EFESIËRS 3:4-11
EFESIËRS 3:4-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige •apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. Van dié evangelie het ek 'n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag. Aan my, minder as die geringste van al die •heiliges, is hierdie genade geskenk, om aan die heidene die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig, en om almal in te lig wat die uitvoering van die geheimenis is wat vir eeue lank verborge was in God, wat alle dinge geskep het. Gevolglik kan die ryklik geskakeerde wysheid van God nou deur die •kerk aan die owerhede en die magte in die hemel bekend gemaak word, ooreenkomstig sy ewige voorneme, wat Hy gemaak het in Christus Jesus, ons Here.
EFESIËRS 3:4-11 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer julle nou verder lees, dan sal julle weet dat ek die boodskap oor Christus verstaan. God het nou sy Gees gestuur om dit vir sy gewyde apostels en profete te bring. Hy het die boodskap nie so gestuur vir die mense wat voorheen gelewe het nie. Daardie boodskap is: Julle is heidene, maar julle behoort aan Christus Jesus en julle glo die goeie boodskap. Daarom gee God nou ook vir julle baie goeie dinge, soos Hy vir die Jode gegee het. Julle en die Jode is nou almal saam, julle is soos een liggaam. En julle sal ook kry wat God belowe het. Nou is dit my werk om die goeie boodskap vir julle te bring. Dit is die present wat God vir my gegee het. God was goed vir my, Hy is sterk en Hy het my verander. Ja, God was baie goed vir my. Ek is minder belangrik as al die ander mense wat aan God behoort, maar God het gesê ek moet die goeie boodskap vir die heidene bring. Die goeie boodskap is dat Christus baie goeie dinge vir mense gee, baie meer as wat hulle kan weet. God wat alles gemaak het, het eeue lank vir niemand gesê wat Hy wil doen nie, niemand het sy boodskap oor Christus geken nie. Maar nou het God gesê ek moet vir almal help om te verstaan wat Hy doen. Daarom kan die kerk nou vir almal en alles wat oor die wêreld wil regeer, vertel van die wonderlike wysheid van God. God het lank gelede besluit wat Hy wou doen. Hy het Christus Jesus, ons Here, gestuur om dit te doen.
EFESIËRS 3:4-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie waarvan ek 'n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag. Aan my, die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee om onder die heidene die evangelie van die onnaspeurlike rykdom van Christus te verkondig, en vir almal aan die lig te bring wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van alle eeue af verborge was in God wat alles geskape het deur Jesus Christus, sodat nou deur die gemeente aan die owerhede en magte in die hemele die menigvuldige wysheid van God bekend gemaak kan word, volgens die ewige voorneme wat Hy opgevat het in Christus Jesus, onse Here
EFESIËRS 3:4-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
en as julle dit lees, sal julle 'n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het. Van hierdie evangelie het ek 'n dienaar geword, 'n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk. Hoewel ek die geringste van al die gelowiges is, het Hy aan my hierdie voorreg gegee om aan die heidennasies die evangelie van die onpeilbare rykdom van Christus te verkondig. Ek moet aan almal bekend maak hoe God, die Skepper van alle dinge, nou sy verborge plan uitvoer nadat Hy dit deur al die eeue geheim laat bly het. Maar nou het God die ryke verskeidenheid van sy wysheid deur die kerk bekend laat word aan elke mag en gesag in die hemelruim, soos Hy Hom van ewigheid af al voorgeneem het om dit deur Christus Jesus, ons Here, tot uitvoering te bring.
EFESIËRS 3:4-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daardeur kan julle, wanneer julle lees, my kennis in die verborgenheid van Christus verstaan) Wat in ander eeue nie aan die mensekinders bekend gemaak is nie, soos dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is; dat die heidene mede-erfgename en van dieselfde liggaam sou wees en deelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie. Waarvan ek 'n dienaar gemaak is, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is deur die kragtige werking van sy krag. Aan my, wat minder is as die geringste van al die heiliges, is hierdie genade gegee dat ek onder die heidene die onnaspeurlike rykdom van Christus sou verkondig; En om alle mense te laat sien wat die gemeenskap is van die verborgenheid wat van die begin van die wêreld af verborge was in God, wat alle dinge geskep het deur Jesus Christus. Met die bedoeling dat nou aan die owerhede en magte in hemelse plekke deur die kerk die veelvuldige wysheid van God geken kan word, Volgens die ewige voorneme wat hy in Christus Jesus, onse Here, voorgeneem het
EFESIËRS 3:4-11 Die Boodskap (DB)
As julle nou verder lees, sal julle ook duidelik begin agterkom hoe die verrassende plan van God met Christus werk en hoe ek dit verstaan. Deur die loop van die geskiedenis het die mense nie geweet wat God gaan doen nie. Nou is dit egter nie meer vir ons ’n geheim nie. Die Heilige Gees het dit aan al die mense vertel wat gekies is om God se Woord te verkondig. Die geheim is dit: enigiemand wat in Christus Jesus glo (selfs al is hy ’n nie-Jood), word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee. So ’n persoon is dan saam met die ander gelowiges die liggaam van Christus. Hy kry alles wat God in die goeie boodskap aan Christus Jesus se mense beloof het. God het my aangestel om hierdie nuus vir ander te gaan vertel. Dit is ’n voorreg wat God aan my gegee het, al verdien ek dit nie. Hy gee ook vir my die krag om dit te doen. Van al die Christene is ek die minste werd. Nogtans het God besluit om hierdie voorreg aan my te gee, en dit was onverdiend, glo my. Ek is die een wat nou aan die nie-Jode moet gaan vertel wat Christus alles vir hulle gedoen het. Dit is iets wat ’n mens nooit regtig kan begryp nie, want dit is te wonderlik en groot. Ek moet aan elkeen van hulle verduidelik dat God se redding ook vir hulle bedoel is. Dit was van altyd af wat God - wat alles gemaak het - wou doen, maar mense het dit net nie besef nie. God wil hê dat die kerk vir al die onsigbare magte en heersers in die hemel sal wys hoe wonderlik slim Hy regtig is. Hy weet alles en beplan vir alles. Van die heel begin af het God geweet dat Hy met die koms van Christus, ons Here, hierdie plan van Hom aan die werk sou sit.
EFESIËRS 3:4-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan. God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is. Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word. Uit genade het God my die gawe gegee om ’n dienaar van hierdie Goeie Nuus te word. Die gawe is aan my gegee deur die werking van God se krag. Aan my, die heel onbelangrikste van al God se mense, is hierdie genade gegee om aan die nie-Joodse nasies die onmeetlike rykdom van Christus te verkondig! Ek moet vir almal duidelik maak hoe God, die Skepper van alle dinge, die geheime plan uitvoer wat nog altyd verborge was. Die doel hiermee is om nou deur die kerk vir al die bose hemelse regeerders en maghebbers te wys hoe allesomvattend die wysheid van God se ewige plan is, dié plan wat Hy deur Christus Jesus ons Here tot uitvoer bring.