EFESIËRS 5:21-28
EFESIËRS 5:21-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wees onderdanig aan mekaar, uit ontsag vir •Christus. Vroue, wees onderdanig aan julle mans, soos aan die Here, omdat die man die hoof is van die vrou, soos Christus ook hoof is van die •kerk; Hy is Verlosser van die liggaam. Maar soos die kerk onderdanig is aan Christus, so ook moet die vroue in alle opsigte aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê, soos ook Christus die kerk liefgehad het en Homself ter wille van haar oorgegee het, sodat Hy haar kon heilig, deurdat Hy haar gereinig het deur die was met water en die woord. Dit het Hy gedoen, sodat Hy vir Homself die kerk in heerlikheid daar kan stel, sonder vlek of rimpel of enigiets dergeliks, heilig en sonder smet. Net so is die mans verplig om hulle eie vroue soos hulle eie liggame lief te hê. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief.
EFESIËRS 5:21-28 Bybel vir almal (ABA)
Julle respekteer vir Christus, daarom moet julle mekaar dien. Vroue, julle dien die Here, daarom moet julle ook julle mans dien, want die man is die hoof van sy vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Die kerk is Christus se liggaam en Hy het die kerk gered. Maar die kerk dien vir Christus, en so moet die vroue ook altyd hulle mans dien. Mans, julle moet lief wees vir julle vroue, soos Christus lief is vir die kerk. Christus het gesterf sodat die kerk kan lewe. Hy het gesterf sodat die kerk, die gelowiges, aan God kan behoort. Nou is hulle rein, want hulle is gedoop en Christus het gesê hulle behoort aan Hom. Christus het gesterf sodat die kerk sy bruid kan wees, 'n bruid wat baie mooi is. Christus wou hê die gelowiges moet niks sonde doen nie en hulle moet heeltemal reg lewe. Die mans moet so lief wees vir hulle vroue, so lief soos Christus vir die kerk is. Ja, die mans moet lief wees vir hulle vroue, so lief soos hulle vir hulleself is. As mans lief is vir hulle vroue, dan is hulle ook lief vir hulleself.
EFESIËRS 5:21-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en aan mekaar onderdanig is in die vrees van God. VROUE, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus ook Hoof is van die gemeente; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees. Manne, julle moet jul eie vroue liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor oorgegee het om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord, sodat Hy die gemeente voor Hom kon stel, verheerlik, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek sou wees. So behoort die mans hulle eie vroue lief te hê soos hul eie liggame. Wie sy eie vrou liefhet, het homself lief
EFESIËRS 5:21-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wees uit eerbied vir Christus aan mekaar onderdanig. Vrouens, wees aan julle mans onderdanig, net soos julle aan die Here onderdanig is. Die man is die hoof van die vrou, soos Christus die hoof van die kerk is. Christus is ook die Verlosser van die liggaam, sy kerk. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet die vrouens in alles aan hulle mans onderdanig wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê soos Christus die kerk liefgehad en sy lewe daarvoor afgelê het. Dit het Hy gedoen om die kerk aan God te wy, nadat Hy dit met die water en die woord gereinig het, sodat Hy die kerk in volle heerlikheid by Hom kan neem, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks, heilig en onberispelik. Die mans behoort hulle vrouens so lief te hê soos hulle eie liggame. Wie sy vrou liefhet, het homself lief
EFESIËRS 5:21-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Onderwerp julle aan mekaar in die vrees van God. Vrouens, wees aan julle eie mans onderdanig, soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, net soos Christus die Hoof van die gemeente is, en Hy is die Verlosser van die liggaam. Daarom, soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue in alles aan hulle eie mans wees. Mans, julle moet julle vrouens liefhê, soos Christus ook die gemeente liefgehad en Homself daarvoor gegee het; sodat Hy dit kan heilig en reinig met die waterbad deur die woord, sodat hy dit vir homself 'n heerlike gemeente kan stel, sonder vlek of rimpel of iets dergeliks; maar dat dit heilig en sonder gebrek moet wees. So behoort mans hulle vrouens lief te hê soos hulle eie liggame. Hy wat sy vrou liefhet, het homself lief.
EFESIËRS 5:21-28 Die Boodskap (DB)
Omdat julle soveel respek vir Christus het, moet die een nie dink hy is beter of belangriker as die ander nie. Elkeen moet bereid wees om dáár te wees vir die ander een. Laat ek eers met die vroue praat. Jy moet die leiding van jou man aanvaar soos ons die leiding van die Here aanvaar. Die man moet die leiding oor sy vrou neem soos Christus die leiding in sy kerk neem. Hy het mos sy kerk uit die kloue van die sonde gered. Soos die kerk dus die leiding van Christus aanvaar, so moet die vrou ook haar man se leiding in alles aanvaar. Vir die man wil ek die volgende sê: Jy moet jou vrou liefhê; wees lojaal teenoor haar en kom jou verpligtings teenoor haar na soos Christus dit teenoor sy kerk doen. Hy het selfs sy lewe ter wille van die kerk gegee toe dit nodig was. Dit het Hy gedoen sodat die kerk net God s’n kan wees en daar niks in die kerk moet wees wat nie by God pas nie. Dit het gebeur deur die doop en die Woord. So sal die kerk in ongekende heerlikheid by Hom wees. Daar sal niks met die kerk verkeerd wees nie en niemand sal enige fout met die kerk kan vind nie. Die kerk sal net God s’n wees en net vir Hom daar wees. Die man behoort net so lief te wees vir sy vrou as wat hy vir homself is. Buitendien, die man wat sy vrou liefhet, het eintlik homself lief, want hulle is mos een in die huwelik.
EFESIËRS 5:21-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat julle respek het vir Christus, moet julle aan mekaar onderdanig wees. Vroue, julle moet aan julle mans onderdanig wees, soos aan die Here. Op dieselfde manier wat Christus hoof is van die kerk, is ’n man hoof van sy vrou. Christus het sulke hoofskap uitgeoefen toe Hy die kerk verlos het. Soos die kerk aan Christus onderdanig is, moet julle, vroue, in alles elkeen aan julle eie man onderdanig wees. Mans, julle moet julle vroue liefhê net soos Christus die kerk liefgehad het toe Hy sy lewe daarvoor gegee het om só die kerk aan God toe te wy nadat Hy die kerk met die water en deur die woord gereinig het en sodat Hy die kerk in al sy skoonheid voor Hom kan stel, nie met enige vlek of plooi of enige ander onsierlikheid nie, maar aan God toegewy en onberispelik. Op dieselfde manier moet mans hulle eie vroue liefhê. Hulle moet hulle liefhê asof hulle hulle eie liggame is. ’n Man wat sy eie vrou liefhet, het dus eintlik homself lief.