EKSODUS 15:1-3
EKSODUS 15:1-3 Bybel vir almal (ABA)
Daarna het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die Here gesing. Hulle het gesê: “Ek wil sing vir die Here, want Hy is die Groot God. Hy het die perde en die manne wat op hulle ry, in die see gegooi. Ek kry my krag by die Here, Hy maak my sterk. Hy het my gered. Hy is my God, en ek sal Hom prys. Hy is die God van my voorvaders, en ek sal Hom eer. Die Here kan oorlog maak, sy Naam is die Here.
EKSODUS 15:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
TOE het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing; en dit is wat hulle gesê het: Ek wil sing tot eer van die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see gewerp. Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef. Die HERE is 'n krygsman; HERE is sy naam.
EKSODUS 15:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe het Moses en die Israeliete die volgende lied tot eer van die Here gesing: “Ek wil tot eer van die Here sing omdat Hy hoog verhewe is. Perd en strydwa het Hy in die see geslinger. Die Here is my krag en my beskerming. Hy het tot my redding gekom. Hy is my God, Hom roem ek, die God van my voorvaders, Hom prys ek. Die Here is oorwinnaar in die stryd, sy Naam is ‘die Here’!
EKSODUS 15:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe het Moses en die Israeliete hierdie lied vir die HERE gesing. Hulle het gesê: “Ek wil sing vir die HERE, want Hy is hoog verhewe. Die perd en sy ruiter het Hy in die see geslinger. My krag en sterkte is die HERE, en Hy was my redding. Hy is my God, en Hom sal ek vereer, die God van my vader, en Hom sal ek verheerlik. “Die HERE is 'n krygsman, HERE is sy Naam.
EKSODUS 15:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe het Moses en die kinders van Israel hierdie lied tot eer van die HERE gesing en gespreek en gesê: Ek wil tot eer van die HERE sing, want Hy het heerlik geseëvier; die perd en sy ruiter het Hy in die see gegooi. Die HERE is my sterkte en my psalm, en Hy het my tot heil geword; Hy is my God, en ek sal vir hom 'n woning gereed maak; my vader se God, en ek sal hom verhoog. Die HERE is 'n krygsman: die HERE is sy Naam.
EKSODUS 15:1-3 Die Boodskap (DB)
Moses en die Israeliete het toe ’n lied vir die Here gesing. Dit gaan so: “Ek wil oor die Here sing. Hy is geweldig groot. Hy gooi die perd en die oorlogswa in die see. My krag en my sterkte kom van die Here af. Hy is die Een wat my verlos. Hy is my God. Ek wil oor Hom sing. Hy was die God van my voorouers. Ek wil sê hoe wonderlik Hy is. “Die Here kan oorlog maak. Sy Naam waarvoor almal bang is, is ‘Die Here’.
EKSODUS 15:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moses en die Israeliete het toe hierdie lied vir die HERE gesing: Ek wil oor die HERE sing, want Hy is geweldig groot; Hy het perd en oorlogwa in die see gesmyt. My krag en my sterkte kom van die HERE. Hy gee my die oorwinning. Hy is my God. Ek wil Hom loof. Hy was my voorouers se God. Ek wil sy Naam verhoog. Die HERE is ’n vegter; sy Naam is “HERE”.