EKSODUS 12:14-51

EKSODUS 12:14-51 Bybel vir almal (ABA)

Julle moet hierdie dag altyd onthou. Julle moet dan 'n fees vier om My te eer. Julle nageslag moet ook elke jaar hierdie fees vier.’ ” “ ‘Julle moet sewe dae lank ongesuurde brood eet. Op die eerste dag moet julle al die suurdeeg uit julle huise wegneem. As iemand van die eerste dag af tot die sewende dag suurdeeg eet, dan moet julle hom afsny van die volk. Die eerste en die sewende dag moet gewyde dae wees vir julle. Op hierdie dae mag niemand werk nie. Julle mag net kos maak, net die kos wat julle moet eet. Julle moet die Fees van die Ongesuurde Brood vier, want op hierdie dag het Ek julle uit Egipte gebring. Julle en julle nageslag moet hierdie fees elke jaar vier. Julle moet die fees in die eerste maand vier. Julle moet ongesuurde brood eet van die aand van die 14de dag tot die aand van die 21ste dag. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise wees nie. As iemand brood of iets anders eet wat suurdeeg in het, dan moet julle hom afsny van die volk. Julle moet hom afsny as hy iemand is wat in die land gebore is, en ook as hy 'n vreemdeling is. Julle mag nie brood eet wat suurdeeg in het nie. Julle moet ongesuurde brood eet in al julle huise.’ ” Moses het al die leiers van die Israeliete geroep en hy het vir hulle gesê: “Elkeen moet vir sy huisgesin 'n skaap of 'n bok gaan vang en hy moet dit vir die Paasfees slag. Dan moet julle elkeen 'n bossie hisop neem, dit in die bloed druk en die bloed smeer aan sy deur se raam. Niemand mag uit sy huis gaan voor die volgende oggend nie. Wanneer die Here verbykom om die Egiptenaars dood te maak, dan sal Hy die bloed aan die deur se raam sien en dan sal Hy verbygaan. Hy sal nie die dood by julle huise laat inkom om julle te laat sterf nie. Julle en julle nageslag moet altyd gehoorsaam wees en julle moet hierdie fees vier. Wanneer julle kom in die land wat die Here belowe het om vir julle te gee, dan moet julle altyd hierdie fees vier. En wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Wat beteken hierdie fees?’ dan moet julle sê: ‘Dit is 'n Paasfees-offer vir die Here omdat Hy verbygegaan het by die Israeliete se huise in Egipte. Toe Hy die Egiptenaars doodgemaak het, het Hy ons nie doodgemaak nie.’ ” Die Israeliete het gekniel en hulle het die Here aanbid. Hulle het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron gesê het. In die middel van die nag het die Here al die oudste seuns in Egipte laat sterf, almal, die oudste seun van die farao en ook die oudste seuns van die mans in die tronk. Die eerste manlike kleintjies van al die diere het ook gesterf. Die farao en al sy amptenare en al die Egiptenaars het daardie nag wakker geword en almal het baie gehuil, want in elke huis van die Egiptenaars het iemand gesterf. Die farao het daardie nag vir Moses en Aäron geroep en vir hulle gesê: “Julle moet van my mense weggaan, julle en die ander Israeliete. Gaan dien die Here, soos julle gevra het. Neem ook julle skape en bokke en julle beeste, soos julle gevra het. Gaan weg. Dan sal dit met my ook goed gaan.” Die Egiptenaars het vir die Israeliete gesê hulle moet gou weggaan uit die land. Hulle het gesê: “Ons sal almal sterf as julle nie weggaan nie.” Die Israeliete het hulle brood-deeg saamgeneem. Daar was nog nie suurdeeg in die deeg nie. Hulle het hulle skottels toegedraai met hulle klere en hulle het dit op hulle skouers gedra. Die Israeliete het gedoen wat Moses gesê het. Hulle het silwergoed en goue goed en klere vir die Egiptenaars gevra. Die Here het die Egiptenaars vriendelik gemaak met die Israeliete. Die Egiptenaars het alles gegee wat die Israeliete gevra het. So het die Israeliete die Egiptenaars se goed weggedra. Die Israeliete het van die stad Rameses na die stad Sukkot gegaan. Daar was 600 000 mans. Hulle het nie die vroue en kinders ook getel nie. Baie ander mense wat nie Israeliete was nie, het ook saam met hulle getrek. Die Israeliete het baie skape en bokke en beeste saamgeneem. Hulle het ongesuurde brood gebak van die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in die brood nie, want die Egiptenaars het hulle uit Egipte weggejaag en daar was nie tyd om padkos te maak nie. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gewoon. Presies op daardie dag, toe die 430 jaar verby was, het die Here se hele volk weggegaan. Daardie nag het die Here die Israeliete uit Egipte gebring. Dit is 'n nag wat nou aan die Here behoort. Al die Israeliete en hulle nageslag moet hierdie nag wakker bly en hulle moet die Here eer. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Julle moet die Paasfees só vier: Net Israeliete mag die Paasfees-kos eet. As iemand 'n slaaf gekoop het en die slaaf is besny, dan mag die slaaf ook die Paasfees-kos eet. Mense wat nie Israeliete is nie en wat vir julle werk of by julle woon, mag nie die Paasfees-kos eet nie. Julle moet die Paasfees-kos eet in die huis waar julle die kos maak. Julle mag nie die vleis uit die huis neem nie. Julle mag nie die dier se bene breek nie. Al die Israeliete moet die Paasfees vier. As 'n vreemdeling by jou woon, en hy wil die Paasfees vir die Here vier, dan moet jy hom eers besny. Jy moet hom en al die mans en seuns in sy huisgesin besny. Dan mag hy ook die fees kom vier. Hy is dan soos 'n Israeliet wat in die land gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag nie die Paasfees-kos eet nie. Julle moet dieselfde wet vir almal gebruik, vir die Israeliete en ook vir die vreemdelinge.” Al die Israeliete het gedoen presies soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Hulle vier die Paasfees nou nog op dieselfde dag wat die Here die Israeliete uit Egipte gebring het toe Hy hulle vrygemaak het.

EKSODUS 12:14-51 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees, en julle moet dit as 'n fees tot eer van die HERE vier. Julle moet dit in julle geslagte as 'n ewige insetting vier. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; alreeds op die eerste dag moet julle die suurdeeg uit julle huise verwyder. Want elkeen wat gesuurde brood eet, van die eerste dag af tot die sewende toe, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. En op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees; ook op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees. Daar mag géén werk op dié dae gedoen word nie; net wat deur elkeen geëet moet word, dit alleen mag deur julle berei word. Onderhou dan die ongesuurde brode, want op daardie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei. Daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte as 'n ewige insetting hou. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brode eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie. Want elkeen wat iets eet met suurdeeg in, dié siel moet uit die vergadering van Israel uitgeroei word, of hy al 'n vreemdeling is of 'n kind van die land. Julle mag niks eet met suurdeeg in nie. In al julle woonplekke moet julle ongesuurde brode eet. Moses het toe al die oudstes van Israel laat roep en aan hulle gesê: Gaan haal vir julle kleinvee vir julle families en slag die pasga. En neem 'n bossie hisop en steek dit in die bloed wat in die skottel is, en stryk aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte van die bloed wat in die skottel is. Maar niemand van julle mag uit die deur van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars swaar te tref. Maar wanneer Hy die bloed sien aan die bo-drumpel en aan die twee deurposte, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om in julle huise in te gaan om te slaan nie. Onderhou dan hierdie saak as 'n insetting vir jou en jou kinders tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En as julle kinders julle vra: Wat beteken die diens daar? dan moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die HERE, wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het, toe Hy die Egiptenaars getref maar ons huise gered het. Toe het die volk in aanbidding neergebuig. En die kinders van Israel het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En middernag het die HERE al die eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene toe wat in die gevangenis was, en al die eersgeborenes van die diere. Toe staan Farao in die nag op, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars, en daar was 'n groot gejammer in Egipte, want daar was geen huis waar geen dooie in was nie. Daarop het hy Moses en Aäron in die nag laat roep en gesê: Maak julle klaar, trek weg onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel, en gaan dien die HERE soos julle gespreek het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste saam soos julle gespreek het, en gaan weg en seën my ook. En die Egiptenaars het by die volk sterk aangehou — om hulle gou uit die land uit te stuur. Want hulle het gesê: Ons is almal dood! Toe neem die volk hulle deeg voordat dit ingesuur was, met hulle bakskottels, in hulle mantels toegebind, op die skouers. En die kinders van Israel het gehandel volgens die woord van Moses: hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue goed en klere geëis; en die HERE het aan die volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars, en dié het hulle versoek ingewillig. So het hulle dan die Egiptenaars berowe. En die kinders van Israel het van Raämses na Sukkot weggetrek, omtrent seshonderdduisend te voet, die manne buiten die kinders. En 'n menigte mense van gemengde bloed het ook saam met hulle opgetrek, en kleinvee en beeste — 'n groot hoeveelheid vee. En hulle het van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, ongesuurde koeke gebak; want dit was nie ingesuur nie, omdat hulle uit Egipte uitgedryf is, sodat hulle nie kon vertoef nie en ook geen padkos vir hulle klaargemaak het nie. En die tyd wat die kinders van Israel in Egipte gewoon het, was vierhonderd-en-dertig jaar. En ná verloop van vierhonderd-en-dertig jaar, op daardie selfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek. Dit is 'n nag om plegtig onderhou te word tot eer van die HERE, omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het. Dit is dié nag van die HERE om plegtig onderhou te word by al die kinders van Israel in hulle geslagte. VERDER het die HERE aan Moses en Aäron gesê: Dit is die insetting van die pasga: Géén uitlander mag daarvan eet nie. Maar elke slaaf wat 'n man met geld gekoop het, dié moet hy besny; dan kan hy daarvan eet. Geen vreemde inwoner of huurling mag daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vleis uit die huis buitentoe bring nie; en julle mag geen been daarvan breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit hou. En as 'n vreemdeling by jou vertoef en tot eer van die HERE die pasga wil vier, moet by hom almal wat manlik is, besny word; en dan mag hy nader kom om dit te vier, en hy sal soos 'n kind van die land wees. Maar géén onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die kind van die land en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. En al die kinders van Israel het dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En op daardie selfde dag het die HERE die kinders van Israel, volgens hulle leërafdelings, uit Egipteland uitgelei.

EKSODUS 12:14-51 Afrikaans 1983 (AFR83)

“Hierdie dag moet vir julle 'n gedenkdag wees. Julle moet dit as 'n fees tot eer van die Here vier. Vir julle nageslag moet dit 'n vaste instelling wees wat hulle moet vier. Sewe dae lank moet die brood wat julle eet, ongesuurde brood wees. Reeds op die eerste feesdag moet julle ontslae raak van suurdeeg in julle huise, want elkeen wat in die sewe dae gewone brood eet, moet van Israel afgesny word. Op die eerste en die sewende dag moet daar 'n gewyde byeenkoms wees. Op hierdie dae mag geen werk gedoen word nie, behalwe dat vir elkeen iets te ete voorberei kan word. “Onderhou die fees van die ongesuurde brood, want die eerste dag van die fees is die presiese dag waarop Ek julle stamme uit Egipte sal bevry het. Julle en julle nageslagte moet dié dag altyd as 'n vaste instelling vier. In die eerste maand moet julle van die aand van die veertiende af ongesuurde brood eet tot op die aand van die een en twintigste van die maand. Sewe dae mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie, want elkeen wat gewone brood eet, sal van die gemeente van Israel afgesny word. Dit geld vir vreemdelinge sowel as vir gebore Israeliete. Julle mag glad nie gewone brood eet nie. In al julle woonplekke moet julle net ongesuurde brood eet.” Moses het toe al die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Gaan vang vir julle gesinne elkeen 'n lam uit en slag die paaslam! Neem 'n bossie hisop, doop dit in 'n bak met bloed en smeer die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn. Nie een van julle mag by sy deur uitgaan voor die volgende môre nie. As die Here verbykom om die Egiptenaars te tref, sal Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deurkosyn sien en dié deur oorslaan. Hy sal nie die dood in julle huise laat kom om julle te tref nie. “Julle en julle kinders moet altyd hierdie voorskrif eerbiedig. Wanneer julle in die land kom wat die Here vir julle gaan gee soos Hy beloof het, moet julle hierdie verpligting nakom. As julle kinders sou vra: ‘Wat beteken hierdie verpligting?’ moet julle sê: Dit is 'n paasoffer aan die Here omdat Hy in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan het. Terwyl Hy die Egiptenaars getref het, het Hy ons huise gespaar.” Toe het die volk in aanbidding gebuig. Soos die Here vir Moses en Aäron beveel het, presies so het die Israeliete gedoen. Om middernag het die Here elke eersgeborene van Egipte laat sterf, van die kroonprins af, die eersgeborene van die farao, tot by die eersgeborene van die krygsgevangene in die tronk, selfs die eerstelinge van die diere. Toe die farao, al sy amptenare en al die Egiptenaars dié nag wakker word, het hulle almal bitterlik aan die huil gegaan, want daar was nie 'n enkele Egiptiese huis sonder 'n sterfgeval nie. Dieselfde nag nog het die farao vir Moses en Aäron laat roep en gesê: “Gee pad onder my mense uit, julle twee en al die ander Israeliete! Gaan dien die Here soos julle gevra het! Vat julle kleinvee en julle grootvee soos julle gevra het, en trek! En bid dan dat dit met my ook goed mag gaan.” Die Egiptenaars het sterk by die volk daarop aangedring om gou uit die land pad te gee, “want,” het hulle gesê, “anders is ons almal dood!” Die volk het toe hulle brooddeeg, sonder suurdeeg, in skottels gesit, dit in hulle klere toegedraai en dit so op hulle skouers gedra. Verder het die Israeliete die opdrag van Moses uitgevoer, naamlik om van die Egiptenaars silwer- en goue goed sowel as klere te eis. Die Here het gesorg dat die Egiptenaars aan sy volk goed doen, sodat hulle uit Egipte as buit kon wegdra wát hulle ook al geëis het. Die Israeliete het van Rameses af na Sukkot toe getrek. Behalwe die afhanklikes was daar sowat ses honderd duisend weerbare manne te voet. Daar het ook 'n menigte mense van ander afkoms saamgegaan en ook groot troppe kleinvee en baie beeste. Met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het, het hulle ongesuurde roosterkoeke gebak: dit was sonder suurdeeg omdat hulle uit Egipte gejaag is en nie kans gehad het om eers vir hulle padkos klaar te maak nie. Die Israeliete was vier honderd en dertig jaar in Egipte. Na vier honderd en dertig jaar, presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die hele volk van die Here uit Egipte weggetrek. Dit was die nag waarin die Here oor hulle gewaak het en hulle uit Egipte bevry het. Daarom behoort dié nag aan die Here en moet alle Israeliete en hulle nageslagte dié nag wakker bly. Die Here het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die voorskrifte in verband met die paasfees: geen nie-Israeliet mag daarvan eet nie; 'n slaaf wat deur iemand gekoop is, mag eers daarvan eet nadat hy besny is; geen bywoner of huurling mag daarvan eet nie. Dit moet geëet word in die huis waarvoor dit bedoel is. Van die vleis mag niks buitentoe geneem word nie. Geen been van die paaslam mag gebreek word nie. Die hele gemeente van Israel is verplig om die fees te vier. Die vreemdeling wat jou beskerming geniet en die paasfees van die Here wil vier, moet besny word, hy en al die mans en seuns by hom. Dan eers is hy soos 'n gebore Israeliet en kan hy daaraan deelneem. Iemand wat nie besny is nie, mag nie daarvan eet nie. Een en dieselfde bepaling moet geld vir die gebore Israeliet en vir die vreemdeling wat julle beskerming geniet.” Al die Israeliete het gedoen presies wat die Here vir Moses en Aäron beveel het. Presies op die dag waarop die fees nou gevier word, het die Here die stamme van Israel uit Egipte bevry.

EKSODUS 12:14-51 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

“ Hierdie dag moet vir julle dien as 'n herinneringsdag; julle moet dit as 'n fees ter ere van die HERE vier. As 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld, moet julle die dag feestelik vier. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brood eet. Reeds op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder; want elkeen wat iets eet wat met suurdeeg gebak is, vanaf die eerste tot die sewende dag – daardie persoon sal van Israel afgesny word. Op die eerste dag moet julle 'n heilige byeenkoms hou, en ook op die sewende dag. Geen werk moet op hierdie dae gedoen word nie; net wat elkeen moet eet, slegs dit mag vir julle voorberei word. Onderhou die Fees van die Ongesuurde Brood, want op hierdie bepaalde dag het Ek julle leërafdelings uit Egipteland gelei. Julle moet hierdie dag onderhou as 'n voorskrif wat altyd vir julle nageslagte geld. “ In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand, in die aand, moet julle ongesuurde brood eet, tot op die een-en-twintigste dag van die maand, in die aand. Sewe dae lank mag daar nie suurdeeg in julle huise gevind word nie; want elkeen wat iets eet met suurdeeg in – daardie persoon sal van die volksvergadering van Israel afgesny word, of hy nou 'n •vreemdeling of 'n gebore Israeliet is. Enigiets met suurdeeg in mag julle nie eet nie; in al julle woonplekke moet julle ongesuurde brood eet.” Moses het toe al die oudstes van Israel geroep en vir hulle gesê: “Vang en neem self lammers vir julle familiegroepe, en slag die Pasgalam. Neem 'n bossie marjolein en doop dit in die bloed wat in 'n bak is. Vee van die bloed wat in die bak is, aan die bokant en aan die twee sykante van die kosyne. En wat julle betref – niemand mag by die deur van sy huis uitgaan tot die volgende oggend nie. Die HERE sal deur die land gaan om die Egiptenare te tref; en wanneer Hy die bloed aan die bokant en die twee sykante van die kosyn sien, sal die HERE by die deur verbygaan en die vernietiger nie toelaat om julle huise binne te gaan om julle te tref nie. “Kom hierdie saak na as 'n voorskrif wat vir altyd geld, vir jou en jou kinders. Wanneer julle in die land kom wat die HERE aan julle sal gee soos Hy belowe het, moet julle hierdie gebruik nakom. Wanneer julle kinders julle vra, ‘Wat beteken hierdie gebruik vir julle?’ dan moet julle sê, ‘Dit is die •Pasgaoffer vir die HERE, Hy wat by die huise van die Israeliete in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenare getref het. Ons huise het Hy egter gespaar.’ ” Die volk het toe gekniel en in aanbidding gebuig. Die Israeliete het gegaan en dit gedoen. Soos die HERE Moses en Aäron beveel het, het hulle gemaak. Dit het teen middernag gebeur. Die HERE het alle eersgeborenes in Egipteland getref, van die eersgeborene van die farao wat op die troon gesit het tot die eersgeborene van die krygsgevangene in die kerker, ook al die eersgeborenes van die vee. Die farao het in die nag opgestaan, hy, al sy amptenare en al die Egiptenare. Daar was 'n harde geskreeu in Egipte, want daar was nie 'n enkele huis waar daar nie 'n dooie was nie. Hy het Moses en Aäron in die nag ontbied en gesê: “Maak gereed, trek weg onder my volk uit, julle en ook die Israeliete. Gaan dien die HERE soos julle gesê het. Neem julle kleinvee en ook julle grootvee, soos julle gesê het, en gaan! Maar seën my ook!” Die Egiptenare het by die volk daarop aangedring om gou te maak, sodat hulle hulle uit die land kon wegstuur; “want”, het hulle gesê, “almal van ons gaan sterf.” Toe sit die volk die deeg, voor dit nog ingesuur is, op hulle skouers – hulle knieskottels was in hulle kledingstukke toegedraai. Die Israeliete het gemaak soos Moses gesê het, en hulle het van die Egiptenare silwer- en goue voorwerpe en klere geëis. Dit was die HERE wat gesorg het dat die Egiptenare die volk goedgesind is, en die Egiptenare het aan hulle eise toegegee. So het hulle buit geneem van die Egiptenare. Die Israeliete het van Ramses af weggetrek op pad na Sukkot, ongeveer seshonderdduisend man te voet, afgesien van die afhanklikes. Ook 'n groot groep mense van ander afkoms het saam met hulle opgetrek; en ook nog kleinvee en beeste, baie groot troppe vee. Die Israeliete het van die deeg wat hulle uit Egipte saamgeneem het, ongesuurde roosterkoeke gebak, want die deeg was nie ingesuur nie. Omdat hulle uit Egipte weggejaag is, kon hulle nie talm nie, en selfs nie vir hulle padkos voorberei nie. Die tyd wat die Israeliete in Egipte gebly het, was vierhonderd-en-dertig jaar. Aan die einde van vierhonderd-en-dertig jaar, op presies dieselfde dag, het al die leërafdelings van die HERE uit Egipteland weggetrek. Dit was 'n nag waarin die HERE gewaak het om hulle uit Egipteland uit te lei. Daardie nag is 'n nag van waak tot eer van die HERE vir al die Israeliete deur hulle geslagte heen. Die HERE het vir Moses en Aäron gesê: “Dit is die vaste voorskrif vir die Pasga: Geen buitelander mag daarvan eet nie. Maar enige slaaf wat deur iemand met silwer gekoop is, mag, nadat jy hom besny het, daarvan eet. Geen bywoner of huurarbeider mag daarvan eet nie. Dit moet in een huis geëet word. Jy mag nie van die vleis uit die huis na buite neem nie. 'n Been daarin mag julle nie breek nie. Die hele volksvergadering van Israel moet dit vier. “ Wanneer 'n vreemdeling tydelik by jou is, en hy wil die Pasga vier tot eer van die HERE, moet al die manlike persone by hom besny word. Dan mag hy nader kom om dit te vier, en sal hy soos 'n gebore Israeliet wees. Enigiemand wat nie besny is nie, mag daarvan nie eet nie. Dieselfde wet geld vir gebore Israeliete en vir vreemdelinge wat tydelik tussen julle is.” Al die Israeliete het dit gedoen. Soos die HERE aan Moses en Aäron opdrag gegee het, het hulle dit gedoen. Op daardie selfde dag nog het die HERE die Israeliete uit Egipteland uitgelei, leërafdeling vir leërafdeling.

EKSODUS 12:14-51 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

En hierdie dag sal vir julle 'n gedenkdag wees; en julle moet dit vir die HERE 'n fees vier in julle geslagte; julle moet dit vir ewig 'n fees vier volgens 'n insetting. Sewe dae lank moet julle ongesuurde brode eet; ook op die eerste dag moet julle suurdeeg uit julle huise verwyder; want elkeen wat gesuurde brood eet van die eerste dag af tot die sewende dag, dié siel moet uit Israel uitgeroei word. En op die eerste dag moet daar 'n heilige samekoms wees, en op die sewende dag moet daar vir julle 'n heilige samekoms wees; daar mag geen werk in hulle gedoen word nie, behalwe wat elkeen moet eet, wat net van julle gedoen kan word. En julle moet die fees van die ongesuurde brode hou; want op hierdie selfde dag het Ek julle leërs uit Egipteland uitgelei; daarom moet julle hierdie dag in julle geslagte onderhou deur 'n ewige insetting. In die eerste maand, op die veertiende dag van die maand in die aand, moet julle ongesuurde brode eet tot die een en twintigste dag van die maand in die aand. Sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise gevind word nie; want elkeen wat eet wat gesuur is, dié siel moet uitgeroei word uit die vergadering van Israel, of hy 'n vreemdeling is of in die land gebore is. Julle mag niks eet wat gesuur is nie; in al julle woonplekke mag julle ongesuurde brode eet. Toe roep Moses al die oudstes van Israel en sê vir hulle: Trek uit en neem vir julle 'n lam volgens julle geslagte, en slag die pasga. En julle moet 'n bossie hisop neem en dit in die bloed doop wat in die skottel is, en die bo-drumpel en die twee syposte slaan met die bloed wat in die skottel is; en niemand van julle mag by die ingang van sy huis uitgaan tot die môre toe nie. Want die HERE sal deurtrek om die Egiptenaars te verslaan; en as hy die bloed aan die bo-drumpel en aan die twee syposte sien, sal die HERE by die deur verbygaan en die verderwer nie toelaat om by julle huise in te gaan om julle te verslaan nie. En julle moet hierdie saak onderhou as 'n insetting vir jou en jou seuns tot in ewigheid. En as julle in die land kom wat die HERE julle sal gee, soos Hy beloof het, moet julle hierdie diens onderhou. En dit sal gebeur as julle kinders vir julle sê: Wat bedoel julle met hierdie diens? dat julle moet sê: Dit is die pasga-offer van die HERE wat by die huise van die kinders van Israel in Egipte verbygegaan het toe Hy die Egiptenaars verslaan en ons huise gered het. En die volk het die hoof gebuig en aanbid. En die kinders van Israel het weggegaan en gedoen soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En dit het gebeur dat die HERE middernag al die eersgeborenes in Egipteland getref het, van die eersgeborene van Farao af wat op sy troon gesit het, tot die eersgeborene van die gevangene wat in die kerker was; en al die eersgeborenes van vee. En Farao het in die nag opgestaan, hy en al sy dienaars en al die Egiptenaars; en daar was 'n groot geskreeu in Egipte; want daar was nie 'n huis waar daar nie een dood was nie. En hy het Moses en Aäron in die nag geroep en gesê: Staan op en trek uit onder my volk uit, julle sowel as die kinders van Israel; en gaan dien die HERE soos julle gesê het. Neem ook julle kleinvee en julle beeste, soos julle gesê het, en gaan weg; en seën my ook. En die Egiptenaars het die volk dringend aangedring om hulle haastig uit die land uit te stuur; want hulle het gesê: Ons is almal dooies. En die volk het hulle deeg geneem voordat dit ingesuur is, terwyl hulle deegbakke in hulle klere op hulle skouers vasgebind was. En die kinders van Israel het gedoen volgens die woord van Moses; en hulle het van die Egiptenaars silwergoed en goue juwele en klere geleen. En die HERE het die volk guns gegee in die oë van die Egiptenaars, sodat hulle aan hulle geleen het wat hulle gevra het. En hulle het die Egiptenaars geplunder. En die kinders van Israel het van Raämses af na Sukkot getrek, omtrent seshonderd duisend te voet, manne, buiten die kinders. En 'n gemengde menigte het ook saam met hulle opgetrek; en kleinvee en beeste, ja, baie beeste. En hulle het ongesuurde koeke gebak van die deeg wat hulle uit Egipte gebring het, want dit was nie gesuur nie; omdat hulle uit Egipte gedryf is en nie kon vertoef nie, en hulle het vir hulle geen voedsel voorberei nie. En die verblyf van die kinders van Israel wat in Egipte gewoon het, was vier honderd en dertig jaar. En aan die einde van die vier honderd en dertig jaar, op dieselfde dag, het al die leërskare van die HERE uit Egipteland uitgetrek. Dit is 'n nag wat tot eer van die HERE onderhou moet word omdat Hy hulle uit Egipteland uitgelei het; dit is die nag van die HERE om onderhou te word deur al die kinders van Israel in hulle geslagte. Toe sê die HERE vir Moses en Aäron: Dit is die insetting van die pasga: Geen vreemdeling mag daarvan eet nie. Maar elkeen se dienaar wat vir geld gekoop word, as jy hom besny, dan moet hy daarvan eet. 'n Vreemdeling en 'n dagloner mag nie daarvan eet nie. In een huis moet dit geëet word; jy mag niks van die vlees uit die huis uitbring nie; en julle mag daarvan geen been breek nie. Die hele vergadering van Israel moet dit bewaar. En as 'n vreemdeling by jou vertoef en die pasga vir die HERE hou, laat al sy manlike besny word, en laat hom dan nader kom en dit hou; en hy sal wees soos een wat in die land gebore is, want geen onbesnedene mag daarvan eet nie. Een wet moet geld vir die inheemse en vir die vreemdeling wat onder julle vertoef. So het al die kinders van Israel gedoen; soos die HERE Moses en Aäron beveel het, so het hulle gedoen. En dit het gebeur op dieselfde dag dat die HERE die kinders van Israel volgens hulle leërs uit Egipteland uitgelei het.

EKSODUS 12:14-51 Die Boodskap (DB)

“Elke jaar wanneer julle hierdie fees hou, moet julle onthou wat in Egipte gebeur het. Dit moet ’n vaste datum op julle kalender wees wat julle elke jaar gebruik om fees te vier vir die Here. Sewe dae lank moet julle brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Reeds op die eerste dag van die fees moet julle alles wat suurdeeg in het, uit julle huise wegvat. As enigeen gedurende hierdie sewe dae brood eet wat met suurdeeg gemaak is, moet hy weggejaag word. Op die eerste en die laaste dag van die fees moet julle bymekaarkom om vir die Here kerk te hou. Op daardie dae mag julle glad nie aangaan met julle gewone werk nie. Julle mag wel op daardie dae vir julleself kos gaarmaak. “Julle moet elke jaar hierdie fees hou wanneer julle brode eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Julle moet onthou dat dít die dag is waarop Ek julle families uit Egipte laat wegtrek het. Die dag moet onder julle nasate ’n dag wees waarop hulle jaar na jaar in herinnering roep wat Ek vir julle in Egipte gedoen het. Vanaf die aand van die veertiende dag van daardie eerste maand, tot op die aand van die 21ste dag mag julle nie brood eet met suurdeeg in nie. Vir hierdie sewe dae mag daar nie ’n krieseltjie suurdeeg in enige van julle huise wees nie. As enigiemand, of hy iemand is wat van ’n ander land kom en of hy van geboorte ’n Israeliet is, in hierdie tyd enigiets met suurdeeg in eet, moet julle hom van julle af wegjaag. Niemand mag iets eet waarin daar suurdeeg is nie. Oral waar julle woon, moet julle dan brood eet wat sonder suurdeeg is.” Moses het die leiers van Israel bymekaar laat kom en vir hulle gesê: “Gaan kry nou vir elke gesin ’n lam sodat julle dit vir die paasfees kan slag. Julle moet die bloed in ’n bak opvang. Doop ’n takkie van ’n hisopboom in die bloed en verf daarvan aan die bokant en die sykante van julle huise se deurkosyne. Niemand mag uit sy huis uit weggaan voor die volgende oggend nie. Wanneer die Here die Almagtige in die nag deur Egipte trek om hulle met die dood te tref en Hy sien die bloed aan julle deurkosyne, sal Hy by daardie huis verbygaan. Hy sal nie die verwoester toelaat om daar in te gaan om die oudste seun dood te maak nie. “Julle moet altyd onthou wat daar gebeur het. Julle en julle kinders moet elke jaar op daardie dag terugdink aan wat daar in Egipte gebeur het. Wanneer julle in die land gaan woon wat die Here vir julle beloof het, moet julle hierdie fees elke jaar hou sonder om dit een keer oor te slaan. Wanneer julle kinders vir julle vra hoekom julle hierdie fees hou, moet julle vir hulle sê: ‘Ons slag die paaslam vir die Here omdat Hy by die huise van die Israeliete verbygegaan het toe Hy die oudste seuns in Egipte laat doodgaan het. Hy het ons huise gespaar en nie ons kinders laat doodgaan nie.’” Die volk het toe neergeval en tot die Here gebid. Hulle het teruggegaan na hulle huise toe en presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Teen middernag het die Here deur Egipte begin trek. Hy het in elke huis die seun wat eerste gebore is, laat doodgaan. Van die oudste seun van die farao wat na hom sou koning word, tot by die oudste seun van die man wat in die tronk sit, is almal dood. Selfs onder die vee het dié wat eerste gebore is, gevrek. Die farao en al sy belangrikste mense en al die mense wat in Egipte bly, het daardie nag uit die bed uit opgestaan. ’n Hartverskeurende gehuil kon deur die hele Egipte gehoor word. Daar was nie een enkele huis waarin daar nie daardie nag iemand dood is nie. Terwyl dit nog nag was, het die farao Moses en Aäron laat kom. Hy het by hulle gepleit: “Loop asseblief weg uit my land uit! Gee tog pad van my volk af, julle en al wat ’n Israeliet is! Loop aanbid die Here soos julle aangehou het om te vra. Vat al julle kleinvee en al julle beeste saam waarop julle so aangedring het om saam met julle te vat. Gaan tog net weg. Moenie my verder iets toewens wat sleg is nie.” Ook al die Egiptenaars het by die volk gepleit dat hulle tog so gou moontlik moet weggaan. “Anders,” het hulle gesê, “sal ons nog almal doodgaan.” Die volk het die deeg wat hulle vir die brood geknie het, net so sonder suurdeeg in broodpanne gesit. Hulle het dit in klere toegedraai en op hulle skouers gesit om dit weg te vat. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle silwer en goue juweliersware en klere te gee. Die Here het gemaak dat die Egiptenaars gewillig was om dit vir hulle te gee. Hulle het nie omgegee om vir die Israeliete alles te gee wat die volk van hulle gevra het nie. Die Israeliete het die Egiptenaars behoorlik kaal uitgetrek. Die Israeliete het te voet van Rameses af begin loop in die rigting van Sukkot. As hulle afhanklikes nie bygereken word nie, was daar altesaam 600 000 mans. Daar het ook ’n hele klomp mense saam met hulle getrek wat nie Israeliete was nie. Daar was ook ’n groot klomp kleinvee en beeste. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle uit Egipte saamgebring het. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so vinnig uit Egipte padgee dat daar nie nog tyd was om eers padkos te maak nie. Die tyd wat Israel in Egipte gebly het, was altesaam 430 jaar. Presies op die dag dat dit 430 jaar was, het die mense van die Here uit Egipte padgegee. Dit was ’n nag om baie lank nog te onthou toe die Here dit laat gebeur het dat hulle uit Egipte kon wegtrek. Dit is ’n nag wat die Israeliete en hulle nageslag vir die Here moet onthou. Die Here het vir Moses en Aäron nog meer reëls vir die paasviering gegee: “As iemand nie ’n Israeliet is nie, mag hy nie saam die paaslam eet nie. ’n Slaaf wat met geld gekoop is, mag daarvan eet, maar hy moet reeds besny wees. Iemand wat net vir ’n tyd in die land bly, of gehuur is om ’n bepaalde stuk werk te doen mag nie saam eet nie. Die paaslam moet in die huis geëet word waar dit geslag is. Daar mag niks van die vleis uit daardie huis weggevat word nie. Die bene van die paaslam moet nie gebreek word nie. Almal in die gemeenskap moet aan die fees deelneem. Wanneer daar buitelanders is wat onder julle woon en hulle wil saam met julle die paasfees van die Here vier, moet al hulle mans eers besny word. Hulle sal dan as Israeliete beskou word wat saam met julle paasfees mag vier. Iemand wat nog glad nie besny is nie, mag ook nie die paasfees eet nie. Presies dieselfde reël moet gebruik word vir die Israeliete as vir die buitelanders wat tussen julle woon.” Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses en Aäron gesê het. Die paasfees is die eerste keer gevier op presies dieselfde dag as waarop die Here die families van Israel uit Egipte laat wegtrek het.

EKSODUS 12:14-51 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

“Hierdie dag moet altyd gevier word as ’n dag van herinnering. Dit is ’n spesiale feesdag van die HERE wanneer julle nageslag moet onthou wat Hy gedoen het. Julle moet sewe dae lank brood eet wat nie met suurdeeg gemaak is nie. Op die eerste dag al moet julle alle suurdeeg uit julle huise wegvat. Enigeen wat gedurende hierdie sewe dae brood eet waarin daar suurdeeg is, moet uit die samelewing weggejaag word. Op die eerste en weer op die sewende dag moet julle bymekaarkom vir die HERE. Op daardie dae mag niks anders gedoen word nie, behalwe om kos te maak. “Die Fees van die Ongesuurde Brood moet by julle ’n vaste instelling wees. Julle moet altyd in herinnering roep dat dit op daardie dag was dat Ek julle stamme uit Egipte laat wegkom het. Hierdie dag moet altyd onthou word. Van die aand van die veertiende dag van die maand af tot op die aand van die 21ste van die maand, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is. Vir sewe dae lank mag daar geen suurdeeg in julle huise wees nie. Enigiemand wat gedurende hierdie tyd iets eet met suurdeeg in sal uit die gemeenskap van Israel weggejaag word. Dit geld vir sowel gaste wat by julle oorbly as gebore Israeliete. Julle mag gedurende daardie tyd niks eet wat suurdeeg in het nie. Waar julle ook al woon, mag julle net brood eet wat sonder suurdeeg gemaak is.” Moses het toe die leiers van Israel bymekaargeroep en vir hulle gesê: “Laat elke gesin vir hulle ’n rammetjie vang sodat hulle dit vir die Paasfees kan slag. Vang die dier se bloed op in ’n houer. Vat dan ’n takkie van ’n hisopboom en doop dit in die bloed. Verf dan die bloed bo-aan die kosyn met die hisoptak en aan die kant van die huis se deur. Niemand mag by die deur uitgaan voor die volgende oggend nie. Die HERE gaan deur die land trek om die Egiptenaars dood te maak. Wanneer Hy die bloed aan die bokant en die sykante van die deur sien, sal die HERE by daardie deur verbygaan. By daardie huis sal Hy nie toelaat dat die verwoester ingaan om hulle te tref nie. “Onthou dat hierdie ’n vasstaande voorskrif is wat ook vir julle nageslagte geld. Wanneer julle in die land kom wat die HERE belowe het om vir julle te gee, moet julle hierdie fees gereeld hou. Wanneer julle kinders vir julle vra: ‘Waaroor gaan hierdie fees?’ moet julle antwoord: ‘Dit is die offer van die Paasfees vir die HERE. Hy het in Egipte die Israeliete se huise oorgeslaan. Hy het die Egiptenaars se oudste seuns doodgemaak, maar ons oorgesien en ons nie doodgemaak nie.’” Die volk het toe afgebuk en die HERE aanbid. Die Israeliete het presies net so gaan maak soos die HERE vir hulle deur Moses en Aäron gesê het. Teen middernag het die HERE al die Egiptiese seuns wat eerste gebore is, laat sterf, vanaf die farao wat oor die land regeer se oudste seun tot by die oudste seun van die gevangene wat in die tronk sit. Selfs die vee wat eerste gebore is, het gevrek. Die farao, sy amptenare en al die mense van Egipte het in die nag wakker geword en opgestaan. Deur die hele Egipte kon gehoor word hoe mense droewig huil. Daar was nie ’n enkele huis waarin daar nie iemand dood is nie. Gedurende dieselfde nag nog het die farao Moses en Aäron laat roep. “Maak dat julle wegkom!” het hy geskreeu. “Julle en al die Israeliete moet padgee van my volk af. Gaan en dien die HERE soos julle gevra het. Vat julle skape en beeste saam met julle soos julle gevra het en maak dat julle wegkom! Onthou net om my te seën wanneer julle gaan!” Die Egiptenaars het by die volk gesoebat om so gou moontlik uit die land pad te gee, want hulle het gedink: “Ons sal nog almal doodgaan!” Die Israeliete het die brooddeeg waarin daar nie suurdeeg is nie, in broodpanne gesit, in klere toegedraai en dit op hulle skouers saamgevat. Die Israeliete het gemaak soos Moses vir hulle gesê het. Hulle het die Egiptenaars gedwing om vir hulle goue en silwerjuweliersware en klere te gee. Die HERE het die Egiptenaars gewillig gemaak om vir die Israeliete alles te gee wat hulle van hulle geëis het. Israel het Egipte behoorlik geplunder. Die Israeliete het begin loop van Rameses af na Sukkot toe. Buiten die vroue en kinders was daar sowat 600 000 mans. Daar het ook baie mense saamgegaan wat nie Israeliete was nie. Hulle het ook troppe skape en bokke saam met hulle gehad. Hulle het brood gebak met die deeg wat hulle saamgebring het uit Egipte. Daar was nie suurdeeg in nie. Hulle moes so haastig padgee uit Egipte dat daar nie nog tyd was om padkos te maak nie. Die Israeliete het 430 jaar lank in Egipte gebly. Presies aan die einde van die 430 jaar is die HERE se mense uit Egipte weg. Die HERE het hierdie nag gekies om hulle uit Egipte te laat trek. Hierdie nag het aan die HERE behoort. Dit sal vir altyd in Israel onthou word. Die HERE het toe vir Moses en Aäron gesê: “Die reëlings vir die Paasfees is soos volg: Iemand wat nie aan Israel behoort nie, mag nie saam eet nie. ’n Slaaf wat gekoop is, mag wel saam eet, mits hy besny is. Mense wat gehuur word of trekarbeiders mag nie saam eet nie. Dié wat die rammetjie deel, moet dit saam eet in een huis. Julle mag nie van die vleis buitentoe vat nie. Julle moet ook nie sy bene breek nie. Al die Israeliete moet deelneem aan die fees. “As daar ’n buitelander tussen julle is wat aan die fees wil deelneem, moet hy en almal in sy huis wat manlik is, eers besny word. Hulle mag dan saam met julle aan die fees deelneem. Dit sal wees asof hulle tussen julle gebore is. Iemand wat nie besny is nie, mag egter glad nie aan die fees deelneem nie. Dieselfde reël geld vir almal, of hulle nou in Israel gebore is en of dit iemand is wat uit die buiteland by julle kom woon het.” Die Israeliete het toe presies net so gemaak soos die HERE vir Moses en Aäron gesê het. Op dieselfde dag waarop die fees nog tans gevier word, het die HERE die stamme van Israel uit Egipte gelei.