EFESIËRS 4:21-27
EFESIËRS 4:21-27 Bybel vir almal (ABA)
Ja, julle het gehoor van Hom, julle het geleer van Hom, julle weet Jesus is self die waarheid. Julle het geleer dat julle moet ophou om te lewe soos julle voorheen gelewe het. Toe was julle sleg en julle het die slegte dinge gedoen wat julle graag wou doen. Maar julle het geleer dat julle anders moet dink en nuwe mense moet word. Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê. Daarom moet julle ophou om vir mekaar te lieg. Julle moet die waarheid praat met mekaar, want ons behoort almal aan mekaar. Wanneer julle kwaad word, dan moet julle nie sonde doen nie. Wanneer julle kwaad is vir mekaar, dan moet julle ophou om kwaad te wees voordat dit donker word. Julle moenie doen wat die duiwel vir julle sê nie.
EFESIËRS 4:21-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid. Daarom, lê die leuen af en spreek die waarheid, elkeen met sy naaste, want ons is mekaar se lede. Word toornig en moenie sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie; en gee aan die duiwel geen plek nie.
EFESIËRS 4:21-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig. Noudat julle die valsheid afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat, want ons is lede van dieselfde liggaam. As julle kwaad word, moenie sondig nie, en moenie 'n dag kwaad afsluit nie. Moenie die duiwel vatkans gee nie.
EFESIËRS 4:21-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware •geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is. Daarom, vermy die leuen, en praat elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van een liggaam. Word kwaad, maar moenie sondig nie. Laat die son nie ondergaan oor julle woede nie. Moenie vir die Duiwel plek gee nie.
EFESIËRS 4:21-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
As julle hom gehoor het en deur hom geleer is, soos die waarheid in Jesus is: dat julle met betrekking tot die vorige lewenswandel die oue mens aflê, wat verdorwe is volgens die bedrieglike begeerlikhede; En word vernuwe in die gees van julle gemoed; En dat julle met die nuwe mens moet beklee, wat na God geskape is in geregtigheid en ware heiligheid. Daarom, lê die leuen af, spreek elkeen die waarheid met sy naaste, want ons is lede van mekaar. Word toornig en sondig nie; laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie. Gee ook nie plek aan die duiwel nie.
EFESIËRS 4:21-27 Die Boodskap (DB)
Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom. Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy. Moenie vir mekaar lieg nie. Wees eerlik met mekaar, want ons speel mos almal saam in dieselfde span van God. As jy vir iemand kwaad word, moet jy niks doen waaroor God skaam sal kry nie. Moet ook nie gaan slaap terwyl jy nog vir iemand kwaad is nie. Moenie die duiwel kans gee om jou vas te trek nie.
EFESIËRS 4:21-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Hom onderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer, naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan. Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is. Daarom moet julle die leuen aflê en die waarheid teenoor mekaar praat. Ons is tog lede van dieselfde liggaam. Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ’n houvas gee nie.