van Israel in die woestyn Sin gekom, wat tussen Elim en Sinai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland. En die hele vergadering van die kinders van Israel het teen Moses en teen Aäron in die woestyn gemurmureer. En die kinders van Israel het aan hulle gesê: Het ons maar in Egipteland deur die hand van die HERE gesterwe toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het! Want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger te laat sterwe.
EKSODUS 16:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Nadat hulle Elim verlaat het, het die hele volk Israel in die Sinwoestyn aangekom wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende van die tweede maand nadat hulle uit Egipte getrek het. In die woestyn het die hele volk hulle teenoor Moses en Aäron begin verset en gesê: “As ons maar liewer in Egipte omgekom het deur die hand van die Here terwyl ons by die vleispotte kon sit en oorgenoeg kos kon hê om te eet! Nou het julle ons laat wegtrek tot in hierdie woestyn om die hele volk van honger te laat omkom.”
EKSODUS 16:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die Israeliete het van Elim af weggetrek en die hele volksvergadering van die Israeliete het in die Sinwoestyn aangekom, wat tussen Elim en Sinai lê. Dit was op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipteland uitgetrek het. Die hele volksvergadering van die Israeliete het teen Moses en Aäron gemor in die woestyn. Die Israeliete het vir hulle gesê: “As ons maar deur die hand van die HERE in Egipteland gesterf het toe ons by die vleispotte gesit en ons versadig geëet het aan brood! Maar julle het ons na hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele gemeenskap van honger te laat sterf.”
EKSODUS 16:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het van Elim af weggetrek, en die hele vergadering van die kinders van Israel het in die woestyn Sin gekom wat tussen Elim en Sinai lê, op die vyftiende dag van die tweede maand ná hulle uittog uit Egipteland. En die hele vergadering van die kinders van Israel het in die woestyn teen Moses en Aäron gemurmureer. Toe sê die kinders van Israel vir hulle: As ons tog maar deur die hand van die HERE gesterwe het in Egipteland, toe ons by die vleispotte gesit en volop brood geëet het; want julle het ons in hierdie woestyn uitgelei om hierdie hele vergadering van honger dood te maak.
EKSODUS 16:1-3 Die Boodskap (DB)
Op die vyftiende dag van die tweede maand nadat hulle uit Egipte weg is, het die Israeliete van Elim af in die Sinwoestyn aangekom. Dit is tussen Elim en Sinai. Daar het hulle by Moses en Aäron oor die min kos kom kla: “Die Here kon ons maar liewer in Egipte laat doodgaan het. Toe ons daar gebly het, was daar ten minste oorgenoeg kos om te eet. Julle het ons hiernatoe gebring om van die honger dood te gaan.”
EKSODUS 16:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die Israeliete is weg van Elim af en het by die Sinwoestyn tussen Elim en Sinaiberg aangekom. Dit was ’n maand nadat hulle uit Egipte weg is. Daar in die woestyn het almal teen Moses en Aäron begin uitvaar: “Die HERE kon ons eerder in Egipte laat doodgaan het. Daar was ten minste genoeg om te eet. Nou het julle ons hier na die woestyn toe gebring sodat almal hier van honger kan doodgaan.”