EFESIËRS 5:25-30
EFESIËRS 5:25-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
EFESIËRS 5:25-30 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief. ’n Mens haat mos nie jou liggaam nie, maar voed en versorg dit. Christus maak net so met ons, die kerk, omdat ons ledemate van sy liggaam is.
EFESIËRS 5:25-30 Bybel vir almal (ABA)
Mans, julle moet lief wees vir julle vroue, soos Christus lief is vir die kerk. Christus het gesterf sodat die kerk kan lewe. Hy het gesterf sodat die kerk, die gelowiges, aan God kan behoort. Nou is hulle rein, want hulle is gedoop en Christus het gesê hulle behoort aan Hom. Christus het gesterf sodat die kerk sy bruid kan wees, 'n bruid wat baie mooi is. Christus wou hê die gelowiges moet niks sonde doen nie en hulle moet heeltemal reg lewe. Die mans moet so lief wees vir hulle vroue, so lief soos Christus vir die kerk is. Ja, die mans moet lief wees vir hulle vroue, so lief soos hulle vir hulleself is. As mans lief is vir hulle vroue, dan is hulle ook lief vir hulleself. Mense is altyd lief vir hulleself en hulle sorg goed vir hulle eie liggame. Christus sorg ook so vir sy liggaam, die kerk, en ons behoort almal aan die kerk, sy liggaam.
EFESIËRS 5:25-30 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief; want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy bene.
EFESIËRS 5:25-30 Afrikaans 1983 (AFR83)
Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief, want niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie. Inteendeel, hy voed en versorg dit, soos Christus met sy kerk doen omdat dit sy liggaam is, waarvan ons lede is.
EFESIËRS 5:25-30 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief. Niemand het nog ooit sy eie liggaam gehaat nie; inteendeel, hy voed en koester dit, soos Christus sy •kerk. Ons is immers lede van sy liggaam.
EFESIËRS 5:25-30 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Mans, julle moet julle vrouens liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor gegee het; sodat Hy dit kan heilig en reinig met die waterbad deur die woord, sodat hy dit vir homself 'n heerlike gemeente kan stel, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek moet wees. So behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief. Want niemand het nog ooit sy eie vlees gehaat nie; maar voed en koester dit, net soos die Here die gemeente. Want ons is lede van sy liggaam, van sy vlees en van sy gebeente.
EFESIËRS 5:25-30 Die Boodskap (DB)
Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik. Ek het nog nie van iemand gehoor wat homself vurig haat nie. Nee, hy kyk liewer na homself en versorg homself mooi. Dit is wat Jesus met die kerk doen, want die kerk is vir Hom sy eie liggaam.