EFESIËRS 3:12-21
EFESIËRS 3:12-21 Bybel vir almal (ABA)
Ons behoort aan Christus en ons glo in Hom. Daarom is ons nie bang om vir God iets te vra nie. Ons glo dat God sal doen wat Hy gesê het. Ek bid dat julle nie moedeloos sal word omdat ek swaarkry nie. Nee, julle kan trots wees dat ek swaarkry. God is baie goed vir ons. Daarom kniel ek en bid ek tot Hom, ons Vader. Hy is die Vader wat almal laat lewe, almal in die hemel en op die aarde. Ek bid en vra vir God, ons Koning, dat Hy die Heilige Gees moet gebruik en dat Hy julle moet help sodat die geloof in julle harte sterker word. Ek bid dat julle sal glo in Christus, dat Hy in julle harte sal woon en dat julle lewens heeltemal vol liefde sal wees. Dan sal julle weet hoe groot Christus se liefde vir julle is, hoe wyd, hoe lank, hoe hoog en hoe diep dit is. Julle sal dit weet saam met die ander mense wat aan God behoort. Julle kan seker wees dat Christus lief is vir julle, baie meer as wat julle besef. Dan sal julle presies wees soos God wil hê julle moet wees. Ja, die kerk, almal wat aan Christus Jesus behoort, moet vir God prys, want God is baie sterk. En Hy gebruik sy krag in ons. Hy kan baie meer doen as wat ons dink of vir Hom vra. Almal moet Hom, ons Koning, altyd prys. Amen.
EFESIËRS 3:12-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
in wie ons die vrymoedigheid en die toegang het met vertroue deur die geloof in Hom. Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word by my verdrukkinge ter wille van julle nie. Dit is julle eer. OM hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, van wie elke geslag in die hemele en op die aarde sy naam ontvang, dat Hy aan julle mag gee na die rykdom van sy heerlikheid om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens, sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon, julle wat in die liefde gewortel en gegrond is, en julle in staat kan wees om saam met al die heiliges ten volle te begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is, en die liefde van Christus te ken wat die kennis oortref, sodat julle vervul kan word tot al die volheid van God. En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid! Amen.
EFESIËRS 3:12-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
In ons verbondenheid met Hom en deur ons geloof in Hom kan ons met vrymoedigheid en vertroue na God gaan. Daarom bid ek dat julle nie moedeloos word omdat ek om julle ontwil ly nie. Julle moet dit eerder as 'n eer beskou. Daarom kniel ek in gebed voor die Vader aan wie die hele gemeenskap van gelowiges in die hemel en op die aarde sy bestaan te danke het. Ek bid dat Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy heerlikheid aan julle die krag sal gee om innerlik sterk te word, dat Christus deur die geloof in julle harte sal woon en dat julle in die liefde gewortel en gegrondves sal wees. Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid. Amen.
EFESIËRS 3:12-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
In Hom het ons, deur ons geloof in Hom, 'n seker en vrymoedige toegang tot God. Daarom versoek ek julle om nie moedeloos te word as gevolg van my verdrukking ter wille van julle nie. Dit sal julle tot eer strek. Om hierdie rede buig ek my knieë voor die Vader, van wie elke geslag in die hemel en op aarde sy naam ontvang. Ek bid dat Hy vir julle na die rykdom van sy heerlikheid dít sal skenk: om deur sy Gees met krag na die innerlike mens versterk te word, sodat •Christus deur die geloof in julle harte mag woon, terwyl julle in die liefde gewortel en gegrond is, sodat julle volledig in staat mag wees om saam met al die •heiliges tot die besef te kom van die breedte en die lengte en die hoogte en die diepte, ja, om die liefde van Christus te leer ken, wat alle begrip te bowe gaan, sodat julle gevul mag word met al die volheid van God. Aan Hom, wat deur sy krag wat in ons werk, die mag het om oneindig meer te doen as alles wat ons bid of dink, aan Hom kom toe die heerlikheid in die •kerk en in •Christus Jesus, deur alle geslagte heen, vir ewig en ewig. •Amen.
EFESIËRS 3:12-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
In wie ons vrymoedigheid en toegang met vertroue het deur die geloof in Hom. Daarom wil ek hê dat julle nie beswyk van my verdrukkinge vir julle nie, dit is julle heerlikheid. Daarom buig ek my knieë voor die Vader van onse Here Jesus Christus, Na wie die hele familie in die hemel en op aarde genoem is, Dat Hy aan jou sal gee, na die rykdom van sy heerlikheid, om deur sy Gees met krag versterk te word in die innerlike mens; Sodat Christus deur die geloof in julle harte kan woon; dat julle, gewortel en gegrond in liefde, Mag saam met al die heiliges kan begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is; En om die liefde van Christus te ken, wat die kennis te bowe gaan, sodat julle vervul kan word met al die volheid van God. En aan Hom wat magtig is om meer te doen as alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk, Aan Hom kom die heerlikheid toe in die gemeente deur Christus Jesus deur alle eeue heen, wêreld sonder einde. Amen.
EFESIËRS 3:12-21 Die Boodskap (DB)
Omdat ons Jesus s’n is en op Hom vertrou, hoef ons nou nie meer bang te wees om na God toe te gaan nie. Ons kan dit vol vertroue doen sonder om te wonder of ons mag. Ek vra God daarom dat julle nie moed sal verloor omdat ek so swaarkry ter wille van julle nie. Dit wys eerder hoe belangrik julle is. Juis daarom gaan ek op my knieë voor die Vader. Al die gelowiges, of hulle nou reeds in die hemel is of nog hier op die aarde, is wat en wie hulle is omdat God hulle so gemaak het. Ek bid dat God, wat so wonderlik en sterk is, deur sy Gees vir julle die krag sal gee wat julle nodig het om geestelik julle man te kan staan. So sal Christus deel van julle lewens word omdat julle op Hom vertrou. Julle lewens sal gebou wees op liefde. Deur ander met liefde te behandel sal julle lewens die vastigheid kry wat julle nodig het. Ek bid ook dat julle, saam met al die ander Christene, sal kan ervaar hoe lief Christus ons regtig het. Sy liefde kan ons nie met woorde beskryf nie: dit is te groot en wonderlik. G’n mens kan dit met sy verstand uitredeneer nie, want dit is baie groter as wat ons as mense is. Maar ek bid tog dat julle so ’n ietsie daarvan sal snap. Mag God julle lewens met sy teenwoordigheid oorspoel sodat daar nie ’n stukkie van julle lewens is wat nie deur God se teenwoordigheid geraak word nie. God is so magtig en sterk. Juis met daardie krag werk Hy ook in ons. Hy kan en het dinge vir ons gedoen waarvan ons nie eens kon droom nie. Hy verdien daarom al die eer wat die kerk het om te gee, veral as ons dink aan wat Christus Jesus vir ons gedoen het. Almal moet Hom so eer, nou, môre en tot in ewigheid. Mag dit so wees.
EFESIËRS 3:12-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Deur Christus en ons geloof in Hom, kan ons met vertroue vrymoedig na God toe gaan. Om hierdie rede vra ek dat julle nie moedeloos word oor my swaarkry ter wille van julle nie. Dit strek tot julle eer! Daarom kniel ek voor die Vader. Hy is die Vader van elke gemeenskap in die hemel en op die aarde. Mag Hy deur sy Gees uit die rykdom van sy Goddelike grootheid aan julle die krag gee om innerlik sterk te word. Dan sal Christus deur die geloof in julle harte woon, en sal julle in God se liefde gewortel en gegrondves wees. Mag julle in staat wees om saam met al God se mense te begryp hoe breed en lank en hoe hoog en diep sy liefde is. Dan sal julle Christus se liefde, wat alle verstand te bowe gaan, beleef. Mag julle heeltemal met die volheid van God vervul word. Hy moet geprys word – Hy wat mag het om deur die krag wat in ons werk, oneindig meer te doen as wat ons vra of dink om te vra. Die kerk wat aan Christus Jesus verbind is, moet Hom prys deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid! Amen.