EKSODUS 12:23-28
EKSODUS 12:23-28 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer die Here verbykom om die Egiptenaars dood te maak, dan sal Hy die bloed aan die deur se raam sien en dan sal Hy verbygaan. Hy sal nie die dood by julle huise laat inkom om julle te laat sterf nie. Julle en julle nageslag moet altyd gehoorsaam wees en julle moet hierdie fees vier. Wanneer julle kom in die land wat die Here belowe het om vir julle te gee, dan moet julle altyd hierdie fees vier. En wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie fees?’ dan moet julle sê: ‘Dit is 'n Paasfees-offer vir die Here omdat Hy verbygegaan het by die Israeliete se huise in Egipte. Toe Hy die Egiptenaars doodgemaak het, het Hy ons nie doodgemaak nie.’ ” Die Israeliete het gekniel en hulle het die Here aanbid. Hulle het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron gesê het.
EKSODUS 12:23-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie. Onderhou dan hierdie saak as 'n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig. En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
EKSODUS 12:23-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie. “Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig. Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom. As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.” Toe het die volk in aanbidding gebuig. Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen.
EKSODUS 12:23-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE sal deur die land gaan om die Egiptenare te tref; en wanneer Hy die bloed aan die bokant en die twee sykante van die kosyn sien, sal die HERE by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om julle huise binne te gaan om julle te tref nie. “Kom hierdie saak na as 'n voorskrif wat vir altyd geld, vir jou en jou kinders. Wanneer julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy belowe het, moet julle hierdie gebruik nakom. Wanneer julle kinders julle vra, ‘Wat beteken hierdie gebruik vir julle?’ dan moet julle sê, ‘Dit is die •Pasgaoffer vir die HERE, Hy wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenare getref het. Ons huise het Hy egter gespaar.’ ” Die volk het toe gekniel en in aanbidding gebuig. Die Israeliete het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, het hulle gemaak.
EKSODUS 12:23-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars te verslaan; en as hy die bloed aan die bo-drumpel en aan die twee syposte sien, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om by julle huise in te gaan om julle te verslaan nie. En julle moet hierdie saak onderhou as 'n insetting vir jou en jou seuns tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die HERE julle sal gee, soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En dit sal gebeur as julle kinders vir julle sê: Wat bedoel julle met hierdie diens? dat julle moet sê: Dit is die pasga-offer van die HERE wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenaars verslaan en ons huise gered het. En die volk het die hoof gebuig en aanbid. En die kinders van Israel het weggegaan en gedoen soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen.
EKSODUS 12:23-28 Die Boodskap (DB)
Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie. “Julle moet altyd onthou wat daar gebeur het. Julle en julle kinders moet elke jaar op daardie dag terugdink aan wat daar in Egipte gebeur het. Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan. Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou, moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid. Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het.
EKSODUS 12:23-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE gaan deur die land trek om die Egiptenaars dood te maak. Wanneer Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deur sien, sal die HERE by daardie deur verbygaan. By daardie huis sal Hy nie toelaat dat die verwoester ingaan om hulle te tref nie. “Onthou dat hierdie ’n vasstaande voorskrif is wat ook vir julle nageslagte geld. Wanneer julle in die land kom wat die HERE belowe het om vir julle te gee, moet julle hierdie fees gereeld hou. Wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Waaroor gaan hierdie fees?’ moet julle antwoord: ‘Dit is die offer van die Paasfees vir die HERE. Hy het in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan. Hy het die Egiptenaars se oudste seuns doodgemaak, maar ons oorgesien en ons nie doodgemaak nie.’” Die volk het toe afgebuk en die HERE aanbid. Die Israeliete het presies net so gaan maak soos die HERE vir hulle deur Moses en Aäron gesê het.