EFESIËRS 4:3-13
EFESIËRS 4:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het. Daar is net één liggaam en één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping – één Here, één geloof, één doop, één God, ons almal se Vader; Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal. Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.” Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen.
EFESIËRS 4:3-13 Bybel vir almal (ABA)
Die Heilige Gees het julle saamgebind soos een liggaam. Julle moet baie hard probeer om te lewe soos mense wat een liggaam is, julle moet in vrede lewe. Julle is een, en soos 'n mens net een liggaam het, so het julle almal dieselfde Heilige Gees in julle harte. Want God het julle almal gekies, julle almal behoort aan Hom, en julle is nou almal seker dat God sal doen wat Hy belowe het. Julle het almal een Here, julle glo dieselfde dinge, julle is almal gedoop. Julle behoort almal aan dieselfde God. Hy is die Vader van almal. Hy regeer oor almal en oor alles, Hy laat almal en alles vir Hom werk, Hy is in almal. Christus het vir elkeen van ons die genadegawe gegee wat Hy vir ons wou gee. Die genadegawe wat Hy vir ons gegee het, is soos 'n present. Daarom lees ons in die Ou Testament: Hy het opgegaan na die hemel en Hy het gevangenes saamgeneem, Hy het vir die mense presente gegee. Ons lees: Hy het opgegaan. Dit beteken Christus het eers afgekom ondertoe, na die aarde. Ja, Christus het afgekom na die aarde en toe het Hy weer teruggegaan na die hoogste hemel. Hy het dit gedoen sodat Hy oral en altyd kan regeer. En Christus het vir ons presente, genadegawes, gegee. Die genadegawes is die apostels, die profete, en die leiers wat die goeie boodskap bring of vir die gelowiges sorg of vir hulle leer. Christus wil hê hierdie mense moet God se mense help sodat hulle beter en beter vir God kan werk, en sodat die kerk sterker en groter kan word, die kerk wat soos Christus se liggaam is. Christus wil hê ons moet almal dieselfde dinge glo en ons moet Hom, die Seun van God, baie goed ken. Ons moet soos kinders wees wat grootgeword het en wat nou grootmense is, soos Christus wat is soos God wil hê Hy moet wees.
EFESIËRS 4:3-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en ernstig strewe om die eenheid van die Gees te bewaar deur die band van die vrede. Dit is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in julle almal is. Maar aan elkeen van ons is die genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het in die hoogte, het Hy die gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. Maar dít: Hy het opgevaar — wat beteken dit anders as dat Hy ook eers neergedaal het in die onderste dele van die aarde? Hy wat neergedaal het, is dieselfde as Hy wat opgevaar het bokant al die hemele, sodat Hy alles tot volheid kan bring. En Hy het gegee sommige as apostels, ander as profete, ander as evangeliste, ander as herders en leraars, om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus, totdat ons almal kom tot die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus
EFESIËRS 4:3-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Lê julle daarop toe om die eenheid wat die Gees tussen julle gesmee het, te handhaaf deur in vrede met mekaar te lewe. Daar is net één liggaam en net één Gees, soos daar net één hoop is waartoe God julle geroep het. Daar is net één Here, één geloof, één doop, één God en Vader van almal: Hy wat oor almal is, deur almal werk en in almal woon. Aan elkeen van ons is 'n genadegawe gegee volgens die mate waarin Christus die gawes uitgedeel het. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy na die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes saamgeneem en gawes aan die mense gegee.” Hierdie uitdrukking: “Hy het opgevaar”, veronderstel tog dat Hy eers neergedaal het na wat laer is, naamlik na die aarde toe. Die Een wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het bo alle hemelruimtes uit om alles met sy teenwoordigheid te vul. En dít is die “gawes” wat Hy “gegee het”: apostels, profete, evangeliste, en herders en leraars. Sy doel daarmee was om die gelowiges toe te rus vir hulle diens en vir die opbou van die liggaam van Christus. So sal ons uiteindelik almal kom tot die werklike eenheid in ons geloof en in ons kennis van die Seun van God. Dan sal ons, sy kerk, soos 'n volgroeide mens wees, so volmaak en volwasse soos Christus.
EFESIËRS 4:3-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
en julle daarop toe te lê om die eenheid wat die Gees bewerk, te bewaar deur die band van vrede – een liggaam en een Gees, soos julle ook deur julle roeping tot een hoop geroep is: een Here, een geloof, een doop, een God en Vader van almal, wat oor almal en deur almal en in almal is. Maar aan elkeen van ons is 'n genadegawe geskenk, soos •Christus dit uitgedeel het. Daarom staan daar: “Toe Hy opgevaar het na bo, het Hy krygsgevangenes weggevoer; Hy het gawes aan die mense gegee.” “Hy het opgevaar” – waarop anders dui dit as dat Hy eers neergedaal het na die laer dele, die aarde? Die Een wat neergedaal het, is dieselfde Een wat opgevaar het tot bo al die hemele, sodat Hy alle dinge kon vul. En Hy het sommige as •apostels, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars gegee, om die •heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, om die liggaam van Christus op te bou, totdat ons almal kom tot eenheid in geloof en in kennis van die •Seun van God, en tot 'n volwassenheid wat in ooreenstemming is met die volgroeide gestalte van die volheid van Christus.
EFESIËRS 4:3-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Probeer om die eenheid van die Gees in die band van vrede te bewaar. Daar is een liggaam en een Gees, soos julle ook geroep is in een hoop van julle roeping; Een Here, een geloof, een doop, Een God en Vader van almal, wat bo almal en deur almal en in julle almal is. Maar aan elkeen van ons word genade gegee volgens die mate van die gawe van Christus. Daarom sê Hy: Toe Hy opgevaar het na die hoogte, het Hy gevangenes gevange geneem en gawes aan die mense gegee. (Nou dat Hy opgevaar het, wat is dit anders as dat Hy ook eerste na die onderste dele van die aarde neergedaal het? Hy wat neergedaal het, is dieselfde wat opgevaar het ver bo al die hemele, om alles te vervul.) En Hy het sommige gegee, apostels; en sommige profete; en sommige, evangeliste; en sommige, pastore en leraars; tot volmaking van die heiliges, tot die werk van die bediening, tot opbouing van die liggaam van Christus. Totdat ons almal gekom het in die eenheid van die geloof en van die kennis van die Seun van God, tot 'n volmaakte mens, tot die mate van die grootte van die volheid van Christus
EFESIËRS 4:3-13 Die Boodskap (DB)
Die Heilige Gees het van ons een hegte span vir God gemaak. Hierdie “een-wees” en “saam-wees” moet ons tot elke prys bewaar. Ons moet nie toelaat dat enigiets tussen ons kom wat die goeie verhouding tussen ons bederf nie. God is nie verdeel nie. Daar is net een liggaam van Christus, waarvan ons deel is, en net een Heilige Gees. Ons almal se hoop is ook een en dieselfde. Ons dien een Here, ons geloof is dieselfde en daar is net een doop. En dan is daar ook net een God en Hy is die Vader van ons almal. Niks en niemand is soos Hy nie, want Hy is belangriker as alles en almal. Hy werk deur ons en woon in ons almal. Christus het vir elkeen van ons iets besonders gegee om in die gemeente te doen. Hierdie spesiale geskenke het Hy vir ons gegee sonder dat een van ons dit verdien het. Daarom sê die Skrif van Jesus: “Toe Hy terug is hemel toe, het Hy teruggegaan soos ’n koning wat die oorlog gewen het. Almal kon aan sy vyande sien dat Hy gewen het en Hy het geskenke aan die mense uitgedeel.” (Wat presies beteken hierdie “teruggaan hemel toe”? Dit beteken mos dat Hy voorheen in die hemel was en toe na die aarde toe afgekom het. Juis Hy is terug hemel toe. Nou is daar nie ’n hoekie of kantjie van hierdie heelal waar Jesus nie teenwoordig is nie.) Hierdie Christus het vir ons spesiale dinge gegee om in die gemeente te doen. Nie elkeen van ons het dieselfde gekry om te doen nie. Party van ons het Hy gestuur om sy boodskap op ander plekke te gaan verkondig, terwyl ander weer die gawe gekry het om spesiale boodskappe aan die gemeente self oor te dra. Dan is daar ook party wat die boodskap oor Jesus mooi vir mense kan verduidelik, ander wat mense kan help en lei as hulle hulp nodig het en ander wat soos goeie onderwysers mense stap vir stap kan leer wat die boodskap van God alles behels. Hierdie mense, met die spesiale gawes wat hulle gekry het, werk saam om die gemeente te help en voor te berei om hulle werk as Christene in die wêreld goed te kan doen. Op dié manier sal die liggaam van Christus sterk word en kan wees wat dit behoort te wees. So sal ons al hoe nader aan mekaar beweeg en al hoe meer ’n eenheid vorm. Saam sal ons die Seun van God beter leer ken en meer op Hom vertrou. Dan sal ons soos geestelike grootmense word, so volwasse in ons geestelike lewe soos Christus self.
EFESIËRS 4:3-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Deur in vrede met mekaar te lewe, moet julle julle daarop toelê om die eenheidsband te bewaar wat die Gees bewerk het. Daar is net één liggaam en één Gees, net soos julle net één toekomsverwagting het op grond van julle roeping – één Here, één geloof, één doop, één God, ons almal se Vader; Hy heers oor almal, werk deur almal en woon in almal. Maar aan elkeen van ons afsonderlik is volgens Christus se vrygewigheid ’n genadegawe gegee. Daarom sê die Skrif: “Toe Hy in die hoogte opgevaar het, het Hy krygsgevangenes meegevoer en geskenke aan die mense gegee.” Wat beteken “Hy het opgevaar” anders as dat Hy eers vooraf moes neergedaal het na dit wat laer is, naamlik na die aarde toe? Dieselfde Persoon wat neergedaal het, is ook die Een wat opgevaar het tot ver bo die wolke- en sterrehemel sodat Hy die heelal met sy teenwoordigheid kan vul. Hý het sommige as apostels gegee, ander as profete, ander as evangeliste, en ander as herders en leraars, om God se mense toe te rus vir hulle dienswerk. Hulle werk is om Christus se liggaam op te bou. So sal ons uiteindelik almal deur geloof en deurdat ons die Seun van God ken, ’n eenheid vorm, ’n volmaakte mens, wat aan die standaard van Christus se volmaaktheid voldoen.