EFESIËRS 2:6-7
EFESIËRS 2:6-7 Bybel vir almal (ABA)
Ons behoort aan Christus Jesus. God het vir Christus weer laat lewe en Hy het ons ook weer laat lewe. God het vir Christus 'n plek in die hemel gegee en Hy het vir ons ook 'n plek in die hemel gegee. God het dit alles gedoen omdat Hy altyd wil wys dat Hy baie goed en lief is vir ons. Dit is hoekom Hy vir Christus Jesus gestuur het.
EFESIËRS 2:6-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus, sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus.
EFESIËRS 2:6-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ja, in Christus Jesus het Hy ons saam met Hom opgewek uit die dood en ons saam met Hom 'n plek in die hemel gegee, sodat God ook in die tye wat kom, sou laat sien hoe geweldig groot sy genade is deur die goedheid wat Hy in Christus Jesus aan ons bewys het.
EFESIËRS 2:6-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ja, Hy het ons in Christus Jesus saam opgewek, en saam laat sit in die hemel, sodat Hy in tye wat kom, bewys kan lewer van die allesoortreffende rykdom van sy genade deur sy goedheid aan ons in Christus Jesus.
EFESIËRS 2:6-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy het ons saam opgewek en ons saam laat sit in die hemele in Christus Jesus. Sodat Hy in die eeue wat kom, die uitnemende rykdom van sy genade kan bewys in sy goedertierenheid oor ons deur Christus Jesus.
EFESIËRS 2:6-7 Die Boodskap (DB)
Saam met Jesus is ons, wat soos dooie mense nie eens van God geweet het nie, lewend gemaak. Saam met Christus Jesus sit ons ook nou op ’n spesiale plek by God in die hemel. Niemand sal nou, of in die toekoms, ooit kan twyfel aan hoe goed God regtig is nie. Dit kan eintlik nie gemeet of ten volle beskryf word nie. Dit alles word vir ons saamgevat in die manier waarop God ons deur Christus Jesus gered het sonder dat ons dit enigsins verdien het.
EFESIËRS 2:6-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Omdat ons aan Christus Jesus verbind is, het God ons saam met Hom opgewek en saam met Hom ’n sitplek in die hemel gegee. So sal God ook in die tye wat kom, bewys dat Hy heeltemal oorloop van genade. Die goedheid wat God ons deur Christus Jesus gegee het, sal as bewys dien.