EFESIËRS 4:3-32

EFESIËRS 4:3-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is. Maar aan elkeen van ons is 'n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.” “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus. Die doel hiervan is dat ons nie meer klein kindertjies sal wees nie, wat deur onstuimige golwe rondgeslinger word en rondgewaai word deur elke wind van lering, deur mense se slinksheid en die gekonkel waardeur hulle dwaling beplan; maar dat ons eerder, terwyl ons in liefde aan die waarheid vashou, in alle opsigte na Hom toe sal groei. Hy, Christus, is die Hoof uit wie die hele liggaam, harmonieus saamgevoeg en saamgebind, deur die ondersteuning van elke gewrig, volgens die werking van elke deel afsonderlik, die groei van die liggaam bewerk tot sy eie opbou in liefde. Dit sê en bevestig ek dan in die Here: Julle moenie meer soos die heidene met hulle niksbeduidende gedagtes leef nie. Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe met God, omdat hulle onkundig is, deur die hardheid van hulle harte. Omdat hulle gevoelloos geword het, het hulle hulleself oorgegee aan losbandigheid, om onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg. Maar julle het •Christus nie so leer ken nie. Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware •geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is. Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie. Die een wat nog steel, moet nie meer steel nie; hy moet eerder werk deur met sy eie hande te doen wat goed is, sodat hy iets het om vir die behoeftige te gee. Nie 'n enkele afbrekende woord moet uit julle mond kom nie, maar eerder 'n woord wat goed is vir noodsaaklike opbou, sodat dit voordeel mag bring vir diegene wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God, deur wie julle met die oog op die dag van bevryding verseël is nie. Laat vaar alle bitterheid en woede en gramskap en geskreeu en gelaster, saam met elke vorm van kwaad. Wees goedgesind teenoor mekaar, met innige meelewing, terwyl julle mekaar vergewe, soos God in •Christus julle ook vergewe het.

EFESIËRS 4:3-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het. Daar is net één liggaam en één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping – één Here, één geloof, één doop, één God, ons almal se Vader; Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal. Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.” Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen. Dan, as mense ons met slinksheid en slimstreke op verkeerde paaie wil lei, sal ons nie meer soos klein kindertjies wees nie. Ons sal nie meer omgewaai of weggewaai word deur die wind van elke ding wat hulle verkondig nie. Nee, terwyl ons mekaar liefhet, sal ons by die waarheid bly en so in alle opsigte groei om soos Christus te wees. Dit werk so: Christus is die Hoof. Onder leiding van die Hoof is die liggaam goed aanmekaargesit. Al die ondersteunende ligamente hou die liggaam bymekaar. Elke liggaamsdeel vervul sy bestemde funksie, en so, deur liefde te bewys, bou die liggaam homself op. Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend; hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie. Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid. Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie! Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Hom onderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer, naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan. Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam. Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ’n houvas gee nie. Die dief moet ophou steel en eerder hard werk. Hy moet sy eie hande vir eerlike werk gebruik sodat hy iets kan hê om met mense in nood te deel. Moenie enige vuil taal gebruik nie. Gebruik eerder die regte, opbouende woorde wat nodig is om dié wat luister, te bevoordeel. Ja, moenie God se Heilige Gees hartseer maak nie. In julle eenheidsband met die Heilige Gees lê julle waarborg dat julle God se verlossingsdag sal belewe. Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak, geskel en gevloek. Wees eerder vriendelik met mekaar. Gee vir mekaar om. Vergewe mekaar soos God julle vergewe het op grond van wat Christus gedoen het.

EFESIËRS 4:3-32 Bybel vir almal (ABA)

Die Heilige Gees het julle saamgebind soos een liggaam. Julle moet baie hard probeer om te lewe soos mense wat een liggaam is, julle moet in vrede lewe. Julle is een, en soos 'n mens net een liggaam het, so het julle almal dieselfde Heilige Gees in julle harte. Want God het julle almal gekies, julle almal behoort aan Hom, en julle is nou almal seker dat God sal doen wat Hy belowe het. Julle het almal een Here, julle glo dieselfde dinge, julle is almal gedoop. Julle behoort almal aan dieselfde God. Hy is die Vader van almal. Hy regeer oor almal en oor alles, Hy laat almal en alles vir Hom werk, Hy is in almal. Christus het vir elkeen van ons die genadegawe gegee wat Hy vir ons wou gee. Die genadegawe wat Hy vir ons gegee het, is soos 'n present. Daarom lees ons in die Ou Testament: Hy het opgegaan na die hemel en Hy het gevangenes saamgeneem, Hy het vir die mense presente gegee. Ons lees: Hy het opgegaan. Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer. En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer. Christus wil hê hierdie mense moet God se mense help sodat hulle beter en beter vir God kan werk, en sodat die kerk sterker en groter kan word, die kerk wat soos Christus se liggaam is. Christus wil hê ons moet almal dieselfde dinge glo en ons moet Hom, die Seun van God, baie goed ken. Ons moet soos kinders wees wat grootgeword het en wat nou grootmense is, soos Christus wat is soos God wil hê Hy moet wees. Daar is mense wat skelm is, hulle wil hê ons moet dinge glo wat nie waar is nie. Hulle kom vertel vir ons dinge wat verkeerd is en hulle wil hê ons moet dit glo. Maar ons moenie dit glo nie, ons moenie soos kinders wees nie, of soos iets wat op die see ronddryf of wat in die wind heen en weer waai nie. Ons moet altyd die waarheid praat en altyd lief wees vir mekaar. So word ons meer en meer soos Christus, Hy is ons Hoof. Die kerk is soos 'n liggaam wat baie dele het, die dele is almal vas aan mekaar. Elke deel van die liggaam werk saam en help die liggaam om te groei en sterker te word. So laat Christus die kerk groei en sterker word. Dit gebeur wanneer ons lief is vir mekaar en vir mekaar help. Ek sê nou vir julle iets wat baie belangrik is vir die Here: Julle het voorheen gelewe soos die heidene lewe. Hulle dink en doen dinge wat niks beteken nie. Julle moenie soos hulle lewe nie. Die heidene lewe soos mense wat niks kan verstaan nie, hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip. Hulle voel nie skaam wanneer hulle verkeerde dinge doen nie. Hulle doen meer en meer slegte dinge, omdat hulle altyd meer en meer wil hê. Maar julle het vir Christus leer ken en toe het julle geleer dat al daardie dinge verkeerd is. Ja, julle het gehoor van Hom, julle het geleer van Hom, julle weet Jesus is self die waarheid. Julle het geleer dat julle moet ophou om te lewe soos julle voorheen gelewe het. Toe was julle sleg en julle het die slegte dinge gedoen wat julle graag wou doen. Maar julle het geleer dat julle anders moet dink en nuwe mense moet word. Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê. Daarom moet julle ophou om vir mekaar te lieg. Julle moet die waarheid praat met mekaar, want ons behoort almal aan mekaar. Wanneer julle kwaad word, dan moet julle nie sonde doen nie. Wanneer julle kwaad is vir mekaar, dan moet julle ophou om kwaad te wees voordat dit donker word. Julle moenie doen wat die duiwel vir julle sê nie. Die mense wat steel, moet ophou steel. Hulle moet self hard werk sodat hulle geld kan kry en ook vir die mense kan help wat baie min het. Julle moenie slegte dinge van mense sê nie, julle moet net dinge sê wat hulle geloof sterker sal maak en wat hulle sal help om te weet dat God goed is. Julle moenie die Heilige Gees van God hartseer maak nie. Die Heilige Gees wys dat julle aan God behoort en dat God julle eendag heeltemal vry sal maak. Julle moenie ander mense haat en net die slegte dinge onthou wat hulle gedoen het nie. Julle moenie kwaad word of mense straf of vir hulle skree of lelike dinge van hulle sê nie. Julle moet niks doen wat sleg is nie. Julle moet vriendelik wees met mekaar. Julle moet jammer wees vir mekaar en julle moet vir mekaar help. Christus het gesterf en God het julle vergewe. Daarom moet julle mekaar ook so vergewe.

EFESIËRS 4:3-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is. Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus; sodat ons nie meer kinders sou wees nie wat soos golwe geslinger en heen en weer gedryf word deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van die mense, deur sluheid om listiglik tot dwaling te bring; maar, terwyl ons in liefde die waarheid betrag, in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus, uit wie die hele liggaam — goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate — die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde. DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe. Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie. Laat die een wat steel, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy iets kan hê om mee te deel aan die een wat gebrek het. Laat daar geen vuil woord uit julle mond uitgaan nie, maar net 'n woord wat goed is vir die nodige stigting, sodat dit genade kan gee aan die wat dit hoor. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, deur wie julle verseël is tot die dag van verlossing. Alle bitterheid en woede en toorn en geskreeu en lastering moet van julle verwyder word, saam met alle boosheid. Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.

EFESIËRS 4:3-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus. Dan sal ons nie meer kinders wees nie; ons sal nie meer soos golwe op en af en heen en weer geslinger word deur elke wind van dwaalleer as vals leraars ons met hulle slinksheid en listigheid op dwaalweë wil wegvoer nie. Nee, ons sal in liefde by die waarheid bly en so in alle opsigte groei na Christus toe. Hy is immers die hoof, en uit Hom groei die hele liggaam. Die verskillende liggaamsdele pas by mekaar en vorm saam 'n eenheid. Elkeen van hulle vervul sy funksie, en so bou die liggaam homself op in liefde. In die Naam van die Here doen ek 'n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met 'n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen. Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie. As iemand 'n dief is, moet hy ophou steel; hy moet deur harde werk op 'n eerbare manier self in sy lewensonderhoud voorsien; dan sal hy iets hê om vir die armes te gee. Vuil taal moet daar nooit uit julle mond kom nie; praat net wat goed en opbouend is volgens die eis van omstandighede, sodat dit julle hoorders ten goede kan kom. En moenie die Heilige Gees van God bedroef nie, want Hy het julle as die eiendom van God beseël met die oog op die verlossingsdag. Moet nooit verbitter of opvlieënd wees of woedend word nie; moenie vloek of skel nie; moet niks doen wat sleg is nie. Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar, en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.

EFESIËRS 4:3-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Probeer om die eenheid van die Gees in die band van vrede te bewaar. Daar is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; Een Here, een geloof, een doop, Een God en Vader van almal, wat bo almal en deur almal en in julle almal is. Maar aan elkeen van ons word genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het na die hoogte, het Hy gevangenes gevange geneem en geskenke aan die mense gegee. (Nou dat Hy opgevaar het, wat is dit anders as dat Hy ook eerste na die onderste dele van die aarde neergedaal het? Hy wat neergedaal het, is dieselfde wat opgevaar het ver bo al die hemele, om alles te vervul.) En Hy het sommige gegee, apostels; en sommige profete; en sommige, evangeliste; en sommige, pastore en leraars; tot volmaking van die heiliges, tot die werk van die bediening, tot opbouing van die liggaam van Christus. Totdat ons almal gekom het in die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volmaakte mens, tot die mate van die grootte van die volheid van Christus; Dat ons voortaan nie meer kinders sal wees nie, heen en weer geslinger en meegevoer deur elke wind van lering, deur die bedrieëry van mense, en slinkse listigheid, waardeur hulle lê en loer om te mislei; Maar deur die waarheid in liefde te spreek, mag in alles opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus. Uit wie die hele liggaam behoorlik saamgevoeg en saamgepers word deur dit wat elke gewrig verskaf, volgens die kragtige werking in die mate van elke deel, vermeerder die liggaam tot sy opbouing in liefde. Dit sê ek dan en betuig in die Here dat julle voortaan nie wandel soos ander heidene in die nietigheid van hulle gemoed wandel nie, Met die verstand wat verduister is, vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is, vanweë die blindheid van hulle hart; Hulle het hulleself oorgegee aan ongebondenheid, om alle onreinheid met hebsug te werk. Maar julle het Christus nie so geleer nie; As julle hom gehoor het en deur hom geleer is, soos die waarheid in Jesus is: dat julle met betrekking tot die vorige lewenswandel die oue mens aflê, wat verdorwe is volgens die bedrieglike begeerlikhede; En word vernuwe in die gees van julle gemoed; En dat julle met die nuwe mens moet beklee, wat na God geskape is in geregtigheid en ware heiligheid. Daarom, lê die leuen af, spreek elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van mekaar. Word toornig en sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie. Gee ook nie plek aan die duiwel nie. Laat hom wat gesteel het, nie meer steel nie; maar laat hom liewer arbei deur met sy hande te werk wat goed is, sodat hy aan die een wat nodig het, kan gee. Laat daar geen bedorwe woord uit julle mond uitgaan nie, maar wat goed is tot stigting, sodat dit genade kan dien aan die hoorders. En bedroef nie die Heilige Gees van God nie, waardeur julle verseël is tot die dag van verlossing. Laat alle bitterheid en toorn geskreeu en slegte woorde van julle verwyder word, met alle boosheid; En wees vriendelik teenoor mekaar, teerhartig, en vergewe mekaar, soos God julle om Christus ontwil vergewe het.

EFESIËRS 4:3-32 Die Boodskap (DB)

Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees” en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar. Ons moet nie toelaat dat enigiets tussen ons kom wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie. God is nie verdeel nie. Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal. Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen. Hierdie spesiale geskenke het Hy vir ons gegee sonder dat een van ons dit verdien het. Daarom sê die Skrif van Jesus: “Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.” (Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.) Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels. Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen. Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self. Ons sal nie meer soos klein kindertjies onseker wees oor wat van ons verwag word nie. Ons sal nie soos ’n skip wees wat deur die golwe rondgeslinger word of deur die een wind hiernatoe en die ander wind daarnatoe gedryf word nie. Net so sal ons nie na elke nuwe godsdienstige praatjie op die mark luister nie. Mense probeer jou net met allerhande slimmighede om die bos lei om jou so op die verkeerde pad te laat beland. Maar hulle sal dit nie regkry nie. Ons sal in liefde lojaal teenoor mekaar en net op die pad van die waarheid bly. Ons verhouding met Jesus sal in alles net sterker word. Ons, as die liggaam, sal al hoe meer van Christus afhanklik wees, want Hy is mos die kop van die liggaam. Die liggaam is mooi aanmekaargesit, elke deel op sy plek, sodat elke liggaamsdeel sy eie werk doen en die ander liggaamsdele help. So groei die liggaam en word dit sterk omdat die verskillende liggaamsdele in liefde en lojaliteit mekaar help. Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie. Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle. Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie. Julle het Christus egter nie so leer ken nie. Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom. Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy. Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God. As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie. Moenie die duiwel kans gee om jou vas te trek nie. As iemand ’n lewe gemaak het deur ander mense se goed te vat, moet hy dadelik daarmee ophou. Hy moet vir hom ’n behoorlike werk kry en sy brood eerlik verdien. Hy sal dan nie net vir homself kan sorg nie, maar ook nog genoeg oorhê om vir mense wat niks het nie, iets te gee. Moet ook nie allerhande vuil grappe vertel of lelike praatjies maak nie. As julle iets sê, moet dit iets wees wat die moeite werd is om te sê en vir ander iets beteken. Kyk wat nodig en goed is om in die omstandighede te sê en sê dit dan. Moenie die Heilige Gees wat God vir julle gegee het, se hart seermaak nie. Dat die Gees in julle is, is die bewys dat julle aan God behoort. So sal dit bly tot op die dag dat ons finaal van die sonde ontslae sal wees. Moenie toelaat dat julle bitter word nie. Beteuel jou humeur en as jy dalk jou humeur verloor, moet jy nie kwaad bly nie. Moenie mekaar vloek of lelike dinge vir mekaar sê nie. Moet ook nie iets doen wat vir ’n ander een sleg is nie. Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.