EFESIËRS 3:1-7
EFESIËRS 3:1-7 Bybel vir almal (ABA)
Ek, Paulus, is nou in die tronk omdat ek aan Christus behoort. Ek is in die tronk omdat ek vir julle van Hom vertel het, julle wat heidene is. Julle het gehoor dat God goed was vir my en dat Hy vir my die werk gegee het om vir julle te vertel dat God ook vir júlle goed is. Julle het gehoor dat Hy vir my gesê en gewys het wat sy boodskap oor Christus is, die boodskap wat niemand voorheen geken het nie. Dit is wat ek in hierdie brief klaar vir julle geskryf het. Wanneer julle nou verder lees, dan sal julle weet dat ek die boodskap oor Christus verstaan. God het nou sy Gees gestuur om dit vir sy gewyde apostels en profete te bring. Hy het die boodskap nie so gestuur vir die mense wat voorheen gelewe het nie. Daardie boodskap is: Julle is heidene, maar julle behoort aan Christus Jesus en julle glo die goeie boodskap. Daarom gee God nou ook vir julle baie goeie dinge, soos Hy vir die Jode gegee het. Julle en die Jode is nou almal saam, julle is soos een liggaam. En julle sal ook kry wat God belowe het. Nou is dit my werk om die goeie boodskap vir julle te bring. Dit is die present wat God vir my gegee het. God was goed vir my, Hy is sterk en Hy het my verander.
EFESIËRS 3:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
OM hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van Christus Jesus vir julle wat heidene is — as julle ten minste gehoor het van die bediening van die genade van God wat aan my verleen is vir julle, dat Hy aan my deur 'n openbaring bekend gemaak het die verborgenheid, soos ek tevore kortliks geskryf het; waardeur julle, as julle dit lees, my insig in die verborgenheid van Christus kan verstaan, wat in ander tye aan die mensekinders nie bekend gemaak is nie soos dit nou aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is deur die Gees, naamlik dat die heidene mede-erfgename is en medelede van die liggaam en mededeelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie waarvan ek 'n dienaar geword het, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is ooreenkomstig die werking van sy krag.
EFESIËRS 3:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom bid ek vir julle wat nie Jode is nie, ek, Paulus, 'n gevangene deur my diens aan Christus Jesus. Julle het tog seker gehoor van die opdrag wat God in sy genade aan my gegee het in julle belang. Hy het sy geheimenis deur 'n openbaring aan my bekend gemaak, soos ek dit hierbo kortliks beskrywe het, en as julle dit lees, sal julle 'n begrip kry van my insig in die geheimenis van Christus. Nog nooit tevore in die geskiedenis is die geheimenis aan die mensdom bekend gemaak soos God dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar het nie. En dít is die geheimenis: deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus, en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het. Van hierdie evangelie het ek 'n dienaar geword, 'n voorreg wat God in sy genade aan my gegee het deur sy krag in my te laat werk.
EFESIËRS 3:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Om hierdie rede is ek, Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, ter wille van julle, die heidene. Julle het tog gehoor dat die taak van die bediening van God se genade teenoor julle aan my toevertrou is. Deur openbaring is die geheimenis aan my bekend gemaak, soos ek reeds kortliks geskryf het. Wanneer julle dit lees, sal julle daardeur my insig in die geheimenis van Christus kan begryp. Die geheimenis is nie aan vorige geslagte onder die mensdom bekend gemaak, soos dit tans deur die Gees aan sy heilige •apostels en profete geopenbaar is nie, naamlik dat die heidene deur die evangelie mede-erfgename, medelede van die liggaam en deelgenote aan die belofte in Christus Jesus is. Van dié evangelie het ek 'n dienaar geword, ooreenkomstig die gawe van God se genade wat aan my betoon is volgens die werking van sy krag.
EFESIËRS 3:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom is ek, Paulus, die gevangene van Jesus Christus vir julle heidene, As julle gehoor het van die bedeling van die genade van God wat my aan julle gegee is: Hoedat hy deur openbaring die verborgenheid aan my bekend gemaak het; (soos ek voorheen in min woorde geskryf het, Daardeur kan julle, wanneer julle lees, my kennis in die verborgenheid van Christus verstaan) Wat in ander eeue nie aan die mensekinders bekend gemaak is nie, soos dit nou deur die Gees aan sy heilige apostels en profete geopenbaar is; dat die heidene mede-erfgename en van dieselfde liggaam sou wees en deelgenote aan sy belofte in Christus deur die evangelie. Waarvan ek 'n dienaar gemaak is, volgens die gawe van die genade van God wat aan my gegee is deur die kragtige werking van sy krag.
EFESIËRS 3:1-7 Die Boodskap (DB)
Juis daarom sit ek, Paulus, hier vir Christus in die tronk. Ek is in die tronk gegooi omdat ek vir julle wat nie Jode is nie van Christus vertel het. Julle het seker al gehoor dat God my gevra het om vir julle te kom vertel hoe goed Hy regtig is. God het duidelik vir my gewys wat sy plan met julle is, al het mense dit glad nie besef nie. Ek het al so ’n bietjie daarna begin verwys. As julle nou verder lees, sal julle ook duidelik begin agterkom hoe die verrassende plan van God met Christus werk en hoe ek dit verstaan. Deur die loop van die geskiedenis het die mense nie geweet wat God gaan doen nie. Nou is dit egter nie meer vir ons ’n geheim nie. Die Heilige Gees het dit aan al die mense vertel wat gekies is om God se Woord te verkondig. Die geheim is dit: enigiemand wat in Christus Jesus glo (selfs al is hy ’n nie-Jood), word ’n kind van God en kry by God wat Hy vir al sy kinders gee. So ’n persoon is dan saam met die ander gelowiges die liggaam van Christus. Hy kry alles wat God in die goeie boodskap aan Christus Jesus se mense beloof het. God het my aangestel om hierdie nuus vir ander te gaan vertel. Dit is ’n voorreg wat God aan my gegee het, al verdien ek dit nie. Hy gee ook vir my die krag om dit te doen.
EFESIËRS 3:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hier volg nou die rede waarom ek, Paulus, die gevangene in diens van Christus, vir julle, die nie-Jode, bid. Julle het seker gehoor van die bediening wat God uit genade aan my toevertrou het, ’n bediening in julle belang. ’n Geheime plan is deur openbaring aan my bekendgemaak. Oor dié geheime plan het ek hierbo kortliks geskryf. Deur dit te lees kan julle ’n begrip vorm van my insig in die geheime Christusplan. God het hierdie geheime plan nie in vorige geslagte aan mense bekendgemaak nie, maar nou het Hy dit deur die Gees bekendgemaak aan die apostels en profete wat aan Hom toegewy is. Dié geheime plan is dat die nie-Joodse nasies deur Christus Jesus saam sal deel in die erfenis van God se volk, dat hulle saam lede van dieselfde liggaam is, en saam deel het aan die beloftes wat op grond van die Goeie Nuus verkry word. Uit genade het God my die gawe gegee om ’n dienaar van hierdie Goeie Nuus te word. Die gawe is aan my gegee deur die werking van God se krag.