EFESIËRS 4:17-24
EFESIËRS 4:17-24 Bybel vir almal (ABA)
Ek sê nou vir julle iets wat baie belangrik is vir die Here: Julle het voorheen gelewe soos die heidene lewe. Hulle dink en doen dinge wat niks beteken nie. Julle moenie soos hulle lewe nie. Die heidene lewe soos mense wat niks kan verstaan nie, hulle is ver van God en hulle het nie die ware lewe nie omdat hulle niks van God wil weet nie. Hulle harte is so hard soos klip. Hulle voel nie skaam wanneer hulle verkeerde dinge doen nie. Hulle doen meer en meer slegte dinge, omdat hulle altyd meer en meer wil hê. Maar julle het vir Christus leer ken en toe het julle geleer dat al daardie dinge verkeerd is. Ja, julle het gehoor van Hom, julle het geleer van Hom, julle weet Jesus is self die waarheid. Julle het geleer dat julle moet ophou om te lewe soos julle voorheen gelewe het. Toe was julle sleg en julle het die slegte dinge gedoen wat julle graag wou doen. Maar julle het geleer dat julle anders moet dink en nuwe mense moet word. Ja, God het julle verander en Hy het julle nuwe mense gemaak. Nou moet julle lewe soos nuwe mense. Julle moet waarlik lewe soos God wil hê en julle moet doen wat Hy wil hê.
EFESIËRS 4:17-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIT sê en betuig ek dan in die Here, dat julle nie meer moet wandel soos die ander heidene ook wandel in die verdwaasdheid van hulle gemoed nie — mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe. Maar julle het Christus nie so leer ken nie, as julle ten minste van Hom gehoor het en in Hom onderrig is soos die waarheid is in Jesus: dat julle, wat die vorige lewenswandel betref, die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
EFESIËRS 4:17-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
In die Naam van die Here doen ek 'n ernstige beroep op julle: Moenie langer soos heidene lewe nie. Hulle gedagtes lei tot niks, hulle verstand is verduister, en hulle het geen deel aan die lewe wat God skenk nie, omdat hulle hardnekkig in hulle onkunde volhard. Hulle het heeltemal afgestomp geraak en hulle met 'n onversadigbare drang aan losbandigheid oorgegee om al wat vuil is, te doen. Maar dit is nie hoe julle Christus leer ken het nie. Julle het tog van Hom gehoor, en omdat julle sy volgelinge is, is julle onderrig volgens die waarheid wat in Jesus is. Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens in julle wat deur sondige begeertes verteer word. Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.
EFESIËRS 4:17-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Dit sê en bevestig ek dan in die Here: Julle moenie meer soos die heidene met hulle niksbeduidende gedagtes leef nie. Hulle denke is verduister, hulle is vervreem van die lewe met God, omdat hulle onkundig is, deur die hardheid van hulle harte. Omdat hulle gevoelloos geword het, het hulle hulleself oorgegee aan losbandigheid, om onversadigbaar allerhande onrein dade te pleeg. Maar julle het •Christus nie so leer ken nie. Julle het tog van Hom gehoor, en julle is oor Hom onderrig, volgens die waarheid wat in Jesus is, naamlik dat julle, wat julle vroeëre lewenswandel betref, die ou mens moet aflê, wat as gevolg van sy misleidende drange vergaan. Julle moet eerder in die aard van julle denke vernuwe word. Ja, trek die nuwe mens as kleed aan, wat in ware •geregtigheid en heiligheid in ooreenstemming met God geskep is.
EFESIËRS 4:17-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Dit sê ek dan en betuig in die Here dat julle voortaan nie wandel soos ander heidene in die nietigheid van hulle gemoed wandel nie, Met die verstand wat verduister is, vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is, vanweë die blindheid van hulle hart; Hulle het hulleself oorgegee aan ongebondenheid, om alle onreinheid met hebsug te werk. Maar julle het Christus nie so geleer nie; As julle hom gehoor het en deur hom geleer is, soos die waarheid in Jesus is: dat julle met betrekking tot die vorige lewenswandel die oue mens aflê, wat verdorwe is volgens die bedrieglike begeerlikhede; En word vernuwe in die gees van julle gemoed; En dat julle met die nuwe mens moet beklee, wat na God geskape is in geregtigheid en ware heiligheid.
EFESIËRS 4:17-24 Die Boodskap (DB)
Wat ek nou sê, moet julle nie ligtelik opneem nie. Dit is wat die Here self wil hê. Julle moet ophou om julle te gedra soos mense wat nie die Here ken nie. Daar is niks wat die moeite werd is in sulke mense se koppe nie. Hulle gedagtes is met onbelangrike dinge besig en hulle kan nie verder dink as wat hulle neuse lank is nie. Daarom besef hulle nie eens dat God vir hulle ’n nuwe lewe wil gee nie. Hulle is hardkoppig en wil nie na rede of goeie raad luister nie. Daarom gaan dit so sleg met hulle. Hulle het geen gevoel meer vir wat reg of verkeerd is nie. Hulle leef nou vieslike lewens en kan nie genoeg daarvan kry nie. Julle het Christus egter nie so leer ken nie. Toe julle van Hom gehoor het, het julle sy volgelinge geword. So het julle geleer wat die waarheid is, want dit is alleen as jy Jesus ken dat jy by die waarheid uitkom. Los julle ou manier van lewe. Soos ’n mens vuil klere uittrek, moet julle julle ou geaardheid uittrek, want dit is vol sonde en wil net verkeerde dinge doen. Die einde van daardie pad loop op verwoesting uit. Julle moet ’n nuwe gesindheid kry en op ’n nuwe manier oor dinge dink. Hierdie nuwe lewenstyl moet julle deel van julle lewe maak soos ’n mens nuwe klere aantrek. Ons nuwe lewe moet ons al meer soos God laat lyk: ons moet reg lewe soos God dit wil hê en ons heeltemal aan Hom toewy.
EFESIËRS 4:17-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daarom sê ek met God se gesag: Moenie langer soos nie-Christene lewe nie. Wat hulle uitdink, is niksseggend; hulle verstand is verduister. Omdat hulle onkundig is en onwillig is om tot bekering te kom, ken hulle nie die lewe wat God gee nie. Omdat hulle nie omgee vir wat reg of verkeerd is nie, gee hulle hulleself oor aan losbandigheid, en beoefen so gretiglik elke vorm van onreinheid. Maar dis nie hoe julle Christus leer ken het nie! Julle het tog van Hom gehoor. Julle het tog aangaande Hom onderrig ontvang volgens die waarheid wat daar by Jesus is. Julle het tog in julle eenheidsband met Jesus die waarheid geleer, naamlik dat julle, wat julle vroeëre leefstyl betref, die ou, sondige mens soos vuil klere moet uittrek. Bedrieglike begeertes laat hierdie mens te gronde gaan. Julle moet op ’n nuwe, geestelike manier leer dink. Ja, trek die nuwe mens soos skoon klere aan, die mens wat na God se beeld geskape is: iemand wat werklik reg lewe voor God en werklik aan Hom toegewy is.