EKSODUS 1:18-22
EKSODUS 1:18-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Egiptiese koning het die vroedvroue ontbied en vir hulle gevra: “Waarom doen julle dit? Waarom laat julle die seuntjies lewe?” Toe antwoord die vroedvroue die farao: “Die Hebreeuse vrouens is nie soos dié van Egipte nie, hulle is sterk van gestel: voordat die vroedvrou by hulle kom, is die kind al gebore.” As gevolg hiervan het die volk aanhou vermeerder en baie talryk geword. God het toe die vroedvroue self ook voorspoedig gemaak. Omdat hulle Hom gedien het, het Hy vir hulle huisgesinne gegee. Daarna het die farao sy hele volk beveel: “Julle moet elke pasgebore seuntjie in die Nyl gooi, maar spaar die dogtertjies se lewe.”
EKSODUS 1:18-22 Die Boodskap (DB)
Die koning het toe die twee vroue laat kom. Hy vra vir hulle: “Nou hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” Die verpleegsters het die farao geantwoord: “Omdat die Hebreeuse vroue nie so sukkel soos die Egiptiese vroue nie. Teen die tyd dat die verpleegster by hulle kom om hulle te help is die babatjie al klaar gebore en dan kan ons niks daaraan doen nie.” Die Israeliete het op dié manier net al meer en al sterker geword. Die verpleegsters het respek vir God gehad. Daarom was Hy goed vir hulle en het hulle ook kinders laat kry. Die farao het toe al die Egiptenaars beveel om alle pasgebore Israelitiese seuntjies in die Nyl te gooi. Hulle moes die dogtertjies egter laat bly lewe.
EKSODUS 1:18-22 Bybel vir almal (ABA)
Die koning van Egipte roep toe die vroedvroue en vra vir hulle: “Hoekom doen julle nie wat ek gesê het nie? Hoekom maak julle nie die seuns dood nie?” Die vroedvroue het vir die farao gesê: “Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese vroue nie. Die Hebreeuse vroue is sterk. Wanneer die vroedvrou by hulle kom, dan is die kind al klaar gebore.” God was goed vir die twee vroedvroue. God het vir hulle kinders gegee omdat hulle gehoorsaam was aan Hom. Die Israeliete het baie geword, hulle het 'n sterk volk geword. Daarom het die farao vir al sy mense gesê: “Julle moet elke Hebreeuse seuntjie wat gebore word, in die Nyl-rivier gooi. Maar moenie die dogtertjies doodmaak nie.”
EKSODUS 1:18-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe laat die koning van Egipte die vroedvroue roep, en hy sê vir hulle: Waarom het julle dit gedoen en die seuntjies laat lewe? En die vroedvroue sê vir Farao: Die Hebreeuse vroue is nie soos die Egiptiese nie, want hulle is sterk — voordat die vroedvrou by hulle kom, het hulle al gebaar. Maar God het aan die vroedvroue weldadigheid bewys. En die volk het vermenigvuldig en baie magtig geword. En omdat die vroedvroue God gevrees het, het Hy huisgesinne aan hulle geskenk. Toe gee Farao aan sy hele volk bevel en sê: Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl werp, maar al die dogters kan julle laat lewe.
EKSODUS 1:18-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die koning van Egipte het toe die vroedvroue ontbied en vir hulle gesê: “Waarom het julle dit gedoen? Julle laat die seuntjies leef!” “Omdat,” antwoord die vroedvroue toe die farao, “die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie – hulle is vol lewenskrag. Voordat die vroedvrou by hulle uitkom, het hulle klaar geboorte gegee.” En God het die vroedvroue goed behandel. Die volk se getalle het vermeerder en hulle het besonder baie geword. Omdat die vroedvroue vir God ontsag gehad het, het Hy vir hulle huisgesinne voorsien. Die farao het toe sy hele volk beveel: “Al die seuns wat gebore word, moet julle in die Nyl gooi, maar al die dogters moet julle laat leef.”
EKSODUS 1:18-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En die koning van Egipte het die vroedvroue laat roep en vir hulle gesê: Waarom het julle hierdie ding gedoen en die seuntjies in die lewe gebring? Toe sê die vroedvroue vir Farao: Omdat die Hebreeuse vroue nie is soos die Egiptiese vroue nie; want hulle is lewendig en word verlos voordat die vroedvroue by hulle inkom. Daarom het God die vroedvroue goed gehandel, en die volk het vermeerder en baie magtig geword. En omdat die vroedvroue God gevrees het, het hy vir hulle huise gemaak. En Farao het aan sy hele volk bevel gegee en gesê: Elke seun wat gebore word, moet julle in die Nyl gooi, en elke dogter moet julle in die lewe red.
EKSODUS 1:18-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die koning het die vroue toe laat roep en vir hulle gevra: “Hoekom maak julle so? Hoekom laat julle die seuntjies bly lewe?” “Meneer,” het die vroue geantwoord, “die Hebreeuse vroue is baie sterk. Teen die tyd dat die kraamverpleegster by hulle kom, het hulle alreeds geboorte gegee. Hulle is nie so stadig om geboorte te gee soos die vroue van Egipte nie.” God het dit goed laat gaan met die kraamverpleegsters. Die Israeliete het steeds al meer en al sterker geword. Omdat hierdie vroue in die HERE geglo het, het Hy vir hulle ook huisgesinne van hulle eie gegee. Die farao het toe aan al sy mense opdrag gegee: “Elke Israelitiese seuntjie wat gebore word, moet julle in die Nylrivier verdrink. Julle kan die dogtertjies maar laat lewe.”